Ek het die mite van Ariadne ‘n bietjie omgekeer. Sy verleen hulp aan Theseus wat die Minatourus dood, hy neem haar van haar vadershuis om met haar te trou, maar verlaat haar op ‘n afgeleë strand. Dionusus sien dit, vlieg van Olimpus af en neem haar terug met hom. In my liriek is dit anders. Ek laat verdere kommentaar aan die leser oor.
Tien minute se stap van die klooster af, staan hierdie – ja, fort is die woord wat dit beskryf. Die omhulsel meen ek is redelik modern, dalk 150 jaar oud. Die binne is Middeleeus. Hier het soldate in die onderste gedeelte gebly en bokant hulle, monnike. Dit was gebou na ‘n aanval van Sarasene uit Andaloesië uit, ‘n geskiedenis van ongelooflike wreedheid. Die kwesbare monnike is man vir man vermoor en die skreeëry, is gesê, kon van Antibes gehoor word, 80 kms. verder die kus op. Hierdie geskiedenis het later tot die Middeleeuse Togte teen die Muslims in Jerusalem tot gevolg gehad.
Die binne van die fort
Wat sterk by my bly, is die ervaring van die Kruis in die katedraal. Dit word Christ Suriant genoem – die Christus wat glimlag. Daar bestaan blykbaar nog vier sulke figure in Europa.
Christ Suriant
Die invloed van hierdie twee kloosters – vir monnike en nonne – was groot in Frankryk en elders. Vandag is Ste Margeurite grootliks ‘n hawe vir seiljagte. Ek sal nie kan sê of daar nog nonne daar is nie.
Waarom hou ons soms van triestige, sommer droewige liede? Om hieroor te spekuleer kan ‘n openbaring wees. Ek skryf al jare lirieke in die Blues vorm en ek poog om ‘n breë omvang van gevoelens en temas te bereik – liede wat snaaks is, wat bitter is, triestig, stout en sinies. Daar is ook gewyde lirieke. Ek deel hiervan met ‘n knyp kommentaar.
Ontmoeting
Hier by die Styx-rivier
Ontmoet ek weer vir jou
Ek hoor jy’t hom gelos
Maar sal jy my onthou?
Ons het goed saam gelewe
Ons was sommer saam geweef
Maar as jy nie onthou nie
Sal ek jou vergewe
Dalk is die triestigheid hier te doen met verbrokkelde verhoudings in my lewe, mense wat ek nie kan vergeet nie. Dat dit by die Styx-rivier gebeur, verleen diepte, meen ek – dis nie sommer ‘n verbygaande oomblik nie. As daar nog waardering vir die vrou is, is dit blywend triestig.
Tien minute se stap van die klooster af, staan hierdie – ja, fort is die woord wat dit beskryf. Die omhulsel meen ek is redelik modern, dalk 150 jaar oud. Die binne is Middeleeus. Hier het soldate in die onderste gedeelte gebly en bokant hulle, monnike. Dit was gebou na ‘n aanval van Sarasene uit Andaloesië uit, ‘n geskiedenis van ongelooflike wreedheid. Die kwesbare monnike is man vir man vermoor en die skreeëry, is gesê, kon van Antibes gehoor word, 80 kms. verder die kus op. Hierdie geskiedenis het later tot die Middeleeuse Togte teen die Muslims in Jerusalem gevolg gehad.
Waar die monnike geslaap het
Wat sterk by my bly, is die ervaring van die Kruis in die katedraal. Dit word Christ Suriant genoem – die Christus wat glimlag. Daar bestaan blykbaar nog vier sulke figure in Europa.
Christ Suriant
Die invloed van hierdie twee kloosters – vir monnike en nonne – was groot in Frankryk en elders. Vandag is Ste Margeurite grootliks ‘n hawe vir seiljagte. Ek sal nie kan sê of daar nog nonne daar is nie.
Al is dit ‘n aantal jare wat ek en Claudie die abdy van Lerins op die eiland St Honoré besoek het, sal die herinneringe nie vervaag nie. Dit is vreemd om te dink dat hierdie klooster wat in die koers van 400 n. C. ontstaan het, so naby die glansryke stad van Cannes is, waar die wêreldberoemde filmfees die sterre en beroemdes lok. Die monnike is toegwyd aan ‘n lewe wat net mooi die teenoorgestelde daarvan is.
In die baai van Cannes is daar twee eilande vyftien minute se ry per boot van die hawe af. Die een is St. Honoré en die ander Ste. Margeurite. Hulle was broer en suster van waar Belgie vandag is wat vroeg tot die Christengeloof bekeer is. Daarna het hulle die twee kloosters vir monnike en nonne gestig, minder as ‘n eeu nadat die geloof offisiëel in die Middellandse See aanvaar is. Die eilande was ook deur die Romeine bewoon.
‘n Romeinse sarkovaag
Oorspronklik is die kloosters Cistersiaans en vir ons wat vir ‘n paar dae daar gebly het, was ons etes in stilte gevoer. Dit is vir die moderne mens vreemd. Ons is so gewoond aan geraas en pratery. Ek bieg dat dit nogal ‘n impak op my en Claudie gemaak het.
‘n Bomlanseerder geplaas deur Napoleon
Ek het die eiland bietjie verken. Daar was geboue veel ouer as die katedraal wat seker 16de of 17de eeus was. Die wingerde het my aan die Boland laat dink. Die monnike het wyn gemaak, ‘n tradisie wat seker veel ouer as die Middeleeue was. En die likeur is lekker duur. En daar, tussen die bosse deur, op die baai gerig, was die bomlanseerders wat Napoleon laat bou het.
Katedraal
Ons het die Sondagdiens bygewoon. Die monnike se dreunsang, seker Gregoriaans, was onvergeetlik. Wat ons opgeval het, was die feit dat daar baie min jong monnike was. Seker ‘n teken van die tye.
Die blues is lewenslank vir my ‘n medereisiger. Ja, dit was deur rock ‘n roll wat ek die blues ontdek het en as jy eers dit gedoen het, is dit moeilik om nie die blues raak te sien, aan te voel in die intensiteit van rock ‘n roll nie. En toe kom my ontdekking dat die blues op eie bodem was lank voor ons Afrikaanse boeke gehad het. Kyk gerus na my pos “Die Wes-Kaap en die Blues”. Ek sluit in die besonderhede. Ek deel die inleiding tot my speel van die blues.
August Rodin (1840-1917) word beskou as die eerste moderne beeldhouer. Met sy werk kon die oorgang na Modernisme begin. Hier is ‘n stuk wat hy Denke noem. Dit was in 1886 geskep.
Ek was bevoorreg om die Maeght Fondation in Vence ‘n paar keer te besoek. Ek het twee poste oor Joan Miro se werk. Treffend op die grasperk buite die museum was dié werk deur Alexander Calder 1898-1976), maar ek het nie die naam daarvan nie.
Hierdie marmer werk wat “Eerbetoon aan Ben Nicholson” genoem word, weet ek niks van nie, maar dis is vir my buitegewoon, ook in die gees van Ben Nicholson se werk.
Maria Abakanowicz (1930-2017) was ‘n Poolse beeldhouer. Haar beste werk is deur rou vir die Holocaust inspirer, somber en onvergeetbaar. Terwyl sy soms abstrakte werk doen, is haar hooffokus die mens se liggaam, meermale vermink.
Hier is ‘n stuk deur ‘n Shona-kunstenaar gedoen, maar ek het ongelukkig nie die naam nie. Ek kan nie dink aan ‘n ander Afrikaland wat kan kompeteer met die werk van die Shonas in Zimbabwe nie.
Jane Alexander (geb. 1959) is ‘n Kaapstad beeldhouer wat internasionale roem nou werf. Hierdie stuk – weereens het ek nie die naam nie – is in 2013 in New York vertoon tot veel kommentaar van die Amerikaanse kritici. Haar welbekende “Butcher Boys” is in die kunsmuseum in die Tuine in Kaapstad, ‘n werk wat jou maklik nagmerries kan gee.
Die klem op abstrakte kuns van Modernisme af is ‘n breuk met ‘n 500-jarige geskiedenis vanaf die Renaissance waar voorstelling en perspektief hoogty gevier het. Dit is nie te sê dat kunstenaars nie hier en daar abstrakte tegnieke toegepas het nie. In alle voorstellings van veral gekreukelde kleding stukke is daar ‘n element van abstraksie. Ek bieg: ek kan nie die gedagtegang van kritici volg nie as hulle begin sê “Pollock is a classicist”. Ek sal veel meer wou weet om dit te verstaan. Intussen gebruik ek maar my primitewe benadering, soms met groot genot.
Ek deel enkele gedagtes oor “Sewe” wat Pollock in 1950 geskilder het.
Dadelik hou ek van die kleure: rooi en swart. En dit is nie besig met ander kleure nie. Hier is dit lekker om in die rustelose vorme verlore te raak. Die rooi spatsels anker my. Ek voel sommer ek herken die werk: dit laat my aan Miro se vroeë skilderye dink. Daar is vir my ‘n bevredigende “balans” in die spasies tussen die rooi spatsels en daar is beweging – hulle spring, hulle dans. Is die vorme haastig? Ja, die swart strepe koes tussen die rooi spatsels. Hier blits swart weerlig.
Die werk is vir my ligter as, byvoorbeeld, die “Blou Pale”. In die middel van die werk, kom swart spatsels byeen wat ook die werk ‘n anker-in-die chaos gee. Kontras, met beweging, is dan die sterk elemente van Pollock se werk vir my. En die toets – kan ek hiermee lewe? G’n twyfel. Ek hang dit in my slaapkamer.
Die kunstenaar Paul Klee sê ons in die chaos en pyn van die wêreld (Eerste Wêreldoorlog) skilder ons al hoe meer abstrak. Ek sou ja en nee sê; dit is af en toe waar. Want vandag, waar ons nie ‘n die middel van ‘n oorlog is nie, skilder sommige kunstenaars steeds abstrak. Pollock sê ons dat gevoel speel net so groot rol in sy werk as vernuf. Die styl word “action painting” genoem. Ek deel enkele gedagtes oor Blou Pale, 1953.
Van al die werk van Pollock meen ek dat dié een die meeste tot my spreek. As mens bietjie van Rorschach-toetsing in sielkunde weet, dan is dit nie moeilik vir my om my respons te verstaan nie. Die swart “pale” wat so oor die doek val, is seker ‘n paar dinge wat van my onbewuste opdoem – is dit vallende mense of liewer, die gevoel van vallende mense? Dit is beduidend dat ek hierdie skildery as illustrasie vir my verhaal “Wonde” gebruik het. Daardie “pale” is dan snye of krapmerke of selfs wonde. En die chaos in die agtergrond is gepas. Die oorheersende kleure daar is grys, wit en geel – vir my gevoelens van medelye. Ek doen twee dinge hier: ek laat my toe om net die vorme binne te val en te voel, en ek soek nog steeds dit waarna ek in die wêreld kan verwys.
By ‘n uitstalling van Jackson Pollock se werk sê ‘n besoeker vir hom, “Ek sien nie die punt van jou skilderye nie.” Pollock sê “Dankie – dis ‘n groot kompliment.”
Modernisme het abstraksie as kunsvorm verhewe en dit bly vir baie mense steeds ‘n misterie. Ek kan my ouers se woorde nog ontbou: “’n Boom moet soos ‘n boom lyk”. Dalk het kunstenaars besluit om isolasie tussen hulle en die bourgeoisie te bevorder. Ek meen tog dat ons as post-moderne mense verrykende ervaring met abstraksie kan beleef. Ek deel gedagtes oor die werk van Jackson Pollock, beskou as die leier van abstrakte ekspressionisme na die Tweede Wêreldoorlog.
Hier is ‘n besonderheid uit ‘n skildery met die naam Oseaan grysheid. Dit is is in 1953 geskilder.
Kenners sal my kwalik neem dat ek bloot met gevoel na so ‘n skildery kyk. Hulle sal my seker aanmoedig om te gaan lees daaroor. Die naam van die skildery is nie vir my relevant nie; ek verstaan dit eenvoudig nie. Al is die beweging in die vorme vloeiend, sien ek nie die kleure van die see nie. Daar is ‘n sentrale punt vir my – die “oog” aan die linkerkant, dalk ‘n kolk in die water. Die kleure wat daar spoel, is tog vir my aantreklik – warm en koud. Soos met veel van sy ander werk, is daar sterk beweging in die vorme, dit wat hy seker met die oseaan assosieer. Oor die algmeen, is die gevoel nie vir my “grys” nie, maar ‘n oorheersende donkerte met kontrasterende kleure en vorme. Ja, daar is tog iets van ‘n storm daar, maar dan is die storm in so te sê al sy werk. En die toetse vir my? Soek ek steeds my ouers se “boom”? En tweedens, kan ek hiermee saamleef? Sal ek maar sê met hierdie werk huiwer ek. Maar wie weet? Dalk kan ek oor ses maande van daaglikse betragting, lief word vir sy rustelose chaos.