Monthly Archives: January 2014

Sim Su-bong se rose

Dit was nie só nie, sê die puntenerige historikus, dit was só.  Maak dit saak hoe dit was?  Hoe belangrik is die presiese besonderhede?  ‘n Triestige liefdesverhaal is altyd waar.

Op die nag van Oktober die 26ste, 1979, is daar ‘n dinee gereël vir President Park Chung-hee van Suid-Korea.  Vyf jaar tevore het sy vrou, grasieus, alombemind, die onbeplande slagoffer geword van ‘n sluipmoordpoging op die president se lewe.  Die sluipmoordernaar was ‘n Noord-Koreaner.  Maar op dié nag in 1979, het Park, ‘n omstrede leier, met liefde en haat onder sy volgelinge, twee pragtige vrouens aan sy sy gehad.  Omstrede omdat hy die land ekonomies opgebeur het, maar tog burgerlike regte deurploeg het.

President Park Chung-hee

President Park Chung-hee

In die hoek van die dineesaal was daar ‘n gordyn wat gedeeltelik ‘n jong volkssangeres met haar kitaar afgeskerm het.  Omdat die president so van haar vorige opvoerings gehou het, en dalk vir meer as dit, bied hy daardie aand vir haar ‘n bos rooi rose.  Haar naam was Sim Su-bong.

Teen middernag stryk Kim Jae-kyu, ‘n voormalige assistent en vriend van die president, die jolige samekoms binne, pluk ‘n rewolwer uit, sê dat hy dit vir die land doen en skiet Park dood.  Kalm, verlaat die man die saal, gaan huis toe waar hy ‘n uur of twee later gearresteer is en die volgende jaar deur ‘n vuurpelaton tereggestel is.

Het Sim Su-bong se kitaar op die vloer geval?  Of het sy net gestaar, verblind deur die afgryse van die bloeddeurdrenkte tafel, vrouens wat skreeu, mans wat hardloop?  Het sy, deur die skok en chaos, deur ander uit die saal gehelp, die rose op die vloer vergeet?    Ons weet nie.

Wat ons wel weet, is dat Sim Su-bong het daarna ‘n lied geskryf, die naam, ‘n Miljoen Rose.  Ek luister nou daarna met  onsamehangende fragmente van vertaling … Het nie ‘n siel wat haat … wanneer ek waarlik liefhet, bot ‘n roos … Nou kan ek terugkeer na die sterrewêreld wat ek so baie mis …”  Kripties dalk,  maar nie obskuur dat mens nie kan sien dat sy diep geraak is nie.  Dit is nie onmoontlik nie dat sy veel meer as net ‘n geskokte bystaander was.  Die titel van die lied dui met passie daarop.  Films oor die gebeurtenis spekuleer hieroor.  Die Koreane met wie ek gepraat het, bly gedemp.  Maar die lied … die waarheid van hierdie verhaal lê nie in die besonderhede nie.

Sim Su-bong

Sim Su-bong

Ek kyk na haar foto op die omslag van die CD.  ‘n Mooi vrou eerder as beeldskoon, met haar konvensionele haarstyl, die masker glimlag.  Die lied dring binne met sy sagte wieg, en die wond is daar, die ondraaglike verlange.   Sy het later getrou, kinders gehad en ‘n nasionale en internasionale ster geword.

Op die foto, hou sy ‘n bos rooi rose teen haar, ‘n dosyn of so.

 

© Willem van der Walt

Meimaand, 2008

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

President Park – fineartamerica.com

Sim-Su-bong  –  zipstudios

Vir ‘n opvoering van die lied –  onemillionroses.blogspot.com – waar Sim Su-bong met Chang Ki-ha sing

 

 

 

 

Advertisements

TANCH’ŏNG – KLEURE VAN VREUGDE

Wat my allereerste in die tempels van Korea opgeval het, is die boeiende kleure.  Dan die patrone. Dan eers die strukture. Ek het my verkyk aan die tanch’ŏng, ‘n skilderkuns wat tweeduisend jaar gelede teen die skiereiland se grotmure ontstaan het. Tanch’ŏng  bedien hom van die vyf basiese kleure – rooi, blou, geel, swart en wit – en ‘n reeks tradisionele patrone waarin veral die lotusmotief gebruik word.

'n Trom-portaal, Bongeunsa, Seoel

‘n Trom-portaal, Bongeunsa, Seoel

Ek het my telkens oor die tanch’ŏng  se  besonderhede verwonder. So fyn dat dit aan filigraanwerk herinner. En die liefdevolheid waarmee dit geskep is, is byna voelbaar. ‘n Mens merk die fyn werk veral aan die  tempels se stutbalke, maar ek het dit ook op die dak van ‘n moderne ingang by Bongeunsa in die suide van Seoel teëgekom.

Ingang tot Bongeunsa, Seoel.

Ingang tot Bongeunsa, Seoel.

Hoe ook al, wat ook merkwaardig  van  tanch’ŏng is, is die wyse waarop die styl spontaan in figuurbeelding  oorgaan – ‘n draak op ‘n trom, byvoorbeeld, of menslike figure.  Ek het ook tanch’ŏng-skilderye by ‘n  uitstalling in die Cheongjui-tempel  teëgekom. Hierdie keer op ruwe teëls en ooglopend daarop  bereken om verkoop te word.

Tanch'ong-skildery op teel, Cheongjui-tempel

Tanch’ong-skildery op teel, Cheongjui-tempel

Tanch’ŏng spreek tot jou. ‘n Mens vereenselwig dit met louter vreugde.  Die Koreane beskryf hierdie treffende skilderkuns nie verniet as majestuees nie. ‘n Gepaste woord want uit die Koreane se liefde vir primêre kleure kom kuns met ‘n soort verhewendheid. En dié kuns  vind ook neerslag in tradisionele kostuums, waaiers en lappieswerk.  En altyd gaan daar iets  soos ‘n kinderlike vreugde van die kuns uit.

Stutbalke, Bulguksa-tempel.

Stutbalke, Bulguksa-tempel.

© Willem van der Walt

Julie, 2007 – Junie, 2008

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

 

JANGSEUNG – die kuns van die groteske

Kuns hoef nie altyd mooi te wees nie. Dié opvatting is reeds vroeg in die 20e eeu gevestig. Die gedagte dat kuns ook die groteske bestryk,  is so oud soos die mensdom self.  Die kuns van Afrika en talle lande die hele wêreld deur getuig daarvan.  ‘n Spesifieke vorm van groteske kuns  is die jangseung van Korea, wat ek gedurende ‘n jaar lange verblyf in Korea teëgekom het.

'n Sameswering van Lelikes

‘n Sameswering van Lelikes

Die jangseung is houtstompe waarin groteske gesigte gekerf is.  Die grense van landerye word enersyds met die jangseung afgebaken en bose geeste andersyds daarmee besweer. Die beelde het my onwillekeurig laat dink aan die  Notre Dame-katedraal in Parys se drakekoppe waar duiwels  die duiwel moet verdryf.

'n Skrouende

‘n Skrouende

Die jangseung is onverfynde kuns, oordonderend en na aan die Koreaanse hart, al beskou moderne Koreaan dit meer as tradisie as iets anders. Tradisioneel tref jy die beelde aan die  rand van landerye of by die ingang van dorpies aan. Dis iets om te aanskou.  By die Internasionale Maskerfees in Andong, het ek gesien hoe tieners en jonger kinders hulle eie jangseung so  ywerig uit stompe met hamers en beitels vorm dat die splinters spat.

Wyk, bose geeste, wyk!

Wyk, bose geeste, wyk!

Maar dit was by Hahoe (Ha-Wê) waar ek my treffendste  ervaring gehad het.  Hierdie dorpie, ‘n handvol primitiewe huisies, sommige bloot pondokkies, word hoog opgegee in die Koreaanse geskiedenis.  Volgens oorlewering is die jin-jang-simbool wat in die agste eeu in Hahoe ontstaan het, gesuggereer deur die vorm van die rivier wat deur die streek kronkel.

Die eeu-oue simbool

Die eeu-oue simbool

Hier, langs Hahoe se grondpad is dosyne  jangseung-beelde lukraak  neergesmyt.  Ek het op ‘n dag alleen tussen die groteske beelde, met hulle skreeuende bekke, massiewe tande, bultende oë en verwronge gesigte gestaan. Elke beeld is anders,  elkeen grotesker as die vorige, hipnoties en skrikwekkend. My  belewenis van die beelde was iets besonders –  iets magies.

Die bruidsmasker

Die bruidsmasker

Tussen die groteske gesigte het twee ikone gedempter aangedoen. Hulle staan as die Hahoetal bekend. Die tal in die woord slaan op masker. Die Hahoetal straal seën en welwillendheid  eerder as verskrikking uit.  Die een is manlik, die jangban, die woord vir adel, en die vroulike is  die bruidsmasker.  Die manlike masker is amper ‘n metafoor vir Korea.

Die Jangban masker

Die Jangban masker

Met niemand in sig nie het ek vir die vale foto’s geneem.   ‘n Ma en  haar dogterjie het haastig verbygekom en dit het my opgeval dat die vrou die kind se belangstelling in die jangseung  smoor.

Hoekom?

Van die groteske figure se fallusse is oordrewe uitgebeeld.   Ek het dit interessant gevind dat die moderne Koreane  vrugbaarheid beperk en  die Chinese met hulle een-kind-per-gesin gevolg.  Maar selfs in die jaar wat ek in Korea deurgebring het,  was dié gesindheid aan die verander.  Mens sien steeds die falliese simbool in verskeie openbare plekke in Suid-Korea,  anders as in die Weste waar falliese simbole verdoesel en as ongewens beskou word.

Die jangseung is nie almal se smaak nie. Maar vir my is dit ‘n treffende openbaring van  vitaliteit en spontane skeppingskrag en ja, ‘n versinnebeelding van die Koreaanse kultuur se geestelikheid.

© Willem van der Walt

Augustus 2007

http://www.loertoer.wordpress.com

Beelde:  Willem

 

 

 

 

%d bloggers like this: