Monthly Archives: October 2014

Die Vuurdoop van Sirkels

‘n Mens se brein ontwikkel vinniger in die suide van Frankryk as elders. Ek is oortuig daarvan en ek dink ek weet waaraan die fenomeen toe te skryf is. Dis eintlik doodeenvoudig. Bestuur ‘n motor, veral ‘n oue,  in Franse verkeersirkels. Dit versnel die ontwikkeling van jou brein ongeloofllik. Maar wees gewaarsku: dis nie ‘n leerkurwe nie, maar ‘n vuurdoop.

In Suid-Afrika sien mens dalk een of twee motors op ‘n verkeersirkel afpyl. Of dalk meer. Maar nooit ‘n breë stroom nie. Aan die Côte d’Azur is dit net die teenoorgestelde. Hier verdriedubbel die verkeer  gewoonlik  by ‘n verkeersirkel en almal ry meteens twee keer so vinnig. En om hierdie situasie te bowe te kom, moet beide jou rasionele oordeel en oerinstinkte opgeskerp wees. As jy nie kophou nie, gaan jy tweede kom. Punt.

Blitssnelbesluite

Blitssnelbesluite

Voor jy die sirkel met sy vloedstroom motors, vragmotors, busse, en motorfietse nader, moet jou kop reeds in rat wees. Vyfde rat vir jou kop en eerste rat vir jou motor as jy moet wag. Maar wie weet? Dalk hoef jy nie te wag nie en kan jy jou saam met die kamikaze-motoriste in die stroom inwerp, hulle wat jou kneukels aan die stier verby skuur.

Dis tweede rat. Dis ‘n ingewikkelde oombik. Met watter motors ding jy om oorlewing mee? Hulle lyk almal blinknuut. En watter kans het ‘n ou soos jy in ‘n tien jaar oue Renault Twingo? Almal druk voor jou in. Dis elkeen vir homself. Wie gee ‘n snars om oor maniere? Die lewe is vlietende pyl. Daar is nie tyd nie. En jy is uitgelewer aan Franse wat soos maniakke  bestuur.

Die kerk staan reg vir foute

Die kerk staan reg vir foute

Boonop reën dit op hierdie oggend katte en honde en die pad is seepglad. Jy sit in ‘n tou motors en sien geen gaping nie. En wanneer dit wel soos manna uit die hemel kom en jy die motor wil lanseer, kets die ou Renault en blou rook walm uit die uitlaatypyp op en die bande gly-gly onder jou op die gladde teer. Maar jy trap die versneller. Kophou. Kophou.

Jy gaan die gaping voor die motor wat jy probeer verbysteek nie haal nie. Maar jy byt op jou tande en mik vir die gaping. Die Fransman wil jou nie ‘n kans gee om hom verby te steek nie. Jy begin kook soos die ou motor se enjin. Jy sê kort, skerp, liederlike woorde. Jy gaan nie die gaping haal nie. Hier kom ‘n botsing. En toe op die laaste oomblik word die Franse maniak ‘n vernuftige bestuurder met vlymskerp oordeelsvermoë, wat net genoeg terughang sodat jy die gaping kan haal. Meneer Koel.  En hy lig sy duim vir jou! My redding in die Franse verkeer  berus meermale by sulke Fransmanne, maar snaaks genoeg, ek verkies dit al hoe meer om in Frankryk te stap as te ry.

 

Stap maar

Stap maar

 

 

© Willem van der Walt

Oktober 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s: Willem

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

%d bloggers like this: