Monthly Archives: April 2017

TWEE STRAATNAME

In die middestad van Kaapstad is ‘n klein steeg met die koddigste naam wat ek van weet.  Dié steeg is seker in die vroeë negentiende eeu benoem en dit is moeilik om te sê of die weduwee na wie die stegie benoem is Engels of Afrikaans of iets anders was.  Die naam is Kromelbow laan.  Nou wonder ek:  word ‘n krom ellenboog voorgestel of is die naam “Kromel” met die Engelse woord “bow” gelas?  Wel, as mens nie te ver daarvandaan nie “Katzenellenbogen” vir een van die Kasteel se vleuels vind, dan word so iets moontlik.

Wat kon tot hierdie naam gelei het?

In Antibes, binne loopafstand van waar ek bly, is nog ‘n interessante straatnaam − Chemin des Âmes du Purgatoire, die Weg van Siele in die Vagevuur.   Seker nie so vreemd vir iemand wat in ‘n Katolieke land grootgeword het, maar vir my ongewoon. Wat sou die geskiedenis agter so ‘n benoeming wees?

Beskeie Monument uit 16de eeu

Die antwoord kry mens in die vroeë-16de eeu in die slag tussen François I en Charles Quint, teen die agtergrond van die chaotiese politiek van wedywery in die suide van Frankryk wat ‘n paar eeue geduur het.  Die lewensverlies was groter as die slae van die bevryding van die Côte d’Azur tydens Augustus, 1944. Die uitkoms van destyds se slag was, soos die uitkoms van die meeste oorloë maar is, vierende leiers en wenende moeders.  Die hertog van Nice wou die tragedie van die slag versag en benoem toe ‘n weg, ‘n chemin, vir die gestorwenes, vanaf die roete uit Antibes na Grasse toe, vandag Rue de Grasse.  Daar is ‘n klein monument aan die begin van die straat opgerig met die woorde Bid tot God vir die siele in die vagevuur en hulle bid vir jou. 

Die Bede

Soldate wat in die slag gesterf het, is seker vir die hemel bestem, maar moes eers finaal in die tussenstadium gereinig word, volgens die Katolieke teologie.

Die Protestante in Antibes (Hugenots), wie se vaders in die slag deelgeneem het, seker nie ‘n groot aantal mense nie, het dit vir verskeie redes lasterlik gevind en die monument in 1560 verinneweer, die kruis afgebreek.  Maar geleidelik het dié gemeenskap oor die jare verkrimp, dalk na ‘n ander kontinent toe, en die monument is weer in ‘n later geslag herstel.

‘n Klein staal kruis

Ek was vandag daar.  Die kruis, amper onsigbaar, is nou van staal gemaak en agter sterk glas is daar ‘n beeld van Maria in nonsgewaad met die beswykte Christus op haar skoot, ‘n piëta.

Piéta skildery

Die datum 1702 verskyn ook daar en daar is onsekerte of dit die hersteldatum is.

Hersteldatum? Wie was Nicolas?

Dit staan op die hoek van die besige Rue en ek wonder net hoeveel van die heen-en-weerders eers bewus is van dié beskeie  monument.  Menslike lyding, sê die digter, vind altyd in ‘n onopsigtelike hoekie plaas.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

April, 2017

 

Bronne

Dictionnaire D’Antibes Juan-Les-Pins.  Pierre Tosan. HEPT, 1998

Wikipedia :  Purgatory / Vagevuur

Cecil Jenkins :  France. Running Press, Philadelphia. 2011.

Verwys W.H. Auden se gedig “Musée des Beaux Arts”

 

Beelde

My foto’s.

 

Advertisements

LA VIE EN ROSE – kwesbare romantiek

Dié lied, in die laaste jare van die Tweede Wêreldoorlog deur Edith Piaf geskryf, is veel meer as ‘n treffer.  Dit word deur sommiges as die onoffisiëele volkslied van die Franse geëer.  En dit is ‘n enkel reël in hierdie liefdes chanson wat die gees van die liriek aangee – die beminde word vergelyk met ‘n onopgesmukte portret, ‘n idee wat ‘n liefdevolle tweeledigheid  dra.

” ‘n Glimlag verlore op sy lippe”

Die titel in wisselwerking met die liriek weergee myns insiens ‘n kwesbare romantiek – die lewe in rooskleurigheid.  Ek dink aan die sê-ding “rosegeur en maanskyn” wat so maklik deur die wispelturige lewe verpletter kan word.  Die Engelse vertalings is “life in a rosy hue” of “life in pink”.

Die wees-mossie

La Vie en Rose kan natuurlik nie van Edith Piaf self losgemaak word nie.  Sy het as kind die naam la môme, die wees-mossie, op haarself gejaag, gepas in die striemende armoede waarin sy grootgeword het en die onvoorspelbare boheemse lewe waarin sy haar bevind het toe haar talente ondek is.  Dit is dié patos wat ons in Piaf se stem hoor, dit wat soveel mense steeds diep aanraak.  En sy het al in Franse harte ingekruip toe die aantuigings van samewerking, ‘n collabo, met die besettende Duitsers tydens die oorlog haar oorval het.  ‘n Vriend in die Franse Weerstand het sake vir haar reggestel.

Die lewensstyl en toenemende gesondheidsprobleme het hulle tol geëis en sy is in 1963 in Grasse, in die suide van Frankryk, op ‘n vroeë ouderdom dood.  Sy het nog in 1960 haar treffer Non, je ne regrette rien laat opneem, ‘n lied wat daardie kwesbare romantiek herroep.  Sy is in Parys te ruste gelê.  Daar was ‘n 100,000 mense teenwoordig.  En, as jy luister, hoor jy haar stem in elke trekklavier op die Champs Elysées.

“My hart wat klop”

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

April, 2017

Bronne

Wikipedia : biografie en ‘La Vie en Rose’

You Tube vir die lied

Beelde

Roses and music – lavieenrose.over-blog.com

La Môme – francisdonne.qc.ca

Edith Piaf – lefigaro.fr

 

 

 

 

 

TAFELBAAI EN DIE BAAI VAN ENGELE

Die Baai en sy epiese geskiedenis

Tafelbaai is vir my ‘n bredie van beelde en gedagtes.  Tafelbaai en die Berg, natuurlik, is wat my as plattelander laat besluit het om ‘n Kapenaar te word.  En dié bredie … Tafelbaai herroep vir my die mens se uitreik na ‘n groter wêreld, ‘n weiering om ‘n voorstedelike beperking te aanvaar.  Ja, daardie Westerlinge het goeie dinge gebring, en soos mense maar is, ook die bose.  In Tafelbaai se water blink die geskiedenis soos ‘n swaardklap met die son … Wolraad Woltemade en sy perd in stryd met stormgolwe;  die posstene;  skepe wat sink;  die noenkanon; bebaarde matrose wat na die Tafelrots staar;  Adamastor wat jy in storms kan hoor as jy luister;  die Kasteel, die Amsterdam-batterei, die Chavonnes-batterei;  die pyn en woede van die Vlieënde Hollander …

‘n Spookskip …  die Vlieënde Hollander

… die gemurmer van die strandlopers;  die meeue;  Robbeneiland, smeer in die oseaan;  musikante op die dek van ‘n skip vol bevryde slawe wat dans en banjo speel, hulle wat die blues na Afrika terugbring …

En dan, die tweede baai, die Baai van Engele.  Dié Baai, die Côte d’Azur, in Frankryk,  lê vanaf Menton na aan die Italiaanse grens en eindig seker by Cannes.  Hulle sê daar was vierhonderd-duisend jaar gelede mense hier.  Ek glimlag.  Dis maar onlangs vergeleke met Suid-Afrika waar ons van twee miljoen jaar praat.  Tog brom die geskiedenis in die Voor-Alpe wat oor die Baai waghou.  Hier het die Kelt-Liguriërs, ‘n beskawing van ‘n paar duisend jaar, hulle vestings gebou, hulle monoliete opgebeur.  In Antibes (destyds Antipolis), waar ek my bevind, is die oorblyfsels van hulle vestings 600 jaar v. C. onder die fondamente van die Middeleeuse katedraal oopgevee − tekens van stedelike kultuur.

Die Nomade-beeld bepeins die Baai van Engele

Daarna kom die koloniale meesters, die Fonesiërs.  Vir dié klomp was die Baai van Engele maar net ‘n kolonie van die groter vesting Massala, vandag se Marseille.  Die Grieke kom toe met ‘n Laat óns julle wys.  Monaco, Nice en Antibes het almal oorspronklik Griekse name gehad.  Of daar na ‘n eeu of drie wrede skermutselings hier was, is nie duidelik nie.  En dit was die Romeine wat geleidelik vir die Grieke mooi vertel het Dis nou óns beurt.  Weer ‘n handvol eeue.

In dié tyd het die Romeine Europa verower tot en met die grens van vandagse Skotland.  Na Julius Caesar se sluipmoord, is die kusdorp Fréjus (die Forum van Julius) op die Baai na hom vernoem.  Sy afstammeling Augustus het La Trophée opgerig, ‘n geruïneerde monument wat vandag nog te sien is waar dit naby Monaco oor die Baai pronk.  Dit was hy wat ‘n sensus bewerkstellig het, oor die hele Romeinse ryk so ver as ‘n klein dorpie met die naam Bethlehem.

La Trophée d’Augustus

Antibes het ‘n legende dat Paulus hier aangeland het.  Glad nie onwaarskynlik nie, as mens dink dat dit twee dae se bootreis vanaf Rome was.  Hier êrens in hierdie geweste van die Baai van Engele is daar ‘n grot wat toegeval het.  In daardie grot is geberg die Brief aan die mense van Antipolis deur Paulus geskryf.  Wat sou dit teweegbring, as dit waar was?

By Juan-Les-Pins is daar min golwe.  Hier voel die Baai van Engele, oftewel die Middellandse See, soos ‘n meer eerder as die see.  Ek kyk oor die sonskerwe op die water na die twee klein eilande, Ste Marguerite en St Honoré.  Hierdie eilande, nader aan Cannes, is deur die Romeine beset en vier honderd jaar na Christus land St Honoré en sy gevolg hier aan en vestig van Europa se eerste Christen-kloosters.

Twee eilande in sonskerwe

Dis stemme wat ek hoor, musiek uit tye ver van my, vreemde instrumente, onbekende lirieke … dit waai oor die kreukel van die see … Tafelbaai en die Baai van Engele, twee wêrelde …  musiek van mense wat my voorouers was, wat gesien het wat ek nou sien, gevoel het wat ek voel.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

April, 2017

 

Beelde

Vlieënde Hollander – paulthomasonwriter.com

Tafelbaai – ets deur Allain Mallet in 1683, uit “Hoerikwaggo”

Nomade, beeld op die bolwerke van St Jaumes, Antibes –  my foto

Trophée d’August – Côte d’Azur Tourism 

Uitsig op eilande – my foto

 

 

 

 

%d bloggers like this: