Monthly Archives: December 2013

Die Leer van die Taal français

Nee, nee, nee!  Jy nie die –er nie:  die woord is MANGE, nie mangER nie.  Verstaan jy nie?  Kan jy dit nie kleinkry nie?  En vir wat kan jy nie onthou dat die Derde Persoon Meervoud NIE die –ent klink nie, behalwe wanneer dit –ont is?  Kry dit in die vesels van jou brein.  Ek gaan jou velle aftrek! En sien jy nie die verskil tussen pain et pins nie?  Dis tog maklik – die een is brood en die ander is ‘n boom en nimmer kom die twee by mekaar uit!  Dis nie moeilik nie.

Sisyphus het dit makliker gehad met die rots...

Sisyphus het dit makliker gehad met die rots…

En moenie vir my vra waaroom je vai in nous allons uitloop nie.  Dis hoe die taal evoleer het, die ontwikkelling daarvan.  Aanvaar dit net.  Leer net die dêm goed. (Jy kan “Je Vai” onthou as jy dink aan “Ek Waai”)  Kinders leer dit vinniger as jy!  En jy moet elideerElideer!  Verstaan jy nie?  Die woorde is WOEZĒT!  Dit wil sê, nie Woe Plus êt nie.  Flans hulle saam!  Verstaan jy?  Wanneer ‘n woord met ‘n vokaal begin … ag, jy ken tog die reël. En:  jy kan maar die laaste helfde van woorde aflaat, nie sê nie, ignoreer.  Dis net hoe dit is.  Moenie vergeet nie!

“Pardon?  Het jy iets gesê?”

“Nee, Claudie, wel, ek’s net hier besig met my Frans en …”

“Nee, ek dog ek hoor jy sê, Moenie vergeet nie!”

“O, ja, wel, …”

© Willem van der Walt

Desember, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Beeld

‘n Grafiek deur William Kentridge.

Hôtel Belles-Rives

Sonder ‘n spesifieke doel klim ek in Juan-le-Pins, die Mediterreense dorpie tussen Antibes en Cannes, van die bus af.

Palais de Congres, Juan- le-Pins

Palais de Congres, Juan- le-Pins

Ek wil sommer drentel en rondkyk.  Dadelik tref die postmoderne argitektuur van die Palais de Congres, ‘n gebou met ‘n massiewe patiodak, my.  In die toerismekantoor hoor ek dat Le Provençal, die hotel waar  Charlie Chaplin soms vertoef het, verbou word – hyskrane en vragmotors en werkers met veiligheidshelms. Ag wat, dink ek, dan is dit  maar hoe dit is.

Ek slenter deur Juan-les-Pins, ‘n vakansie-oord wat die toonbeeld van Mediterreense sjiek was, maar hier en daar verdun die vernis. Die naam is afgelei van die baie dennebome in die omgewing. Juan is die Occitan patois vir die Franse naam Jean. 

Oorkant Le Provençal sien ek ‘n hotel in die art déco-boustyl met blou gestreepte sonskerms. Ek is nuuskierig en gaan loer.  Die hotel heet Hôtel  Belles-Rives (Mooi Drome).  Die ingangsportaal is treffend, luuks, die styl oorwegend art déco.

‘n Kelner nader my, wys my rond, vergesel my deur die portaal, oor die terras na die kroeg.  “Dit,” sê hy, “is die Fitzgerald-kroeg.”

Die Fitzgerald-kroeg

Die Fitzgerald-kroeg

“Fitzgerald?”  vra ek.

“ Ja,” sê hy, “die bekende Amerikaanse skrywer van The Great Gatsby.”

En toe onthou ek.  In die twintigerjare het Scott, Zelda en hulle kleintjie hier ‘n somerwoning gehad waar hulle geswem en in die son gelê  en vriende  onthaal het. In 1931 is  die huis omskep in die Hôtel Belles-Rives.  Oor baie dekades het die Esténe-familie aan wie die hotel behoort, die grasie en sfeer van die jare twintig en dertig behou en vandag  is die hotel ‘n skryn  aan Fitzgerald.  ‘n Nostalgiese plek  wat die skitterskyn van die Fitzgerald-tydperk weerspieël. Juis hier, meen die kenners, het Fitzgerald Tender is the Night begin.

Fitzgerald is ‘n sterk teenwoordigheid in die hotel. Oral is daar foto’s van die skrywer en sy geestelik onstabiele vrou.  En tog was hy gelukkig onder die suidelike son.

Belles Rives 4.jpeg

Ernest Hemingway, ‘n vriend van Fitzgerald, die legendariese skrywer van onder meer A Farewell To Arms, het hier by die Fitzgeralds besoek afgelê. Rudolf Valentino, die beroemde Hollywoodse rolprentster, ook en Pablo en Olga Picasso en Jean Cocteau.

Fitzgerald en Hemingway

Fitzgerald en Hemingway

Hôtel Belles-Rives, sê die kelner, is bekroon as Europa se boetiekhotel van die jaar.  Indrukwekkend, dink ek. Toe merk ek die klavier. En dié klavier? wil ek weet.  Baie oud, sê hy.  Staan al van die twintigerjare hier. Toe hy loop, staan ek alleen in die Fitzgerald-kroeg.

Die Klavier

Die Klavier

Ek kyk na die klavier.  Dis ‘n ou Baldwin-vleuelklavier.  Cole Porter het dit heel moontlik hiernatoe gebring en die klanke van Night And Day daaruit getower. Dis ook heel moontlik dat Ray Charles en Diana Krall hier gespeel het, toe hulle Juan Jazz, Juan-le-Pins se wêreldberoemde musiekfees, bygewoon het.

Cole Porter

Cole Porter

Ek gaan sit voor die klavier.  Ek speel.  En spoke kom dwaal om my. Tussen die rook deur, met drankies in hul hande, die deftige vroue met hulle flapper-modes, die beroemde skrywers, die kunstenaars…  almal kom oë wys.  Onder hulle vermoed ek Josephine Baker, Edith Piaf, Maurice Chevalier, Miles Davis…  Die lys van beroemdes wat hulle name in dié gasteboek geteken het, strek die verskiet in.  En verbeel ek my of hang die vroue se parfuum swaar oor die klavier se klawers.

Josephine Baker, 'n deco grafiek deur Paul Colin

Josephine Baker, ‘n deco grafiek deur Paul Colin

Ek sweef behoorlik by Hôtel Belles Rives se voordeur uit.  By die bushalte kom ek tot verhaal en kyk na my vingers.  Asof in verwondering. En ek besluit: júlle gaan ek nooit ooit weer was nie.

© Willem van der Walt

Oktober, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s

Willem

Cole Porter  –  www.pbs.org/wnet/americanmasters/episodes

Josephine Baker, deur Paul Colin

 

 

  

VIER DIGTERS

Die winter klou vars aan my wange wanneer ek die oggend gaan stap.  Dit, na maande se somer wat gister tussen ‘n blaar blare weggewaai het.  Ek stap in Rue Robert Desnos af wat uit Boulevard André Breton vloei en ‘n entjie verder met Boulevard Guillaume Apollinaire een word.  Die drie strate omring die klein laerskool l’Ecole Jacques Prevert. Dis net digters waar jy kyk, sommer vier uit die avant-garde.  En ek wonder, Waar in my eie land is daar eer so hartlik aan kontemporêre digters betoon?

Brauner se portret van Andre Breton (

Brauner se portret van Andre Breton (1896-1966)

Breton was die voorloper in die Surrealistiese beweging en het die Manifes van hierdie andersdenkende geledere van skrywers en kunstenaars verwoord:  Dit is “psigiese outomatisme”, meen hy.  Hy was kontroversieël en sy werk is verstaanbaar deur die Vichy-regering verbied.  Hy het die Oorlog in die VSA deurgebring en met sy terugkeer na Frankryk het sy revolusionêre sienings nie verminder nie.  Sy magnum opus is Fata Morgana (1938), ‘n lang gedig wat die mirage-verskynsel as sentrale metafoor gebruik.

Robert Desnos (

Robert Desnos (1900-1945)

Robert Desnos, ook deel van die uitheemse kring skeppers, het gedigte, onder andere, geskryf wat hom ‘n leidende figuur gemaak het.  Hy het later oor politiek met Breton uitgeval en slegs in die benoeming van die twee strate weer by mekaar uitgekom.  Hy het by die Franse Weerstand aangesluit en is deur die Gestapo gearresteer.  In die doodskampe, loop die legende, het hy mense se handpalms gelees, en tot die soldate se vermaak, rooskleurige toekomste voorspel.  Hy is kort na die bevryding van die kampe dood.

Guillaume Apollinaire (  Portret deur Rozita

Guillaume Apollinaire (1880-1918)   Portret deur Rozita

Guillaume Apollinaire was ‘n Franse digter vanuit ‘n Pools-Italiaanse agtergrond.  Hy was ook ‘n dramaturg, kortverhaal- en romanskrywer en kunskritikus.  Selfs die woord “surrealisme” word aan hom toegeken.  Hy is betrek by die diefstal van die Mona Lisa maar is kort daarna vrygespreek.  As gevolg het hy ‘n pleidooi gelewer om die Louvre af te brand.  Sy gedig Reën het vroeg my aandag gevang:  die woorde van die gedig is gerangskik soos vallende water op die blad.  Hy is in die Groot Griep dood.

Jacques Prevert (

Jacques Prevert (1900-1977)

Jacques Prévert was ook in die Surrealistiese beweging aktief.  Afgesien van sy gedigte waarvan baie getoonset is, het hy draaiboeke vir films geskryf asook verhale.   Sy Ontbyt het my al as tiener ontroer, ‘n meesterstuk van gestroopte, beeldlose poësie.  Ek offer ‘n vertaling van die laaste paar reëls:

En hy loop

Die reën in

Sonder ‘n woord aan my

Sonder ‘n blik na my

En ek verberg

My gesig in my hande

En ek ween.

 

© Willem van der Walt

November, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s

André Breton –  www.mam.paris.fr/en/node/358

Robert Desnos  –  pippoetry.blogspot.com

Guillaume Apollinaire  –  portret deur Rozita.  Cultured.com/image/267

Jacques Prévert  –  voiceseducation.org 

 

 

VALBONNE

Dit kon ‘n net so wel ‘n Bolandse dorpie gewees het, tussen die berge en al die groenigheid.  Maar die denne en sipresse en  sepia geboue met kruldakteëls maak dit anders. En die  klipkerk wat die monnike van die Lérins-Eiland in Cannes in die 13e eeu kom bou het, ‘n tyd van verandering en ontwikkeling oor die ganse Europa.   Die styl is suiwer Romaans, iets wat Europa van die Romeine oorgeërf het en wat die Gotiese boukuns voorafgegaan het.

St. Blaise 13de eeu romaans

St. Blaise 13de eeu romaans

Die Wit Biegendes (Penitents blancs) het vroeg in die 1500’s die kapel bygevoeg, asook die abbeye waar hulle hulle  aan die kerk kon toewy.  Vandag is Valbonne seker twintig minute se ry op die snelweg vanaf Antibes, maar die afsondering van daardie tye, deur ruie, bosagtige heuwels, moes yslik gewees het.  ‘n Afsondering wat geleidelik in sekere streke van Provence gelei het tot gemeenskappe met alternatiewe standpunte oor die Christelike godsdiens. Van ons voorvaders was onder hulle.

St. Blaise:  die altaar

St. Blaise: die altaar

‘n Ent verder pronk die nuwe munisipale geboue, strak, van grys marmer en glas, opgerig in die 1990’s.  Om die geboue in die tuine sien jy beeldhouwerk van Jacotte en Roger Capron, man en vrou, wat hulle baldadige, dansende engele aan ‘n hele paar Provensaalse dorpies geskenk het.  Dit is kuns met humorsin;  die Valbonners wil seker nie hê besoekers moet dink hulle sit verstok in die geskiedenis vasgevang nie.

'n Capron-werk en die munisipale gebou

‘n Capron-werk en die munisipale gebou

Tog wonder mens oor die oue en die nuwe wat so langs mekaar staan: Loop daar een draad tussen die twee deur? 

Praat die twee met mekaar?

Praat die twee met mekaar?

© Willem van der Walt

Oktober, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s

Willem

 

 

 

Nomade – die denker by die see

Mens sien dit al van ver af.  Dit lyk soos die bolyf van ‘n wolkwit reus wat met sy rug na die land sit die see en betrag.  Dit is op die lae bolwerke wat die hawe, Port Vauban, omlyn.  Henri III het hierdie versterkinge, wat Bastion St. Jaume genoem is, in die laat-sestiende eeu daargestel, saam met die oprig van Fort Carré, sewentig jaar voor ons Kasteel, wat verder op ‘n prominensie troon. 

Denker by die see

Denker by die see

In 2010 is daar besluit om Nomade, die beeldhouwerk van die Kataloniese kunstenaar Jaume Plensa (geb. 1955) hier te plaas, meters bokant die rustige geklap van die amper-branderlose see.  (Ek vind die toeval van sy voornaam en die naam van die eeu-oue bastion interessant.)

Deursigtige reus

Deursigtige reus

Ek skat die Plensa werk staan 15 meter hoog en is hol, geskep met gewitte staal hoofletters, aanmekaar gesweis om die bolyf voor te stel.  Dit kom nie swaar voor nie.  Inteendeel, hierdie reus voel gewigloos, amper deursigtig.

Van binne af, 'n straler

Van binne af, ‘n straler

Dié werk, skryf ‘n kritikus, wat jy kan binneklim, nooi besoekers om innerlik te reis.  Die oopte van die figuur, die stilte, reik na die see soos die boegbeeld van ‘n skip in die hoek van die bastion.    

Nomade en die bolwerk van St Jaume

Nomade en die bolwerk van St Jaume

Die bastion self, die lang klipmure, is amper sonder enige ander mense.  November is nie juis toeristeseisoen in Antibes nie.  Ek kyk na die tobbende figuur, met ‘n oopte vir ‘n gelaat.  Ek wonder oor die gewitte staal letters … Stel dit gedagtes voor?  Is dit die wording van ons mymeringe oor die geskiedenisryke Middellandse see?  Is dit ons ontluikende poësie?  Die reus is wit teen die blou dag.  Hy verklap niks.

© Willem van der Walt

November, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s

Willem

 

 

 

Nice se Franse Weerstandsmuseum

Dis ver verwyder van die sonverglansde elegansie en sjiek van Nice se  vakansiepromenades. In ‘n glad-nie-modieuse voorstad. Op die derde verdieping van ‘n glas-en-marmer gebou.  En hier slinger die onthutsende stuk geskiedenis wat die Franse Weerstandsmuseum uitbeeld my na  ‘n vervloë, heroïese tydperk.

'n Kunsbrok in die voorportaal

‘n Kunsbrok in die voorportaal

Die museum bestaan uit 13 kleinerige vertrekke, as’ t ware kantoorruimtes, waar dokumente, plakkate en allerlei besienswaardighede uitgestal is. ‘n Mens sien onder meer voorbeelde van die klere van daardie weerstandsdae: ‘n Nazi SS-uniform, die gestreepte pajamas wat in die doodskampe gedra is…  ‘n  Boekgrootte-tikmasjien waarop kodeboodskappe getik is…  ‘n toonkabinet met pistole…

Pistole

Pistole

Elke vertrek beeld iets van die weerstand se narratief uit, die verbysterende omvang van die gebeure en die kil psigopatie van  die Nazi-besetting van Frankryk gedurende 1940 tot 1944.

Kunswerk

Die stil, droewige musiek van die mens – ‘n kunswerk

Dis ‘n narratief wat deurweef is met die ontroerende dapperheid van mans en vroue wat eenvoudig nie die  neutraliteit van die res van Frankryk wou aanvaar en die knie voor die Nazis buig nie. Hierdie museum getuig van die  manmoedige verset van lojale Franse wat hulle  lewens vir die stryd opgeoffer het.  Mense soos die heldhaftige leier van die weerstandsbeweging, Jean Moulin, ‘n man uit Provence, wat in 1943 verraai is, gevange geneem en doodgemartel is.

Jean Moulin (!899-1943)

Jean Moulin (1899-1943)

Ek talm by sy bekende foto. As hy maar die bevryding van Nice, feitlik sonder hulp van die Geallieerde magte,  kon aanskou. Hy sou trots gewees het dat dit die dapper lede van die weerstandsbeweging was wat die deurslag gegee het. Hierdie mans en vroue sal nooit vergeet word nie. In die Côte d’Azur is  ongeveer 350 verspreide gedenktekens ter ere van hulle opgerig. Helde en martelare. Dis betekenisvol dat net een gedenkteken woorde in Occitan, die patois van die Suide, dra.

Die Tricoleur se triomf oor die swastika - 'n poster

Die Tricoleur se triomf oor die swastika – ‘n poster

Dis moeilik om my los te skeur van al die dinge in die museum wat my aandag gevange hou. Toe ek oplaas die museum verlaat, is my kop gevul met ‘n warboel gedagtes oor vryheid.

(c) Willem van der Walt

Oktober, 2013

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Marina Baai van Engele

Ek en Claudie ry uit na die baai oos van Antibes wat Baie des Anges, genoem word – Baai van Engele.  Wat van ver af al so treffend is, is die Marina, ‘n reeks woonstelblokke wat beige teen die Alps Maritime toon.  Die kompleks is in 1960 voltooi en die argitek was André Minangoy.  Elders in die wêreld was dit ook ‘n tyd van geskiedkundige werk  –  die Guggenheim-museum in New York ontwerp deur Frank Lloyd Wright (1959) en Brasilia in Brasilië deur Oscar Niemeyer (1960).

Marina, uit die lug uit

Marina 4

Die golfpatroon

 Soos vier effens platterige piramides neem die bo-lyn van die Marina jou oog deur ‘n golfbeweging.  Met die naderkom, sien jy dat elkeen van die blokke selfs in ‘n S-vorm gebou is.  Ek het selde, indien ooit, organiese ontwerp van hierdie gehalte in argitektuur gesien.

 

Die S-vormige ontwerp

Die S-vormige ontwerp

 

Marina en die seiljagte

Marina en die seiljagte

Elke blok het 17 verdiepings en bewoners skop nes op die balkonne met boompies en blompotte.  Die baai self is ‘n woud van seiljagmaste.  Die motormodelle, blink en duur, hou wag soos windhonde.   Maar die strand self is ‘n warboel van seewier en houtskerwe, oorblyfsels van ‘n restourant wat ‘n maand tevore deur ‘n verwoede  storm verpletter is.  Die strand is leeg, verlatenheid aan die voete van die beige lynbevaarte monumente.

 

© Willem van der Walt

30 November 2011

http://www.loertoer.wordpress.com

 Foto’s

Lugbeeld – ageheureux.canterblog.net

Ander foto’s – Willem

 

 

 

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: