Category Archives: Spanje

Altamira

Jare gelede, in Noord-Spanje, besoek ek Altamira, grotte met pre-historiese kuns.  Die plek is nou ‘n Wêrelderfenis Werf.  Ek erken dat ek nie mooi verstaan het wat ek daar besigtig het nie.  En ek wonder hoeveel ander mense die volle implikasies begryp.

Daar word oor die ouderdom van dié rotskuns gestry.  Huidig dui die gesprekke op 14,000 tot 18,000 jaar.  Die Franse grotte soos Lascaux en Chauvet, sê hulle, is ouer.  En selfs dié rotskuns is nie die oudste pre-historiesie kuns nie.

Toe ek daar was, is die toeriste bedryf ‘n bietjie onafgewerk.  Die gids kon g’n woord Engels praat nie, maar hy stop flitse in ons hand en waai dat ons hom die grot in moet volg.  Die afstand tussen die mond van die grot en die rotskuns self is ‘n saak van bespreking.  Teorieë dui op ritueelgebruik van die beelde.

Ons is gesê om op ons rûe te lê en die lae rotsplafon so te besigtig.  Wat my eerste getref het, was die ryke kleure van die diere.  Daar is gebruik gemaak van bulte in die rotsvlak om die massiewe skowwe van die bison voor te stel.  Die skilders het diere fyn uitgekyk en tog is daar ‘n mate van ekspressiewe gestileerdheid in die beelde.  Dit was merkwaardig teen enige maatstaf gemeet, die gelyke waarvan nog nooit weer gesien is nie.

Daar is nog ontdekkings.  Die opbrengs by die Blombos-grot in die Suid-Kaap, onder andere, wek groot aandag.  Geometriese graverings word op 80,000 jaar beraam en kuns implemente — okerpoeier in skulpe — op 100,000 jaar.

Hoeveel “Altamira’s” wag nog in stom grotte vir ons?

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

November, 2018

 

Bron

Wikipedia Altamira

 

Beelde

caroldrinkwater.com

bradhsawfoundation.com

Ander bronne verloor

Advertisements

Sagrada Familia – uit ‘n ander wêreld  

Die eerste keer wat ek in ‘n kar gebid het, was toe die mal Persiër (oftewel Iraniër) die vier van ons reisigers agter in sy ruim Mercedes ge-sardien het en in dolle vaart deur die druk verkeer van Barcelona na die katedraal Sagrada Familia gejaag het.  Ek was nog besig, ná ons aankoms, om Amen te sê toe die mal Persiër ons, weer in dolle vaart, een van die siertorings van die reuse katedraal in aanbou opjaag.   Ek het nie die trappe getel nie, maar ek skat dit was so drie honderd.  Die uitsig oor die stad was wasig en manjefiek.

Die aanvang van die konstruksie van die katedraal is in 1882, toe Antoni Gaudi, die Katalaanse argitek, dertig is.  Vir ‘n aantal redes is daar met die bouery gesloer.  Toe Gaudi in 1926 oorlede is, is dit nog glad nie voltooi nie.  Die storie is dat van die bouplanne verlore geraak het en dat Gaudi se konsep vir die katedraal nie uitvoerbaar is nie.  Dit is hoe ek dit meer as veertig jaar daarna gesien het, ‘n katedraal sonder ‘n dak.  Inteenstelling hiermee was die voorportale en die torings vir my fassinerend.

Onvoltooid, uit ‘n ander wereld

Die Basilika van die Sagrada Familia is soos niks wat ek al gesien het nie.  Die kunskritikus Rainer Zerbst sê, “Dit is seker onmoontlik om ‘n soortgelyke kerk in die hele kunsgeskiedenis te vind.”

Die gotiese toevoeging

Die voorportale het in die afgelope jare ‘n byvoeging gekry in die vorm van ekspressiewe gotiese rame voor die oorspronklike portale.

Kunsbeelde in die kerk

En die laasgenoemde het my oorstelp – hulle kom voor as die ingange van stalagtiet-grotte, met die sement wat nog van hulle boë afdrup.  Die kleurtekstuur van die hele fasade van die kerk laat mens voel dat hierdie gebou uit die grond uit opgestaan het.  Tog kom die treffende geronde torings amper speels en kunsmatig voor.

Basilica de la Sagrada Familia

Ek het spyt dat ek nie van Gaudi se ander argitektuur in Barcelona en Madrid gesien het nie.  Van foto’s kan ek sê dat die organiese inslag, wat vreemd en selfs droomagtig is, is getrou aan die eksentrieke gees van Katalonië wat van die wêreld se mees oorsponlike kunswerk gelewer het.

Antoni Gaudi, 1880

Die rit terug na die kampeerterrein met die mal Persiër was meer bedees.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Augustus, 2017

 

Bron

Wikipedia – Sagrada Familia

 

Beelde

Sagrada Familia, met konstruksietorings – archdaily.com

Sagrada Familia, met toevoeging – travelandfilm.com

Figure – Pinterest

Sagrada Familia, met bome – globaltickets.com

Antoni Gaudi – Basilica de la Sagrada Familia

 

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: