Monthly Archives: January 2017

DIE AFRIKAANSE TAALMONUMENT, Die Pêrel

Die Taalmonument was nog altyd vir my treffende beeldhouwerk.  Dat dit Afrikaans vier is gepas:  die taal het binne drie of vier geslagte ‘n wêreldletterkunde daargestel.

Vloeibaar, bevrydend

Vloeibaar, bevrydend

Die Monument is ryk aan simboliek.  Ons weet van die parabola wat die groei van die taal dui.  Maar die vorme wat vir hierdie simboliek deur Jan van Wijk, die argitek, gekies is, is sonder presedent in suidelike Afrika.  Die ontwerp  van die Universiteitsoordkerk in Pretoria is ook ongewoon.  Van Wijk voel die nood om van tradisionele vorme weg te breek.  Vir my is daar met die Taalmonument ‘n weerklank uit ‘n ouer, amper tydlose Afrika – die Soedano-Saheliese bouvorme.

Tekstuur, kleur en kurwes

Tekstuur, kleur en kurwes

Geronde torings

Geronde torings

Die geronde torings, die kleur-tekstuur van die boumateriaal, die grasie in konstruksielyne … ‘n Argitek op dié vlak soek sy inspirasie in vergange tye en hy dink ten minste ‘n eeu vooruit.  En ek meen hy sou sulke idees skaars gehou het in die jare sewentig toe sy ontwerp vir die Taalmonument  aanvaar is.

Fors en onbeweeglik

Fors en onbeweeglik

Dit is interessant dat Gerard Moerdijk wat die Voortrekker-monument (1938) ontwerp het, het gesê dat hy deur ou-Egipte inspireer is.  Maar dit is duidelik dat die modieuse vorm van deco (1920 – 1940) oorwegend  was.  Dié monument is vir my ‘n swaar, geslote vorm met ‘n onbuigsame gees.  Die Taalmonument, inteendeel,  is ‘n ligte, vloeiende  vorm wat die bevryding van abstrakte beeldhouwerk straal.  As ons die twee monumente bymekaar plaas, is dit die evolusie van die gees van ‘n volk wat ons aanskou?

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Somerset-Wes / Antibes

Januarie, 2017

 

Bronne

Wikipedia : Voortrekker Monument

Vele beelde van Soedano-Saheliese argitektuur op die internet

 

Beelde

Afrikaans Taalmonument  –  Commons.wikimedia.org

Moskee Dogon  –  agefotostock.com

Torings  –  detroitarchitectjournal.blogspot.com

Voortrekkermonument  –  peace.maripo.com

 

NAPOLEON IN ANTIBES

Dit doen altyd iets aan my as ek loop waar hulle geloop het, dié wat die geskiedenis verander het.  Om te sien wat hulle gesien het, dalk met soortgelyke emosies … Die Trocadéro in Parys wat deur die Eiffeltoring oordonder word, die spesifieke plek waar Hitler en sy kollegas welbekende (of berugte) foto’s laat neem het, om in Musée Picasso te staan waar die kunstenaar kaalbors in die Provensale somer geskilder het … En ook in Antibes is daar ‘n legende dat Paulus self hier aan wal gekom het, iets wat glad nie onwaarskynlik is nie.  Agter in my kop is daar ‘n moontlikheid dat êrens in dié kontrei, in ‘n toegevalde grot wat nog ontdek sal word, is die Brief aan die Inwoners van Antipolis (later Antibes), deur Paulus geskryf …

"Le maitre de l'Europe"

“Le maître de l’Europe”

Nou is dit Napoleon Bonaparte, ‘n skamele 223 jaar gelede, wat in die strate geloop het waar ek loop, gesien het wat ek vandag sien, maar seer seker met ander gedagtes en gevoelens.

Hy is afkomstig van ‘n aristokratiese familie uit Korsika en is nog voor die Revolusie van 1789 in Parys in krygskennis opgelei.  Maar hy kry stry met ‘n leier op Korsika en vlug met sy moeder, broers en susters.  Op Korsika is daar ‘n tradisie om twiste op ‘n nie-verbale manier op te los.  In Nissa (later Nice), maak hy ‘n groot indruk op Massena wat die leisels van die leër beheer.   Intussen trek sy moeder Madame Letizia en die “stam” kinders, soos een historikus dit sê, by die Château Salé in en hier volg ‘n tyd van vreugde vir Napoleon, veral met die ontmoeting van Pauline, die Borghese prinses.

Chateau Salé, Antibes, vandag

Chateau Salé, Antibes, vandag

Die jong kaptein kom treffend voor met sy Korsikaanse aksent, slank, amper maer, styf uitgedos in sy donker blou uniform van die artillerie-eenheid.  Die skerp intensiteit kry rigting in die energie.  Hy word getaak om die suidelike kus, vanaf Nice tot Marseilles, teen aanvalle te versterk.  Ek het op die Île de Lerins in die baai van Cannes op Napoleon se kanonsteunhuisies in die woud afgekom, mattreëls teen rojaliste asook ander vyande, veral die Engelse.

Kanonsteunhuis, Ile de Lerins

Kanonsteunhuis, Ile de Lerins

In Antibes het hy die batterei Graillon op die Cap d’Antibes as ‘n sterk verdedigingspunt beskou.

Batterie du Graillon, Cap d4antibes

Batterie du Graillon, Cap d’Antibes

Maar die Revolusie in Parys het sy eie kinders begin verslind en Robespierre is onthoof.  Omdat Napoleon met Robespierre en sy broer aansienlik kontak gehad het, word hy verdink van sameswering en is gearresteer.

Staal gravering (1879) van Napoleon in Nice gevangenis

Staal gravering (1879) van Napoleon in Nice gevangenis

Wikipedia meen dat hy in Nissa aangehou is.  Die historikus De la Souchére meen dit is Fort Carée in Antibes, ‘n oomblik in die geskiedenis waaroor die Antibois nogal trots is.  Die toergids by die Fort kyk my ironies aan toe ek hom hieroor uitvra.  Om die waarheid te sê, gryns hy, ons weet nie.   Dit het in elk geval net twee weke geduur.

Fort Carée, oor Port Vauban, gebou 1580

Fort Carée, oor Port Vauban, gebou 1580

Sy lewe,  sê een historikus, was die materie van legende. Sy nalatenis is, volgens dieselfde historikus, die poging om linkses en regses te verenig met ‘n Bonapartistiese draad wat deur die politiek van die 19de eeu loop tot en met die jongste leiers in 21ste-eeu in Frankryk.  Al het hy uiteindelik militêr die spit afgebyt na ongelooflike sukses, het hy, onder andere, − die lys is lank − die sekulêre staat nie net in Frankryk daargestel nie, maar ook elders.

Die Banneling deur W.M Turner

Die Banneling deur J.M.W. Turner

Hy is in 1821 op Sint Helena dood, waar hy amper ses jaar  gevangene was.  Na sy dood was die legende, party sê apoteose, óm hom al aan ‘t groei en sy tombe in Les Invalides in Parys is seker van die grootste ter wêreld.   Dit is vir my interessant om te dink dat ek en hy iets in gemeen het, wel, terwyl hy op Sint Helena was – Constantia-wyn van die Kaap.  En aangrypend interessant vir my is dat Napoleon ‘n soort van hofnar op die Eiland onder sy volgeling gehad het wat ná Napoleon se dood Kaap toe gekom het.  Sy nasaad was my buurman op Stellenbosch.

bonaparte

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2017

 

Bronne

Elena Dor de la Souchère :  Antibes 2500 ans d’histoire.  Maisonneuve & Larose, Ville d’Antibes. 2006.

Cecil Jenkins :  A Brief History of France.  Running Press, Philadelphia. 2011.

Wikipedia.

 

Beelde

 « Le maitre de l’Europe » – napoleonbonaparte.pagespersa – orange.fr

Château Salé – plus.google.com

Napoleon in Nice gevangenis – etsy.com

Fort Carée – my foto

Die Banneling deur Turner – parisblogged.fr

Bonaparte – axl.cefan.ulaval.ca

 

 

 

 

 

 

DIONYSUS

Brons masker van Dionysus

Brons masker van Dionysus

Hier is hy – dramaties, aangrypend met sy speukbaard wat die wêreld volstraal …  ‘n brons masker van Dionysus, oftewel Bacchus, sy hare toe onder druiwetrosse.  Die oë het nog die erns van die eeue-oue kultus, ‘n erns wat in ons populêre kultuur verlore geraak het.

Hierdie masker, met trots uitgestal in die argeologiese museum, is in 1980 in die oorblyfsels van ‘n skeepswrak in die waters om Antibes opgediep. Die skatting is dat hierdie skip, swaar belaai met wyn-amfora, het tussen 80 en 60 jaar v. C. sy rieme hier styfgeloop. Die masker is van plunderaars gered.

Houers van wyn, die amfora

Houers van wyn, die amfora

Homerus noem hom as ‘n mindere god, maar Dionysus, al was sy ma ‘n sterfeling, was hoek en kant deel van die Griekse panteon, die grootste seep-opera in die geskiedenis.  En kort voor te veel eeue het die Dionysus-kultus nate uitgebars.   Teen 300 jaar v. C. was die kultus wydverspreid en geniet ‘n hoë aanhang.

Brons kop van Dionysus, Britse Musem  (Let mense - regs)

Brons kop van Dionysus, Britse Museum (Let mense – regs)

Dionysus word gekoppel aan vrugbaarheid en bevrugting.  Hy is die beskermheer van teater en skeppende kunste.  Hy beliggaam ekstatiese religie, sterk bevorder deur sy status as die god van wingerde, wynmaak en, seker, die inname van wyn.  Onder hom is daar ‘n hierargie van persoonlikhede, party van hulle, pragtig en sensueel, wat nie te veel klere aan het nie, ander met horings op hulle hoof wat fluitspeel in die woud en weer ander wat half mens, half perd is.  Interessante geselskap.

Bacchus

Bacchus

Met die opkoms van die Romeine, kry Dionysus nie net ‘n nuwe naam nie, maar ‘n nuwe dog kleiner baadjie.  Nog drie, vier eeue dan sal die stoere Christene aan die joleit stopsit.  Twee millennië later word die brons masker van Antibes se seebodem gelig.

Hier is hy en ek weet nie waarom dit nou by my opkom nie, maar lank gelede, nog voor ek ‘n tiener was, en lank voor ek van Nietszche se gedagtes oor Dionysus geweet het, het ek gewonder waarom hulle nie die kerkbanke opsy skuif nie.  En dans.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2017

Bronne

  1. Delaval, R. Thernot : Objets d’Antipolis. (Mémoire Millénaire, Antibes. 2011)
  2. Delaval, R. Thernot (red.): Aux Origines d’Antibes (Musée d’Archeologie, Antibes.)
  3. Cazenave (red.) : Encyclopédie des Symboles (La Pochothéque, Műnchen, 1996.)

Wikipedia  

Beelde

Dionysus-foto van poster – Willem  

Dionysus-kop  –  Wikipedia

Bacchus-beeld  –  crystalinks.com

 

 

  

 

 

DIE MARMERARM – Piëta Bandini in Florence

Is hierdie arm die ontroerendste stuk beeldhouwerk wat ek ken? Ek reken so. Ek praat van die arm van die Christus-figuur in die afsettingsgroep, die Piëta Bandini,  deur Michelangelo, in Florence.  Die gedagte daaraan voer my terug en ek herleef  ‘n skemeraand in Florence. Ek dwaal die Duomo, die hoofkatedraal, binne en kom  onverwags ‘n groepie toeriste en hul gids teë. Die gids staan begeester  by Michelangelo se Piëta en uitwei, en ek glip nader.

Afsettingstoneel (1550) deur Michelangelo

Piëta Bandini Afsettingstoneel (1550) deur Michelangelo

Die man lewer kommentaar oor die beeldgroep – Maria Magdalena, Nikodemus en Maria by Christus wat pas van die kruis afgehaal is. Die gids vertel dat Michelangelo  72 was, toe hy met die beeldgroep begin het en  agt jaar daaraan gewerk het. Maar die beelde het nie die meester se goedkeuring weggedra nie.

Ek hang aan die gids se lippe.

Lang storie kort: Michelangelo het die beelde met ‘n beitel begin vernietig, die ledemate afgesny, en sou die hele werk tot niet gemaak het, as hy nie omgepraat was om die Piëta vir  Francisco Bandini te gee nie.  Bandini het ‘n beeldhouer, Tiberio Calcagni, gevra om die beeldgroep te restoureer en die  ledemate terug te sit. Een van die ledemate wat teruggesit is, is dié gestorwe Christus se arm.  Die ontroerende arm waaraan ek my verkyk…

Die marmerarm

Die marmerarm

Ek staan vasgenael na die arm en kyk, die doodsheid waarmee dit  in kontras met die vloeiende lyne van die liggaam vertoon.  Die arm hang half skeef, en wek die byna tasbare gevoel  dat die lewe daaruit gedreineer is, dat die dood ingetree het waar  pyn  gewoed het.

Elke besonderheid is daar, liefdevol met die  beitel uit die marmer voortgebring.  Vir my gevoel beeld Michelangelo die dood met hierdie gestorwe Christus treffender uit as wat die geval met die beroemde Piëta in die Sint Pieterskerk in Rome is.

Die Piëta in die Sint Pieterskerk, wat lank voor die Bandini Piëta gemaak is, is vir my ‘n rustiger uitbeelding van die dood, met albei figure mooi, en amper onaangeraak deur pyn en lyding. By die Bandini Piëta is daar niks van hierdie elegante klassisisme te bespeur nie.  Die Bandini Piëta se Christus is sigbaar dood. Leweloos. Sy liggaam  druip en Sy kop hang oor  na Maria  wat nie krag het om Hom te ondersteun nie en oorstelp is van droefheid.

Self-portret van Michelangelo

Self-portret van Michelangelo

Wat my verder omtrent die Bandini Piëta ontroer, is dat Michelangelo homself in die bebaarde figuur bo Christus  uitgebeeld het. Dis óf Nikodemus óf Josef van Arimatea, sê die kenners. Hoe ook al, dat Michelangelo homself so in dié toneel ingesluit het, slaan vir my op ‘n intimiteit van geloof wat skaars verwoord kan word. Of is dit omdat hy die beeldgroep aanvanklik gemaak het met die idee dat dit by sy  graftombe sou pryk?

Waarom wou Michelangelo sy Piëta ná al die jare se werk daaraan te vernietig? Die vraag bly my spook. En die gids verduidelik:

Michelangelo het eindelose probleme met die beeldgroep gehad: die Madonna se arm het afgeval… die kwaliteit van die marmer was nie oral op peil nie… en Michelangelo was gewoon ‘n perfeksionis wat nooit tevrede was met iets wat hy geskep het  het nie. Hy het die Pïeta eenvoudig nie goed genoeg geag nie.  Tog sê hy in dié tyd van sy lewe, Waarom moet ek nou sterf, noudat ek geleer het om beeldhouer te wees?

Michelangelo

Michelangelo

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2017

Bron

Wikipedia Bandini Piéta

Beelde

Marmergroep  –  pinterest

Die arm  –  employees.oneonta.edu

Self-portret  –  florencewebguide.com

DaVolterra-portret van Michelangelo – travelsacrossitaly.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

%d bloggers like this: