Category Archives: Oostenryk

MELK ABDY

Gevestig in 1089, was die Melk Abdy of Stift ‘n kasteel wat Leopold II aan die Benediktynse orde van monnike geskenk het.  Die barok argitektuur van die geboue kom eers in die vroeë jare van die 18de eeu voor.  Dié kloosterkerk  staan op die rif van ‘n berg wat oor die Danourivier uitkyk.

OP

Op die rif van die berg

In die geskiedenis, sê die toergids ons, was daar twee tydperke toe die voortbestaan van dié eeue-oue vesting as abdy in ernstige gedrang was — die Napoleoniese oorloë en die Tweede Wêreldoorlog.

Oostenrykse barok

Na die prag van die barok argitektuur en die skilderye, veral dié van die hoofkoepel, onthou ek die slotwoorde van die toergids aan ons.   Hy praat innig, seker ook omdat hy as kind die oorlog self beleef het.  Sy woorde bly na jare by my:  “Soveel Europese  erfenis is tydens die oorlog onherstelbaar vernietig.  Ek dank die Here dat wat ek julle vandag gewys het, aan ons behoue gebly het –  die Melk Abdy.”

Melk Abdy en die Danourivier

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semoubles, Antibes

Januarie, 2018

 

Bron

Wikipedia:  Melk Abbey

 

Beelde

Abdy  –  themuseumtimes.com

Abdy binne  –  travelsfinders.com

Abdy en die Danourivier  –  stiftmelk.at

 

 

 

Advertisements

KASTEEL AMRAS, Innsbruck

Schloss Amras, Innsbruck

Ek sal Schloss Amras nie vergeet nie.  Ek kan nie.  Wat ek daar gesien het, sit  −  ‘n portret van ‘n man wat met ‘n spies deur die regteroog saam gelewe het; portrette van die haarmense; ‘n oorsponklike portret van Dracula.  En dis nie al nie.  Wat vir ‘n plek is dit?

Man met ‘n spies in die oog

Vlad Tepes oftewel Dracula

Dié Kasteel, teen die hange van die berge bo Innsbruck, is nagenoeg 450 jaar gelede deur Aartshertog Ferdinand II (1529-1595) daargestel.  Die versameling van mooi en ongewone dinge wat toe aanvang geneem het, word as die oudste museum ter wêreld beskou.  Oostenrykers koester dié plek wat vanaf die 10de eeu ‘n vesting was, as van hulle belangrikse patrimonie, ‘n monument aan die hergeboorte van Europese kultuur, die Renaissance.

Die skedel van ‘n takbok wie se horings in ‘n boombas verstrengel geraak het, ‘n unieke versameling van pantserdrag … die Kuns- en Wonderkamers lewer een betowering na die ander.  Die Dracula-portret het my effens skepties laat voel, maar die portrette van die haarmense was vir my verruklik.

Pedro Gonzales, “Der Haarmensch von Mùnchen” (1580)

Die haarmense – vader en kinders – is van kop tot tone behaart, gesigte inkluis, amper soos dierepels.  Pedro Gonzales, in 1550 op Tenerief gebore, was daardie plegtige man wat in 1580 vir die skilder poseer het en ‘n Europese gesprekspunt geword het. In die gesinsportret is die moeder ook by en dié is glad en haarloos.  Die portrette van dié mense is formeel, dalk om die eeue se mites en legendes oor die figuur van die Wilde Man teë te werk.

Die Wilde Man – skets Giovannino de’ Grassi

Dit was juis die gees van die Renaissance wat die verskynsel só wou laat dokumenteer in plaas van ‘n bygelowige reaksie wat dit seker wreed sou uitwis as ‘n teken van die bose.  Met hierdie spesifieke geval en die verskillende museumruimtes by Amras betree ons die samevloei van die wetenskap, behoud, waardering en verwondering. Vandag is daar blykbaar ‘n mediese term vir die verskynsel van die haarmense wat van Amras benoem word.

Die haarman – Wat sou Darwin gesé het?

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Maart, 2017

Bronne

« Der Haarmensch von Műnchen » – internet-artikel

Wikipedia :  Castle Ambras

Encyclopédie des Symboles – “L’Homme Sauvage”

[Let die variantspelling van Amras/Ambras]

Beelde

Schloss Ambras – Wikipedia

Vlad Tepes / Dracula – Pinterest

Spiesman – Pinterest

Haarmensch – formele portret – Pinterest

Haarmensch – detail  –  Pinterest

L’homme sauvage – Encyclopédie des Symboles

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: