Monthly Archives: June 2014

EZE – eggo’s in eggo’s

Die kusdorpie Eze, sowat elf kilometer oos van Nice, bring altyd dié gedagte by my op: As daar ‘n elfde gebod was, sou dit lui: Jy mag nie verveeld wees nie. Dis onmoontlik om in geskiedkundige Eze  verveeld te wees.

Skildery van Eze deur Winston Churchill

Skildery van Eze deur Winston Churchill

Eze is by uitstek ‘n village perché en pronk op ‘n krans 427 meter bo seespieël. Dis ‘n arendsnes, wat lyk of die  wind dit elke oomblik gaan  afwaai. Vandag huisves smal Middeleeuse keiklipstraatjies kunsgalerye, eetplekkies, rariteitewinkels. Maar oor alles huiwer die geskiedenis van Eze. En dis kompleet of dié geskiedenis hom aandien in eggo’s in eggo’s.

Ruines van 'n Romeinse fort

Ruines van ‘n Romeinse fort

Daar was ‘n tyd toe die Romeine, dié wat nie met die Galliese barbare  handgemeen wou raak nie, hulle hier op die krans kom vestig het.  Voor hulle was die Grieke hier.  En voor hulle die Fenisiërs.  En voor hulle die Keltiese Liguriërs. En voor hulle … was daar moontlik die San, die jagtersvolk wat aan Suid-Afrikaners bekend is.

Rotskuns, Castellon, Spanje

Rotskuns, Castellon, Spanje

Daar is blyke van Sanrotskuns in Spanje en mens wonder of hulle ook op hierdie hoë krans gewoon het. Hier waar die hemelsblou van die see jou asem wegslaan.

Uitkyk oor die see

Uitkyk oor die see

Ja, die geskiedenis weerklink soos eggo’s in eggo’s in Eze. En jy onthou dat ‘n hanetreetjie verder langs die kus af mensbeendere wat 400,000 jaar oud is, in ‘n argeologiese museum in Monaco uitgestal is. Eggo’s in eggo’s.

Ek stap met die hoofstraatjie genaamd  Die Weg van Nietszche langs.  Nietszche van alle mense! Hoe skakel die kolos van ‘n Duitse filosoof met hierdie pragdorpie? Hier het hy Alzo Sprach Zarathrustra geskryf, seker sy mees omstrede werk.  En hy leef voort in ‘n straatnaam. Maar dan, ironies, teen ‘n hoogte aan die einde van die Nietszchestraatjie troon ‘n 17e eeuse barokkerk teen die lug en ek kan amper hoor hoe  hierdie waardige gebou fluister, Sien jy, Nietszche is dood.  Maar ons is nog hier …

Chemin de Nietszche met barokkerk

Chemin de Nietszche met barokkerk

My besoek staan einde se kant toe en ek stap weer af na die Eze-brug, ‘n moderne toonbeeld van ‘n Romeinse akwaduk, ‘n plek waaraan tragiek verbonde is. ‘n Kennis van my vriendin, Claudie, het hier selfmoord gepleeg.

Die brug by Eze

Die brug by Eze

En vreemd genoeg het ‘n kunstenaar die gesig van ‘n vrou in die rotswand naby die brug uitgebeitel. Toevallig,  want dit het niks  met die tragedie te doen nie.  Maar die teer droefheid van daardie rotsgelaat spook by my, bly my by. Soos die eggo’s in die eggo’s van Eze.

Die gees van Eze

Die gees van Eze

 

© Willem van der Walt

Junie, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Rotskuns  –  Gardener:  Art through the Ages

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

KLEURVENSTERS

‘n Duisend jaar gelede, sê hulle my.  Toe het kunstenaars in die middeleeue begin kleurglasvensters maak, hoofsaaklik vir die kerke en katedrale.  In Suid-Afrika is die kleurvenster tradisie in Afrikaanse kerke vir verskeie redes maar vyftig jaar oud, meen ek.  Ek kan onthou dat ek onder die gevierde Roosvenster van Chartres-katedraal gestaan het, net toe die son van die steenvloer ‘n palet kleure gemaak het.  Seker dit wat my nog altyd na die vensters van ‘n kerk laat kyk.

In die Côte d’Azur het ek al ‘n verskeidenheid vensters gesien, vanaf die tradisionele tot die strak modern, vanaf vensters met verhalende inhoud tot abstrak ontwerpe.

L'Eglise Saint Pierre, Cagnes-sur-Mer

L’Eglise Saint Pierre, Cagnes-sur-Mer

L'Eglise Sacre Coeur, Antibes

L’Eglise Sacre Coeur, Antibes

L'Eglise Sacre Coeur, Antibes 1950s

L’Eglise Sacre Coeur, Antibes 1950s

L'Eglise St Blaise, Valbonne, 13de eeu.

L’Eglise St Blaise, Valbonne, 13de eeu.

Ferdinand Leger Museum, Biot, 1950s

Ferdinand Leger Museum, Biot, 1950s

L'Eglise Ste Jeanne d'Arc, Nice

L’Eglise Ste Jeanne d’Arc, Nice

L'Eglise Ste Marguerite, Les Semboules, 1960s

L’Eglise Ste Marguerite, Les Semboules, 1960s

Chapelle du Rosaire, ontwerp deur Matisse  Vence,1951

Chapelle du Rosaire, ontwerp deur Matisse Vence,1951

© Willem van der Walt

Junie, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

 

 

ANTIBES die kunstenaars en die skrywers

Ptolomeus, in die eerste eeu na Christus, skryf oor die geografiese ligging van Antibes, vir hom bekend as Antipolis.  Voor hom nog, beskryf Plinius die inboorlinge van hierdie streek as “mense van die see”.  Die dorp is lank al as ‘n Griekse kolonie gevestig en die stamme  wat voor die Grieke daar was, noem ‘n historikus die  Déceates, afstammelinge van die Kelt-Liguriese bevolkinge.  In Suid-Afrika, is ons geskiedenis natuurlik veel ouer, maar ons het dit eers onlangs begin opskryf.

Picasso, wat homself in die Suide kom vestig het, sê “By Antibes voel ek my deur die antieke ingeneem.”  En Antibes het oor die jare skrywers en kunstenaars ook ingeneem.  Les Remparts, die ikoniese deel van Antibes soos Tafelberg-vanaf-Blouberg vir Suid-Afrikaners ikonies is, word deur talle kunstenaars uitgebeeld.  Die stadsbeplanners, wat juis oor hierdie feit trots is, monteer afdrukke van verskeie skilderye op die plekke waar hulle geskilder is.  Dus, toe ek by Cap d’Antibes gaan stap, kom ek op twee afdrukke van Claude Monet af waar hy hulle in 1888 geskilder het.  Oor die baai, sien jy presies wat die impressionis  inspireer het.  Net die bome is na 124 jaar anders.

Claude Monet - Vue d'Antibes de la Salis 1888

Claude Monet – Antibes vu de la Salis 1888

Die lys van kunstenaars wat juis Les Remparts geskilder het, is intimiderend.  Die grootstes is onder hulle … Cross, Chagall, Boudin, Camoin.    Vir Chagall, vleg hy die kinderlikheid in sy styl met die naïwe — die vrou, haar voete in blomme verberg, is amper iets uit die mitologie: ‘n nimf? ‘n sireen? ‘n gewone sterfeling?  Skadu en lig speel oor hierdie dansende landskap.

Marc Chagall - Nu aux fleurs 1969

Marc Chagall – Nu aux fleurs pres Antibes 1969

Henri-Edmund Cross wend sy kwaste êrens tussen neo-impressionisme en pointilisme — ‘n mosaïkagtige waas van die Remparts met ‘n feloekka in die voorgrond, ‘n beduidende invloed op Matisse, onder andere.

Henri-Edmund Cross -  Les Remparts, Antibes 1905

Henri-Edmund Cross – Les Remparts, Antibes 1905

Onder die skrywers is daar Guy de Maupassant, die 19de eeuse meester van die kortverhaal, Graham Greene, die bekroonde Britse romanskrywer en Victor Hugo, die skrywer van Les Miserables, onder andere.

De Maupassant skryf:   « Ek het nog nie iets so ongewoon, so pragtig gesien nie … Dié klein dorp wat die oop see binneval, te midde van die Groot Baai van Nice.  ‘n Reuse golf breek oor die voet van die vesting, en verskerwe in blomme skuim; en ons kon die huise op mekaar sien klouter tot die twee torings teen die lug, soos horings aan ‘n oeroue helm …”

 

Boudin

Eugene Boudin – Vue des remparts d’Antibes 1893

En Greene:  “Ek bly al meer as twintig jaar in Antibes en is al meer as veertig jaar met hierdie dorp vertroud.  Van al die dorpe aan die Côte d’Azur, is dit die enigste een wat sy gees so goed behou het en die enigste een waar ek my tuis voel.”

Camoin  -  Mer demonte a Antibes 1920

Charles Camoin – Mer demontee a Antibes 1920

Dertig jaar nadat Victor Hugo in Antibes was, skryf hy oor sy besoek:  “Hier straal alles, die blomme straal, alles sing. Die son, die vrou, die liefde — dit alles is tuis hier.  Ek dra steeds die helderheid in my oë en in my siel.”

Guy de Maupassant

Guy de Maupassant

Victor Hugo

Victor Hugo

Graham Greene

Graham Greene

© Willem van der Walt

Meimaand, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Beelde:  Monet, Chagall, Cross, Boudin, Camoins – uit Paysages de Cagnes, Antibes, Juan-les-Pins deur Jean-Paul Potron [Editions Gilletta nice-matin. 2002]

Beelde van skrywers : Guy de Maupassant – babelia.com

Graham Greene  –  corjesusacratissim.org

Victor Hugo  –  stars-celebrites.com

Aanhalings van skrywers uit « Antibes Juan-les-Pins » deur Charles Drossart en Renaud Dumeni [Editions A.R.T 1991]

Bron :  E. Tisserand :  Histoire d’Antibes [1876]

 

%d bloggers like this: