Monthly Archives: July 2013

Die Oorlogsmonument, Ichon, Seoel

Die besoek aan hierdie massiewe gedenkteken in Ichon, Wes-Seoel, is nie iets wat ieder en elk sal geniet nie.  Maar daar was tog iets vir kinders in die uitstalling van ou stralers wat in die burgeroorlog van 1950-1953 op die Koreaanse skiereiland gebruik is.  Seuntjies kon in die kajuite inklouter, geraasmaak en ondersoek instel onder die toesig van ironiese vaders.

Die hoofgebou

Die hoofgebou

Die hoofgebou laat mens egter meer nugter.  Ek staan in die hoofportaal en kyk links en kyk regs, na gange wat aan beide kante marmer gedenkplate het, elke plaat seker twee meter lank en ‘n meter en half breed – die name van die gesneuweldes.  Hulle strek die verte in.  Mens wil nie die somme begin maak nie.  Dit is ‘n deel van die statistiek wat ons meedeel dat die Koreaanse oorlog die grootste van sy soort in die 20ste eeu was en dan seker in die geskiedenis.  En dié gange na links en regs is nie die enigste gange nie.  Die woord “miljoene” hang in die lug.

Die gange

Die gange

Dit was vir my veral ontroerend om by die klein gedenkplaat te gaan staan wat die Suid-Afrikaanse vlaggie op het.  Ses-en-dertig name.  Ek kan onthou dat ‘n vriend van my pa het hom in 1950 gevra om saam Korea toe te gaan “om die kommuniste te gaan beveg”.  My ma se kommentaar was, Was Hitler nie genoeg nie?  Ek kyk na die name van my landgenote wat op daardie bodem gesterf het.  Wie was Tertius Liebenberg?

Die Suid-Afrikaanse gendenkplaat

Die Suid-Afrikaanse gendenkplaat

Buite op die groot oop plein voor die hoofgebou is daar ‘n reuse gedenknaald, seker vyf-en-twingtig meter hoog.  Om die naald is daar figure van vegtende soldate uitgebeeld, dramaties en heldhaftig.

Die gedenknaald

Die gedenknaald

Ek dink aan Noord-Korea wat nou nog in ‘n toestand van oorlog met die Suide verkeer.  Nêrens elders in die Suide is daar ‘n obsessie met die oorlog soos daar in die Noorde voorkom nie.  Die Noord-Koreane het versteen in ‘n nasionale paranoia, nie ‘n “kommunistiese” enklave nie, maar ‘n Middeleeuse koninkryk waar die leier tot ‘n halwe god verhef word.  Hulle is militêr; daarom bestaan hulle.

Oorlogsfigure

Oorlogsfigure

Ek neem die metro van Ichon af.  Ek dink aan die tragiek van my eie land.  En ek is dankbaar dat ons statistiek verdwerg word teen die skaal van Korea se tragedie.

(c) Willem van der Walt

Februarie, 2008

www.loertoer.wordpress.com

Beelde: Willem 

Advertisements

L’Eglise Russe, Nice

Ek verbeel my ek staan op die oewers van die Volga in Moskou voor die Katedraal van Hl. Basil.  Maar ek ruk my nugter:  ek is in Nice voor die grootste Russiese katedraal buite Rusland.  En soos ander toeriste is ek verbaas:  die aandag aan besonderhede in die oprig van hierdie plek is fenominaal.   En die rubels was seker ‘n aardige bedraggie.

Die Russiese Katedraal, Nice

Die Russiese Katedraal, Nice

Vanaf die middel-19de eeu groei die Russiese gemeenskap in Nice.  Die adel kom adem in die Provencale lug – Stalin se oupa sou dit nie kon beskostig nie. Teen die eeuwenteling word planne vir die katedraal opgeteken.  Bouwerk begin in 1903 en word in 1912 voltooi.  Die finale inwyding van die kerk vind in die 1930s plaas.  Soos Parys, word Nice ‘n hawe vir vlugtende adel ná 1917.

Kunswerk aan die Katedraal

Kunswerk aan die Katedraal

Dit is vir my interessant dat die kerk na Hl. Nikolaas, die wonderwerker van die 4de eeu, vernoem word, hy wat deur Europa vereer word en ook iets met Sinter Klaas te doen het –  interessant omdat die hoeksteen van die Katedraal is deur ‘n ander Nikolaas gelê, “L’Empereur Nicolas II”, lui die hoeksteen, hy wat vyf jaar daarna, met sy gesin, deur die Bolsjewieke tereggestel is.

Die Katedraal is in ‘n park nie ver van die Gare de Nice (stasie), ‘n verrassing van grasperke en palmbome in die hart van die stad omring deur woonstelblokke.  Dit is teleurstellend om te vind dat die imposante deure agter slot en grendel is en die groepies toeriste moet tevrede wees om die plek van buite af te neem, wat ek toe doen.  Ek meen die argument is, As jy die binne wil ervaar, kom Saterdagaand 18h00 na die mis toe.  Redelik, dog manipulerend.

Ikoon van die Doodskleed van Turin

Ikoon van die Doodskleed van Turin

Aan een pediment is daar ‘n ikoon van die Doodskleed van Turin, sterk en gestileerd.  Dit is ‘n ortodokse wêreld, dié, wat rakelend, ontwerpsinvloede van die Midde-Ooste toon – kyk die puntige vensters onder die uiespirale, vensters wat nie in die kalief se paleis onvanpas sou wees nie.  Tog, is daar enige iets meer Russies as die uiespirale, al ses van hulle aan daardie Katedraal?

Uiespirale

Uiespirale

(c) Willem van der Walt

Vendredi 9 Juin 2012

http://www.loertoer.wordpress.com

Beelde: Willem 

Montebello, Nuweland

‘n Besoek aan Montebello voer jou na die skeppende puls van Kaapstad, wel, een van hulle.  Die ligging alleen is wonderlik  –  sambreeldennebome wat oor hierdie hoekie besige mense toring.  Dit is die moeite werd, vir Kapenaars en besoekers, te vinde op die historiese grond van die ou Montebello opstal en is daargestel deur die nalating van Cecil Michaelis.  Die geskiedenis is kleurvol:  Ohlssens Brewery en die fabriek Continental China het hulle ontstaan hier gehad.  Dit is vandag die tuiste van ontwerpers, pottebakkers en kunstenaars, filmmakers en tuiniers.

Sambreeldennebome

Sambreeldennebome

Daar is veel vir die oog en vir die maag.  Die laasgenoemde kry mens in die twee restourante.  My belang is geprikkel deur die houtskeppings in die beeldhouerstuin asook die metaalwerk uit die Forge.  En moenie die mense in die laasgenoemde steur nie – hulle werk met vuurwarm goed!  Ek deel van my indrukke.  

'n Smeedysterhek

‘n Smeedysterhek

'n Yster varkoortjie

‘n Yster varkoortjie

'n Gesig in die wind

‘n Gesig in die wind

T A N G O

T A N G O

Mense van metaal

Mense van metaal

Keramiek

Keramiek

Beeldhouerstuin

Beeldhouerstuin

(c)  Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Beelde: Willem se foto’s 

Die Uilhuis, Nieu Bethesda

Ek kan nie met demptone oor Helen Martins se Uilhuis skryf nie.  Die besonderhede van haar lewe en wat sy met Koos Malgas uitgerig het om hierdie plek tot stand te bring – dit alles lok my na die versoeking van te ver gaan.

Die Uilhuisboog met uil

Die Uilhuisboog met uil

Ek het twee keer die plek besoek.  Die tweede keer het Koos Malgas self my die beelde gaan wys en oor hulle gesels. Sy woorde en sy hande het die rowwe sement van die gesigte gestreel en daar was oomblikke waar die gevoelens oor hierdie deel van sy lewe hom stilgemaak het.  Vir my ook.

'n Droomwereld van beelde

‘n Droomwereld van beelde

Die episode waaroor Athol Fugard in Road to Mecca geskryf het — Helen se verhouding met die “jong vrou” van Kaapstad, waarvan daar ook ‘n ontroerende beeld is — het ‘n ongelooflike nadraai in my lewe gehad:  ek het die stuk in die geselskap van daardie einste “jong vrou” gesien.  In ‘n vlug van my verbeelding het die vrou tydens die opvoering opgestaan, die paadjie van die teater afgestap, op die verhoog geklouter en die spelers gesê, “Nee… nee… ek sal julle sê hoe dit regtig was, want ek is jy en jy is ek.”

'n Plek van verlange

‘n Plek van verlange

Die kompleksiteit van die beelde, die breë omvang van die temas, die droomskap wat oopvou – vir my is daar ‘n sameloop van ongekende verlange, die intensiteit, woorde verby.  Ek sal maar die risiko loop en sê vir my is Helen Martins se Uilhuis die mistieke middelpunt van hierdie land.

Die mistieke middelpunt

Die mistieke middelpunt

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Beelde: Willem

Die Kruithuisie, Stellenbosch

Die Kruithuisie op die Braak, Stellenbosch, bly een van my gunsteling geboue in die land.  En die geskiedenis van hierdie gebou is innemend.

Die Kruithuisie, 19de eeu

Die Kruithuisie, 19de eeu

Die 17de-eeu is ‘n tydperk van ekonomiese skaakspel tussen Holland en Engeland, met driehoekhopies kanonkoeëls wat op dekke van hul skepe staan.  In 1664, besluit die Kapenaars om die eerste vesting te versterk en die hoekstene is in 1666 gelê.  Die versoek in 1686 deur die Burger Militêreraad van Stellenbosch om ‘n wapenhuis dáár te stig, is egter nie met dieselfde drif aanvaar nie, want die tender is eers in 1776 uitgereik.  Mens kon spekuleer of die Amerikaanse Verklaring van Onafhanklikheid iets daarmee te doen gehad het.  Seker met die vorige 90 jaar en die 9,000 gilders tenderberaming in gedagte, het die bouer Michael Rambusch, ‘n Duitser, gouer gespeel:  hy het die kruithuisie binne 182 dae in 1777 opgerig.  Interessant dat hulle die ligging van die gebou “uit die pad uit” geag het, maar tog “in sig” van die dorpie.  Die Braak self was toe as opleidingsterrein gebruik.

Die Kruithuisie is in 1940 tot nasionale denkwaardigheid verklaar.  Vandag stal hulle kunstige voorlaaiers in die gebou uit.

Voorlaaier in die Kruithuisie

Voorlaaier in die Kruithuisie

Eweveel is dit die ontwerp van die Kruithuisie wat my opval.  Die kloktoring, met die gebroke pediment wat tipies barok is, is ‘n kwart van die boogdak se lengte, in proporsie met die drie reliëfsuile  –  meer mooi as militêr.  En “huisie” is dit, eerder as die grootdak-bomskure van die Tweede Wêreldoorlog wat mens nou nog in Goodwood vanaf die N1 kan sien.

Barok kloktoring

Barok kloktoring

Wanneer ek by die oorblyfsels van fondamentstene van die Waterfront se Chavonne-vesting en die Amsterdam-vesting staan, is ek dankbaar dat Stellenbosch sy Kruithuisie behou het.

Die Kruithuisie vandag

Die Kruithuisie vandag

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Juliemaand, 2013

Beelde

A.F. Trotter se tekening van die Kruithuisie – 19de eeu.

Willem se foto’s

Hip-Hop Graffiti

Toe ek die eerste keer hip-hop graffiti in Frankryk beleef, besef ek sommer ‘n klomp goed oor hierdie vorm van selfuiting  wat geboue in ons Suid-Afrikaanse stede ook versier.  Versier?  Jy kyk my skeef aan. Dit is gewis wat my betref, en ek mag maar so dink want smaak verskil genadiglik.

Hip-Hop Graffiti, Mowbray-Rosebank, Kaapstad

Hip-Hop Graffiti, Mowbray-Rosebank, Kaapstad

Twee aspekte van hip-hop graffiti val my veral op:  Die hoë vormgehalte en die verrykende implikasies vir die deel van ons samelewing vir wie hierdie soort kuns nog altyd net ‘n middelklas-luukse was.

Hip-Hop graffiti, Mowbray-Rosbank, Kaapstad

Hip-Hop graffiti, Mowbray-Rosbank, Kaapstad

Swart kunstenaars in Suid-Afrika het ‘n lang en deesdae meer geëerde geskiedenis wat figuratiewe kuns aangaan, sogenaamde realisme, in verskillende nuanses. Juis om dié rede is die hip-hop graffiti-verskynsel so ongewoon.  Dis ‘n abstrakte vorm en herinner sterk aan abstrakte ekspressionisme, die styl waarvan die kuns ná die oorlog deurtrek was.  Ons ken Jackson Pollock.  Ongewoon ja.

Jackson Pollock “Blue Poles” 1953

Hip-hop graffiti het volkskuns geword, ‘n reaktiewe uitlaatklep vir stedelike omstandighede en swaarkry.  Mens sien die kuns oral. Die jeug van die townships eien dit vir hulle toe, nes hulle nóg ‘n vorm van hip-hop, rapmusiek, hul eie gemaak het.

Iewers beskryf ‘n kunstenaar die skeppingsproses só: “Dis beter om die wonderlike gees van die see vas te vang as om elke klein rimpel weer te gee.”  En hip-hop graffiti doen dit.  Daar word ook gesê dat wat op die doek verskyn meer gebeurtenis as beeld behels. Mens voel dit eweneens by hip-hop graffiti aan.  Tog sal die graffiti-beoefenaars jou gou laat verstaan dat die spontane, outomatiese en onderbewustelike impulse waarmee hulle werk, hul respons op alles om hulle, tog inspanning vereis.

Fernand Leger Museum, Biot, Frankryk

Fernand Leger Museum, Biot, Frankryk

Dis ‘n samesmelting van ‘n doek van Jackson Pollock en een van Ferdnand Leger.  En tog anders.  ‘n Nuwe vorm.  En bevrydend.  Geen wonder nie dat dit byval vind by  die swart jeug omdat  hulle hul  ervaringswêreld daarmee kan weerspieël.

Hoe meer ons uit ons motors frons en die “vandalisme”afkeur, hoe meer vier graffiti-beoefenaars dit as selfuitdrukking, ‘n stem teen alles wat verdruk.  Dat ‘n nuwe kunsvorm met agterdog bejeën word, is niks nuuts nie.  Jare gelede het ‘n intense man by die venster van die sanatorium waar hy opgeneem was, hom vergaap aan die sterre en  dit die volgende dag geskilder – mal, warrelende kleure, ongewoon en anders – en daarmee die Westerse kuns bevry.  Sy naam was Vincent van Gogh en in sy ganse  lewe sou hy net twee skilderye verkoop.

Hip-Hop graffiti, Mowbray-Rosebank, Kaapstad

Hip-Hop graffiti, Mowbray-Rosebank, Kaapstad

© Willem v.d.Walt

April, 2013

http://www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Willem: Die hip-hop:  Mowbray-Rosebank, Kaapstad [Kunstenaar?]

Die Leger verskyn op die Leger-museum, Biot, Frankryk

Les Remparts d’Antibes

As Les Remparts, die ikoniese deel van Antibes, ‘n ou man was sou hy die nuuskierige toeris ironies aankyk en sê, “Wee’ jy, jy gaan my nooit kleinkry nie – die baard van my geskiedenis strek die verte in.”  Seker soos die meeste kusdorpe aan die Middellandse See.

Les Remparts is drie hoofgeboue, onder andere – die vesting toring; die katedraal en Huis-Grimaldi.  Van hier af kan jy Fort Carré sien, aan die westerse kant van die hawe.  Verder, die Alpes Maritime, veral mooi in die winter, wat die hele Côte d’Azur omring.

Les Remparts d’Antibes

Les Remparts d’Antibes

Les Remparts is eerder “vesting” en nie soseer ’n kasteel se bolwerke nie.  Die toring is in 1680 deur die argitek Niquet opgerig onder toesig van Vauban wat die hele suide van Frankryk veiliger gemaak het.   Die katedraal is barok en rus op die fundasies van Griekse en Romeinse tempels.  Die grond waar Huis-Grimaldi gebou is, is in die laat 1300’s in ‘n onderhandeling met die pous van Avignon bekom.

Elke klippie het ‘n storie.  Met die uitbou van die seiljaghawe, Port Vauban, kom hulle af op skerwe keramiek, potte, amfora, vanaf die sesde tot die derde eeu voor Christus.  Antipolis, wat die naam toe was, was alreeds ‘n gevestigde en bedrywige kusdorp wat roem op die inlê van vis.  Pliny, (23 – 79 n. C) die Romeinse historikus, noem Antipolis in dié verband.

Na die Tweede Wêreldoorlog vestig Pablo Picasso hom vir ‘n paar jaar in Huis-Grimaldi voordat hy Vallauris en uiteindelik Mougins toe is.  Vandag is Huis-Grimaldi die Picasso-museum wat tekeninge, skilderye en keramiek van die kunstenaar uitstal.  Dit is nogal ‘n oomblik om in die grootvensterstudio te staan en te dink, Hier het hy in die somers van die suide kaalbors geskilder.

Die Picasso-museum in Huis Grimaldi

Die Picasso-museum in Huis Grimaldi

Op die balkon van die museum is daar werke deur ander kunstenaars – ‘n klein ystervarkie deur Miro, onder andere.  Een werk – en ek het nie die naam van die kunstenaar nie – wat ‘n stapel stukke van die verlede voorstel.  Die stapel wat Antibes is.  Mens kyk ver oor die see.

“… die stapel wat Antibes is…”

“… die stapel wat Antibes is…”

‘n Beeld wat ver kyk

‘n Beeld wat ver kyk

Les Remparts, die fokale punt van die vieille ville van Antibes, die deurwinterde ou man, bebaard en gemoedelik vertel sy storie tussen twee dames uit die belle epoque, die bejaarde hertoginne Nice en Cannes.

November, 2011

www.loertoer.wordpress.com

Beelde: Les Remparts – gofrance.about.com; Foto’s deur Willem

%d bloggers like this: