Monthly Archives: July 2015

ABBAYE DU THORONET – Selfs die stene sal uitroep

As tiener het dit my meermale opgeval dat ‘n kerkgebou as ’t ware op sy volste is wanneer hy leeg is.  Hier op my oudag het ek dit op ‘n besondere manier beleef in die Thoronet-klooster, sowat 80 kilometer noord-wes van Antibes, in ‘n landskap wat ‘n bietjie aan die Boland met sy wingerde en die golwende heuwels in Grahamstad se omgewing, herinner.

Die isolasie van Thoronet

Die isolasie van Thoronet

Die hoofredes waarom die Thoronet-kompleks op  ongelyk terrein van minder as die oppervlakte van ‘n rugbyveld in hierdie geweste tot stand gekom het, is die waterbronne, die afsondering van die buitewêreld, en die rots wat die kerk se fondament vorm.  Die rots is nie net funksioneel nie, maar was ‘n simbool vir die jong Cisterciënser-gemeenskap wat die ander vertrekke en kloostergange teen ‘n effense skuinste gebou en hier gewoon en gewerk het.

Thoronet - die basilikavorm is duidelik

Thoronet – die basilikavorm is duidelik

Wanneer die oosterse fasade van die kerk in sig kom  – ‘n onversierde steenvlak, val die buitelyne van die basilika jou op – ‘n bouvorm wat van die oudste Italiaanse kerke en selfs Egiptiese argitektuur dateer. By die twee kleinerige ingange besef jy sonder twyfel dat jy hier ver verwyder van die majestueuse voorportale van Vezelay, Chartres en Notre Dame de Paris is.

Leeg en vol die gewelwe

Leeg en vol die gewelwe

Met die intrap, is ek alleen in die koel skemerte van die kerk.  Daar is geen teken van elektriese ligte nie.  Dit is dus hoe die monnike agthonderd jaar gelede dié vertrek ervaar het, besef ek. Bokant my rys die booggewelwe van die Romaanse boustyl wat hom al hier  in ‘n mate van die Gotiese hoogtepunt in die boog bedien. Maar die kerk maak hoofsaaklik ‘n gestroopte indruk. Die tamaai steenpilare en –vloer oorheers.  Daar is geen sprake van versiering nie. Maar wag… voor by die naaf merk ek iets:  ‘n beeld, seker ‘n Christus-figuur.  Aan die ander kant is ‘n Moeder-en-Kind-beeld, maar nouliks waarneembaar.

Die Altaar

Die Altaar

My blik verskuif na die uiters eenvoudige kerkbanke wat nie veel meer as geskaafde balke is nie. Ek bekyk die banke en onthou dat die kerk weer ná die dekonsekrasie van 1785 deur ‘n nonne-orde genaamd Susters van Bethlehem, in gebruik geneem is.

Benewens die banke is  die klooster leeg. Dis net ek en die lig wat deur die vensters val. Nie gebrandskilderde vensters nie, maar gewone ruite waarop die Drie-Enigheid uitgebeeld is. Die vensters is hoog, die lig wat daardeur skyn, stralend. Hier sou die oggendlig tydens die oggendgebede (lauds) skyn en die laaste daglig wanneer die monnike die aandgebede (vespers) laat opgaan.

Die lig het ‘n belangrike rol in die kerk met sy oos-wes-ligging gespeel. Die monnike het geglo dat Christus se wederkoms uit die lig van die Ooste sou geskied en was uiteraard daarop ingestel.

Uit die Ooste

Uit die Ooste

“Die lig en skadu is die luidsprekers van hierdie argitektuur van waarheid,” het die beroemde argitek, Le Corbusier, wat sterk beïnvloed was deur Thoronet, vroeg in die vyftigerjare tereg gesê.  Andrieux het weer na die klooster as “die maatstaf van volmaaktheid” verwys.

Die haas volmaakte Thoronet-klooster was ‘n uitvloeisel van die deurslaggewende 12e eeu in Europa.  Die Cisterciënsers, ‘n afdeling van die Katolieke Kerk se Benediktynerorde, wat hulle monastiese werk hier verrig het, het eers in 1098 hul verskyning gemaak en fenomenaal onder Bernard van Clairvaux uitgebrei. By sy afsterwe in 1154 was daar in Frankryk alleen 280 Cisterciënser-kloosters en in die jaar 1200 ‘n hele 500.  Ek is geneig om te dink dat die opkoms van dié orde ‘n voorloper van die  Renaissance self was  ̶  die soeke na nuwe, asook primordiale betekenis, wat ‘n seminale koersverlegging meegebring het.

Van die oudste kloosters in Europa

Van die oudste kloosters in Europa

Ek loop deur ander vertrekke in die klooster en raak my oral, in die strak-versierde gange veral, bewus van ‘n groeiende waardering vir die plek. Hierdie gladgetrapte kloostergange was die middelpunt van die monnikslewe.  Vir my, wat deur die sensueel-skeptiese siening van my eeu gevorm is, is dit ‘n klein, eng wêreld. Vir die monnike was dit egter die begin van die ewigheid. Hier het hulle aanbid, gepeins, opgegaan in hul godsdiens, gelees en ontspan.

Strak versier, die klooster

Strak versier, die klooster

 

Tesame met almal wat die plek besoek, is ek dankbaar  dat die mense van Frankryk sedert die 1840’s, weer die waarde van Thoronet besef het, ‘n plek wat op een tydstip so verwaarloos was dat ‘n trop skape die kapelsaal van die monnike ingeneem het! Sedertdien is die skape uit die pragtige saal met sy lae gewelf – die mees versierde Thoronet-vertrek  ̶  verwyder en pryk die abbaye op die lys van nasionale monumente, en is dus deel van die Franse patrimoine.  In die 20e eeu is die vernuwing van Thoronet met mening onderneem. Die kompleks word nou as‘n museum beskou. Hoewel die kloosterterrein in 1785 as gevolg van ‘n kwynende ekonomie gedekonsekreer is, adem die plek se steen en klip steeds iets soos ‘n tasbare gees, soos die skrywer-argitek, Fernand Pouillon, dit in ‘n roman oor Thoronet stel.

Die kapelsaal

Die kapelsaal

Hoe ook al, ek besigtig die kloosterterrein en toe ek terugstap na die kerkgebou, beleef ek die hoogtepunt van my besoek.

‘n Groep skoolkinders babbel in die kerk, vertoef ‘n rukkie, en maak hulle dan uit die voete. ‘n Stuk of twaalf volwassenes, vergesel van ‘n  toergids, staan gedemp tussen die kerkbanke en praat.

Ek gaan sit heel agter op ‘n bank en bekyk die kerk, opnuut uit die veld geslaan deur die merkwaardige argitektuur…  Die Middeleeue was immers ‘n tydperk toe die meeste mense in klein houthuisies gewoon het, selfs hartbeeshuisies, en hier hoog bo my troon gewelwe van steen, die stof wat vir die monnike die ewigheid versinnebeeld het. Die kerk is inderdaad ‘n ruimte wat die huis van die Here op aarde voorstel.

Die Middeleeuse ontwerpers en bouers van die kerk  moes diep nagedink het, alles met passie beplan het, oor elke besonderheid gewroeg het. Hul argitektoniese kennis is tot vandag toe verbysterend en bewonderenswaardig. Een van die aspekte van die gebou wat veral bewondering by my afdwing, is die akoestiek. ‘n Soort akoestiek wat ek jare gelede in Kloster Eberbach, ‘n ander Cisterciënser-klooster, aan die oewer van die Rynrivier in Duitsland beleef het.

Uitsig bo die kloosters (noord-wes)

Uitsig bo die kloosters (noord-wes)

Maar terug na die toergids en die groepie mense… Die gids, ‘n maer Korsikaan met lang, swartgrys golwende hare, gaan heel voor in die naaf staan en trek los met ‘n soort dreunsang.

Hy stap die kapél binne, die sygang af.  En hy sing. Hy stap voor my verby waar ek verstom sit.  En hy sing.

Dit is asof die gewelwe se boë sy stem omhels, asof die stene die note liefkoos, die vol, goue klank alles vul.  Hy stap plegtig met die ander sygang langs en dan terug na die naaf, gaan staan daar voor, sing dawerend klaar, en laat die stilte dan oor alles neersak.  Sy toergroep staan sprakeloos.

Ure, dae, nadat ek uit die Thoronet-klooster weg is, weerklink die Korsikaan se stem steeds in my brein, onder die gewelf van my skedel. En ek weet: in die jare wat voorlê, sal die klank voorteggo. Ja, voorteggo. . .

Selfs die stene ...

Selfs die stene …

 

© Willem van der Walt

28 Mei, 2015

Abbaye du Thoronet, du Var

www.loertoer.wordpress.com

Bronne :

Jean-Yves Andrieux : L’Abbaye du Thoronet (Belin-Herscher, 2001)

Nathalie Molina :  Le Thoronet Abbey (Editions du Patrimoine, 2013)

Blanchet, Turc, Venture :  La Provence pour Les Nuls (First Editions, 2012)

Fernand Pouillon :  Les Pierres Sauvages (Seuil, 1964)

Wikipedia

Musiek by Thoronet opgeneem :  Verwys You Tube

Foto’s : Willem

Eerste beeld van Thoronet:  tourisme-lethoronet.com

 

%d bloggers like this: