Monthly Archives: August 2013

Salle de Spectacle, Antibes

Oppad Antibes centre toe, sien ek ‘n bouprojek wat buitegewoon voorkom.  Ek stel ondersoek in:  dit is ongewoon – ‘n kultuursentrum in ‘n post-moderne vertoongebou.  Ek stap om die plek, versigtig om nie tussen die kruiwaens, bouers, vragmotors, padskrapers en krane verstrengel te raak nie.  Ek neem af.  Wie is die argitek ? vra ek een van die bouers wat verbystap.  Archidev, sê hy.  Dis die bou-assosiasie, maar die argitek wat die meeste met dié ontwerp te doen het, is Patrick Fragnoni.

download

Salle de Spectacle, d’Antibes

Wat my dadelik opval, is dat die algemene form van die gebou, ‘n blok van ‘n plek,  my aan Fort Carré laat dink, die fort wat middel-sestiende eeu opgerig is en wat oorkant die seiljaghawe van Port Vauban staan.  Die Salle is ‘n kontemporêre ontwerp wat uit die geskiedenis van Antibes voortspruit – binne sig van die inspirasie.

Fort Carre, 1500s

Fort Carre, 1500s

Salle de Spectacle, 2012

Salle de Spectacle, 2012

Die Salle de Spectacles is ‘n naam wat gewoonlik vir teatergeboue gebruik word.  In dié gebou sal daar ‘n ouditorium van 1,240 sitplekke wees asook ‘n klein teater van 200 sitplekke.  Die kunsuitstallingruimtes laat mens dink aan die spiraalontwerp van die Guggenheim-museum in New York.

Salle Binneshuis

Salle Binneshuis

Die omhulsing van die gebou kom as beige-marmer voor en daar is ‘n glasblokvlak wat soos ‘n horisontale swaard dwarsdeur die façade steek – weereens, die speelgees van post-modernisme. Die drieverdiepingmure het subtiele golwe in.  Op die grondvlak kry die reuse omhulsingblokke ‘n reliëf – ‘n organiese  motief in die sement wat soos gras of fyn blare lyk.

'n Speelsontwerp

‘n Speelsontwerp

Vir ons in Suid-Afrika is daar ‘n blok van ‘n boodskap in hierdie bouprojek.  Die Côte d’Azur het een van die mees ontwikkelde toerisindustrië ter wêreld.  Ons kan hier kêrs opsteek en vlamvat.  Cannes het ‘n wêreldberoemde filmfees; Juan-les-Pins, ‘n wêreldberoemde jazzfees; Nice het talle kunsmuseums.  Antibes bou nou hierdie Salle en mens kan nie help wonder waarom ons – in die Weskaap, bv. – nie meer geld in die kunste belê nie.  Dink, byvoorbeeld, aan die moontlikheid om Kaapstad die danssentrum van Afrika te maak.  En dat ons ‘n reuse Saal van Spektakels oprig om ons toerisbesoekers te verdubbel.  Onthou net, dié wat oor ‘n eeu die geskiedenis opteken, dit was my idee…

© Willem v.d. Walt

Dins 29 Januarie 2013

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Salle de Spectacle  –  Antibes-Juanlespins.com

Salle de Spectacle kunsruimtes – nicematin.com

Ander beelde – Willem

‘n Besoek aan St. Bernadin-kapel

In die nou strate van Antibes se vieille ville, die middeleeuse deel van die stad wat op Romeinse en Griekse fondamente staan, kom ek per toeval op dié kapelle af.  Ek sien die bordjie, loer die stegie af en sien, bo verwagtig, dat daar ‘n oop portaal is.  Dit is ‘n gelukskoot in ‘n land wat hulle deure willekeurig  –  so kom dit vir die reisiger voor –  ouvre of fermé is.  Ek haas my en is verbaas dat daar, tussen die geboue, ‘n redelike groot kapel versteek is.

Die Naafgewelf

Die Naafgewelf

As die ingang, ‘n oorspronklike okkerneuthoutdeur, goties is, val die barokinterieur mens dadelik op.  Maar, meer as die barokkerke van die ou deel van Nice, is hierdie kapel redelik onlangs gerestoureer, ‘n erfenisprojek.  Die naafgewelf is ‘n ruim boog van eenvormige helderkleurige diamantforme, slegs onderbreek deur ‘n sentrale uitbeelding van Jesus en, in die vier hoeke, uitbeeldings van  die Evangeliste met hulle ikoniese diere.  Die algemene effek vir die oog is effens oorweldigend.

Die Altaar

Die Altaar

Die altaar is suiwer barok met vier draaipilare, versier met blaarmotiewe,  en beelde van twee heiliges aan beide kante.  Een, ‘n martelaar vol pyle, is St Sebastiaan, die beskermheilige van Antibes.   Langs die altaar self, is ‘n beeld van St Bernadin, sterk, sereen.  Sy lewensverhaal in die geskiedenis van die Kerk word baie hooggeag.  Dit het in die vroeë dekades van die vyftiende eeu golwe van hervorming deur Italië laat spoel.  Hy is vyf jaar na sy dood in 1444 tot heilige verklaar.

St. Bernadin

St. Bernadin

‘n Bejaarde man en vrou wat naby die ingang sit en my as die enigste toeris nuuskierig dophou, nader my en begin verduidelik en ek moet vir die soveelste keer beken:  Je ne parle pas Francais.  Hulle verskaf pamflette en wys uit iets wat jy nie dadelik agterkom nie.  Waar ‘n koorgalerei sou wees, is daar ‘n fresko van die kruisigingstoneel.  Dit is verweer, half onduidelik.  Original, verduidelik die man.  Ek kyk en dit voel vir my soos ‘n aanraking met 1581 toe die kapel ingewy is, hier tussen die helder, perfek gerestoureerde verfwerk – die werklikheid tussen die skyn.

Kruisigingstoneel 1580

Kruisigingstoneel 1580

By ‘n sydeur uit, staan jy in ‘n systraat waar jy die gotiese  fasade van die kapelle kan sien.  Sentraal is daar ‘n kruis wat triomfantlik op die kopbeeld van ‘n skeeuende en bevlerkte duiwel rus.  Verder is daar beelde van twee kappie monnike wat nagenoeg wagstaan.

Die Kruis en die duiwel

Die Kruis en die duiwel

Die besoek was vir my ‘n belewenis.  Ek word meermale deur inwoners gesê dat Frankryk dalk reeds in ‘n post-Christelike era verkeer.  Die kerke loop leeg, sê hulle, en die katedrale trek slegs toeriste.  Tog was daar iets by St Bernadin, deur die stralende, primêre kleure, ‘n verlange dalk, na dit wat deur die sigbare aangevoel word.

© Willem van der Walt

Saterdag 29 Desember 2012  

www.loertoer.wordpress.com   

Bronne

Beelde deur Willem

Die Kasteel en die forte van die Côte d’Azur

Die Kasteel de Goede Hoop, Kaapstad, is soos geen ander gebou in ons geskiedenis.  Dit is ons oudste koloniale gebou, en nêrens anders sien mens iets soortgelyks nie. Maar by die forte van die Côte d’Azur kom mens agter dat ons Kasteel tog deel was van ‘n genre, dat dit diep in Europese militêre argitektuur verwortel is.

Die Kasteel de Goede Hoop, Kaapstad

Die Kasteel de Goede Hoop, Kaapstad

Die vyfhoekige fort of kasteel sien mens selde aan die suidelike kus van Frankryk.  Die een wat ek van weet, maar nog nie besoek het nie, is Fort Lamalgue (gebou 1764 – 1789) in Toulon.  Ek wonder of die skaarsheid ‘n kwessie van tyd was.  Het die Franse generale besluit, Dis nie nou tyd vir estetika nie; die seile van ons vyand se skepe wapper al op die gespanne seelyn ?  Wat my wel opval, is die binnewaartse leun van die mure, die begin van ‘n piramide.  Die bolwerke is dieselfde en daar is by elkeen ‘n kloktoring.  Ons klok is nog voor die 18de eeu in Amsterdam gegiet.

Fort Carre, Antibes

Fort Carre, Antibes

Fort Carré staan dramaties op ‘n klein kaap in Antibes – die naam beteken vierhoekig.  Dit is al onder Henri III in 1565 opgerig.  ‘n Honderd jaar daarna, het Vauban, van die mees geëerde militêre figure in Frankryk, die fortversterk.  Daar was rede:  die Engelse. Ons Kasteel is seker vir presies dieselfde rede opgerig.  In Fort Carré  se lang geskiedenis dwaal  daar ‘n gerug dat Napoleon self vir ‘n kort ruk in die 1790s hier aangehou is.

Die klooster-fort op die eiland St. Honorat naby Cannes is in die middeleeue opgerig, vir eeue deur monnike asook soldate beman, ‘n interessante geskiedenis.

Fortified Monastery 1.jpg

Die klooster-fort, St. Honorat

Vauban, as die maréchal van die land onder Louis XIV, het diep spore gelaat.  In Toulon, die hawestad wes van Cannes, is nog forte deur hom daargestel.  FortSaint-Louis, gebou tussen 1692 en 1699, staan wag oor die baai waar Frankryk vandag ‘n groot en belangrike vloot- en lugmagbasis het.  Ag jaar na die fortgebou is, is Toulon ‘n maand lank in ‘n hewige sege betrokke.  En die geskiedenis het nie daar loop staan nie.  In die Tweede Wêreldoorlog het die Franse Weerstand ‘n reeks oorlogskepe in die hawe laat sink.  Dit het die pogings van die Nazis erg beduiwel.

Fort St Louis, Toulon.  Let die oorlogskip.

Fort St Louis, Toulon. Let die oorlogskip.

In Villefranche, oos van Nice (die naam beteken stemgeregtig), staan daar nog ‘n fort, seker die grootste wat ek nog gesien het.  Die reuse mure is meters dik en die binnewaartse lê van die mure, sê hulle, is ‘n manier om die kanonballe van vyandelike skepe weg te laat skram.  Vandag is daar binne die mure ten minste twee restourante, ‘n paar kunsgalereie en ‘n tuin met ‘n eerbetoon aan Jean Moulin, die leier en martelaar van die Franse Weerstand.

Villefranche

Villefranche

Nog ‘n groot verskil tussen ons Kasteel en die forte van die Côte d’Azur is die woorde van ‘n bejaarde Kaapse toergids :   « Van dié Kasteel se bolwerke is nog nooit ‘n enkele skoot in woede gevuur nie. »  Hy sê dit met trots.  Die trots van die Franse, wanneer hulle oor die forte gesels, kom uit ‘n ander bron.

© Willem v.d. Walt

Dins 22 Januarie 2013 

http://www.loertoer.wordpress.com

Bronne 

Kasteel – phase.com

Ander beelde –  Willem

 

La Joie de Vivre – ‘n skildery

Toegang  in die Picasso-museum kos ses euro’s oftewel ‘n hele R70. Ek sluk ‘n slag en betaal, maar kom gou agter dat ‘n belewenis op my wag. Dis duidelik dat Picasso steeds ywerig skeppend was hier in sy Huis Grimaldi-ateljee, Antibes, kort  ná die Tweede Wêreldoorlog.  Tog staan  van die meester se uitgestalde tekeninge in die museumportaal my nie juis aan nie.

Dan staan ek in die ruim sonhelder vertrek met hoë, sierlike  vensters waar Picasso kaalbors in die somers van die Côte d’Azur geskilder het.  En die skildery  trek my soos ‘n magneet. ‘n Skildery so groot soos ‘n hele sitkamervenster. En dis  kompleet of ‘n  draaikolk my na die asembenemende skildery voer.

La Joie de Vivre

La Joie de Vivre

Dit heet La Joie de Vivre (Die Vreugde van die Lewe) en is in 1946 geskep.  Dat dit op fibrosement aangebring is, verminder nie  die skildery se vloei  nie:   ‘n landelike  toneel met Pan, die herdersgod met sy horings en bokpote,  ‘n trippelende  danseres met balonborste en ‘n tweefluitspeler.  Twee kaperjollende bokkies met ronde gevreetjies, kinderlik en stralend, rond die vrolike groepie af.  ‘n Volmaak gekonsipieerde skildery met die regterelmboog van die danseres wat dien as die punt van die vae driehoek wat die toneel insluit.

‘n Maklike keuse vir dié toneel sou primêre kleure gewees het.  Maar Picasso verras ons met  turkoois, swart, grys, donkerrooi en geel.  Die geel vlakke vorm ‘n gloeiende aarde waarop die tydlose vreugde van die pastorale tradisie gevier word.  Regs en links stut swart vlakke die toneel ietwat formeel. Maar die danseres se hare (of is dit haar serp?) is ‘n rykvloeiende donkerrooi.

En hierdie skildery het die lig in 1946 gesien, herinner ‘n mens jou.  Donker dae toe Europa gesukkel het om op ‘n  gewonde been te kom, oorskadu deur diepe rou en ellende.  Maar dat vrede eindelik aangebreek het, het tog vreugde gebring en Picasso se grys en swart gruwelbeelde van Geurnica (1937) behoort tot die verlede. Hy sal weer die tema van oorlog aansny in Korea-Slagting (1951) en die Oorlog-deel van Guerre et Paix (1953).  Maar Joie de Vivre sing uit ‘n uitbundige mitologiese keel langs die Middellandse See waar ‘n skuit se geel seil die Mistral vang.

© Willem van der Walt

Desember 2011

www.loertoer.wordpress.com

Beeld

Ontleen aan Picasso deur F. Elgar en R. Maillard (Thames and Hudson, Londen 1956-72)

Die Wes-Kaap en die Blues

Daar sal dié wees wat my dalk sal kwalik neem dat ek die Blues in Afrikaans bevorder.  Ek nooi hulle vir ‘n geskiedkundige gesprek.  As daar teenbewyse vir my siening is, laat weet.

Tafelbaai 19de-eeu

Tafelbaai 19de-eeu

In die 1860s, ná die Amerikaanse burgeroolog, het verskeie skepe in Kaapstad van Amerika arriveer met groepe musici wat die verbeelding van ons mense aangegryp het (verwys Daar kom die Alabama!).  Hulle het die Mardi Gras-optog vanuit New Orleans hier gelaat.  ‘n Vereenvoudiging, besef ek wel, want daar is ook Indonesiese elemente in die vorm. Vandag noem ons dit die Klopse, ‘n hoogswaardeerde en innemende deel van die volkskultuur van Suid-Afrika. Terloops,  dié optog is in Venezuela ook gelaat, in Rio en, tot ‘n mindere mate, in Argentinië m.a.w. deur die Atlantiese Kring.  Hierdie navorsing moet nog gestewig word.

Die Kaapse Klopse

Die Kaapse Klopse

Maar dit is nie al nie.

Hulle het sekere liedjies hier gesing.  En ons mense het dit gehoor en dit het in hulle harte ingekruip.  Die vorm was die Blues.  Kyk, byvoorbeeld, na dié:

If Blues were whisky, I’d be drunk all the time

     Yeah, if Blues were whisky, I’d be drunk all the time

     It takes so long

     To get you off my mind.

Vergelyk dit met:

Kelkie sonder voet

Ja, die kelkie sonder voet

Daar’s ‘n lag op my lippe

Maar ‘n huil in my gemoed.

Die laasgenoemde is in die laat-19de eeu deur Anoniem geskryf.  As daar iemand is wat my na ‘n digter beeld in die Afrikaanse taal kan verwys, laat weet:  Waar is daar slegs drie woorde wat ‘n wêreld skep?

Die vorm het bly staan.  Dit is deur Boerneef gebruik, deur Van Wyk Louw en ekstensief deur Ronnie Belcher uitgebou.

N.P. Van Wyk Louw

N.P. Van Wyk Louw

Hulle sou dit nie Blues noem nie, maar dit is wat dit is:  die herhaling van die eerste reël, die toppunt en terugkeer.  Die Blues, meen ek, het op eie bodem bestaan voor daar ‘n letterkunde in die Afrikaanse taal was.

Blou man en sy kitaar

Blou man en sy kitaar

© Willem van der Walt

Junie, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Skepe in Tafelbaai – iziko.org.za

Die Klopse – roomsforafrica.com

Van Wyk Louw  –  www.mieliestronk.com

Grafiek – Willem 

Op Soek Na Die Paradys

Paradys. Die woord roep vir elkeen van ons ‘n ander beeld op. Vir Henán Cortés, die befaamde Spaanse ontdekkingsreisiger van toentertyd, was dit dalk goue stede op mistige kranse.  Vir ‘n ander ontdekkingsreisiger, kapt. Cook, se matrose was dit dalk silwer strande vol skraps geklede skoonhede… En so aan.  Die paradys waarvan ons droom,  het  vele gedaantes.

Die Paradys

Die Paradys

Self het ek nog  nie op die wêreld se oseane geseil of die Andes- gebergte uitgeklouter op soek na die paradys nie, maar dit o so maklik, vlak voor my in elke Franse stad en dorp aangetref. In die vorm van die kaasafdeling in Carrefour, die eweknie van ons Pick ‘n Pay in Suid-Afrika.

Byderhand

Byderhand

In Frankryk is daar ‘n kaasheelal. Volgens Wikipedia, is  daar tradisoneel 350 – 400 verskillende  soorte kaassoorte in agt kategorieë. Met variëteite binne elke groep kan ‘n mens maklik van 1 000 verskillende kaassoorte  praat.    Noem maar op: Camembert, Gorgonzola, Brie, Rochefort, Chévre, Boursin, Edam…  (oukei, die Hollandse Edam kan net so lekker wees)… En die wedywering tussen die kaasstreke ken geen perke nie. Geen  wonder Charles de Gaulle, die destydse president van Frankryk,  het in  1962 gesê: “Hoe kan jy ‘n land regeer  wat oor 246 soorte kaas beskik?”

'n Wiel wat jou kop laat draai

‘n Wiel wat jou kop laat draai

In kontras met Frankryk se kaasprestasies, is die bedryf hier ter plaatse wat eers  40 jaar gelede begin is, nog taamlik traag en sukkelend. Maar  ons vorder… Jy kan goeie kaas nie onderdruk nie. Hy laat hom nie onbetuig nie.

Soveel kase; so min tyd

Soveel kase; so min tyd

Intussen, terug by Carrefour…

Met ‘n vars pain de campagne (veral as dit nog warm is) en ‘n fles Rosé d’Alsace of Burgondé rouge of Vallauria Muscat (die geleentheid bepaal die wyn) is die kanse goed dat jy meneer Cortés of Cook sou kon oortuig dat die ware paradys hier voor jou is en nie iewers in die verre verskiet lê nie. En terwyl jy die wyn proe en aan die kaas knibbel, besef jy met welbehae: al stort alles in hierdie wêreld om jou in duie,  sal daar altyd die vertroosting van kaas wees. Dit bolwerk jou teen die lewe se storms…

La Gourmandise?

La Gourmandise?

© Willem vd Walt

Mercredi 30 Janvier 2013

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Willem 

%d bloggers like this: