Monthly Archives: September 2016

ART NOUVEAU en ART DECO: Yin en Yang van kuns

Ek soek roekeloos woorde vir die tergende kontras tussen Nouveau en Deco, kunsontwerpe wat in mekaar se nabyheid  hulle bestaan gevoer het en wat hier en daar begin oorvleuel het.

Art nouveau kom in die laat-19de eeu voor en begin na 1920 wegsmelt.  Art Deco vind ons vanaf 1920 en vier vir die volgende twintig jaar hooggety.

'n Nouveau-poster

‘n Nouveau-poster

'n Deco-poster

‘n Deco-poster

Vir my is art nouveau vroulik en deco, manlik.  Nouveau is ‘n pastelkleurige skildery in ‘n goue barokraam van ‘n soel-sensuele skoonheid wat soos ‘n gemaklike kat in die sagte aandgloed op ‘n sykussing lê in ‘n Belle Epoque-salon.  Deco is ‘n hoë-kontras wit-en-swart foto van ‘n man wat helder dag op ‘n sypad in die stad aanstryk.

Lautrec-poster

Lautrec-poster

Deco beeld - Rckefeller Sentrum, New York, 1932

Deco beeld – Rockefeller Sentrum, New York, 1932

Die arabesk in art nouveau verleng en sprei uit.  In deco, word die arabesk hoekig en dikwels met ‘n gestroopte lyn vervang.  Nouveau is warm en staties; deco, kil en bewegend.  Nouveau is tevrede met haar eie prag;  deco kyk windverwaai die verskiet in.  Om die nouveau-ontwerper is die weelderige fasades van Belle Epoque-geboue; om die deco-ontwerper, reglynige  wolkekrabbers.

De Lempicka: Potret van Marquis D'offitto, 1925 - 'n Deco-meesterstuk

De Lempicka: Portret van Marquis D’Affitto, 1925 – ‘n Deco-meesterstuk

Nouveau is poësie wat gesing word; deco, ‘n rasionele stelling.  In nouveau, verdik en verdun die lyne soos drupsels smeltende sjokolade.  Deco is peperment, trappe op.

Nouveau vloei met grasie geleidelik uit drie eeue se barokontwerp; deco marsjeer skielik uit die eerste twee dekades van die 20ste eeu.  Art nouveau verskyn voor die Groot Oorlog;  deco, ná.

In Darlingstraat, Kaapstad, staan daar die Ou Mutual-gebou, ‘n deco-meesterstuk deur Fred Glennie ontwerp en in 1939 voltooi.  As art nouveau toe al vervaag het, is dit amper asof hiermee die twee merkwaardige eras in kunsontwerp tot ‘n voleinde kom.

Mutual-gebou, Kaapstad, 1939

Mutual-gebou, Kaapstad, 1939

©  Willem van der Walt

Les Semboules

Augustus, 2016

www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Motifs Art Nouveau  –  lasauterelletactile.blogspot.com

Deco-poster  –  fr.dreamstime.com

Deco-beeldhouwerk –  splendidhabitat.com

Lautrec-poster  –  bexsimon.com

Portret van Mquis D’Affitto – wikipedia

Mutual-gebou  –  wikipedia

Paul Castela :  Splendeurs de Nice (Editions Gilletta, Nice. 1991) 

Advertisements

NEKROPOOL

Ek vertrou mense neem my nie kwalik dat ek só ‘n onderwerp aanpak nie.  Die nekropool, oftewel, die begrafplaas, spreek boekdele oor wie ons is en wat ons glo.

Bisan-Ri, Suid-Korea

Bisan-Ri, Suid-Korea

Die grootste van sy soort, asook die mees spektakelagtig wat ek nog beleef het, is Bisan-Ri in Suid-Korea.  My Koreaanse kollega vertel my dat dit toe (2007) al twintig tot dertig jaar oud is, en, om pront te praat, vir die rykes.  Elke graf is presies soos die ander, met enkele uitsonderings, en elke graf verberg die askruik van die afgestorwene.  Bisan-Ri lê teen ‘n bult wat op die verre heuwels gerig is.  Op ‘n vlak bo die landskap van grafte staan ‘n groot goudomhulde Boeddha, seker vier verdiepings hoog.  Ondertoe, nader aan die valei, is ‘n massiewe klok onder die dak van ‘n kruldakraam.

Verre heuwels met klokhuis  in die voorgrond

Verre heuwels met klokhuis in die voorgrond

Ek het nog altyd gedink dat die mens, as beskaafde wese, sy afgestorwendes met deernis behandel, die teken van sy geestelike wese.  Om die waarheid te sê, is daar ook seker die vrees vir die geeste van die dodes.  My inligting oor wanneer dit eers gebeur het, was beperk tot 100,000 jaar gelede, die Skhul-grot in Israel. Maar dis drie minute gelede.  In Suid-Afrika, soos reeds al gebeur het, vind ons die Naledi-grot by Maropeng,  Cradle of Human Kind, waar die oorskot van 15 individuele mense 2 miljoen jaar gelede plus neergelê is.  Dit het ek nog nie self gesien nie, maar dit dring hierdie onderwerp binne.  Die navorsing hieroor (vanaf 2013) is aan die gang, maar die uiteinde hiervan sal steeds dui op van die merkwaardigste vondse in die geskiedenis. Is dit die eerste nekropool?  Dit laat my verbyster.

Homo Naledi, Maropeng, 'n nekropool twee mijoen jaar oud

Homo Naledi, Maropeng, ‘n nekropool twee mijoen jaar oud

Die Woltemades in Kaapstad, vertel hulle my, is die grootste begrafplaas in die land, seker omdat Kaapstad oud is.  Maar ons was nie altyd so beskaafd nie.  In Juniemaand, 2003, ontdek hulle in Groenpunt, Kaapstad, ‘n massagraf waar dooie slawe en armes vanaf 270 jaar gelede ingeboender is, die oorblyfsels van nagenoeg 2000 mense.  Dié gebeendere is nou in ‘n knekelhuis opgeneem onder toesig van die Prestwich Denkmaal, en, soos ‘n joernalis dit stel, “finaal tot ruste neergelê.”  Terwyl die gegoedes in kerkhowe om kerke begrawe is, was daar minder sentiment teenoor ander.   Daar was vanaf Van Riebeeck drie honderd en vyftig plus jare van nekropole in Kaapstad.

Prestwich Denkmaal, Groenpunt, Kaapstad

Prestwich Denkmaal, Groenpunt, Kaapstad

In Antibes, aan die Middellandse See, diep argeoloë die oorblyfsels van agtien nekropole op.  Dit is ‘n geskiedenis van ten minste twee duisend seshonderd jaar …  vanaf die oerbevolking van Kelt-Liguriërs, deur die Fonesiërs, die Grieke, Romeine, proto-Christene, die Middeleeue, die moderne tye …  Selfs Les Semboules aan die buitewyke van Antibes, waar ek bly, het ‘n nekropool gehad.  Ten spyte van die uiteenlopende aard van die religieë wat hier verteenwoordig word, is daar ‘n deurlopende draad – die respekvolle behandeling van afgestorwenes.  En ná die vonds van die Naledi-grot weet ons hoe oud die praktyk waarlik is.

Elke November die eerste gaan ek met Claudie na die graf van haar wyle man met ons krisante, ‘n ritueel gevoer deur miljoene in die land.  Dit is Allersieledag.   Die begrafplaas is binne loopafstand van die woonstel, seker waar die oorspronklike nekropool was.  Een jaar sien ek iets wat my ruk.

Ons gaan begrafplaas toe om eer te betoon, in ons hande, die gebruiklike krisante. Vluweel sipresse hang swaar uit die koue blou lig.  In die nabyheid, staan ‘n gesin in stilte bo ‘n marmerblad met die blomme.  Die jong vrou is swaar verwagtend.  En ek bewonder my oor die heelal.

 Allersieledag, Les Semboules

Allersieledag, Les Semboules

 

 

© Willem van der Walt

Les Semboules

Augustus 2016

www.loertoer.wordpress.com

 

Bronne

Homo naledi – Wikipedia

Aux Origines d’Antibes  Silvana Editoriale

Beelde Korea – Willem

Beeld van naledi – maropeng.com

Beeld Prestwich Denkmaal – Jo-Ann Duggan

Flitssaga “Allersieledag”  en tekening deur Willem

 

 

 

 

GUSTAVE EIFFEL EN DIE KAMEELPERD

Ek bly gefassineer deur die skeppende proses.  Daar is seker eenvoudige redes en komplekse redes vir wat kunstenaars, argitekte, komponiste, ensomeer, regkry.  Waar kom die idee vir die Eiffel-toring vandaan?  Gustave Eiffel het gesê dat die Lattig-toring in New York, opgerig in 1853, was sy inspirasie vir die toring van die 1880s.

Lattig-sterrewag, New York

Lattig-sterrewag, New York

Maar daar is ‘n ander storie wat my aangryp, as mens dink oor hierdie ikoon wat nie net Parys of Frankryk verbeeld nie, maar selfs Europa.  Ja, dis ‘n stedelike legende, maar wie weet wat mense inspireer, bewustelik of onbewustelik?

Gustave Eiffel, 'n man met sy droom

Gustave Eiffel, ‘n man met sy droom

In 2004, is ek bevoorreg om in Kaapstad die Handspring Puppet Company se opvoering van Tall Horse te sien, ‘n grootse ervaring, soos al hulle werk.

Die Handspring-kameelperd, amper lewensgrootte

Die Handspring-kameelperd,  lewensgrootte

Uit die Handspring se argiewe haal ek die volgende aan:

Tall Horse is gegrond op die lewe van ‘n kameelperd wat in Suid-Soedan deur die Vicerroi van Egipte gevang is en aan die koning van Frankryk geskenk in 1827.  Die kameelperd is die Nyl-rivier in ‘n felukka opgeneem, in ‘n skip oor die Middellandse See en bly toe die winter in Marseilles.  Die drie-maande se tog oor die landelike gebiede van Frankryk Parys toe ontketen ‘n sensasie oppad en daar is dié wat meen dat die kameelperd die inspirasie vir die Eiffel-Toring was …”   Gustave Eiffel, gebore in 1823 in Dijon, kon wel as kind, die kameelperd in lewende lywe ervaar het.

'n Afrika-ikoon

‘n Afrika-ikoon

'n Europa ikoon

‘n Europa ikoon

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

September, 2016, Frankryk

Bronne

Handspring Puppet Company Archive (vertaling Willem)

Lattig Toring –  Wikipedia

Gustave Eiffel – fatura-sciences.com

Pop-kameelperd –  vendratattoostyle.com

Kameelperd  –  interesting-africa-facts.com

Eiffel Toring  –  demain.com.au 

 

 

 

Portret van ‘n soen as ‘n voorruitveër

 

Kindsbeen leer ek jy soen pa.  Met die grootword, bly dit die gebruik, maar tog nie.  Gou sien mens die verskille in families en dan in streke, kulture, ander lande.  Ek dink weer hieroor waar mense mekaar soos voorruitveërs soen, en tog nie almal nie en nie altyd nie.  Die sosiale kodes in dié verband verskil ook.  Ek merk dat die president van Amerika die veërsoen toepas met diplomate en politici in die Midde Ooste  …

#  Voorruitveër  Regs

# Voorruitveër Regs

Vir my is dit ‘n aanpassing.  Hoe lank duur dié proses?   Hierdie gebruike is elle lange jare in akademiese kringe die wêreld deur  besigtig.  Die Anglo-Saksiese kulture vind die Lateinse binnedring van hulle proksemiese ruimte moeilik om te aanvaar.  Ek het in my jare met township studente ietwat geforseerde voeding opgedoen.  Die begrip “ruimte tussen mense” en die groetvorme is anders, om die minste te sê.

 Voorruitveër Links

Voorruitveër Links

Die voorruitveër in Frankryk tussen mans sal seker in Suid-Afrika beoordeel word as die betree van taboe.  Interessant hoe ‘n kultuur op só ‘n fundamentele gebruik kan verskil.  Vir die Fransman en die Spanjaard (minder dalk) is die voorruitveër deel van die dag, van die eeue.  Vir die Anglo-Saksiër is daar donker assosiasies hiermee.   Manlikheid sluit nie hierdie gedrag in nie.  Dit sal vir my interessant wees as Noorweërs of Swede vir my kan uitwys dat ek wel verkeerd is.

Nou ja, die wêreld is ‘n groot plek …

 

©  Willem van der Walt

Desember, 2014

Les Semboules, Antibes

http://www.loertoer.wordpress.com

Foto’s geneem deur Claudie

%d bloggers like this: