KAAPSTAD ANTIBES – Huldeblyk-vlegsel

Les Remparts Antibes

“Alles straal, alles bot, alles sing.  Die son, die vrou, die liefde is almal hier tuis.  Ek het steeds die helderheid in my oë en in my siel.”  − Victor Hugo (1802-1876), digter, dramaturg en skrywer (30 jaar nà sy verblyf in Antibes).

Kaapstad, deur Hoffnung, 1750

“Hierdie kaap is die statigste ding en die pragtigste kaap wat ons in die hele omtrek van die aarde gewaar het.”  – Uit die joernaal van Sir Francis Drake (1540-1596), ontdekker, toe hy die eerste keer die Kaap sien in 1580.

Belle Epoque poster Antibes

 “Sterrekunde leer ons dat die aarde is ‘n ster van die hemel.  Die reise wys ons dat die Kaap van Antibes is dié hemel wat ons op aarde tref.”  − Camille Flammarion (1842-1925) wetenskaplike, mistikus.

Belle Epoque poster Kaapstad

“Dis ‘n pragtige en ongewone dorp; dit lê aan die voet van ‘n reuse muur, wat na die wolke reik, en voorsien ‘n imposante versperring.  Kaapstad is ‘n grootse herberg, op die hoofweg na die Ooste.”  − Charles Darwin (1809-1882), naturalis, geoloog, bioloog, in ‘n brief na sy suster Catherine, in 1836.

Cap d’Antibes

“Ek is getref deur ‘n soort van bedwelming waarin die majesteit van dinge ons tuimel, soos ons deur ‘n tuin beweeg, dit wat pragtig aan die punt van Antibes gesitueer word.  Mens is in ‘n Eden wat voel asof mens in oneindigheid swem.” – George Sand (1804-1876), skrywer, dramaturg, digter.

Antibes en die Alpes Maritime

“Ek onthou ek is eenmaal voor die stad Antibes deur weerlig getref, en ek het geskree dis te veel, dis te mooi.”  Jacques Audiberti (1899-1965), skrywer, digter, dramaturg.

Kaapstad deur Bourset 1770

 “Dalk is dit geskiedenis wat georden het dat hier, aan die Kaap van die Goeie Hoop, ons die fondasie steen van ons nuwe nasie sou lê.  Want dit was by hierdie Kaap, waar die noodlottige byeenkoms begin het, van die mense van Afrika, Europa en Asië op hierdie strande.” Vorige President Nelson Mandela (1919 – 2013), tydens sy inleidende toespraak, 9de Mei, 1994.

Kaappunt

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Julie, 2017

 

Bronne

Pierre Cosson: Antibes Juan Les Pins Biot Vallauris.  Guide Historique et Touristique.  Editions Gismondi. Cypris. 1980.

South African quotations

Beelde

Antibes – Pierre Cosson : Antibes …

Hoerikwagga – Hoffnung 1750

Belle Epoque poster Antibes – bron verlore

Belle Epoque poster Kaapstad – Hoerikwagga

Cap d’Antibes – Pierre Cosson : Antibes …

Antibes – Claude Dronsart, Renaud Dumenil : Antibes Juan Les Pins. Editions A.R.T. 1991

Kaappunt – Backpackers.com  

 

 

 

 

Advertisements

DIE STERRE IS GETUIES – Nice, een jaar

Die oggendblad Nice-matin se opskrifte vertel die storie, die gebeurtenis van die 14de Julie, 2016, in Nice, die terreuraanval tydens die viering van Frankryk se Bastille-dag.  Opskrifte van ‘n gemeenskap steeds deurtrek met rou.  

Nice-Matin Vrydag 14de Julie 2017

NICE VIR DIE LEWE – hoofopskrif

Nice en Frankryk lewer huldeblyk aan hulle engele −  Die engele verwys seker na die naam van die baai om Nice − die Baai van Engele.

“Ek wil daarin slaag om my weer aan geluk bloot te stel” – ‘n artikel deur Sonia Caléo-Darwiche wat haar moeder, haar suster en haar swaer op dié aand verloor het.

NICE, VIR ALTYD  − ‘n artikel deur die welbekende Nice skrywer Didier van Cauwelaert waarin hy praat van die stad as “die grond van verwelkoming en vryheid”.

Nice-Matin Saterdag 15de Julie 2017

ALMAL AS EEN VIR NICE – die hoofopskrif

Huldeblyk aan die slagoffers:  Nice klop met een hart

Menslikheid oorwin barbaarsheid – ‘n artikel wat die ontroerende toespraak wat president Emmanuel Macron tydens die hoofseremonie gelewer het, aanhaal:  “Ons is aan die gesneuweldes verskuldig om die stryd elke dag voort te sit.”

Die sterre sluit weer by die hemel aan – ‘n artikel oor die toneel van wit balonne wat oor Place Massena vrygestel is, in pleks van die gebruiklike vuurwerke.

‘n Beeld uit Parys – ‘n artikel en foto van die woord NICE wat deur die militêre orkes tydens die Bastille-vierings geform is.

Les étoiles pour témoins – die sterre as getuies.  In hierdie hartstogtelike en ontroerende huldeblyk aan haar niggie Camille wat dié aand dood is, het dié inwoner van Nice, Pauline Murris, seker die hele Frankryk se harte verskeur :   Is dit van dieselfde lig wat sterre gemaak is?  Ek durf dit te glo.  Die 86 engele wat vanaand skyn, sal as ons getuies daar wees.

Die name … die name …

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

17de Julie, 2017

 

Bron en beelde

Nice-Matin 14de, 15de Julie 2017

 

 

 

 

MIDDELSOMERSAAND-JAZZ

In die soel laatmiddag slaan hulle vinnig ‘n opslaan- verhoog en –dekking op Place Charles Cros, die oop hof onder die venster van die woonstel waar ek bly.  Teen sewe-uur arriveer die musikante – twee op saksofoon, twee tromslaners, twee op kitare en een op elektroniese klavier.

Die gehoor, seker ‘n honderd sterk, sit by ‘n paar tafels, op die gras om die blombeddings en, soos ek, op die randstene van die beddings.  Ek meen die konsert is deur die munisipaliteit geborg, seker om mense weer na openbare opvoerings terug te lok, veral dié van die wêreldberoemde jazzfees te Juan Les Pins, die sustersdorp van Antibes.

Die musikante maak hulle reg, toets die klankstelsel en stem instrumente.  ‘n Sangeres staan nader.  Sy laat my aan ‘n swartgeklede hotnotsgod dink, wegwaai-maer, maar toe hulle met “Summertime” lostrek, laat sy die lied kook met haar verbasende whisky-en-sigare stem.  Toe is dit ‘n slagtige weergawe van “Autumn Leaves” en daai instrumente – die saksofone, die kitare en die elektroniese klavier − om die beurt,  “skinder” behoorlik  oor die beminde melodie.  Die Franse woord “jaser” beteken skinder en dui, vir sommiges, die oorsprong van die woord jazz.

En die gehoor klap en skree en, soos jazz liefhebbers, verloor hulle in die oerwoud van improvisasie.  Latino-ritmes, rock ritmes, gesinkopeerde ritmes … dit tuimel uit hierdie orkes, oorwegende bejaard maar met jeugdelike energie.    Die tradisionele “12-bar” bluesnommers is skeppend gedoen, musiek, meen ek, wat op die kaaie van Kaapstad se hawe al in die laat-19de eeu mense ook vasgenael het.   Meersleurend, omdat die basiese vorm altyd daar is en dus ‘n bevredigende onvermydelikheid aan die akkoorde verleen.  Ai, Dionysus, jy sou ons beny.

En tienuur, toe die maan oor die bome verskyn, eindig die orkes en die sangeres, met skerp en liefdevolle ironie … “Bad Moon Rising”.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

12de Julie, 2017

 

Bron

My hart

Verwys ook:  Die  Wes-Kaap en die Blues, www.loertoer.wordpress.com

Beeld

‘n Gesteelde poster

 

 

 

LA FĒTE DE ST JEAN

Die trom en die trekklaviere hoor jy al op ‘n afstand.  En dan is hulle daar – die optog van kinders met swaaiende lanterns, grootmense, musici et die dansers.  Hulle vorm ‘n arena op Place Charles Cros, die oop hof onder my woonstelvenster.  Ek draf die trappe met my kamera af.  Dié jaar loop ek nie die Fees van St Jan (om die Hollandse vertaling te gebruik) mis nie.

Van ver al

Die dansers, vier pare, uitgedos in tradisionele kostuum, staan reg.  Hulle trek weg en die musiek laat my verlangs dink aan boeremusiek, majeursleutel dansmusiek.  Die kostuums kom voor as Spaans of selfs, Italiaans, maar nee, dis Occitan, die patois-kultuur van die Midi, die suide van Frankryk.  Die mans het swart, breërand cordobe-hoede met swart onderbaadjies en broeke;  die vrouens, wydromprokke, fyn borduur en doeke.  En daar is verbysterende triptrap passies, arms omhoog, kringbewegings, die stralende genot en die geklap en geskree van die gehoor, vol bewondering en waardering.  Ek kyk toe, sommer in ekstase.

Die dansers van St Jean

Wat ek hier sien, weet ek al, kom van ver, selfs lank voor die Christen geloof, waarskynlik deur die oer-Kelte gevier en wie weet, nog voor hulle.  Die Katolieke Kerk, skugter vir wat heidens is, het vroeg die fees oorgeneem en dit omgeskep as die fees van Johannes die Doper, hy wat ses maande voor Christus gebore is.  Dus, ‘n middelsomers fees.

Sy wat dans

Aan teenoorgestelde kante van die dansers en die gehoor is daar twee mans met groot fakkels, ‘n weerklank van hoe die fees in vroeër eeue gevier is – met ‘n reuse kampvuur waardeur die waaghalse van die gemeenskap gespring het.  Langs die trekklaviere en die dame wat die trom slaan, is twee meisies met versierde meibome wat ook in die verre geskiedenis weerklank vind.   En dié fees word elke jaar op verskillende maniere vanaf Oos-Europa tot in Ierland gevier.   Onder die Franse gemeenskappe in Kanada is die fees ook baie populêr.

Die meiboom, uit verre geskiedenis

Ek dink aan ander volksdanse, aan my intense vreugde, juis omdat dit ervarings is wat ek buite die media beleef het – die Klopse van die Wes-Kaap, Bulgaries en Russiese volksdanse, Zoeloe-danse, die gewyde volksdanse van Korea.  Dit wat stryd voer met die enersmaking van globale media.  Dit wat by my bly.

Volksdans, St Jean

En – kan jy dit glo? – die viering gebeur terwyl die aandwolke veryl en ‘n jaspis volmaan oor die toneel gloei.

 

©  Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

8ste Julie, 2017

 

Bronne

Wikipedia :  Feast of St John

 

Beelde

Foto’s en tekeninge – myne

 

 

 

 

 

Die Voet van St Petrus

Dit is jare vandat ek die voet van St Petrus in die Basilika van Rome besigtig het.  Die baie wat ek daar gesien het, het half vervaag in my geheue.  Maar daar is dié wat ek kan noem, wat spore gelos het.  Die vreemde een is die voet.

St Petrus in troon

Die spekulasie is dat dié ikoniese  beeld nagenoeg sewe honderd jaar oud is, gemaak deur Arnolfo di Cambio.  Dit word deel van enige pelgrimstog na die Basilika en die gebruik vir pelgrims is om die regtervoet van die beeld te streel, die voet wat effens van pediment uitsteek.  In die sewe honderd jaar het pelgrims die voet glad gevryf.  Die tone van die linkervoet, effens terug, kom effens aangeraak voor maar.  Dit word geskat dat, weens die hardheid van brons, dit slegs kan gebeur deur die aanraking van miljoene hande.  Die vraag is hoeveel miljoen, oor sewe honderd jaar.

Pelgrim by die voet

Op ‘n manier voel dit vir my soos die geskiedenis van die mens in die kleine.  Die mens op sy lewenstog raak-raak aan iets om te glo.  Hy slyp dit glad want die hartstog in sy soeke veryl nie.  Net, in die Basilika van Rome, is daar met die beeld van Petrus se voet fisiese bewyse van die hartstog.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Julie, 2017

 

Bron

St Peters Basilica Info

 

Beelde

Beelde – St Peters Basilica

 

 

 

 

 

 

LA BELLE OTERO − die kraak in die kristal

Konings van Europa, presidente, rykes en magtiges, selfs die keiser van Rusland, het vir haar ogies gemaak.  Digters en dramaturge het liries oor haar geraak. Twee het selfs op ‘n keer swaarde uitgepluk en ‘n tweegeveg oor haar gevoer.  Nog twee het selfmoord oor haar gepleeg.  Ek praat van La Belle Otero,  die heel eerste danseres wat verfilm is. Doer in  1889, vyf of ses jaar nadat die filmmedium sy verskyning gemaak het. Dit het die sterstatus wat La Belle Otero reeds gehad het nog blinker laat skyn.

Wat ‘n ster was sy nie! Hierdie danseres, skoonheid en courtisane uit die Belle Epoque-tydperk, die tydperk in Wes-Europa tussen die einde van die Frans-Pruisiese oorlog en die begin van die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Tydperk van vrede en voorspoed wat heel gepas Belle Epoque oftewel Pragtige Era  benoem is.

La Bello Otero 1890

Ons weet nie veel van die elegante, misterieuse, sensuele La Belle Otero se agtergrond nie, behalwe dat sy in haglike armoede in 1868 in die agterstrate van Valga-Galicia, Spanje, gebore is. Een ding is seker: sy het die kollig as lid van die Folies Bèrgere in Parys soos ‘n meteoriet getref en uitgestyg as die eerste groot ster van dié  bekende dansgroep. Toe Parys haar begin verveel, het sy  koers gekies na die suide van Frankryk om die Côte d’Azur te verower. Hier het sy haar  betowering  tot ‘n fyn kuns vervolmaak en voortgebou op haar reputasie as ‘n opperste verleidster. Haar buitengewone donker oë, soel grasie en die ontembare passie van ‘n  sigeunerdanseres was onweerstaanbaar en sy kon kies en keur onder hoërklasmans.

Die skitterende kristalglas wat sy was, had kennelik  ‘n kraak. Sy was losbandig, wulps, ‘n seksbom. ‘n Courtisane. Dit was die dae voor voorbehoedmiddels en omdat sy glo as kind verkrag is en toe gesteriliseer is, kon sy haar seksuele gawes na willekeur uitdeel.

Die Misterie

Diep in die veertig,  ná die Eerste Wêreldoorlog, het sy haar  aan die kollig en lewe onttrek en die  miljoene wat sy as danseres verdien het by Monaco se dobbeltafels weggedobbel.

Sy was op die voorgrond van my gedagtes toe ek Monaco onlangs besoek het en  my kamera in die portaal van die casino gelig het om foto’s te neem. En ek het gewonder: Spook sy dalk hier saam met al die ander ongelukkiges wat in die 150 jaar sedert Gustav Eiffel die plek ontwerp het, al hulle geld hier verloor het?

Die Casino

Binne – die verbode foto

Soos haar geld minder geword het, het La Belle Otero van haar luukse woning in Monaco na ‘n tweederangse hotel in Nice verhuis.  Die base by die casino het hulle oor haar ontferm en hulle eens skatryk klant elke maand  ‘n pensioentjie betaal.

Haar ster het verbleek. Deur die jare is daar weliswaar baie oor haar geskryf en in 1954 is die rolprent La Belle Otera met ‘n Meksikaanse aktrise in die hoofrol uitgereik.  Maar belangstelling in La Belle Otero het gekwyn.  Mens kon die verflenste ou vrou wat sy geword het, later nie met die wilde eksotiese wese wat sy in haar fleur was, die skoonheid wat die eerste danseres in ‘n rolprent was, vereenselwig nie. Toe sy  in 1965 op die ouderdom van 97 oorlede is, was sy lank reeds  ‘n verskiete ster.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Junie, 2017

 

 

Bronne

carolineotero.orchesis-portal.org

Wikipedia:  la Belle Otero

Sites, France 2 televisie

 

Beelde

Receuil des commémorations nationales 2015

La Bello Otero – Païva – Liane – de Pougy.  JDD papier.

La Belle Otero tuisblad

Casino buite, Casino binne – my foto’s

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

 

 

JACQUES DOLLE

Hulle stry selfs oor sy naam.  Hy is nie Jacques nie, word gesê, maar Joseph.  En tog het dié man, gebore in 1650 in Antibes, sy merk op die samelewing gelaat, wel, meer as ‘n merk.  Hy word deur sommiges as ‘n “meester beeldhouer” beskou.  En dié benoeming kan jy self oordeel met sy werk wat die Katedraal van Sainte Marie, Antibes se hoofkatedraal, verryk.  Staan jy voor die ingangsportaal sien jy reeds die handewerk van die man,  ‘n innemende karakter uit die geskiedenis van die stad, maar ook misterieus.

Dié reliëffigure verbeeld legendes en stories uit die Bybel, fyn werk wat die baroktydsgees weerspieël, gepas as mens die fasade van die Kerk in ag neem.  Binne is die kansel en die doopfont, albei sy werk.

Sy werk moes seker hoë aansien gevind het want daar was in sy tyd talle Italiaanse beeldhouers wat werk gesoek het.  Blykbaar het die Sonkoning, Louis XIV, van hom gehoor en hy het ‘n paar projekte daar in die koning se mooi woning afgehandel.  In Antibes is daar ook sy meesterwerk Die Poort van Frankryk, ‘n majestieuse ingang tot een of ander chateau, maar dit het ek nog nie gesien nie.  In die argiewe staan dit dat hy nooit hiervoor betaal is nie.

Maar dit is ook ‘n verhaal van haat en venyn.  Vir een of ander rede was hy nie onder die aristokrasie van Antibes populêr nie, dalk weens sy nederige herkoms. So begin die bose tong, soos die Franse dit noem, sy lewe vergiftig.  Hy is met paranormale gedoentes beswadder en dit kom uit ‘n skinderstorie dat hy een nag in die tuin van ‘n ryk marquis met ‘n wit vroulike spook te doen gehad het.  Dit is die volgende dag gevind dat die spook ‘n albaster Venusbeeld is, uit die tyd van die Romeinse eeue in Antipolis, oftewel Antibes.

Sy gesondheid het op die stadium begin kwyn en hy onttrek hom aan die lewe na die Klooster van Laghet toe waar hy hom aan God gewy het.  Kort voor sy dood – die jaar was 1730 − keer hy na Antibes terug, na die wit, albasterbeeld in die tuin van die marquis, die Venus wat hy nooit kon vergeet nie, wat tog by hom gespook het.  Die volgende dag kry hulle hom leweloos aan haar voete.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Junie, 2017

Bron

Pierre Tosan : Dictionnaire d’Antibes Juan-Les-Pins. HEPTA Antibes, 1998.

Beelde

Portaalpanele – my foto’s

Doopfont, Kansel – Dictionnaire d’Antibes Juan-Les-Pins

My tekening.

 

 

 

 

%d bloggers like this: