Monthly Archives: February 2017

SARASENE IN PROVENCE

Wat het die Sarasene agtergelaat ?  Hulle was twee eeue in Provence.  Party sê nie veel nie.  Dalk net die naam van die Maures-Gebergtes, 80 kms wes van Antibes.  Maar daar is veel meer.

Maures-Gebergtes, Var, Provence

Maures-Gebergtes, Var, Provence

Vanaf die sewende tot die negende eeue n. C. was die Sarasene kuslangs ‘n formidabele mag.  Verder noord was daar tussen hulle en die Frankiese bevolking epiese slagte.  Dit word deur sommiges beweer dat, as Marcel se slag teen die Sarasene in Poitiers in 732 nie geslaag het nie, sou Europa Moeslim geword het.  Ander historici sê weer nee.  Dat ‘n groot deel van Spanje tot 1492 onder die bewind van die Sarasene was, het sake nie vir die Frankiese bevolking vergemaklik nie.

Baai van St. Tropez

Baai van St. Tropez

Die Sarasene uit die suide van Spanje heet Andaloesis en hulle het in die jaar 889 by vandag se Baai van St Tropez binnegeval.  Presies 1155 jaar daarna sou die Gealliëerde Magte ook daar Provence binneval.  Die Andaloesis het Fraxinet in die omgewing gestig (vandag La Garde-Freinet) en dié sou as hoofkwartiere dien sover as die Alpe waar die bergpasse vir jare deur Sarasene rowers beheer is.

Ons dink deesdae in terme van groot nasie-eenhede en die politieke versplintering van daardie tye is vir ons verbysterend.  André Brink sê in Midi, “Wag, dit word net erger.”

Saraseen soldate, Middeleeue

Saraseen soldate, Middeleeue

‘n Lang en verweefde storie kort, is die Sarasene in die jaar 973 in die slag van Tourtour deur Willem die Verlosser van Provence, soos hy bekend staan, verslaan.  Die Moeslim strewe om kolonies te vestig is tot niet.

Het die Sarasene iets agtergelaat?  Die Europeërs het hulle ook More genoem en vandag kry jy Franse vanne wat dit dui – Mouret, Maurin, Mauron.  Die Andaloesis van Fraxinet was nie net krygers nie;  hulle het, onder andere, bokwiet Frankryk toe gebring.  Die ronde torings wat van Provence kenmerkend is, is argitektuur  uit noord -Afrika.

Argitektuur uit Afrika in Provence

Argitektuur uit Afrika in Provence

In Mougins, 20 kms noord-wes van Antibes, het vandag nog die Sarasene-Poort en Christene kon daar in die vroeë-Middeleeue ‘n oog oor Cannes hou waar Sarasene vir 80 jaar aan bewind was.

Die Saraseen Poort, Mougins, Provence

Die Saraseen Poort, Mougins, Provence

In Antibes is daar straatname wat van Arabiese teenwoordigheid deur die eeue daarna getuig – Chemin de Maures, Avenue de la Sarrazine.

Avenue de la Sarrazine, Antibes

Avenue de la Sarrazine, Antibes

In Antibes se Rabiac-begrafplaas  is daar Moeslim-grafte, dié wat langs Franse soldate in die Eerste Wêreldoorlog gesneuwel het.  Hier ook is daar ‘n monument aan die Hakies , hulle wat die Franse leër in die Algeriese oorlog in die 1950s bygestaan het en daarna, met die uitkoms van die stryd, Frankryk toe moes vlug.

Moeslim-graftes uit Eerste Wéreldoorlog, Rabiac-begrafplaas, Antibes

Moeslim-graftes, Rabiac-begrafplaas, Antibes

Monument vir Hakies en die Pied-Noirs, Rabiac-begrafplaas

Monument vir Hakies en die Pied-Noirs, Rabiac-begrafplaas

Die verwikkeldheid van die situasie bereik sy hoogtepunt in die terreuraanval op Bastille-dag, 2016, in Nice.  Die eerste van oor die 80 slagoffers was ‘n vyf-en-vyftig jarige vrou met die naam Fatima Charriki, ‘n toegewyde Moeslim en lewenslank ‘n Franse burger.  Dit word beraam dat nagenoeg ‘n derde van die slagoffers van Arabiese herkoms was.  Hieruit verskyn die boek “Ma mère Patrie” deur Hanane Charriki, die dogter van Fatima.

"Aanval in Nice: Getuienis: Hanane , 27, hat haar moeder verloor"

“Aanval in Nice: Getuienis: Hanane , 27, het haar moeder verloor”

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules,  Antibes

Februarie, 2017

 

Bronne

Wikipedia:  History of Provence

Artikel:  Robert W. Lebling: “The Saracens of St Tropez” (Aramco World, 2011)

Dictionnaire de la Provence et la Côte d’Azur (Larousse, Parys 2002

I. Blanchet, J-M. Turc, R. Venture : La Provence pour les Nuls (First Editions 2012)

Beelde

Maures-Gebergtes – visitvar.fr

Baai van St Tropez  –  golfe-saint-tropez-information.com

Saraseen soldate  –  artsymbol.wordpress.com

Ronde toring  –  terreetpasse.blogspot.com

Saraseen-Poort, Mougins – my foto

Avenue de la Sarrazine  –  my foto

Rabiac grafte  –  my foto 

Hande Monument  –  my foto

Attentat de Nice  –  leplus.nouleloms.com

 

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements
%d bloggers like this: