Category Archives: Griekeland

BYEKORF-GRAFTOMBES, Micene, Griekeland

Dalk spook dit hier, kom die ongemaklike gedagte by my op toe ek een van die Miceense skiereiland in Griekeland se bekende byekorf-graftombes nader. Dis nie dat ek bang is nie. Ek is doodkalm en nuuskierig. Maar die eerste aanblik van die graftombe laat my hart in my bors tamboer . . .   Ek kyk na die lang onbedekte gang tussen klipmure wat horisontaal in die heuwel ingebou is en na die indrukwekkende ingang lei. Verkyk my daaraan.

Hier speel 'n trom van duisende jare

Hier speel ‘n trom van duisende jare

Die verbasend nou ingang, ongeveer ses meter hoog met ’n driehoekige opening bo die latei wat dit selfs hoër laat lyk, lei na die grafkelder van kalkklip.  Ek stap in en  beskou die  koepelvormige dak. Dis gevorm deur kalkklipringe wat boontoe ál kleiner raak op mekaar te stapel, en lyk  baie soos ‘n byekorf.  Die bouwerk en gewydheid van die graftombe beïndruk my. Hier het die Micene hulle gestorwenes begrawe. Lank voor die Griekse beskawing tot stand gekom het. Nagenoeg 1500 jaar voor Christus, in die laat-Bronstydperk.

Snitplan - 13 meter hoog, 15 meter deursnit

Snitplan – 13 meter hoog, 15 meter deursnit

Die graftombe met sy kalksteenvloer is so groot soos ‘n kerkie en byna 13 meter hoog. Waar is die dooies te ruste gelê? Ek sien geen teken van rakke of holtes nie. Die graftombe is leeg. Kaal. Wat ook al hier van belang was, is  kennelik deur argeloë verwyder. Dit geld die ander byekorftombes in hierdie gebied natuurlik ook. Terloops, die Miceense  byekorfgraftombe wat die beste behoue gebly het van die nege in Griekeland, is ‘n tombe wat volgens  die bekende 19e eeuse  Duitse argeoloog Heinrich Schliemann die  graf van Agamemnon was – Agamemnon wat natuurlik in Homer se Iliad figureer. Maar Heinrich Schliemann se  teorie is intussen weerlê.

Interior of the Treasury of Atreus is an impressive "tholos" beehive shaped tomb on the Panagitsa Hill at Mycenae. Mycenae UNESCO World Heritage  Archaeological Site, Peloponnese, Greece

Binneruim

My voetstappe klink helder in graftombe op. Die akoestiek is merkwaardig. Ek roep uit om dit te toets  en die  eggo van my stem laat my ore tuit.  Hoe het dit toentertyd hier tydens ‘n begrafnisritueel  met al die geweeklaag en gesing en musiek en wat ook al geklink?  Ek kan my indink dat dit ‘n aanslag op jou oortrommels sou gewees het.

Drie duisend jaar weerklink

Drie duisend jaar weerklink

Nou is dit doodstil hier. Ek voel nie kriewelrig nie. Hier is beslis geen spoke nie. Wat wel by my spook, is die verlede. Wie was die mense wat hulle gestorwenes met soveel eerbied en deernis begrawe het? Hoe het hulle gelyk? Hoe het hulle aangetrek? Hoe het hul taal geklink. Wat het ons gemeen? Watter vrese? Watter vreugde? Watter menslike kondisie? Hulle sou nooit kon dink dat ‘n besoeker soos ek in die 21e eeu hier sou binnestap om ‘n artikel oor hulle te skryf en foto’s van die graftombe met sy mooi byekorf-ontwerp te neem nie. Net die graftombe met sy stilte het oorgebly. En ek staan en tob oor die verganklikheid van beskawings . . . die verganklikheid van alles. Bowenal van die mens.

Agamenon se graf?

Agamenon se graf?

 

© Willem van der Walt

www.loertoerwordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

Bron

Wikipedia

Beelde

Ingang – historywiz.com

Deursnit – en wikipedia.org

Binneruim – hiddeninc.atours.com

Dak – hipgreece.com

Binneruim – giclarhistory.blogspot.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

Advertisements

SICLADIESE KUNS – marmer geheime

 

Ongehoorde melodie van 5,000 jaar gelede

Ongehoorde melodie van 5,000 jaar gelede

 Hy speel harp.  Hy doen dit al nagenoeg vyf-duisend jaar.  Hy het destyds so goed gespeel dat iemand marmer uit klip gebeitel het en ‘n figuur van hom gemaak.  Ek het foto’s van hom gesien voordat ek by die glaskas in die Argeologiese Museum in Atene gestaan het en hom daar besigtig het.  Maar hy was nie die enigste een uit daardie streek en daardie tye nie.  Ek ontdek gou dat die harpspeler is nie tipiese nie, maar sy gelaat, ekstaties teruggegooi, is treffend, ‘n weerklank van die ander figure wat  oor die millennië meer nugter na my staar.

Hulle staar oor die jare ...

Hulle staar oor die jare …

Die Sicladiese Eilande lê oos van die Miceense skiereiland in Griekeland.  Hierdie Egeiese kultuur, sê hulle, floreer vanaf 3,300 tot 1,100 jaar v. C. en kunsgewys, staan hulle afgesonder  van Krete, Egipte, die Midde-Ooste en Griekeland.  Vir hierdie rede wek hulle al ‘n geruime tyd fassinering onder argeoloë, onder andere. Hierdie marmer figure is vanaf 10 cm tot amper lewensgroote en die styl is omiskenbaar Sicladies.

Die woordlose lied ...

Gesiglose misterie

Die bespiegelings oor die rol wat hulle gevul het, is veel.  Party meen dat die figure was beelde van godinne en word tydens rituele gebruik.  Ander glo hulle is poppe.  Ander redeneer weer dat hulle as votieffigure gebruik is, met bevrugtings- of begrafnisrituele.

Wat my tref,  is hoe kontemporêr hulle voorkom.  Die strakke eenvoud en geometriese formaliteit kon maklik deur ‘n modernistiese beeldhouer in die vroeë-20ste eeu van stapel gestuur word.  Constantin Brancusi, wat as die vader van moderne beeldhouwerk deur sommiges beskou word, het werke geskep wat nou aan die Sicladiese gees verwant is.   Dit was ‘n eienskap van modernisme (1890 – 1930) om tradisionele vorme te bevraagteken, verlaat en die primitiewe weer te wakker.

head-of-an-idol-c-2000-bc-cyclades-louvre

Godin, 2000 jaar v. C.

Constnantit Brancusi, 1920

Constantin Brancusi, 1920

Wat vir my ook interessant is, is die totale kontras tussen die vroulike figure van die Sicladiese kuns en die prehistoriese vroulike figure wat breed, swaar en oordonderend is.  Die Venus van Willendorf is ‘n voorbeeld.  Dit is amper asof die Sicladiese kunstenare die koms van groot verandering aangevoel het.

Aardse godin, 28,000 jaar gelede

Aardse godin, 28,000 jaar gelede

Hulle spook by my, dié figure.  Hulle is gesigloos, enigmaties. Die meerderheid is vroulik, elegant en suiwer in form.  Dit is moeilik om te dink dat hulle hulle uit growwe klip voordoen.  Die bespiegelings verdiep die misterie.  Hulle kyk van ‘n hoogte, ongeraak deur ons skarreling om hulle te verstaan.  As ek hulle met musiek sou voorstel, sal dit met ‘n enkele, sagte, ongebroke noot wees.  Hulle doem uit ‘n ander wêreld op.

cycladicwoman

Uit ‘n ander wêreld

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

 

Bronne

Histoire Visuelle de l’Art. Dir. Claude Frontisi. Larousse, Parys. 2002.

  1. Honour, J. Fleming: Histoire Mondiale de l’Art. Bordas, Parys. 1992.

 

Beelde

Harpspeler – sasgreekart.pbworks.com

Sicladiese beelde – bron verloor

Sicladiese figuur  –  bron verloor

Kop van godin  –  Modigliani-drawings.com

Brancusi form –  getty images

Venus van Willendorf  –  commons.wikipedia.org

Sicladiese vrou  –  bron verloor

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

%d bloggers like this: