Monthly Archives: April 2014

WANNEER DIE AARDE SKUD

Gisteraand, sewentien minute ná nege, sit ek verdiep in ‘n program voor die TV in my vriendin Claudie se woonstel in Antibes, Frankryk, toe die vloer, nee die aarde,  sonder waarskuwing onder my voete begin skud. ‘n Onthutsende gevoel, om die minste te sê. Iets wat ‘n Suid-Afrikaner nie ken nie.

Die aardbewing duur vier tot vyf oneindige sekondes, lig sodat die glase op die rak in Claudie se kombuis nie eens roer of rinkel nie.  In die afgelope dertig jaar het dit al vier keer gebeur, vertel Claudie, en vanaand se aardbewing was besonder lig. Dit was al erger in die verlede.

Voor die aardbewing:  Les Pins-woonstelblok

Voor die aardbewing: Les Pins-woonstelblok

My gemoedsrus is daarmee heen. Vir die wis en die onwis, sal ek met slapenstyd in my sweetpak klim. ‘n Mens weet nie wat die nag inhou nie. Dalk nog ‘n aardbewing. Ek hou daarvan om vir elke gebeurlikheid gereed te wees. Hoe gereed kan ‘n mens vir ‘n aardbewing in ‘n sweetpak wees? Ek kan darem buitentoe hardloop as die aarde weer skud. As die aarde weer skud. En hoe sal dit help om  te hardloop? Ek weet nie, maar sal jok as ek sê ek is nie benoud oor die nag wat voorlê nie.

Die nag gaan vredig verby… Vanoggend lees ek  op die internet  oor die aardbewings van 1887 in Nice, van die huidige episentrum oftewel aardbewingshaard, in die Hoë Alpe (5.2, op die Richterskaal), van die kwesbaarheid van Nice se ou gebiede.  Ja, hierdie streek, vertel Claudie my, lê op die lyn waar aardbewings in Italië die afgelope agtien maande chaos en verwoesting veroorsaak het. Maar hoe kon daar verwoesting gewees het? stribbel ek teë. Daardie dele van Italië is vol  stokou vestings uit die middeleeue.  Maar sy oortuig my dat niks  teen  ‘n aardbewing bestand nie. ‘n Aardbewing is ‘n aardbewing is ‘n aardbewing.  En dis ‘n skrikwekkende ding. Selfs ‘n ligte aardbewing. Selfs gisteraand se bewing van ‘n paar sekondes. Min dinge skud jou, letterlik en figuurlik,   soos ‘n  aardbewing. Dit gaan gepaard met die verbystering dat een van die standvastigste dinge  in die heelal ook kan wankel. 

Antibes se paar aardbewings is bra onbenullig. Die Côte d’Azur is nie Turkye of Algerië of Indonesië of  Haïti of Tokio nie. Tokio is al getref deur ‘n aardbewing van nie minder nie as 9 op die Richterskaal. Ondenkbaar.

En dan is daar die bekende aardbewing in ons eie Tulbagh in die Kaap in 1969, wat selfs in Stellenbosch gevoel is. In 1989 het ek ‘n herdenking van die aardbewing bygewoon, ‘n gedempte geleentheid in ‘n  dorp wat pragtig ná die aardbewing herstel is. Was dit die enigste aardbewing in die Kaap? Sover ek weet, het Observatory in Kaapstad in die eerste dekade van die twintigste eeu ‘n aardbewing ervaar. Verbasend? Baie mense dink nie so nie en voorspel nog aardbewings vir Suid-Afrika.  Suid-Afrika lê immers op die Skeurdallyne wat van Kenia loop  en Afrika glo stadig maar  seker in twee gaan skeur. ‘n Skrikwekkende gedagte.

Na die aardbewing:  Les Pins-woonstelblok

Na die aardbewing: Les Pins-woonstelblok

Hoe ook al, hier in Antibes aan die Middellandse See lyk die mense vanoggend nie juis bekommerd oor gisteraand se aardbewinkie nie. C’est la vie. Ek sal vanaand my nagklere aantrek wanneer ek gaan inkruip.

© Willem van der Walt

Les Semboules, Antibes

Dinsdag 8 April 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto:  Willem

 

 

Advertisements

VILLA EPHRUSSI – ‘n Belewenis uit die Belle Epoque

Ouma Lenie het ‘n hekel in die woordjie te gehad. Te veel of te min. Te dit of te dat. Of te wat ook al. Te het haar nie aangestaan nie. Maar ek wonder hoe sy sou reageer het as ek op ‘n kol vir haar gesê het: “Hier is honderdmiljoen rand. Maak daarmee net wat Ouma wil…”

Sou sy gesê het dis te veel? Of het sy ook stilletjies van miljoene gedroom en wat sy daarmee sou doen? Vir barones Béatrice Ephrussi de Rothschild was miljoene nie ‘n onbereikbare droom nie. Sy was erfgenaam van die skatryk De Rothschild-bankiers in Europa se rykdom en het geweet wat sy met haar fortuin wou doen. Sy  het in 1905 ‘n spogvilla en tuine by Saint Jean Cap Ferrat tot stand gebring.

Die Baai: St Jean Cap Ferrat

Die Baai: St Jean Cap Ferrat

Ek brand om die bekende villa te sien en klim by die Beaulieu-sur-Mer-stasie  van die trein af om te gaan kyk. Op die steil terraspad boontoe kyk ek na die baai met sy  omringende, dramatiese rotshange, een van die mooiste gesigte wat ek nog in hierdie streek gesien het. Geen wonder Béatrice het op hierdie plek verlief geraak het nie.

Sy het Aaron Messiah in 1905 aangestel om die villa in die Neo-Venesiaanse boustyl te ontwerp. Rondom die villa het sy nege tuine aangelê, elk met ‘n tema – Spaans, Frans, Florentyns, ens. In die tuine het sy  uitheemse plante  van regoor die wêreld – Madagaskar, Meksiko, Suid-Amerika, noem maar op – geplant. Toe Béatrice in 1934 sterf, het die uitsonderlike villa met sy pragtuine nasionale besit geword.

Die Ontvangssal

Die Ontvangssal

‘n Besoek aan die villa is onvergeetlik.  Jy loop by die voorportaal in en staan in ‘n ontvangssaal wat omring is  deur marmerboë op twee vlakke – ‘n argitektoniese styl wat aan die gebou ‘n gevoel van  gewigloosheid verleen. Teen die mure onder die boë pryk ‘n kunsversameling wat feitlik  alle eeue bestryk. Wat my opval, is  dat die kunswerke – skilderye, beeldhouwerk, tapisserieë, reliëfwerk – hulle hoofsaaklik van ‘n Christelike tema bedien. Dalk het die feit dat Béatrice ‘n Jodin was iets hiermee te doen.

Reliefwerk in die ontvangssaal

Reliefwerk in die ontvangssaal

Die talle uitbeeldings van die Moeder-en-Kind-tema wat mens teenkom, herinner jou dat Béatrice en haar man, Maurice,  om mediese redes kinderloos was. Dit moes ‘n uitwerking op haar keuses gehad het.

Grand Salon

Grand Salon

Ek loop deur die aangrensende vertrekke – die Grand Salon waar boogvenster na boogvenster ver oor  die asuurblou van die baai uitkyk. ‘n Venusfiguur is volmaak in een van die vensters geraam. Indrukwekkend.

Ek loop  na ‘n toonkamer waar Chinese seremoniële drag, alles van sy, uitgestal is. Dit bring my ‘n rukkie tot stilstand. Béatrice was ooglopend gefassineer deur objets d’art uit eksotiese wêrelddele. Toe  betree ek ‘n slaapkamer, waarskynlik ‘n gastekamer,  met ‘n rococo-bed en grasieuse, treffende meubels, asook ‘n versameling eeueoue porselein.

Wandel- en wondertuine

Wandel- en wondertuine

Dis alles ‘n bietjie oorweldigend en ek gaan skep tussen die ander toeriste asem, drentel dan tuin toe waar die wolkelose lentedag  iets van die warmte  van somer het. Ek verkyk my aan die terrasse, die losstaande boë hier en daar, die groen, welige plantgegroei, klein standbeelde wat tussen die lower uitloer – ‘n wêreld waar Béatrice van een tuintema na die ander kon wandel.

Tuine: figuur van musikant

Tuine: figuur van musikant

Gaandeweg word ek  tussen al die groenigheid bewus van musiek – seker uit ‘n versteekte sprekerstelsel.  Ek volg die klank en bereik ‘n oopte en die villa  kom meteens volledig in al sy prag in sig. En juis op daardie oomblik speel Vangelis se hooftema uit 1491, majestueus en ontroerend.

Villa Béatrice Ephrussi

Villa Béatrice Ephrussi

Ek moet my knyp om my te vergewis dat dit alles werklik is. Wat sou ouma Lenie gesê het? Is dit ‘n té-ervaring hierdie? Sy wat in haar wêreld dalk nooit bewus was van barok, rococo en  belle epoque nie.

Maar hierdie té-villa is pragtig  en inspirerend, ‘n ongelooflike plek. En in my kop dawer die woorde:

Dankie, Béatrice Ephrussi de Rothschild  dat jy  jou miljoene so goed bestee het.  Dit was  amper té edel en gulhartig van jou.

Barones Béatrice Ephrussi

Barones Béatrice Ephrussi

 

 

© Willem van der Walt

17 April 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Baroness Béatrice Ephrussi  –  fr.wikipedia

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

 

 

JY SOU TROTS GEWEES HET, JEANNE D’ARC

Die Universiteitsoord NG Kerk in Pretoria, ontwerp deur Van Wijk  en  vroeg in die sewentigerjare van die vorige eeu opgerig, is welbekend. ‘n Kerk waarvan die ontwerp in skrille kontras met tradisionele Afrikaanse kerkgeboue staan. Volgens my het oeroue Afrikapatrone in Van Wijk se boeiende ontwerp neerslag gevind: die Zimbabwe-steentjies, byvoorbeeld, en die rondings wat  aan Soedan-Saheliese geboue herinner… Dié kerkgebou is myns insiens ‘n  kwantumsprong.

Universiteitsoord NG Kerk, Pretoria

Universiteitsoord NG Kerk, Pretoria

Nog ‘n kwantumsprong is die L’Eglise Sainte Jeanne d’Arc in Nice, Frankryk. My besoek aan dié kerk was ‘n belewenis. Die argitek, Jacques Droz, se ontwerp wyk af van die konserwatisme waarvan kerkontwerpers hulle gewoonlik bedien. Dis ‘n innoverende stuk werk waarvan Droz reeds in 1914 die  bouplan  voltooi het, maar  die bou van die kerk het  eers twaalf jaar later in 1926 begin. Die kerk is in 1931 voltooi.

 

l'Eglise Sainte Jeanne d'Arc, Nice

l’Eglise Sainte Jeanne d’Arc, Nice

In 1934 het Eugène Klementieff die Stasies Van Die Kruis op die mure geskilder – ‘n gebruik wat volgens kunskenners deur die Russiese Kubisme, die Italiaanse quattrocento en Bisantynseikoneingegee is. Die Stasies Van Die Kruis is ontroerend en dramaties in  treffende herfskleure uitgebeeld en ‘n mens verkyk jou behoorlik daaraan.

 

Stasies van die Kruis

Stasies van die Kruis

Maar nie almal is gaande oor die L’Eglise Sainte Jeanne d’Arc nie. Die jong vrou by die toeristekantoor in Nice, dink dis ‘n lelike gebou en die mense van Nice noem die kerk die Meringue vanweë die wit koepels.

 

Bevrydende strukture

Bevrydende strukture

Vir my is die kerk eerder iets uitsonderliks. Buite maak die kerk ‘n  interessante, selfs fassinerende, indruk. Dit bestaan uit ‘n reeks koepels, wat ‘n hoofkoepel steun, ‘n vroeë gebruik van versterkte beton.

 

Die kerktoring - suiwer deco

Die kerktoring – suiwer deco

Die kerktoring troon haelwit en suiwer deco teen die blou lug van Nice. Indrukwekkend.  Maar dis wanneer jy die kerk betree dat jou  kop duisel. Die pragtige  lyne van die massiewe boë – maklik vier verdiepings hoog –  styg en daal met vloeiende, asembenemende grasie en gee jou ‘n  gevoel van bevryding.

Die ingang

Die ingang

Daar word al lank bespiegel of hierdie manjifieke kerk, wat na die omstrede en alombeminde Jeanne d’Arc genoem is, ‘n soeke na ‘n Mediterreense styl verteenwoordig. Ek voel my eerder bewus van ‘n Noord-Afrikaanse invloed hier, van spore van ‘n kultuur wat ouer as dié van Europa is. Hoe ‘n mens ook al oor hierdie meesterstuk bespiegel, is dit vir my ‘n kerk, katedraal eerder, wat sy tyd vooruit was. ‘n Monument vir suiwer moderne geestelikheid.

© Willem van der Walt

10 April, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Foto van die Universiteitsoord Kerk:  bron verlore

%d bloggers like this: