Monthly Archives: June 2017

JACQUES DOLLE

Hulle stry selfs oor sy naam.  Hy is nie Jacques nie, word gesê, maar Joseph.  En tog het dié man, gebore in 1650 in Antibes, sy merk op die samelewing gelaat, wel, meer as ‘n merk.  Hy word deur sommiges as ‘n “meester beeldhouer” beskou.  En dié benoeming kan jy self oordeel met sy werk wat die Katedraal van Sainte Marie, Antibes se hoofkatedraal, verryk.  Staan jy voor die ingangsportaal sien jy reeds die handewerk van die man,  ‘n innemende karakter uit die geskiedenis van die stad, maar ook misterieus.

Dié reliëffigure verbeeld legendes en stories uit die Bybel, fyn werk wat die baroktydsgees weerspieël, gepas as mens die fasade van die Kerk in ag neem.  Binne is die kansel en die doopfont, albei sy werk.

Sy werk moes seker hoë aansien gevind het want daar was in sy tyd talle Italiaanse beeldhouers wat werk gesoek het.  Blykbaar het die Sonkoning, Louis XIV, van hom gehoor en hy het ‘n paar projekte daar in die koning se mooi woning afgehandel.  In Antibes is daar ook sy meesterwerk Die Poort van Frankryk, ‘n majestieuse ingang tot een of ander chateau, maar dit het ek nog nie gesien nie.  In die argiewe staan dit dat hy nooit hiervoor betaal is nie.

Maar dit is ook ‘n verhaal van haat en venyn.  Vir een of ander rede was hy nie onder die aristokrasie van Antibes populêr nie, dalk weens sy nederige herkoms. So begin die bose tong, soos die Franse dit noem, sy lewe vergiftig.  Hy is met paranormale gedoentes beswadder en dit kom uit ‘n skinderstorie dat hy een nag in die tuin van ‘n ryk marquis met ‘n wit vroulike spook te doen gehad het.  Dit is die volgende dag gevind dat die spook ‘n albaster Venusbeeld is, uit die tyd van die Romeinse eeue in Antipolis, oftewel Antibes.

Sy gesondheid het op die stadium begin kwyn en hy onttrek hom aan die lewe na die Klooster van Laghet toe waar hy hom aan God gewy het.  Kort voor sy dood – die jaar was 1730 − keer hy na Antibes terug, na die wit, albasterbeeld in die tuin van die marquis, die Venus wat hy nooit kon vergeet nie, wat tog by hom gespook het.  Die volgende dag kry hulle hom leweloos aan haar voete.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Junie, 2017

Bron

Pierre Tosan : Dictionnaire d’Antibes Juan-Les-Pins. HEPTA Antibes, 1998.

Beelde

Portaalpanele – my foto’s

Doopfont, Kansel – Dictionnaire d’Antibes Juan-Les-Pins

My tekening.

 

 

 

 

MITES :  Adamastor en Herkules

Dis vir my meer as interessant om ‘n stuk wêreld te betree waar mites fluister.  Ek voel soms ‘n gemis in my lewe dat ek nie onder mense gebore is nie wat heilige berge het.  Maar mites … om te dink dat gode en titane hulle emosies en hulle politiek en hulle verhoudings in hierdie streek uitgeleef het … Kaapstad is so ‘n plek.  Die suide van Frankryk is so ‘n plek.

Lank gelede, waar Kaapstad nou staan, bied die gode vir die titaan Adamastor en hy is onder vier oë.  “So dis ‘n poging tot ‘n staatsgreep, is dit?”  En toe hy weer oë uitvee, is hy in ‘n tafelagtige rots omgeskep in die buitewyke van die wêreld.  Maar, die troos vir hom is, hy kan sy woede in die Kaapse storms uitwoeker.  En wat so lekker is, die skepe is almal van hout en seil gemaak.  Hulle het nie ‘n kans nie.  En dit was vir talle matrose oor die eeue van groot belang.

 

Hier is nog een.  In die Xhosa mite van Oemlindi Wemingizimoe (die Bewaker van die Suide), skep Djobela, die Aarde godin, magtige reuse in berge om.  Hulle is getaak om die wêreld te bewaak en sy plaas hulle in die vier uithoeke van die aarde.  Die grootste hiervan, Oemlindi Welingizoenoe, is Tafelberg, die Bewaker van die Suide.

In sy boek Midi, skryf André Brink, “Herakles, die seun van Zeus en Alkeme, was die eerste beroemde reisiger deur die Midi.  Nadat hy die Titaan Prometheus van sy kettings in die verre Kaukasië verlos het, het Prometheus hom die pad na die onvindbare Hesperides beduie.  “Maar pas op,” het die Titaan gewaarsku: “Onderweg gaan jy ‘n ras reuse teëkom, die Ligurieërs wat woon in die land van die duiwelswind.”

En dié Ligurieërs, wat Brink van praat,  was hier in die Côte d’Azur toe die Romeine opdaag.  Herkules word mitologies beskou as die vader die Galliërs wat vandag die Franse is.  En dis vir my interessant om te dink, as ek ‘n in die supermark staan, dat die mense wat om my wemel, dra Herkules se DNS.  En Prometheus moes self hier ‘n draai gegooi het want ek voel ook soms dat die “duiwelswind” wat hy van praat, die Mistral, bo-natuurlike krag het.

Ek dink dit was Camus wat gesê het dat die moderne mens nie meer mites in sy lewe het nie.  Dalk kan ons dit verander.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Junie, 2017

Bronne

André P. Brink :  Midi Op reis deur Suid-Frankryk  (Human & Rousseau, Kaapstad. 1969)

Cybercapetown.com/Capetown /myth.php

Beelde

Uit “Hoerikwaggo” –  Adamastor – Emilio Biel 1880 ;  Onbekende Kunstenaar

Herkules –  writeup.com

Mistral – my tekening

 

 

 

 

%d bloggers like this: