Monthly Archives: November 2016

NEFERTITI – “Die Mooi Een kom”

Meer as veertig jaar gelede het ek die voorreg gehad om die Nefertiti-beeld se besigtig in die Charlottenburg Paleis, Berlyn, waar dit destyds uitgestal  was.  (Huidig, Neue Museum, Berlyn.) Het ek dit, as ‘n jong man, waardeer?  Wat beteken dit om so iets te waardeer?

Die hierogliewe noem haar "Die Mooi Een"

Die hierogliewe noem haar “Die Mooi Een”

Dit het my seker imponeer, maar wat ek meer onthou het, was die inligting dat Duitse argeoloë Egipte verbied is, juis vir “steel” van groot patrimonie.  Soos die Britte met die Elgin-Marmerbeelde, skop die Duitsers vas:  Nefertiti is ons s’n.

T.S. Eliot sê ons dat kuns nie oor die jare verbeter nie.  Geen kunstenare voor of ná die Egiptiese millennië het weer bereik wat hulle so mildelik bereik het nie – die balans tussen gestileerde en natuurlike uitbeelding.  En nêrens sien mens dit so sterk as in die Nefertiti-beeld, wat seker 1350 jaar voor Christus geskep is, ‘n werk uit duisende jare se kunsgeskiedenis.

Is die beste toe bereik?

Is die beste toe bereik?

Ek kan onthou dat ek wel gedink het, Hoe kontemporêr is hierdie skoonheid nie!  So kontemporêr as iemand soos Angeline Jolie uit Hollywood uit en dit in die jaar 2016.  Maar Nefertiti is slanker, meer elegant en ja, gestileerd.  Kyk jy, sien jy die energie, ‘n karaktertrek van soveel Egiptiese beelde, dit wat deur die natuur inspireer is.

Die kuns van die Khoi-San is vir my die voorlopers van daardie energie.  Die diere in Khoi-San-kuns is lewensgetrou, van die mees akkuraat in die kunsgeskiedenis – en meestal staties.  Maar die mens, ryklik gestileerd, is vol beweging en energie.  In die Egiptiese kuns word dié teëpole een.

Khoi-San jagters, Castellon, Spanje

Khoi-San jagters, Castellon, Spanje

Egiptiese soldate

Egiptiese soldate

Nefertiti, voel ek, bereik die uitbeelding van ‘n godin.  Tog is die gelaat sensueel.  Sy kyk ver, oor mense, oor stede, oor landskappe, oor die kurwe van die aarde na vreemde sterrestelsels.  Mona Lisa, in teenstelling, kyk na jou en sy wil-wil glimlag – ‘n kleiner wêreld, dié.

Is ek nader aan waardering van die Nefertiti-beeld?  Is enige iemand?  Hoe kan ons ooit iets ten volle waardeer wat so hemels is, so aards?

Waardeer ons haar?

Begin ons haar waardeer?

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

November, 2016

Les Semboules, Frankryk

Bronne

Wikipedia:  Nefertiti

Beelde

Nefertiti – internaute.com

Nefertiti  −  kingtutone.com

Khoi-San jagters – Castellon, Spanje (bron verloor)

Egiptiese soldate  −  nilewavetravel.wordpress.com

Nefertiti  −  femmecelebres.com

 

‘N DAG IN NICE

 

‘n Dag in Nice, en die woorde van die digter, Philip Larkin, kom by my op: What are days for? wil hy in sy gedig, Days, weet en sê dan:  “Days are where we live…  They are to be happy in …

En hierdie stralende oggend in Nice stem my gelukkig, maar ook nadenkend.  Die son is helder en vir my gevoel ‘n iets laer en blikkerender oor hierdie hemelsblou see as elders langs die Côte d’Azur. Maar hierdie dag waarin ek woon, soos Larkin sê, het tog iets triestigs. Verbeel ek my of is die Promenade des Anglais, die wandelweg langs die see, meer verlate as vantevore – leër? Is hier minder stappers, minder toeriste, minder fietse?  Ek het juis kom kyk of Juliemaand se tragedie die lewe hier verander het.  Ja, ek weet  dis vier maande gelede, maar hoe verloop dinge deesdae hier?  Kom die toeriste en besoekers steeds? Nice maak immers sedert die vroeë 19e eeu op toerisme staat en wil besoekers nie  afskrik nie.

Maar hier is beslis minder mense. Dalk, wanneer die getalle toeriste weer aangegroei het,  sal die monument te ere van die slagoffers wat hier in Juliemaand se terreuraanval gesterf het, opgerig en met deernis ingewy word.   Tog het iemand iets vir ons gelos – op die sypaadjie, die woorde “Nos Anges” wat verwys na die Baai van Nice wat Baie des Anges heet, maar die “engele” is ook die slagoffers.

"Ons Engele" "Lest we forget how fragile we are" - Sting

“Ons Engele” “Lest we forget how fragile we are” – Sting

Ek stap op die wandelweg langs die strand, amper verblind deur die blikkerende lig op die see. Nice straal behoorlik.  Ek neem alles om my in. Selfs  ‘n kunswerk eenkant op ‘n voetstuk, wat ‘n strandluierstoel uitbeeld – ‘n ironiese toevoeging tot die pop-kuns.

Ikoon van die lui-lekker-lewe

Ikoon van die lui-lekker-lewe

En dan verder is daar die kloofkranse wat oor die strande en die hawe uitkyk met ‘n ronde toring van waar die Duitsers tydens hul besetting van die stad alles kon waarneem.  Toe die weerstandbeweging se aanvalle hulle dwing om die toring prys te gee, was die stryd egter gewonne.

Die Toring, Chateau-tuine

Die Toring, Chateau-tuine

Ek loop.  Om die hoek van die kloof kom jy half onverwags op die Monument aux Morts af, die monument wat opgerig is ter herdenking aan die gesneuweldes van die twee Wêreldoorloë.  Dit is indrukwekkend – drie sementboë in die deco-styl, seker twintig meter hoog, wat van die kloofrotse  uitstaan, en die  gedenktekste raam.

Monument aux Morts

Monument aux Morts

Aan beide kante van die gedenktekste is simboliese friesuitbeeldings van oorlog.  Op die aanloopplein na die monument wys die mure ook friesvoorstellings van die strydende magte – die infanterie, die lugmag, die cavalerie, die vloot…

SAMSUNG CAMERA PICTURES

SAMSUNG CAMERA PICTURES

En kyk jy mooi, sien jy onder die friesuitbeeldings die name, fyn in die steenblokke gebeitel, so fyn dat jy dit skaars kan sien, die name en nogmaals name…  Onder andere ene Louis Roux. Wie was hy?

Waar eindig die name?

Waar eindig die name?

Regs is die gedenkplaat vir die Franse weerstandbeweging met die Alsace-kruis wat hulde aan die gemarteldes en gesneuweldes bring.

"Aux armes, Citoyens! Marchons, marchons ..."

“Aux armes, Citoyens! Marchons, marchons …”

Oorkant die straat pryk ‘n filigraankruis – fyn edelsmeewerk met die voorkoms van kantwerk –  teen die hemelsblou van die see en op die voorgrond kom ‘n yl groepie mense verby – stappers  met hul hondjies, kinders met fietse en rolskaatse…

Kruis by die see

Kruis by die see

Die lewe die wemel

Die lewe die wemel

Is my gemoedstemming aan die verander?

Ek stap om die hawe, nie ‘n groot plek nie,  met ‘n woud van seiljagmaste.  Aan die een kant kyk ‘n kerk oor die hawe uit en ek loop tot waar, die dag ná bevryding in 1944, ‘n foto van die hawe se puin geneem is.

Nice-hawe, 29ste Augustus, 1944

Nice-hawe, 29ste Augustus, 1944

 

Nice-hawe, 8ste November, 2016

Nice-hawe, 8ste November, 2016

Later staan ek op Place Garibaldi, ‘n klein plein met ‘n imponerende standbeeld van die man self.  Hy was blykbaar in Nice ook gebore.  Die Piedmontiese boë wat die geboue karakteriseer, herinner mens dat die Côte d’Azur in 1860 nog Italiaans was. Dit laat mens ook bespiegel hoe dit hier gelyk het tydens die belangrike slag van  28 Augustus, 1944 − ‘n beslissende slag vir die Duitsers vir wie alle nuus op daardie tydstip net sleg was.

Place Garibaldi

Place Garibaldi

Piedmonties

Piedmonties

In die omgewing van Place Garibaldi kom ek ‘n groot argeologiese uitgrawing tussen die geboue teë. Wat lê onder hierdie stof? Is dit net die onlangse geskiedenis van tweeduisend jaar gelede, Gallies-Romeins?  Of is dit die voorgeskiedenis, die Neanderdals en ouer?  Ek word herinner aan die grot by Hoy’s Koppie, Hermanus, waar die menslike oorblyfsels ten minste 50,000 jaar oud  is.

Ek loer by ‘n antieke winkel in waar hulle onder ander beelde uit die Gallo-Romeinse tydperk verkoop.

Wie doem uit die Gallies-Romeinse era op?

Wie doem uit die Gallies-Romeinse era op?

Twee ou here wat my uitkyk, laat my toe om rond te stap, foto’s te neem. En daar kom ek op twee absurde beelde af – dalk ‘n reddende teenmiddel vir vroeëre erns − wat my dag, waarin ek woon, weer gelukkig maak.

Atena en die Volstruis

Atena en die Volstruis

 

Plato en Nog 'n Volstruis

Plato en Nog ‘n Volstruis

(c) Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules

November, 2016

Aanhaling uit  Philip Larkin se “Days”

Aanhaling uit Sting se lied “Fragile”

Met dank aan Mike Oberholzer

Beelde

Foto’s Willem

Foto van Nice-hawe, 1944 – Getty images

 

Dié inset word aan die slagoffers van terreuraanvalle opgedra − in Frankryk, Engeland, Spanje, Belgie en Duitsland.

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

%d bloggers like this: