Category Archives: Italié

Die Voet van St Petrus

Dit is jare vandat ek die voet van St Petrus in die Basilika van Rome besigtig het.  Die baie wat ek daar gesien het, het half vervaag in my geheue.  Maar daar is dié wat ek kan noem, wat spore gelos het.  Die vreemde een is die voet.

St Petrus in troon

Die spekulasie is dat dié ikoniese  beeld nagenoeg sewe honderd jaar oud is, gemaak deur Arnolfo di Cambio.  Dit word deel van enige pelgrimstog na die Basilika en die gebruik vir pelgrims is om die regtervoet van die beeld te streel, die voet wat effens van pediment uitsteek.  In die sewe honderd jaar het pelgrims die voet glad gevryf.  Die tone van die linkervoet, effens terug, kom effens aangeraak voor maar.  Dit word geskat dat, weens die hardheid van brons, dit slegs kan gebeur deur die aanraking van miljoene hande.  Die vraag is hoeveel miljoen, oor sewe honderd jaar.

Pelgrim by die voet

Op ‘n manier voel dit vir my soos die geskiedenis van die mens in die kleine.  Die mens op sy lewenstog raak-raak aan iets om te glo.  Hy slyp dit glad want die hartstog in sy soeke veryl nie.  Net, in die Basilika van Rome, is daar met die beeld van Petrus se voet fisiese bewyse van die hartstog.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Julie, 2017

 

Bron

St Peters Basilica Info

 

Beelde

Beelde – St Peters Basilica

 

 

 

 

 

 

Advertisements

DIE MARMERARM – Piëta Bandini in Florence

Is hierdie arm die ontroerendste stuk beeldhouwerk wat ek ken? Ek reken so. Ek praat van die arm van die Christus-figuur in die afsettingsgroep, die Piëta Bandini,  deur Michelangelo, in Florence.  Die gedagte daaraan voer my terug en ek herleef  ‘n skemeraand in Florence. Ek dwaal die Duomo, die hoofkatedraal, binne en kom  onverwags ‘n groepie toeriste en hul gids teë. Die gids staan begeester  by Michelangelo se Piëta en uitwei, en ek glip nader.

Afsettingstoneel (1550) deur Michelangelo

Piëta Bandini Afsettingstoneel (1550) deur Michelangelo

Die man lewer kommentaar oor die beeldgroep – Maria Magdalena, Nikodemus en Maria by Christus wat pas van die kruis afgehaal is. Die gids vertel dat Michelangelo  72 was, toe hy met die beeldgroep begin het en  agt jaar daaraan gewerk het. Maar die beelde het nie die meester se goedkeuring weggedra nie.

Ek hang aan die gids se lippe.

Lang storie kort: Michelangelo het die beelde met ‘n beitel begin vernietig, die ledemate afgesny, en sou die hele werk tot niet gemaak het, as hy nie omgepraat was om die Piëta vir  Francisco Bandini te gee nie.  Bandini het ‘n beeldhouer, Tiberio Calcagni, gevra om die beeldgroep te restoureer en die  ledemate terug te sit. Een van die ledemate wat teruggesit is, is dié gestorwe Christus se arm.  Die ontroerende arm waaraan ek my verkyk…

Die marmerarm

Die marmerarm

Ek staan vasgenael na die arm en kyk, die doodsheid waarmee dit  in kontras met die vloeiende lyne van die liggaam vertoon.  Die arm hang half skeef, en wek die byna tasbare gevoel  dat die lewe daaruit gedreineer is, dat die dood ingetree het waar  pyn  gewoed het.

Elke besonderheid is daar, liefdevol met die  beitel uit die marmer voortgebring.  Vir my gevoel beeld Michelangelo die dood met hierdie gestorwe Christus treffender uit as wat die geval met die beroemde Piëta in die Sint Pieterskerk in Rome is.

Die Piëta in die Sint Pieterskerk, wat lank voor die Bandini Piëta gemaak is, is vir my ‘n rustiger uitbeelding van die dood, met albei figure mooi, en amper onaangeraak deur pyn en lyding. By die Bandini Piëta is daar niks van hierdie elegante klassisisme te bespeur nie.  Die Bandini Piëta se Christus is sigbaar dood. Leweloos. Sy liggaam  druip en Sy kop hang oor  na Maria  wat nie krag het om Hom te ondersteun nie en oorstelp is van droefheid.

Self-portret van Michelangelo

Self-portret van Michelangelo

Wat my verder omtrent die Bandini Piëta ontroer, is dat Michelangelo homself in die bebaarde figuur bo Christus  uitgebeeld het. Dis óf Nikodemus óf Josef van Arimatea, sê die kenners. Hoe ook al, dat Michelangelo homself so in dié toneel ingesluit het, slaan vir my op ‘n intimiteit van geloof wat skaars verwoord kan word. Of is dit omdat hy die beeldgroep aanvanklik gemaak het met die idee dat dit by sy  graftombe sou pryk?

Waarom wou Michelangelo sy Piëta ná al die jare se werk daaraan te vernietig? Die vraag bly my spook. En die gids verduidelik:

Michelangelo het eindelose probleme met die beeldgroep gehad: die Madonna se arm het afgeval… die kwaliteit van die marmer was nie oral op peil nie… en Michelangelo was gewoon ‘n perfeksionis wat nooit tevrede was met iets wat hy geskep het  het nie. Hy het die Pïeta eenvoudig nie goed genoeg geag nie.  Tog sê hy in dié tyd van sy lewe, Waarom moet ek nou sterf, noudat ek geleer het om beeldhouer te wees?

Michelangelo

Michelangelo

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2017

Bron

Wikipedia Bandini Piéta

Beelde

Marmergroep  –  pinterest

Die arm  –  employees.oneonta.edu

Self-portret  –  florencewebguide.com

DaVolterra-portret van Michelangelo – travelsacrossitaly.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

Pompeii – die skimme

 

Pompeii is nie soos ander ruïnes nie.  Dié plek, voel ek, is eerder ‘n spookdorp, ‘n plek van skimme, eerder as die karige oorblyfsels van ‘n oertydse vesting.  Die strate en die geboue was toegegooi onder die vulkaniese as, in party plekke, blykbaar, vyf meter diep, weggesteek van plunderende hande in die eeue wat gevolg het.

Hoor die wawiele

Hoor die wawiele

Dis ‘n soort tydskapsule wat ons 18 eeue ná 79 a.d. weer opdiep.  En dit is ook anders want die mense is nog daar, wel, die gipsvorme van hulle.

Die laaste stryd

Die laaste stryd

Die groot stilte

Die groot stilte

Jaar na jaar, vanaf die 18de eeu, vind hulle nog lyke – enkeles, groepe, pare, volwassenes, kinders.  As ‘n besoek aan ‘n ruïne fassinerend kan wees, was my besoek aan Pompeii hartverskeurend.  Ja, die gids kry ‘n ekstra ietsie by die toeriste as hy vir jou die eietydse “pornografie”, skilderye aan die mure van spesifieke villas, dalk Villa Vettii, laat sien waar dit verbasend goed behoue gebly het.  Mense giggel.  Dit is ‘n ligte oomblik.

Maar die strate is min of meer soos hulle was.  Hier is dit makliker om die straatklanke van destyds in jou verbeelding te hoor as in, byvoorbeeld, die Forum in Rome – die gemurmer van stemme, wiele op die klipstrate.  Ver in die agtergrond is die blou buitelyn van Vesuvius.

Rustig en onskuldig

Rustig en onskuldig

Maar dit was in die museum waar ek die diepste ontroering beleef het.  Die mense, ja, die pare wat sterwend aan mekaar geklou het, …

Saam

Saam

Maar die uitstalling wat altyd ikonies by my sal spook, is die Hond van Pompeii.  Daar is geen beeldhouwerk wat dié vlak van pyn so sterk uitbeeld as die oorblyfsels van hierdie hond nie.  Om sy nek sien jy die kraag wat hom verdoem het.  Die verwronge liggaam, sy bene soos die arms van mense, en die kaak … oop teen die aarde, skree hy die heelal in.   Die mense van Pompeii het gesterf soos ‘n hond.  Soos dié Hond het hulle aan die einde gekom.

Soos 'n Hond

Soos ‘n Hond

 

Willem van der Walt

Pompeii

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Gypsy Nester.com  Pinterest.com

 

 

%d bloggers like this: