Monthly Archives: January 2018

HERMANUS WATERFRONT – die kuns

Ek bring ‘n paar dae by Graham en Elna deur.  Saam is ons al gesoute makers van herinneringe.  Hulle neem my na die Waterfront toe waar ek aangenaam verras was.  Die stadsvaders en –moeders het ‘n reeks kunswerke in die afgelope jare daar goedgekeur.

Enigmatiese wesens

Die terras waar getalle mense hulle verwonder oor die walvisse wat in die baai baljaar, sien nou met ‘n nuwe baadjie anders uit.

‘n Werk deur Anton Smit

En wanneer die blou waters stil is, en die walvisse elders swem, baljaar die gevoelens oor hierdie interessante werke.  En dis verblydend om te weet dat kunstenaars in hierdie kontrei — ‘n gemeenskap, sê hulle my — ‘n geleentheid vir blootstelling het.

Swemmers deur Anton Smit

Vlieg oor die Walvisse

Werke wat ons tot denke stem en werke wat ons wil laat vlerk word.

Sit en verkyk jou

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Hermanus, Oktober, 2017

 Geskryf Januarie, 2018

 

My foto’s

 

Met hartlike dank aan Graham en Elna 

 

 

Advertisements

ANN MARAIS, kunstenaar

Ann Marais se werk wat ek ‘n paar jaar gelede in 2011 in ‘n uitstalling in die Bellville Biblioteek gesien het, was vir my ‘n openbaring.  Wat sy doen, val in twee hoof trekke:  dit wat direk sosiale kommentaar lewer en dit wat intuïtief is, wat uit ‘n magiese wêreld aangestap kom.  Sy staan met een voet in die keramiek en die ander, in beeldhouwerk.  Sy het al internasionale roem verwerf.

Dit is seker moontlik om die werk in diepte te ontleed.  Vir my was die wankelende lyn tussen naturalistiese voorstelling en ‘n droomterrein fassinerend.  Dit is asof die figure in die donker onderbewusste waak, opstaan en sonlig toe kom.

Hulle voel amper bekend, so fyn word hulle geskep.  Hulle is hier en daar in gewone klere, maar baie is in wit japonne of mantels geklee, wat hulle uit ‘n ander werklikheid bring.  Hulle doen dinge wat almal elke dag doen en tog is daar ‘n donker wolk êrens, iets wat steur.  Van hulle staan in stille isolasie.

Is wat hulle doen belangrik?  Nee wat.  Maar hierdie figure, die meeste van hulle in kalkwit, van hulle amper lewensgroot, vergeet mens nie.  En dié in swart geklee spook by my.

In ‘n land waar kunsbewustheid stadig aanwakker, is Ann Marais vir my ‘n inspirasie.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2018

 

Bron

FynArts Hermanus

 

Beelde

My foto’s

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

IMIBALA GALERY, Somerset-Wes

Dié galery het oor die jare naamgekry dat hulle kunsklasse vir township-kinders borg en dat hulle ruim aan Suid-Afrikaanse kunstenaars skenk.  Die uitstalling van Anton Smit en sy seun in die afgelope paar jaar was vir my ‘n belewenis.

Ek is onseker oor wie van die twee se werk ek afgeneem het, maar op die ou einde maak dit nie regtig by my saak nie – die werk is treffend.

Ek voel lewenslus in hierdie vorme, ‘n gehoue energie, en oerkrag wat wil uitbars, ‘n visie wat vooruit kyk.  Hulle is swaar van aansien en tog reik hulle boontoe.  Daar is  delikate aanslag.

Vir my is kuns treffend of treffend-en-ek-kan-daagliks-daarmee-saamleef, werk wat my persoonlik raak.  Hierdie beeldhouwerke doen dit vir my.

Ek is trots dat Somerset-Wes hierdie galery daargestel het.  Dit kan ons almal net verryk en soos, ‘n staal boom, nooit sterf nie.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Bridgewater, Somerset-Wes

Januarie, 2018

 

My foto’s

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

HONG KONG – die “Admirality”

Ek was een dag in Hong Kong.  Dit was in die “Admirality”-stadswyk, seker ‘n naam wat nog van die Britse besetting weerklink.  Van die treffendste argitektuur wat ek in die Ooste gesien het, sien ek toe daar.

‘n Hawegebou

Glasreuse

Ek het altyd gedink dat hierdie stad, wat vir my as kind so ‘n snaakse naam gehad het, sou die individuele karakter verloor nadat die Chinese vasteland weer in 1999 oorgeneem het.  Die teenoorgestelde was waar.  In hierdie negentien jaar het die Chinese stede, veral Shanghai, al hoe meer die aard van Hong Kong se stadskap gekry en selfs oorskry.

Norman Foster-ontwerp

Hierdie gebou is ‘n bank, ontwerp deur die Britse argitek Norman Foster.  In Shanghai staan daar nét so ‘n gebou, Die Shanghai Bank, driekeer die hoogte, wat daarna deur Foster ontwerp is.

Die Conrad-gebou

Dié geboue herinner ons aan die invloed van Mies van der Rohe, die Duitse argitek, wat glasdekking in moderne ontwerp in die tweede helfde van die twintigste-eeu na vore gebring het.

Die Lotte-gebou

Weerkaatsing

Dié geboue is die Lotte, een van die reuse maatskappye in Asië.  Ek meen hulle verkoop swiets.  Dit voel amper vir my asof hierdie gebou ‘n reuse tree wil-wil neem.

Ja, as mens dink hoe ver die Westerse argitektuur gekom het, vanaf die voor-Middeleeuse Italiaanse dorpe met hulle “wolkekrabbers” of torings, tot Louis Sullivan se ontwerpe in die 1880s in Chicago waar die moderne wolkekrabber eintlik ontstaan het … my ma, ‘n landelike siel, het engtevrees van wolkekrabbers gekry;  ek is anders – hulle bevry my.

… en weer …en weer

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2018

 

My foto’s

 

 

 

 

 

OPENBARE BADDENS, DAESO

Geagte Leser

U sal begryp as ek u meedeel dat vir hierdie pos daar geen fotobeelde beskikbaar sal wees nie.  Ek het besluit om van my tekeninge, paslik impressionisties, te gebruik.

Die openbare baddens waarvan ek praat, is dié wat ek in Daeso, Suid-Korea, besoek het.

Vyf honderd jaar van puriteinse huiwering wat Westerlinge op onmerkbare wyses affekteer, val binne ‘n halfuur weg.  Vir twee of drie weke het ek beleefd die uitnodiging afgewys.  Dis net ‘n openbare bad, sê my Koreaanse vriende.  Ek het nie juis fyn oor my redes nagedink nie.  Hulle het my met ironiese wete aangekyk.

In Suid-Korea, het ek min beelde van naakheid sien, in teenstelling met Hong Kong.  Ek het so te sê geen laaghalsrokke gesien nie, en tog is daar openbare baddens waar mens nie ‘n draad kleding dra nie.

Uiteindelik verkrummel my weerstand.  My vriend en sy vrou is aangenaam verbaas en vir hulle wat aan ‘n streng Christelike sekte behoort, is daar niks snaaks aan die praktyk.  Hulle gaan na die openbare baddens soos party mense eenkeer per week tennisspeel.  Die baddens wat ons besoek, sê my vriend se vrou, is kleiner as die ander en ons verkies dit.  En water is altyd pragtig skoon.  Hoe groter die baddens, hoe meer verdag is die water.

‘n Bad kos R28 ($4-5) en as jy ná die tyd ‘n masseer wil hê, waar jy energiek heen en weer geklap word, brand dit R100 uit jou sak.  Daar is ook ‘n barbier, ‘n skoeneskoonmaker en ‘n televisieskerm waar jy stories van middeleeuse gevegte kan sien.  Alles skoon en aptytlik.

 

My skaamte smelt in die louwarm water, die warm water, die kokende water en die souna.  In die bad yswater is daar geen skaamte oor nie, en dit is ‘n eienaardige ervaring:  mens voel nie aanvanklik die yswater nie.

Die bad waar ons was, was so te sê sonder kliënte.  In Japan, hoor ek, deel mans en vrouens die openbare baddens.  In Korea, nie.

Die stoom hang oor die baddens met hulle groen marmer teëls.  Ek en my vriend beweeg van die uiterste temperature en op die ou end lê ons op ons rûe in spoelende yswater.  Ek was bietjie duiselig, maar verras en gelukkig:  dit is die sensasie van gesondheid, nie die begrip nie.

Daar was ‘n paar ander mans, elkeen toegedraai in sy eie weer.  Een van hulle, ‘n jong man, fris en bruingebrand, help sy stokou vader, verrimpeld, krom en stadig, die een trap op, die tweede, en deur die stoom die warm water in.  Daar was iets in die teerheid daar wat ek nie sal vergeet nie.

En toe ons die baddens verlaat, stop hulle met ‘n lag en ‘n grap yskoue wortelsap in ons hande.

Ek sou die volgende Vrydag weer daar wees.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2018

 

Met dank aan Cho Wohnil en InSu

 

 

 

 

INSA DONG – in die hart van Seoel

Die eerste pos in ‘n reeks van drie

Soms kom mens op ‘n interessante winkel af.  By Insa-Dong, Seoel, is dit ‘n straat vol sulke winkels, een meer interessant as die ander.  Ek meen dit was doelbewus so beplan met ‘n stadswyk wat seker in die burgeroorlog fyn en flenters geskiet is.  En as die Koreane vandag stywe beurse het, het hulle ook verbeelding.  Die meeste geboue, nie een meer as drie verdiepings, is treffend moderne ontwerpe.  Die inhoud van die winkels het my kop laat draai.

Die invloed van China is al millennië in die Koreaanse skiereiland.  Hier is ‘n winkel wat net Chinese maskers verkoop.

Ek meen altyd dat die Ooste vir die Weste die kultuur van waaiers geleer het.  Hier is waaiers wat kleurvol modern is.

Hierdie kis met sy brons en ingelegde hout wou ek bittergraag besit, maar as reisiger moet mens maar die ding streel en droef wegstap.

Insa-dong is ‘n wandelstraat.  Om van die bome sien mens dié poësie in die stamyster.  Dit is ‘n gedig deur Koning Sejung wat in die 1440s ‘n kulturele revolusie in die Koreaanse geskiedenis teweeggebring het.  Die grootste bydra was die erkenning van Hangul, die Koreaanse taal, wat veel meer lynbevaart as Chinees is.

Vanaf die 19de-eeu tot die hede het die Koreane hulle hermietkarakter verloor.  Geleidelik het Westerse invloede toegeneem.  Hierdie onderwerp kan mens nog lank oor praat veral ook in die lig van Noord-Korea wat ná die burgeroorlog weer die hermietdop binnegekruip het.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2018

 

My foto’s

 

 

 

 

INSA DONG – ‘n oudhede winkel

Die tweede pos in ‘n reeks van drie

Dit was ‘n uur in my lewe wat helder in my herinneringe bly — rakke vol antieke volkskuns, veral naïwe kleifigure.  Hier kon jy Asië se verlede aanvoel en dis seker die kamele tussen die figure wat my dit laat dink het.

Maar daar was ook ‘n heldhaftige edelkryger van brons op volle vaart.

Een na die ander … en hulle speel seker ’n rol in ‘n kultuur wat hoogtes in wêreld pottebakkery bereik het.

Dié twee graniet beelde het vir my karakter gehad.

Maar die kleifigure rys kinderlik uit die stof van die aarde met ‘n tere mensheid.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Januarie, 2018

 

My foto’s

 

 

 

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: