Monthly Archives: June 2016

LAVARENNE EN PLENSA: kuns in die openbaar

Die somerskare wat Antibes se oudorp binneval, sien vir die volgende paar maande die beeldhouwerk van Nicolas Lavarenne, treffende vorme van mense wat bokant die strand staan, wat oor ‘n Middeleeuse straat “vlieg”, wat luilekker teen ‘n muur uitstal.  En vir elke werk soos dit opdoem, moet jy opkyk.

 "Brons is swaar ..."

“Brons is swaar …”

" ... tog vlieg dit." - Lavarenne

” … tog vlieg dit.” – Lavarenne

Hy is in 1953, te Nice, gebore en het vanaf 1987 in die Verenigde State sy werk uitgestal.  “My navorsing voer my na brons beeldhouwerk,” sê hy, “vorme wat ‘verby vlieg’, wat op driepote staan, op stelte, pale wat die lug in skiet, kraglyne van hoë spanning, weerlig, lewenskragtig, streng.  Hulle verkeer in hoë kontras met die kompleksiteit van die menslike liggaam, amper barok, met elke anatomiese deel oneindig veranderbaar weens liggaamstaal.

" ... kraglyne ..."

” … kraglyne …”

Die ander kunstenaar wat die mensvorm ook sterk gebruik, is Jaume Plensa (geb. 1955), die Katalaanse beeldhouer wat die figure op Place Massena in Nice geskep het.  Meer treffend nog is sy “Nomade” wat permanent op die vesting van St Jaume te Antibes te siene is.

Peinsers op Place Massena, Nice

Peinsers op Place Massena, Nice

"Wanneer die woord beliggam word" - Plensa

“Wanneer die woord beliggam word” – Plensa

Die gelate van my figure,” sê hy, “het altyd  geslote oë.  Soos in ‘n droom, gebeur dinge intern.  Die kop is ‘n spieël waar die toeskouer op homself kan reflekteer .  Vir my, moet die kunswerk ‘n plek wees waar jy dit kan geniet.  Soos ‘n film wat jy weer sien.  ‘n Poëtiese afdak waar jy kan herstel, jouself weer vind … voordat jy weer terug wêreld toe gaan.”

Die Nomade bepeins die see

Die Nomade bepeins die see

Vir my is baie kontemporêre kuns kil en koud.  Dit is nie dat ek slegs lekkervoel of sentimentele kuns goedpraat nie, nee.  Maar dit is tog vir my ‘n groot inspirasie om kunstenaars soos Plensa en Lavarenne se werk te ervaar.  Hulle is ‘n koel bries op ‘n warm dag;  ‘n glas koue water in die woestyn.  En wat hulle daaroor te sê, neem my weg van die doodsheid van baie kontemporêre kuns wat ook ‘n vorm van masochisme kan word.

Nicolas Lavarenne

Nicolas Lavarenne

Jaume Plensa

Jaume Plensa

 

© Willem van der Walt

Juniemaand, 2016, Antibes

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Infoville Antibes-Juan-Les-Pins / Magazine Municipal d’information , mai /juin 2016, N° 47

Connaissance des Arts, Mars 2016.  Jaume Plensa, Quand le Mot prends corps »

Beeld van Lavarenne – Wipo.com

Beeld van Plensa – officiel galerie

Foto’s – Willem

Pompeii – die skimme

 

Pompeii is nie soos ander ruïnes nie.  Dié plek, voel ek, is eerder ‘n spookdorp, ‘n plek van skimme, eerder as die karige oorblyfsels van ‘n oertydse vesting.  Die strate en die geboue was toegegooi onder die vulkaniese as, in party plekke, blykbaar, vyf meter diep, weggesteek van plunderende hande in die eeue wat gevolg het.

Hoor die wawiele

Hoor die wawiele

Dis ‘n soort tydskapsule wat ons 18 eeue ná 79 a.d. weer opdiep.  En dit is ook anders want die mense is nog daar, wel, die gipsvorme van hulle.

Die laaste stryd

Die laaste stryd

Die groot stilte

Die groot stilte

Jaar na jaar, vanaf die 18de eeu, vind hulle nog lyke – enkeles, groepe, pare, volwassenes, kinders.  As ‘n besoek aan ‘n ruïne fassinerend kan wees, was my besoek aan Pompeii hartverskeurend.  Ja, die gids kry ‘n ekstra ietsie by die toeriste as hy vir jou die eietydse “pornografie”, skilderye aan die mure van spesifieke villas, dalk Villa Vettii, laat sien waar dit verbasend goed behoue gebly het.  Mense giggel.  Dit is ‘n ligte oomblik.

Maar die strate is min of meer soos hulle was.  Hier is dit makliker om die straatklanke van destyds in jou verbeelding te hoor as in, byvoorbeeld, die Forum in Rome – die gemurmer van stemme, wiele op die klipstrate.  Ver in die agtergrond is die blou buitelyn van Vesuvius.

Rustig en onskuldig

Rustig en onskuldig

Maar dit was in die museum waar ek die diepste ontroering beleef het.  Die mense, ja, die pare wat sterwend aan mekaar geklou het, …

Saam

Saam

Maar die uitstalling wat altyd ikonies by my sal spook, is die Hond van Pompeii.  Daar is geen beeldhouwerk wat dié vlak van pyn so sterk uitbeeld as die oorblyfsels van hierdie hond nie.  Om sy nek sien jy die kraag wat hom verdoem het.  Die verwronge liggaam, sy bene soos die arms van mense, en die kaak … oop teen die aarde, skree hy die heelal in.   Die mense van Pompeii het gesterf soos ‘n hond.  Soos dié Hond het hulle aan die einde gekom.

Soos 'n Hond

Soos ‘n Hond

 

Willem van der Walt

Pompeii

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Gypsy Nester.com  Pinterest.com

 

 

GOURDON Kransvesting

 

Vir Graham en Elna, met dank

Die Romeine was daar, die Sarrasene was vir twee honderd jaar daar, Konining Victoria was vir ‘n dag daar, die Nazis was daar.  Die laasgenoemde is die 19de Augustus 1944 in Gourdon afgesny, seker deur die Franse Weerstand, die Maquis, en twee dae daarna het hulle sonder enige skietery oorgegee en die dorp is bevry.  Dit was seker iets in die ligging van die vesting wat daardie krygsgeharde Duitsers laat besluit het dat die lewe tog meer bied as die dood.  Gister was ek en my twee vriende uit Suid-Afrika ook daar, drie uit die een miljoen toeriste wat elke jaar op die plek toesak.

Met die aankoms, op die ingevlegde kronkelpad onder teatrale rotsklowe, sien jy – en jy moet mooi kyk − die riffie geboue van die vesting wat koekeloer van die hoogste rotslys af.  Die poging van die mens om sy stempel te laat, hoe oud ookal, word steeds hier verdwerg teen die hange van die voor-Alpe.

Die aankoms. Regs onder: begin van Nice

Die aankoms. Regs onder: begin van Nice

Maar dit wat my asem sou wegslaan, was nog aan ‘t kom.

Die moderne dorpie, ‘n paar verlore strate, lê eenkant van die handvol historiese geboue.  Gou sien jy in die oudorp die nou straat van die Middeleeue en dié is deurtrek met winkels vir toeriste – seep, kunsglas, juwele, parfuum − en ‘n restourant.  Onopsigtelik, is daar ook ‘n kapel.

Die noue straat, weerkaats in 'n onderstebo beeld van 'n distilleerder se bottel. SAMSUNG CAMERA PICTURES

Die nou straat, weerkaats in ‘n onderstebo beeld van ‘n distilleerder se bottel.

'n Systraat, sonder toeriste

‘n Systraat, sonder toeriste

 

Aan die einde van die straat is ‘n oop werf omring deur ‘n klipmuur.  Dan verdwyn die wêreld.

Die valei onder Gourdon

Valei du Loup onder Gourdon

Staan jy daar, voel dit of die hele Côte d’Azur voor jou uitgestrek lê.  Die gesigseinder, deur die wasige dag, eindig nie eers met die Middellandse See nie.  Dit voel alles soos die voorgrond!  Jy is 760 meter bo seespieël.  Ek soek my herinneringe deur – Gods Venster in Mpumalanga, Bergville in die Drakensberge en die kruin van Sir Lowryspas in die Wes-Kaap.

Iets van die Drakensberge

Iets van die Drakensberge

'n Vesting vir vedediging. Let die geweerloop venstertjie. SAMSUNG CAMERA PICTURES

‘n Vesting vir vedediging. Let die geweerloop venstertjie.

Gourdon is vir my die mees skouspelagtige ligging vir ‘n kransdorp, ‘n village perché, wat ek nog gesien het.  Ek wil nie dink dat elke klip wat aan die geboue bygedra het, is slegs daar vir verdediging nie, maar dis seker waar.  En daar, oor die eeue, wie ookal dit was, het hulle veilig gevoel.  Dié vesting kan jy met redelike gemak, tot die koms van vliegtuie, verdedig.  Vandag het die kwessie van verdediging in die waas vervaag en, as jy lank genoeg die panorama inadem, bevry jy jouself  van die noue straatjies van die sake van die mens.

Gourdon - die lewe bied veel aan

Gourdon – die lewe bied veel aan

 

© Willem van der Walt

Gourdon, Junie 2016

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Wikipedia: geskiedenis, beelde

Foto’s – Willem

 

 

 

S I P R E S

 

Dié bome smokkel met my kop.  Ander bome se takke gryp hot en haar die lug vol, doen hulle eie ding, maar jy sien nie eers die sipresboom se takke nie.  En as hulle kon praat, sou hulle sê, Wat verwag jy?  Ons was eenmaal stukkies van gode en toe word ons bome.  Ons gedra ons.

Sipres en Skadu

Sipres en Skadu

Dié gode … die ou-Grieke het sipresbome, wat ‘n gewyde geskiedenis lank voor hulle gehad het, met Kronos assosiëer.  Die Romeine het verkies om die bome met Saturnus te koppel, die stoere ou leermeester op die uithoek van die sterrestelsel, wat eenmaal in 29 jaar die omloop voltooi.  Maar, ligter en meer toeganklik,  is dat die bome ook met godinne assosiëer was – Afrodiet, Atena, om net twee te noem.  Dié wat die bome in Suid-Afrikaanse kerkhowe plant dink nie noodwendig aan hierdie dinge nie.  Vir ons gaan dit seker net oor die behoue formaliteit van die bome.

Oor die eeue het skilders ryklik gebruik gemaak van sipresbome om hulle beelde plegtig te raam.  Vir my is die mees somber gebruik van die sipresboom in die skilderye van Arnold Böcklin (1827-1901) wat die reeks “Die Eiland van die Dood” geskilder het.

Eiland van die Dood

Eiland van die Dood

Die teëpool hiervan moet wees “Fonkelnag” van Vincent van Gogh (1853-1890) waar die sipresbome opreik na ‘n gewelf mal met ligsplinters, seker die gelukkigste skildery van die 19de eeu.  Hy en Böcklin was tydgenote.

Fonkelnag - Van Gogh

Fonkelnag – Van Gogh

As jy deur Tuskane reis, is dit seker die klompies diepgroen sipresbome wat daardie landskap sy karakter gee, en, soos elders op die kusgebiede van die Middellandse See, nie noodwendig met kerkhowe en kerke assosiëer word nie.

Spresbome en Sambreeldenne, Grasse, suide van Frankryk

Sipresbome en sambreeldenne, Grasse, suide van Frankryk

Vir my is hulle soos ‘n samekoms van mense wat in stille abstraksies ontaard het, wesens wat in voulose, kreukellose gewaad met gedempte ekstase op die ewigheid wag.

Nou die dag het ek ‘n meganiese dinosouris langs twee sipresse gesien waar ‘n man besig was om die fluweel ronding van die bome te snoei.  Ek neem ‘n foto en toe ek kyk daarna, besef ek dat ek en Claudie in dié twee bome gemorfeer het.   Ek sê mos, van daai smokkel …

Metamorfose

Metamorfose

 

Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Junie 2016

Bronne

Encyclopédie des Symboles

Wikipedia beelde: « Flonkernag » « Eiland van die Dood »

Foto’s: Willem

Dié inset word opgedra aan Gert Wentzel (1948 – 2016).

 

 

%d bloggers like this: