Monthly Archives: May 2014

ISADORA

 

Ek dans; daarom bestaan ek

Ek dans; daarom bestaan ek

Ek kan nie lynreg en logies oor Isadora Duncan dink nie.  En as woorde hulle wel aanmeld, gaan hulle oor in ‘n lied wat marsjeer, wat skree, wat ween, wat haar dansbewegings vier.    Haar danspassies had iets van ‘n boaardse skoonheid. Vir  Friederich Nietszche sou dit die godin wat dans wees. ‘n Dansgodin wat die hoekstene van konvensie omvergegooi het, wat haar invloede in die oergeskiedenis loop haal het en van dans ‘n soort vloeiende, bewegende poësie  gemaak het.

Gee my 'n godin wat dans

Gee my ‘n godin wat dans

Haar dansery het mense oral getref, maar soos dikwels met ander, skaars in haar geboorteland, die VSA. Sy het gehore oopmond laat staar, want sy was ongelooflik. En moeilik om te omskryf.  ‘n Danseres wat meer as ‘n danseres was. ‘n Onvergeetlike vrou wat met elegante, maar rou, sprekende bewegings wat gerou het  oor die dood van haar twee kinders, wat haar liefde vir ‘n Russiese digter al dansende gevier het, wat die sogenaamde Oplossing van Alle Armoede in die vroeë jare van die Sowjet Unie onmiskenbaar bewonder het.

Passie

Passie

En haar danse sou haar oplaas van die digter skei. Hy sou selfmoord pleeg, en Isadora sou haar in Nice kom vestig, waar sy uit die Hôtel Bella Vista kon kyk op die Baai van Engele se intense blou.  En sy het bly dans en  jong dansers verbyster en geïnspireer.

Sy wat steeds dans

Sy wat steeds dans

En toe raap die jaloerse gode haar op 3 September, 1927 wreedaardig weg. Sy sterf ‘n fratsdood toe  haar serp, pragtig deur  ‘n Russiese kunstenaar beskilder, soos ‘n slang om haar nek slaan en in die speke van ‘n Bugatti-koepee verstrik raak en haar doodwurg. Dat sy, die toonbeeld van elegansie, só aaklig moes sterf! Op slag dood in ‘n bisarre  ongeluk. Maar morsdood? Nee, sy dans voort. Waar gedans word, lewe Isadora nog. Sy is onsterflik.

Isadora Duncan

Isadora Duncan

 

© Willem van der Walt

8 Mei 2014

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

toutmefaitchier.wordpress.com

danceconsortium.com

thespiae.oddmodout.com

histoire-costume.fr

babelio.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

Advertisements

TORINGS

Daar is iets omtrent torings wat die verbeelding aangryp. Kan jy jou  Johannesburg se kimlyn sonder die Hillbrow-toring indink? Kan jy jou al die plattelandse dorpe in Suid-Afrika sonder hulle kerktorings voorstel?  ‘n Dorp  sonder ‘n toring is kompleet soos ‘n skildery sonder ‘n fokuspunt  en laat mens met ‘n onbehaaglike indruk van  onafheid. Onvoltooidheid.

Met hulle torings is die vestingstede van Provence vir my mooi skilderye.  Villages perchés. Hoogliggende dorpies. Dorpies wat om selfbehoud op heuwels en kranse rondom kastele gebou is.  Hier en daar in Provence is daar ook van hulle aan die rand van ‘n diep vallei. Almal met torings wat ver uitkyk en die inwoners in die onstuimige middeleeue betyds teen gevaar moes waarsku. Die dorpies was op verdediging ingestel en kon net deur ‘n smal ingang betree word. Vandag kan van die  ingange nog gesien word en die nou straatjies kronkel steeds op na stewige middeleeuse geboue wat behoue gebly het.  Die ontwerpe sien mens in die geboue van lank voor die middeleeue in die Italiaanse skiereiland.

St Paul de Vence

St Paul de Vence

‘n Heuweldorpie  wat diep in my geheue gebêre is, waarskynlik omdat dit die eerste vestingdorp is wat ek  gesien het, is St Paul de Vence. ‘n Dorpie met oker geboue, teëldakke en smal kronkelstraatjies. En ‘n toring wat oor alles heers. ‘n Toring wat jou ‘n gevoel van geborgenheid gee en hede en verlede met mekaar verbind, jou  terugvoer na die stormagtige middeleeue toe mens net in ‘n kasteel en  toring veilig was.

Dit was uit die veiligheid van ‘n toring in nabygeleë Mougins dat Christene die besetting van Cannes deur die Sarasene skigtig dopgehou het.  Die Sarasene was ‘n  geslag of twee aan bewind in Cannes, ‘n moeilik tydperk vir die inwoners van Cannes. Later het die Christene die Sarasene eens vir altyd verjaag en sedertdien heet die boog in Mougins wat na Cannes uitkyk, die Saraseense Poort.

Saraseense Poort - toe onder geboue

Saraseense Poort – toe onder geboue

Kom ons beweeg aan na die twee torings  op Les Remparts in Antibes. Hulle is ná die middeleeue opgerig en vorm vandag deel van die ikoniese beeld van Antibes. Een is die katedraaltoring en die ander deel van die Grimaldi-huis, albei ná die middeleeue opgerig, twee torings wat onlosmaaklik verbind is aan die geskiedenis van die Côte d’Azur.

Les Remparts, Antibes

Les Remparts, Antibes

Hierdie twee torings is oor en oor deur skilders soos Cross, Monet, Signac, Matisse,  Chagall en De Staël geskilder. Die torings  is  wêreldwyd omtrent so bekend soos die uitsig op ikoniese Tafelberg vanaf  Bloubergstrand, en versinnebeeld Antibes se  eerlike, dapper eenvoud. Antibes se onopgesmuktheid vorm ‘n  skril kontras met die geveindsheid van Nice. Geen wonder dat Antibes met sy unieke sfeer diep in jou hart kruip en beroemde skrywers soos  Graham Greene, Guy de Maupassant en Victor Hugo hoog oor die eeueoue dorp opgegee het nie.

Eglise Marie-Madeleine, Biot

Eglise Marie-Madeleine, Biot

Biot se toring is nog ‘n Franse baken wat die verbeelding aangryp. Dis  deel van die pasgerestoureerde  Eglise Marie-Madeleine, wat in die 15e op die ruïnes van ‘n Romaanse kerk verrys het, wat op sy beurt  op die ruïnes van ‘n Romeinse tempel sy staanplek gekry het. Hede gebou op verlede.

En dan is daar die toring in Cannes genaamd Le Suquet. Dis waarskynlik ná die vertrek van die Sarasene tussen die elfde en twaalfde eeu tot stand gebring en  hou vandag byna anachronisties wag oor die hordes filmmakers en toneelspelers wat die stad tussen April en Mei vreedsaam vir die Cannes Filmfees binneval. Dan flits kameras en dit woel en die postmoderne wêreld neem oor. Maar die Le Suquet-toring bly ‘n imponerende toonbeeld van tydlose standvastigheid midde-in die skitterskyn.

Le Suquet, Cannes

Le Suquet, Cannes

© Willem van der Walt

Mei, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

Art Deco in Nice – die goue jare

Ek loop op die spoor van Art Deco in Nice, die ontwerpstyl wat die eerste keer in 1925 deur die argitek Le Corbusier so genoem is.  Teen 1966 is dié naam vir die nuwe styl wat uit die Belle Epoque  gevloei het,  meer algemeen gebruik. Maar dit was die verskyning in 1968 van die eerste boek oor die onderwerp, Art Deco Of The  20’s And 80’s,  van die historikus  Bevis Hillier, wat die styl finaal sy etiket gegee het.

Teen daardie tyd het Art Deco hom reeds deeglik laat geld en verandering gebring. Neem nou maar die  monumentale, vierkantige wolkekrabbers wat vanaf die 1880’s in Chicago en New York verrys het.  Met die koms van die Art Deco-ontwerpstyl is die hoekigheid van sulke bouontwerpe versag.

La Rotonde, 1929

La Rotonde, 1929

La Rotonde, een van Nice se praggeboue, wat in 1929 deur Georges Dikansky ontwerp is, is ‘n  uitmuntende voorbeeld van  die Art Deco-ontwerpstyl. Die ronding van die gebou lei die oog met ‘n kurwe van 180 grade langs. Kleurryke muurpanele, hoog bokant straatvlak, lok die  oog verder en wat jy sien, skep behae. Kenners  meen die tradisie van muurskilderye en –versiersels kom uit Alsace. In Kaapstad spog die Ou Mutual-gebou, ‘n  Art Deco-juweel, met ‘n muurpaneel van historiese beeldhouwerk net bo straatvlak.

La Rotonde - detail

La Rotonde – detail

Ná ‘n gesoek, vind ek La Palais Marie, nóg ‘n Dikanksy-ontwerp, maar die populierbome  langs die straat belemmer die uitsig sodat ek die gebou helaas nie in sy geheel kan sien nie. Wat hier merkwaardig is, is die wyse waarop die gebou hom tot die derde verdieping van pilasters bedien – vierkantige steunpilare wat gewoonlik omtrent een derde van sy breedte by ‘n muur uitsteek  en soms alleen as versiersel dien. Hulle is sterk en eenvoudig en omraam die blommotief van die vensters op die vierde verdieping.  Die ingang is ‘n toonbeeld  van Art Deco en kenners meen die  gietysterontwerp is Assiries van aard.

Palais Marie (1929) - pilasters en balkonne

Palais Marie (1929) – pilasters en balkonne

Palais Marie - die Ingang

Palais Marie – die Ingang

Nóg ‘n George Dikansky-ontwerp is La Monada, ‘n klein, wit eenverdiepinggebou, kennelik ‘n privaat woning, wat aan die strand pronk. Wanneer jy voor die gebou staan (Pasop net vir die verkeer agter jou!) meld ‘n uiteenlopende ervaring hom aan.   Regs is La Monada  ‘n toonbeeld van  ‘n  ontwerp wat tot  lyn en kurwe gestroop is en links La Villa Houvilla, ‘n ontwerp uit die Belle Epoque wat spreek van oordaad, kompleet  met ‘n koepel en  goue versiersel  aan  elke hoek – en moenie die  kiriatied miskyk nie. Die twee geboue vorm die skrilste argitektoniese kontras  wat ek nog naas mekaar gesien het. ‘n Argitek neem gewoonlik die omgewing waarin sy ontwerp tot stand sal kom in aanmerking, maar Dikansky, ‘n andersdenkende baanbreker se uitgangspunt was anders.

La Monada (regs) La Villahou Villa (links)

La Monada (regs) La Villahou Villa (links)

Kiriatied

Kiriatied

 

Georges Dikansky (1888-1963)

Georges Dikansky (1888-1963)

Seker die bekendste Art Deco-paleis in Nice is die Palais de la Méditerranée, ontwerp deur Charles en Marcel Dalmas. Dis in 1929 as ‘n casino opgerig. Dit staan aan die strand, binne loerafstand van die Negresco, die  blinkste juweel  van Belle Epoque-argitektuur en seker die duurste verblyfplek aan die Côte d’Azur.

Palais de la Mediterranée

Palais de la Mediterranée

Ek is bevoorreg om in die Med rond te stap en foto’s te neem. ‘n Vriendelike kelner lig my in dat wat ek vandag om my sien ‘n floue afskynsel is van  die oorspronklike casino voordat die eienaars boukontrakteurs ingestuur het om  die plek drasties te verander. Ou foto’s teen die mure herinner mens aan  hoe pragtig die plek  destyds gelyk het, met ‘n  suiwerheid van lyn en simmetrie wat seker net deur in die Chrysler-gebou in New York geëwenaar word.

Die Swembadbalkon

Die Swembadbalkon

Die Med is steeds ‘n lus vir die oog –  die vergestalting van elegansie, met sy ruim sitkamers, hysbakke, gange en  die ruim swembadbalkon wat onder  majestueuse  boë op die see uitkyk. Die kleurskema behels hoofsaaklik herfsskakerings, intiem en smaakvol. Al wat van die oorspronklike casino oorgebly het, nou ‘n spoghotel, is die treffende fasade waar Art Deco-ontwerp ‘n hoogtepunt bereik.

Die Casino voor die hotel

Die Casino

 

© Willem van der Walt

April, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s: Willem

Die Med-fasade – fr.wikipedia.org

Die Casino – La Cote d’Azur, Bilas, Rosso [Telleri, Paris]

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

 

DIE INTERNASIONALE MUSEUM VIR NAïEWE KUNS, NICE

 

Toe die bonkige deurwag by die museum vir naïewe kuns in Nice se ingang my kamera gewaar,  sê hy ferm, maar vriendelik: “Jy mag nie foto’s in die museum neem nie.” Ek dink dis ‘n bietjie naïef dat ‘n mens nie ‘n paar foto’s van die naïewe kuns mag neem nie, maar  lê my  by die deurwag se wense neer. Ek sal vir die verandering net kyk.

Museum van Naiwe Kuns - let Lanovsky werk, regs

Museum van Naiwe Kuns – let Lanovsky werk, regs

Ek sit my kamera weg en kyk na die uitgestalde naïewe kuns, ‘n versameling uit Frankryk (hoofsaaklik), die VSA, Brasilië, Pole, Hongarye en Brittanje. Op die oog af lyk die werke soms na blote kinderkuns, maar as jy mooi kyk, is daar unieke vernuf. Die werke is ongetwyfeld nie holderstebolder aanmekaargeslaan nie.

Ivan Generalic skildery

Ivan Generalic skildery

Die meeste werke is blye kuns, kuns waaruit hoop en menslikheid en warmte gaan. Dit vorm ‘n skril kontras met stug moderne en postmoderne kuns wat soms  onthutsend en deprimerend aandoen.  Hierdie naïewe kunswerke met hulle vrolike, dartelende, meestal primêre kleure, is beslis verfrissend. Die teenpool van postmoderne somberte.

Ek loop my halfflou, maar die besoek aan die museum is die moeite werd. Een hele vertrek is gewy aan die skilderye van Ivan Generalic (1014 – 1992) van Kroasië.  Die werke is betowerend: droomagtig met gedempte kleure en  kaal bome met die voorkoms van kantwerk. Sy treffendste werk is sy La Mona Lisa de Hleline (1972) ‘n  bisarre hen met ‘n menseoog, wat die hele doek vol pronk, alles in neonwit.

La Mona Lisa de Hlelbine deur Generalic

La Mona Lisa de Hleline 

In ‘n ander vertrek kom ek die werk van Gaston Chaissac (1910 – 1964) teë.  Hy skilder totems op planke –  helder kleure  met  gesigte wat by jou ‘n glimlag ontlok. In die middel van die vertrek staan ‘n stuk beeldhouwerk van Vincent Bouillat (1953 – ) – ‘n bokram wat uit ou wit verdraaide lappe voortgebring is, ‘n heel astrante bok met ‘n eie lewe.

Gaston Chaissac werk

Gaston Chaissac werk

Ek verwonder my aan al die werke in die museum: landskappe, stadstonele, portrette en beeldhouwerk.  Die beeldhouwerk, afgesien van Bouillat se treffende bokram, herinner sterk aan die eenvoud van Brancusi.

Fréderic Lanovsky werk

Fréderic Lanovsky werk

Buite in die tuine kan ek foto’s neem en die werke hier is almal  dié van  Frederic Lanovsky (1965 –  ) Hy is seker familie van Anatole  Lanovsky wat die museum in  1982 geopen het.  Sy werk is  snaaks, kleurryk, ‘n bietjie mallerig en gee die indruk dat hy dit met sy tong in die kies geskep het en wou gekskeer, dat hy ‘n  bietjie speels wou wees.

Detail - 'n Januskop?

Detail – ‘n Januskop?

Sy kuns en die  res van die naïewe kuns wat ek  besigtig het, lyk op die oog af bedrieglik eenvoudig. Maklike kuns.  Enigeen kan dit mos doen, sal mense sê, maar ek sê: “Nou toe, probeer ‘n bietjie en kyk… Of het julle vergeet dat eenvoud ‘n eienskap van goeie, treffende  kuns is?”

© Willem van der Walt

24 April 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Generalic se hen – omslag van ‘n boek oor sy werk op Amazon.com

Generalic landskap  –  desyeupouvoir.blogspot.com

Chaussac  –  examiner.com

%d bloggers like this: