Category Archives: Switserland

PAUL KLEE – die andersword van kuns

Bern, Switserland

Ek onthou die horlosietoring van Bern in Switserland, die trems en die amper-Piedmontiese boë in die argitektuur.  Oppad na die Paul Klee Stigting, vang ek gou ‘n koppie koffie by ‘n kafee waar ‘n buitegewone groot foto van Albert Einstein troon.  Dit is in Bern, lig die kafee-eienaar my in, waar Einstein die Teorie van Relatiwiteit in 1905 vir voorlegging afgerond het.

Albert Einstein, 1904

In die Paul Klee Stigting staan ek voor die oorspronklike skilderye.  As twaalfjarige het ek dié beelde vir die eerste keer in ‘n kunsboek gesien, die aanvang van ‘n lewenslange belang.

“Blou Piramide”

‘n Switser-Duitser, was Paul Klee musikant, digter, akademikus en ‘n filosoof in die kunsteorie.  Sy werk word met verskeie kunsbewegings gekoppel, maar, soos dikwels gesê is, weerstaan dit eenvoudige menings daaroor.  Dié kuns is ‘n anderswording.

“Maan”

Sy boek “Oor Moderne Kuns” (1925) word met die skrywe van Leonardo da Vinci geskaar.

“Visse”

Toe hy saam met die ander “dekadente” kunstenaars in 1937 deur die Nazis uitgejou is, keer Klee terug Switserland toe.  Dié verwerping het swaar op hom gelê tot sy dood toe in 1940 op die ouderdom van 61.

“Senecio” 1922

Met Klee se skilderye en veral met sy tekeninge is jy nooit ver van ‘n speelse gees nie.  Sy benaminge is ironies, pittig, kripties.  En vir my – ek is veronderstel om kleurblind te wees – is hy ‘n grootse meester van kleur.  Dié roeping tot kleur het hom tydens ‘n verkennende besoek in Tunisië gepak.  Hy word toe leidend met die skeppende gebruik van kleur onder die moderniste wat reeds tradisies met kleur deurbreek het.

“Die Tuin by Lu – “

Ek het lank voor “Die Tuin by Lu –“ gesit.  Die ikoonvorme wat op ‘n droomagtige blou opstyg, is vir my die mees vreedsame beeld in die storms van moderne kuns.

Paul Klee, 1911

“Ek sal nie in hierdie wêreld verstaan word nie,” het hy gesê, seker droef, in die laaste jaar van sy lewe.  Maar as waardering en liefde vir sy werk as begrip aangesien word, dan was Paul Klee, met respek, verkeerd.

“Nagtelike Groei”

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 Augustus, 2017

 

Bronne

Will Grohman :  Paul Klee

Wikipedia

 

Beelde

Klee se werke – Will Grohman : Paul Klee

Bern – TourismSwiss

Albert Einstein – biographies.com

 

 

 

   

%d bloggers like this: