Category Archives: Suid-Korea

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die eerste in ‘n reeks van drie poste]

Ek het dae wat ek op ‘n voetstuk wil plaas.  Na jare brand hulle helder in my kop.  Onder sulke dae is die drie wat ek by die tempel van Yuongpyeongsa in Suid-Korea deurgebring het.

Die reëling om dit te kan doen, noem hulle “Temple-Stay” en vind dwarsdeur Suid-Korea plaas. Jy hoef nie ‘n Boeddhis te wees nie – hulle is verbaas as jy wel is.

Die landskap

Tempelgebou

Yuongpyeongsa (ja, sê dit gerus – joe-ông-pie-ông sa waar “sa” op tempel dui) is nog verder van enige iets as die Magoksa-tempelreeks en vir dieselfde rede :  die Confusiaanse owerhede het in die Middeleeue die Boeddhiste vervolg.   En die erfenis is die stilte wat oor die ruie groen heuwels, kenmerkend van Suid-Korea, hang.

Die monnikskleed en post-dreunsang Willem

Met die intrap kry ek ‘n monnikskleed wat ek die drie dae gedra het.  Daar was ses van ons, onder wie ‘n ma en haar tiener-dogter, Katoliek en in Minnesota woonagtig, eenmaal per jaar ‘n tempel besoek aflê as eerbetoon aan hulle voorouers.

Nou soos ‘n gang

Die sel waar ek slaap, laat my aan ‘n gang dink, maar die foeton waarop ek slaap, is verbasend gemaklik.

Vieruur die oggend maak hulle my wakker en in die warm gloede van lampe kry ons koers deur die donker vir die hooftempel.  Hier wag twee uur se dreunsang op my, ‘n ongewone ervaring.  Taalgewys, kan ek nie deelneem nie en my eerste reaksie is weerstand.  Geleidelik verspoel die weerstand todat ek nie meer die dreunsang hoor nie, omdat ek die dreunsang geword het.

Weerkaatsing van hooftempel

Met die opkoms van die son is dit reinigingsoefeninge  − staan; op die knie; voorkop op grond; terugsit op die knie; staan.  Doen dit een-honderd en agt keer.  Ek is vir dertig goed.

En toe hinkepink ek ontbyt toe.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

 

 

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die tweede pos in ‘n reeks van drie]

Die eetkamerstoep

Om gewoont te raak aan Koreaanse kos is om iets soos verslawing te betree.  Dit is die fyn kruie smaak wat hulle regkry met die tradisionele gebruike van gispotte.  Dit geld veral vir ghiemtjie, kool, wat op honderde maniere voorberei word en was vir my ‘n openbaring.  Varkvleis is populêr maar in die klooster waar ek was, is die kos vegetariër, en nie minder smaakvol nie.  Jare later toe ek weer Koreaanse kos in Kaapstad eet, is ek pens en pote gekettie in die geure en smake van daardie kos.

Gispotte

In die loop van die dag het ons ‘n non ontmoet, ‘n seningrige vrou met ‘n stralende gelaat en sy neem ons vir ‘n uitstap die heuwels in.  Sy wys die veldblommetjies aan die kant van die bospaadjie uit.  Nie eie aan die Koreaanse skiereiland nie, sê sy, maar gesaai deur die hande van Amerikaanse soldate tydens die burgeroorlog van die vyftigerjare.  As dit maar al was, wat hulle hier gelaat het.

Ek het in die hooftempel en in die buitepanele die gewyde kuns afgeneem, klein skilderye veral ook die legendes van die Boeddha en die koei.

Boeddha en die koei

Die Boeddhisme van Suid-Korea is Zen en dit sal veel neem om dit te probeer verduidelik.  Maar die ideaal, soos ek dit verstaan, is om van weerstand ontslae te raak en die Groot Niksheid te bepeins.  Ek kan nie verwag dat dit vir ‘n nie-Boeddhis duidelik sal wees nie.  Aan die muur was die Zen-simbool.

Die Zen-simbool

Die Sondagoggend is ons na die kamers van die hoofmonnik vir tee genooi, veel meer as net ‘n sosiale geleentheid.  Hy het deur ‘n tolk gepraat van die ritueel van teedrink, vir my innemend, maar, ek erken, die groen tee is vir my smakeloos.  Op hulle beurt kan hulle nie Westerse tee verdra nie.  Hy het ook gepraat oor die lotusblom. Nog ‘n openbaring vir my.  Dit is ‘n simbool wat die hele Asië deurtrek en is belangrik vir Boeddhiste, Hindoes en sekere Moeslims.

Die lotusblom

Hy self, ‘n gesette man, knipoog vir ons:  so dan en wan neem hy ‘n repie varkvleis en selfs ‘n dop.  Op die rak van sy studeerkamer was ‘n beeldtjie van die Maer Boeddha voor sy openbaring:  daar moet ‘n balans tussen vlees en gees gehandhaaf word;  jy is nie meer geestelik as jy die liggaam verontag nie.  Tog het die Maer Boeddha ‘n boodskap vir die mensdom, sê die hoofmonnik vir ons.  Iets om te bepeins.

Die Maer Boeddha

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die derde in ‘n reeks van drie poste]

Die laaste oggend het ek die tuine afgeneem, die hoof Boeddha-beeld en verskeie interessanthede.

Yuongpyeongsa-Boeddha

Beeld en hooftempel

Die non het kom gesels met ons en ons attent gemaak op die ou monnik wat ‘n meditasie doen op die buitelyn van die tempelhof.   Hy is oor die negentig, sê sy, en al jare afgetree.  Ek hou hom dop en voel die eeue van die Boeddhisme in sy wandelgang aan, ‘n geskiedenis vanaf 300 n. C. toe Boeddhisme eers uit Indië hier verskyning gemaak het.

Die ou monnik

Ou Monnik by tempel

Ek kom op ‘n Tao-rots af, ‘n simbool wat eintlik veel ouer as die Boeddhisme self is.  ‘n Rots van dié soort is gewoonlik ‘n simbool van die wordende chaos in die heelal en is sentraal aan Taoisme wat seker uit die oertyd in China al gevolg is.

Tao-rots

My besoek aan Yuongpyeongsa was op ‘n manier die vaarwel aan my jaar se verblyf en klasgee in Suid-Korea.  Dit was in Meimaand en die natuur was op sy mooiste.  Vir Boeddhiste is die natuur sentraal aan hulle geloofsisteem.  Weereens, gaan dit oor Aarde en Gees wat ‘n eenheid vorm, siel en liggaam, ‘n idee in ‘n doudruppel weerspiëel.  Vir dié rede het alles waarde en is alles deel van mens se genesing en geestelike groei.   Hierdie drie dae is by my nou.  Sal altyd wees.

Die heelal in ‘n doudruppel

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

 

 

 

MAGOKSA – kruldaktempels in die heuwels

 

Suid-oos Korea (Suid)

Die Suid-Ooste, Suid-Korea

Tussen die groen beboomde heuwels van die suid-ooste in die Koreaanse skiereiland kom mens op die enklawe van die Magoksa-tempelreeks af.  Dit neem ‘n halfuur van die stad van Cheongju, op die gerieflike snelweg, maar, sê ons bestuurder Dr. Kim, dit was 600 jaar gelede ‘n ander storie.  Destyds duur dit drie, vier dae vir pelgrims om daar uit te kom. Hy neem vandag van sy praktyk af om vir my en sy vrou wat saam met my in die laerskool klasgee na Magoksa toe te neem.   Ons parkeer in ‘n klein dorpie en neem die wandelpad deur die woude.

Wandelpad na tempels

Portaalhek op wandelpad na tempels

Skilderye by Portaalhek, wandelpad

Skilderye by Portaalhek, wandelpad

Vir hom is dit betekenisvol want, as mediese student, was hy destyds hier die voorsitter van die Boeddhiste-vereniging en daar is vir hom ‘n rykheid aan herinneringe.  Magoksa is veral belangrik vir nagenoeg sewentig tempels in die streek en onderneem geestlike leiding en geldelike steun.

Bedeklippe in die woud langs wandelpad

Bedeklippe in die woud langs wandelpad

Tempels op Taehwa-rivier

Tempels op Taehwa-rivier

Aan die oewer van die Taehwa-rivier is die boom- en plantegroei so ruig dat mens mooi moet kyk om die kruldaktempels raak te sien.  Die inligtingsbord is trots op die stelling dat dié tempels in die Yin en Yangkronkels van die rivier gevestig is, en dit vanaf die jaar 643 n. C. , drie honderd jaar nadat Boeddhisme Korea vanaf Indië bereik het.

Poster van monnike wat die brug oorkruis

Poster van monnike wat die brug oorkruis

Die brug oor die Taehwa-rivier

Die brug oor die Taehwa-rivier

Ons stap oor die brug wat groot simboliese betekenis vir Magoksa inhou.  Vir jong monnike is die oorkruising van hierdie brug die finale toewyding wat hulle maak.  Onder in die groen water krioel dit van visse wat ook simboliek dra en wat kleurvol uitgebeeld word.

Visse

Visse

Visikoon

Visikoon

Dr. Kim, met sy vrou as tolk, wys ‘n kleinerige tempel versigtig uit, seker wat ons ‘n kapel sou noem, en agter sy hand fluister hy  “Dis die sjamaniste.”  Interessant dat, hier by Magoksa, is dit een van die parallel bewegings in die Boeddihisme wat verdra word.  Dr. Kim se gebare en uitdrukking dui vir my dat sy verdraagsaamheid hier ietwat getoets word.

Hoof Tempelsaal, Magoksa

Hoof Tempelsaal, Magoksa

Ons kom te staan voor die hoof tempelsaal, ‘n gebou, sê hy, wat  uiters ongewoon is.  Die struktuur van tempels in Korea is eenvlakkig en hier is daar twee verdiepings.  Skoene by die deur en ons gaan binne toe. “Geen foto’s, asseblief,” fluister hy.  In die altyd-skemer van die tempel troon daar drie Buddha-beelde, met goue omhulsel.  Die middel een, fluister sy vrou, is “Sakyamuni”, die naam vir Gotama, die Indiese leier wat Boeddhisme gestig het.

Boeddha-beeld, elders geneem

Boeddha-beeld, elders geneem

In die vier hoeke van die saalruimte is massiewe boombalke, ekspressief krom, die ongelooflike grein met liefde vernis.  Hierdie balke is blykbaar wat die struktuur stut.  Hier en daar is die toegewydes betrokke met hulle oefening-meditasies − staan, kniel, voorkop-op-die-grond, staan …

Onder die Joseon-koningskap, ses honderd jaar gelede, sê Dr. Kim, het die owerhede wat Confuciaans was, die Boeddhisme vervolg en probeer onderdruk.  Vir die rede het die toegewydes hulle van die stede en dorpe onttrek en in dié verafgeleë streek Magoksa gevestig en opgebou.  Maar daar was in die verlede ‘n groter vyand, voeg hy by met ‘n skaduwee oor sy gesig.  In 1592, soos elke kennisbord op ‘n toerisroete in Suid-Korea vir jou sal inlig, het die Japanese die land van die noorde tot suide in puin gelê.   Magoksa, sê hy met gevoel, is eers finaal in 1652 restoureer.  Ek sal dit vir ‘n rede van my eie onthou, sê ek.

Geloof en natuur word een

Geloof en natuur word een

Mev. Kim, Dr. Kim en ek

Mev. Kim, Dr. Kim en ek

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Magoksa, Suid-Korea

Meimaand, 2008

 

Bron

Met dank aan Dr. Kim

Inligtingsbord

Wikipedia

Foto’s  –  Willem

 

 

SAMSUNG – lig en skadu

My Samsung-kamera, my Samsung-app, my Samsung- skootrekenaar … noem maar op. Samsung is alomteenwoordig.  ‘n Ondernemende maatskappy wat met sy skeppende energie op die voorgrond is. Maar het jy geweet? Agter Samsung se vooruitgang  en uitnemende innoverings rys  ‘n agtergrond van lig en skadu.

Samsung-klient en sy kamera

Samsung-kliënt en sy kamera

Die Samsung-maatskappy het in die laat dertigerjare van die vorige eeu  tot stand gekom in ‘n Korea wat onherkenbaar  verskil het van wat dit vandag is. ‘n Korea  waaroor die skadu van Japan swaar geval het.

Korea is al in 1905 as ‘n protektoraat van Japan verklaar. In 1910 het  die Japanese Korea, wat eeue lank as die Hermietryk bekend gestaan het, geannekseer.  Die eerste tien jaar het Japan  ‘n militêre bewind gevoer en enige teken van opstand onderdruk.  Die Koreaanse weerstandbeweging, sterk beïnvloed deur die ideologie van kommunisme wat besig was om veld te wen,  was verplig om die stryd ondergronds voort te sit.

Maar terug na Samsung: dié maatskappy is toentertyd met Koreaanse geld en ondernemingsgees gestig en deur die Japanese ondersteun.  Die Koreane wat by hierdie onderneming betrokke was, was nie gewild onder hulle medeburgers nie. Trouens, hulle is deur die weerstandbeweging as handlangers van die kolonialiste beskou, verraaiers, kapitaliste wat tot ‘n val gebring moes word. Soos hier bo gesê: die lede van die Koreaanse weerstandbeweging was begeester deur Mao Tse Toeng en sy opmars na mag en oorheersing, en die klaarblyklike sukses van Stalinistiese Rusland.

'n Propagandaskildery - die nuwe wéreld ikoon

Die nuwe wêreld-ikoon – ‘n propagandaskildery

Die Japanese besetting van Korea het van 1910 tot 1945 geduur. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Koreaanse weerstand teen die Japanese feller geraak, bowenal  nadat duisende Koreaanse vroue gedwing is om “troosvroue” vir Japanese soldate te wees. Dit kon eenvoudig nie geduld word nie.

In 1945 kon die Koreane die Japanese juk afskud. In Augustus, van daardie jaar het die atoombomme wat die VSA op Hirosjima en Nagasaki losgelaat het, Japan op sy knieë gedwing en ‘n onvoorwaardelike oorgawe bewerkstellig. Sodoende is die Japanese kolonialiste uit die Koreaanse skiereiland verdryf.

Die Koreaanse burgeroorlog - 'n montage

Die Koreaanse burgeroorlog – ‘n montage

 

Die verdeelde land

Die verdeelde land

Ofskoon die Japanese uit Korea padgegee het, was Korea ‘n verdeelde land. Mao Tse Toeng se sege in China in 1949 het stukrag aan die kommunistiese weerstandbeweging se saak gegee.

Met militêre steun van China en Rusland, het   die kommuniste in die noorde van Korea die suide in 1950 aangeval. Die Koreaanse burgeroorlog was bloedig, met ‘n lewensverlies van  1,200000 mense binne die bestek van drie jaar (1950 – 1953).  (Vergelyk die oorlog in Irak se syfers: 500,000 vanaf 2003 tot 2011.)

Vier en twintig nasies, insluitende Suid-Afrika, het die Suid-Koreane bygestaan. Die kommuniste wat die hele skiereiland oorheers het, behalwe die kusstad Pusan in die suide, is teruggestoot.  Die Amerikaners sou ‘n deurslaggewende rol in die oorlog speel.  Hulle het in 1953 ‘n skietstilstand tussen die Noorde en die Suide bewerkstellig, maar ‘n formele vredesverdrag is nooit onderteken nie. Tot vandag toe is die Noorde en Suide van Korea teenoor mekaar opgestel.

Oorlogdenkmaal, Ichon, Wes-Seoel: die name, die name ...

Oorlogdenkmaal, Ichon, Wes-Seoel: die name, die name …

Te midde van al die konflik in Korea, het Samsung  in die suide oorleef.  In die Weste weet ons dit maar te goed.  Min van ons het nog nie met ‘n puik Samsung-produk te doene gehad nie. Samsung kraai koning en die Japanese weet dit bowenal.  Samsung stel hulle in die skadu en dit ruik  na vergelding. ‘n Ironiese stand van sake.  Samsung, die grootste maatskappy in Suid-Korea, is een van die hoofredes waarom die land so ongelooflik suksesvol is.  In 2010 was Suid-Korea die dertiende rykste nasie in die wêreld.

Samsung-dorp, Seoel

Samsung-dorp, Seoel

Die Chinese en die Russe het intussen hulle eie vorms van  Samsung tot stand gebring. Hulle het lankal uit Noord-Korea padgegee – ‘n sinistere land wat die status van die Hermietryk herwin het, ‘n soort Middeleeuse slawerny, en die mees geslote samelewing ter wêreld.

Hoe lank voor die genesing?

Hoe lank voor die genesing?

Interessant dat die yskas of mikrogolfoond in jou kombuis, jou selfoon of app, algemene voorwerpe van ons verligte beskawing, sy oorsprong gehad het in ‘n land met ‘n agtergrond van dramatiese lig en skadu.

© Willem van der Walt

http://www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Frankryk

Desember, 2016

Bronne:

Andrew C. Nahm:  Tradition and Transformation. A History of the Korean People.

Wikipedia:  History of the Korean civil war (1950 – 1953)  

Statistiek oor lewensverlies in Irak-oorlog: PLOS Medicine Survey, deur Wikipedia aangehaal.  Let wel: die syfers is dalk aanbvegbaar.

Beelde

Samsung-kliënt en sy kamera  −  Willem

Oorlogdenkmaal, Ichon, Seoel – Willem

Mao Tse Toeng  –  bron verloor

Kaart –  ae.americananthro.org

Samsung-Dorp, Seoel – Seoulsessions.wordpress.com

“Dangerous Border” – earthnutshell.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

NEKROPOOL

Ek vertrou mense neem my nie kwalik dat ek só ‘n onderwerp aanpak nie.  Die nekropool, oftewel, die begrafplaas, spreek boekdele oor wie ons is en wat ons glo.

Bisan-Ri, Suid-Korea

Bisan-Ri, Suid-Korea

Die grootste van sy soort, asook die mees spektakelagtig wat ek nog beleef het, is Bisan-Ri in Suid-Korea.  My Koreaanse kollega vertel my dat dit toe (2007) al twintig tot dertig jaar oud is, en, om pront te praat, vir die rykes.  Elke graf is presies soos die ander, met enkele uitsonderings, en elke graf verberg die askruik van die afgestorwene.  Bisan-Ri lê teen ‘n bult wat op die verre heuwels gerig is.  Op ‘n vlak bo die landskap van grafte staan ‘n groot goudomhulde Boeddha, seker vier verdiepings hoog.  Ondertoe, nader aan die valei, is ‘n massiewe klok onder die dak van ‘n kruldakraam.

Verre heuwels met klokhuis  in die voorgrond

Verre heuwels met klokhuis in die voorgrond

Ek het nog altyd gedink dat die mens, as beskaafde wese, sy afgestorwendes met deernis behandel, die teken van sy geestelike wese.  Om die waarheid te sê, is daar ook seker die vrees vir die geeste van die dodes.  My inligting oor wanneer dit eers gebeur het, was beperk tot 100,000 jaar gelede, die Skhul-grot in Israel. Maar dis drie minute gelede.  In Suid-Afrika, soos reeds al gebeur het, vind ons die Naledi-grot by Maropeng,  Cradle of Human Kind, waar die oorskot van 15 individuele mense 2 miljoen jaar gelede plus neergelê is.  Dit het ek nog nie self gesien nie, maar dit dring hierdie onderwerp binne.  Die navorsing hieroor (vanaf 2013) is aan die gang, maar die uiteinde hiervan sal steeds dui op van die merkwaardigste vondse in die geskiedenis. Is dit die eerste nekropool?  Dit laat my verbyster.

Homo Naledi, Maropeng, 'n nekropool twee mijoen jaar oud

Homo Naledi, Maropeng, ‘n nekropool twee mijoen jaar oud

Die Woltemades in Kaapstad, vertel hulle my, is die grootste begrafplaas in die land, seker omdat Kaapstad oud is.  Maar ons was nie altyd so beskaafd nie.  In Juniemaand, 2003, ontdek hulle in Groenpunt, Kaapstad, ‘n massagraf waar dooie slawe en armes vanaf 270 jaar gelede ingeboender is, die oorblyfsels van nagenoeg 2000 mense.  Dié gebeendere is nou in ‘n knekelhuis opgeneem onder toesig van die Prestwich Denkmaal, en, soos ‘n joernalis dit stel, “finaal tot ruste neergelê.”  Terwyl die gegoedes in kerkhowe om kerke begrawe is, was daar minder sentiment teenoor ander.   Daar was vanaf Van Riebeeck drie honderd en vyftig plus jare van nekropole in Kaapstad.

Prestwich Denkmaal, Groenpunt, Kaapstad

Prestwich Denkmaal, Groenpunt, Kaapstad

In Antibes, aan die Middellandse See, diep argeoloë die oorblyfsels van agtien nekropole op.  Dit is ‘n geskiedenis van ten minste twee duisend seshonderd jaar …  vanaf die oerbevolking van Kelt-Liguriërs, deur die Fonesiërs, die Grieke, Romeine, proto-Christene, die Middeleeue, die moderne tye …  Selfs Les Semboules aan die buitewyke van Antibes, waar ek bly, het ‘n nekropool gehad.  Ten spyte van die uiteenlopende aard van die religieë wat hier verteenwoordig word, is daar ‘n deurlopende draad – die respekvolle behandeling van afgestorwenes.  En ná die vonds van die Naledi-grot weet ons hoe oud die praktyk waarlik is.

Elke November die eerste gaan ek met Claudie na die graf van haar wyle man met ons krisante, ‘n ritueel gevoer deur miljoene in die land.  Dit is Allersieledag.   Die begrafplaas is binne loopafstand van die woonstel, seker waar die oorspronklike nekropool was.  Een jaar sien ek iets wat my ruk.

Ons gaan begrafplaas toe om eer te betoon, in ons hande, die gebruiklike krisante. Vluweel sipresse hang swaar uit die koue blou lig.  In die nabyheid, staan ‘n gesin in stilte bo ‘n marmerblad met die blomme.  Die jong vrou is swaar verwagtend.  En ek bewonder my oor die heelal.

 Allersieledag, Les Semboules

Allersieledag, Les Semboules

 

 

© Willem van der Walt

Les Semboules

Augustus 2016

www.loertoer.wordpress.com

 

Bronne

Homo naledi – Wikipedia

Aux Origines d’Antibes  Silvana Editoriale

Beelde Korea – Willem

Beeld van naledi – maropeng.com

Beeld Prestwich Denkmaal – Jo-Ann Duggan

Flitssaga “Allersieledag”  en tekening deur Willem

 

 

 

 

Sim Su-bong se rose

Dit was nie só nie, sê die puntenerige historikus, dit was só.  Maak dit saak hoe dit was?  Hoe belangrik is die presiese besonderhede?  ‘n Triestige liefdesverhaal is altyd waar.

Op die nag van Oktober die 26ste, 1979, is daar ‘n dinee gereël vir President Park Chung-hee van Suid-Korea.  Vyf jaar tevore het sy vrou, grasieus, alombemind, die onbeplande slagoffer geword van ‘n sluipmoordpoging op die president se lewe.  Die sluipmoordernaar was ‘n Noord-Koreaner.  Maar op dié nag in 1979, het Park, ‘n omstrede leier, met liefde en haat onder sy volgelinge, twee pragtige vrouens aan sy sy gehad.  Omstrede omdat hy die land ekonomies opgebeur het, maar tog burgerlike regte deurploeg het.

President Park Chung-hee

President Park Chung-hee

In die hoek van die dineesaal was daar ‘n gordyn wat gedeeltelik ‘n jong volkssangeres met haar kitaar afgeskerm het.  Omdat die president so van haar vorige opvoerings gehou het, en dalk vir meer as dit, bied hy daardie aand vir haar ‘n bos rooi rose.  Haar naam was Sim Su-bong.

Teen middernag stryk Kim Jae-kyu, ‘n voormalige assistent en vriend van die president, die jolige samekoms binne, pluk ‘n rewolwer uit, sê dat hy dit vir die land doen en skiet Park dood.  Kalm, verlaat die man die saal, gaan huis toe waar hy ‘n uur of twee later gearresteer is en die volgende jaar deur ‘n vuurpelaton tereggestel is.

Het Sim Su-bong se kitaar op die vloer geval?  Of het sy net gestaar, verblind deur die afgryse van die bloeddeurdrenkte tafel, vrouens wat skreeu, mans wat hardloop?  Het sy, deur die skok en chaos, deur ander uit die saal gehelp, die rose op die vloer vergeet?    Ons weet nie.

Wat ons wel weet, is dat Sim Su-bong het daarna ‘n lied geskryf, die naam, ‘n Miljoen Rose.  Ek luister nou daarna met  onsamehangende fragmente van vertaling … Het nie ‘n siel wat haat … wanneer ek waarlik liefhet, bot ‘n roos … Nou kan ek terugkeer na die sterrewêreld wat ek so baie mis …”  Kripties dalk,  maar nie obskuur dat mens nie kan sien dat sy diep geraak is nie.  Dit is nie onmoontlik nie dat sy veel meer as net ‘n geskokte bystaander was.  Die titel van die lied dui met passie daarop.  Films oor die gebeurtenis spekuleer hieroor.  Die Koreane met wie ek gepraat het, bly gedemp.  Maar die lied … die waarheid van hierdie verhaal lê nie in die besonderhede nie.

Sim Su-bong

Sim Su-bong

Ek kyk na haar foto op die omslag van die CD.  ‘n Mooi vrou eerder as beeldskoon, met haar konvensionele haarstyl, die masker glimlag.  Die lied dring binne met sy sagte wieg, en die wond is daar, die ondraaglike verlange.   Sy het later getrou, kinders gehad en ‘n nasionale en internasionale ster geword.

Op die foto, hou sy ‘n bos rooi rose teen haar, ‘n dosyn of so.

 

© Willem van der Walt

Meimaand, 2008

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

President Park – fineartamerica.com

Sim-Su-bong  –  zipstudios

Vir ‘n opvoering van die lied –  onemillionroses.blogspot.com – waar Sim Su-bong met Chang Ki-ha sing

 

 

 

 

%d bloggers like this: