Monthly Archives: May 2017

TWEE FORTE

FORT CARRÉ EN DIE KASTEEL VAN DIE KAAP VAN GOEIE HOOP – twee verhale

{Die eerste van twee poste}

Twee forte, 10,000 kilometers van mekaar, op verskillende kontinente en verskillende geskiedelike verbande … meer as ‘n honderd jaar uit mekaar gebou.   Tog is dit vreemd dat Fort Carré en Die Kasteel van Kaapstad eners voorkom, al het die eersgenoemde net vier hoeke, aldus die naam Carré.  Die ooreenkoms is seker omdat die rede vir hulle daarstelling een en dieselfde is.  Dan, Europa, as die groot oorlogmaker, is ook die groot verdediger en planne vir forte was maklik bekombaar.

Die oudste koloniale gebou

Vier hoeke

Die laat-1480s lei in ‘n tydperk wat Europa en uiteindelik die wêreld sou verander.  Dias, Da Gama en Columbus is die name wat ons ken en na ‘n eeu sou daar die eerste planne wees om die Kaap in gebruik te neem.  Binne 15 jaar van 1652 is die eerste fort van hout en steen vervang met die vyfhoek klip fort op die strand van Kaapstad.  Eers later sou die see teruggestoot word tot waar dit vandag is.

Allain Mallet skilder die Kasteel, 1683

In Antibes kom berigte uit Parys dat dié kusdorp op die grens tussen Frankryk en Italië versterk moet word (Nissa/Nice was nog Italiaans) en sestig jaar later is Fort Carré opgerig bo die eeu-oue hawe, waar Grieke en Romeine hulle bote gekaai het.  Die oorloë in die vroeë deel van die 1500s tussen François I en Charles Quint het die saak meer dringend gemaak.  Teen 1555 pronk die fort op die rotsprominensie.

Fort Carré – tussen 1550 en 1555 gebou

By Die Kasteel kom die berig uit die kantore van die Here 17, die VOC in Amsterdam:  Maak julle reg vir ‘n aanval van die Engelse.  Sover ek weet, het die Engelse toe nooit aangeval nie.

Thomas Brown, die Kasteel 1777

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 Mei, 2017

 

Bronne

France People, History and Culture.  Cecil Jenkins. (Running Press, Philadelphia. 1912)

“A brief history of the Castle of the Cape of Good Hope” – South Africa/History

Fort Carré – offisiële webwerf

 

Beelde

Fort Carré uit die lug – Antibes Juan-Les-Pins. C. Dronnsart, R. Dumenil (reds.) Editions A.R.T. 1991.

Die Kasteel uit die lug –  castleofgoodhope.co.za

Portfolio.collection.com

Colonialvoyage.com

Uit “Hoerikwagga” – Allain Mallet 1683; Thomas Brown 1777

My foto’s

 

 

 

 

Advertisements

Twee Forte

FORT CARRÉ EN DIE KASTEEL VAN DIE KAAP VAN GOEIE HOOP

{Die tweede van twee poste}

Maar daar was goeie rede vir Vauban, die energieke marskalk van die Son Koning, Louis XIV, om Frankryk deur te reis en in Antibes in 1682 vir Fort Carré aansienlik te kom versterk, met die verdubbelling van die mure.   Vorentoe was daar die slae in 1707 en 1746, wat op die slag van 1635 gevolg het.   En Antibes was hiervoor dankbaar – die hawe kry later Vauban se naam.

‘n Muur teen kanonballe

Beide Die Kasteel en Fort Carré het bakkerye in die gebou gehad.  Fort Carré is ‘n kleiner gebou en in die Kasteel was daar ‘n bakkery in elk van die vyf bastionne, asook ‘n smidswinkel.  In Fort Carré was daar net een bakkery en een smidswinkel.

Plaas die brode hierin

Waar die brode gebak het

In die Kasteel het die vertrek wat as kerk gedien het so groot rol gespeel dat die  eerste kerke nie in Kaapstad self gebou is nie.  Daarvoor moet ons Stellenbosch toe.  Fort Carré het die oorblyfsels van ‘n kapel.  Triestig om te dink hoeveel soldate wat gesterf het, eers daar op die knie gesak het.

Die kapel van buite

 

 

Die kapel van binne

In Fort Carré is daar 21 nisse vir kannone, en vir 50 gewere.  Ek weet nie of iemand al ooit die nisse in Die Kasteel getel het nie.  ‘n Grysaard-toergids het ons jare gelede bewoë meegedeel dat daar nog nie ‘n skoot van die bolwerke in woede gevuur is nie.  Ek wil dit glo.

Hierdeur gaan die dood

In albei forte is selle vir gevangenes.  Weereens is dié in Fort Carré minder.  In die Kasteel is daar ‘n reeks selle tesame met die Donker Gat wat min lig en min lug gehad het. ‘n Prisonier se gees en vlees is gou gebreek.  Adam Tas, die bekendste gevangene, kom hiervan getuig.  Fort Carré het die betwisde legende dat Napoleon Bonaparte self daar in 1794 vir twee weke gevange was.  Dit het oor sy assosiasie met Robespierre gegaan, ‘n revolusionêre wat die Revolusie opgeëet het.   Na 21 luisterryke jare sou Napoleon nader aan Die Kasteel verkeer met sy sesjarige verblyf op St Helena, waar hy ‘n fynproewer van Constantia-wyne geword het.

Fort Carré, skildery deur Nicolas de Stael, 1955

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 Mei, 2017

Bronne

France People, History and Culture.  Cecil Jenkins. (Running Press, Philadelphia. 1912)

“A brief history of the Castle of the Cape of Good Hope” – South Africa/History

Fort Carré – offisiële webwerf

 

Beelde

Fort Carré uit die lug – Antibes Juan-Les-Pins. C. Dronnsart, R. Dumenil (reds.) Editions A.R.T. 1991.

Die Kasteel uit die lug –  castleofgoodhope.co.za

Portfolio.collection.com

Colonialvoyage.com

My foto’s

 

 

 

  

 

 

LEGENDES – mistigheid oor harde feite

My ouma Lenie, gebore in die 19de eeu, het my vertel dat ons ‘n voorouer gehad het wat ‘n jong aanvallende leeu met sy eie hande verwurg het.  My ouma Miemie, gebore in die 19de eeu, het my vertel dat, op Vegkop, waar die Trekkers onder impi’s se spiese geval het, ‘n swart vrouebediende gevlug het met ‘n blanke baba.  Daardie baba was ons voorsaad.

Legendes omhul hulle heldhaftig figure in mistigheid.  En hierdie figure stryk oor struikelende feite van die geskiedenis.  Só ‘n figuur ook, is St Honorat.

Kyk ons na sy geboorte datum, 350 jaar na Christus, sien ons die Gallies-Romeinse wêreld van Belgie. Hier is hy en sy broer bekeer tot die nuwe, vreemde siening van die Christene. Twintig jaar tevore het Constantin die geloof aanvaar en ‘n skamele eeu voor dit is Christene nog vir vermaak voor skare deur leeue verskeur.

Na avonture en reise oor Europa kom Honorat en sy volgelinge op ‘n eiland, by die suidkus van Frankryk, te lande waar hy een van die eerste kloosters en met groot invloed gestig het.   Ek is bevoorreg om drie dae in daardie klooster deur te bring, ‘n plek van ryke geskiedenis en legendes.  Een van die legendes kom so in die Dictionnaires d’Antibes voor:

“Die duiwel was weg, maar slange was nog daar.  Honorat val neer en smeek God om hulle uit te wis.  Dadelik is hulle dood, de laaste een. Maar hulle was soveel dat die oorblyfsels in die lug gestink het, maar ons heilige het nie versmoor nie.

“Hy styg ‘n palmboom en bid vurig.  Toe wel die see op, vloed die oppervlakte van die eiland, en voer weg die walglike karkasse van die slange”.

Die legendes duur voort.  Vir die moderne mens is daar tog iets in hierdie legendes – die wurg van die leeu; Vegkop; die slange.  Moet die slange letterlik opgeneem word?  Was dit nie ‘n innerlike stryd wat hier verbeeld word nie?  Kyk net na die psigologiese skatkis van Griekse mitelogie.

 

En watter waarde is daar nie vir alle Suid-Afrikaners in ons familie legende van Vegkop nie?

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

Bronne

Dictionnaire D’Antibes Juan-Les-Pins. Pierre Tosan (red.)  HEPT – Antibes. 1998

Miemie van der Walt (1881 – 1973)

Lenie Rousseau (1883 – 1963)

 

My tekeninge

 

 

 

  

 

 

ARGIEWE, FRANSE WEERSTAND 1943 – 1944

Dalk is dit vir ons almal nodig om kortliks onder die sluier te loer, waar ons geskiedenis wegsteek, verdoem om dit alles deur ons onkunde, weer te doen.

Die Duitse besetting van Frankryk in Mei, 1940, het die suide van die land neutraal gelaat – tot September-November, 1942.  Toe val hulle en die Franse milice (polisiemag wat die Duitsers  gedien het) die Provensaalse stede en dorpe binne en hierna het die Weerstand in hierdie streek meer begin kop uitsteek.  Dalk het dié deel van Frankryk nie die ergste daaronder deurgeloop nie.  Mens dink aan die slagting van 642 mense deur SS-troepe by die dorp van Oradour-sur-Glane, naby Limoges, die 10de Junie, 1944, vier dae ná die Gealliëerde Magte by Normandie aangeland het, om een geval te noem.  Maar, soos die digter sê, die dood van elke mens verminder my.

Uit die Argiewe van Antibes, waar ek my bevind, kom enkele uittreksels.

1943

1ste Februarie.  “Fasistiese besighede” ontvang dreigbriewe van Weerstand  [“Fasisties” verwys seker na die Italiaanse troepe onder Mussolini wat gedeeltes van Provence tot 1942 beheer het.]

27ste Februarie.  Aanvalle teen besighede van samewerkers (“collabos”) met Duitsers

4de Mei.  Inhegtenisneming van dr. Levy deur die Duitsers

29ste Julie.  Marteling en moord van Luigi Rosso, Weerstandslid

1944

30ste Januarie.  Teregstelling van samewerker

17de Maart.  Teregstelling van die Duitse “consul” in Antibes

22ste Maart.  Inhegtenisneming van twee Weerstandlede, Pierre Appolin en Joseph Groffino.

30ste April.  Sabotasie van die spoorweg deur  Weerstand in Antibes

22ste Mei.  Teregstelling van samewerker

{6de Junie.  Aanlanding van Gealliëerde Magte by Normandie, Frankryk}

10de Junie.  Teregstelling van twee Weerstandslede

15de Augustus.  Aanlanding van Gealliëerde magte by St Tropez en St Raphael

24de Augustus.  Teregstelling van twee Weerstandslede.  Duitsers onttrek van Antibes se munisipaliteit in die oudorp.  Bevryding van Antibes

{26ste Augustus.  Parys bevry}

28ste Augustus.  Toulon en Nice bevry

23ste September.  Teregstellings van tien samewerkers by Fort Carré, Antibes

Dit alles laat my die diepte van die Franse se tragedie tydens die Tweede Wêreldoorlog besef.  Dit laat my oor die mens wonder.  Die Duitse filosoof Hegel sê dat die enigste les wat die geskiedenis ons leer, is dat die mens nie leer wat die geskiedenis ons leer nie.

“Die dood van ‘n mens verminder my”

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

Bronne

La Résistance Azuréenne. Jean-Louis Panicacci (red.) (Nice Editions Serre, 1994)

Grandes dates de l’Histoire de France. Aedis.  1912.

France. People, History and Culture. Cecil Jenkins (Running Press, Philadelphia. 2012)

Occupation The Ordeal of France 1940-1944. Ian Ousby. Pimlico, London. 1997)  

John Donne: “The death of any man diminishes me”

Beelde

My tekeninge.

 

 

 

 

 

ST PECHAIRE – die maak van ‘n martelaar

 Hier is vir jou ‘n turksvy om te skil – bring byeen ‘n lys martelaars uit die geskiedenis van die land.  Of is dit struksvy of self striksvy?  Bring handskoene.

Ek beskou die geskiedenis van Provence op ‘n afstand, my weergawe van die handskoene.  Hier is ‘n enkel gevalstudie van ‘n martelaar.  Dit gaan oor St Pechaire en my bron is die “Dictionnaire d’Antibes” wat veelseggend hierdie geskiedskrywe hanteer.

Straatnaam in Antibes

Die landskap van 730 nC in Provence, skets die skrywer met hartstog, was natuurlike en mensgemaakte verwoesting.  20ste Augustus van daardie jaar val die Saraseen Andaloesies van Spanje die eilande van Lerins aan, eilande wat amper van Antibes sigbaar is.  Die twee eilande, St Honoré en Ste Marguerite, was vanaf 400 nC van die eerste Christen kloosters in Europa.  Die abt was San-Pécaïre, oftewel Saint-Porcaire, aldus Saint Pechaire, met sy volgelinge, oor die vyf honderd, is toe deur die aanvallers bestorm.  Met kruise in die een hand en die ander hand wat na die hemel wys, is hulle onder die sabel gebring.  Die legende sê die geskree is tot by Antibes se strande hoorbaar.  En kort daarna, “dronk van die bloed”, beweer die skrywer, het die Sarasene vir Antibes ook in puin gelê.

Die Versterkte Klooster, St Honoré, Iles de Lerins

Die slagting het gebeur waar daar later in die Middeleeue ‘n versterkte kloostergebou opgerig is.  Dié gebou beeld uit wat die beleid van die Klooster daarna sou wees:  monnike en soldate sal dieselfde gebou deel.

Versterkte Klooster (binne), die vlak vir die monnike

Waar die monnike geslaap het

Toe die Sarasene weer in die elfde eeu die plek aanval, is hulle gestuit.

In Cannes, is ‘n uitkyktoring, Le Suquet, en in Antibes die Sarrasene-toring, opgerig, altwee om die inwoners vroegtydig teen moontlike aanvalle te waarsku.

Le Suquet, Cannes

Les Remparts, Antibes. Sarasene-toring regs

St Pechaire – die naam het wisselende gedaantes oor die eeue ondergaan – is tot heilige verklaar, maar om die waarheid te sê, word dié geskiedenis deur die mense van Provence nie met groot erns bejeen nie.  Die woord “geléjade” word gebruik – ‘n soort visvangstorie.   Tog, pleid die skrywer, handel hierdie grepe uit die geskiedenis van die donkerste hoofstukke.  Mens sien dit:  die kruistogte wat later vir altyd die Christene en Moeslims in spanning teenoor mekaar gestel het, het in Provence aanvang geneem en put stukrag uit die legende van St Pechaire.

Ai, die opstel van daardie lys martelaars.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

Bron

Dictionnaire d’Antibes Juan-Les-Pins. Pierre Tosan (red.) (HEPTA Antibes 1998)

 My foto’s

 

 

 

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die eerste in ‘n reeks van drie poste]

Ek het dae wat ek op ‘n voetstuk wil plaas.  Na jare brand hulle helder in my kop.  Onder sulke dae is die drie wat ek by die tempel van Yuongpyeongsa in Suid-Korea deurgebring het.

Die reëling om dit te kan doen, noem hulle “Temple-Stay” en vind dwarsdeur Suid-Korea plaas. Jy hoef nie ‘n Boeddhis te wees nie – hulle is verbaas as jy wel is.

Die landskap

Tempelgebou

Yuongpyeongsa (ja, sê dit gerus – joe-ông-pie-ông sa waar “sa” op tempel dui) is nog verder van enige iets as die Magoksa-tempelreeks en vir dieselfde rede :  die Confusiaanse owerhede het in die Middeleeue die Boeddhiste vervolg.   En die erfenis is die stilte wat oor die ruie groen heuwels, kenmerkend van Suid-Korea, hang.

Die monnikskleed en post-dreunsang Willem

Met die intrap kry ek ‘n monnikskleed wat ek die drie dae gedra het.  Daar was ses van ons, onder wie ‘n ma en haar tiener-dogter, Katoliek en in Minnesota woonagtig, eenmaal per jaar ‘n tempel besoek aflê as eerbetoon aan hulle voorouers.

Nou soos ‘n gang

Die sel waar ek slaap, laat my aan ‘n gang dink, maar die foeton waarop ek slaap, is verbasend gemaklik.

Vieruur die oggend maak hulle my wakker en in die warm gloede van lampe kry ons koers deur die donker vir die hooftempel.  Hier wag twee uur se dreunsang op my, ‘n ongewone ervaring.  Taalgewys, kan ek nie deelneem nie en my eerste reaksie is weerstand.  Geleidelik verspoel die weerstand todat ek nie meer die dreunsang hoor nie, omdat ek die dreunsang geword het.

Weerkaatsing van hooftempel

Met die opkoms van die son is dit reinigingsoefeninge  − staan; op die knie; voorkop op grond; terugsit op die knie; staan.  Doen dit een-honderd en agt keer.  Ek is vir dertig goed.

En toe hinkepink ek ontbyt toe.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

 

 

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die tweede pos in ‘n reeks van drie]

Die eetkamerstoep

Om gewoont te raak aan Koreaanse kos is om iets soos verslawing te betree.  Dit is die fyn kruie smaak wat hulle regkry met die tradisionele gebruike van gispotte.  Dit geld veral vir ghiemtjie, kool, wat op honderde maniere voorberei word en was vir my ‘n openbaring.  Varkvleis is populêr maar in die klooster waar ek was, is die kos vegetariër, en nie minder smaakvol nie.  Jare later toe ek weer Koreaanse kos in Kaapstad eet, is ek pens en pote gekettie in die geure en smake van daardie kos.

Gispotte

In die loop van die dag het ons ‘n non ontmoet, ‘n seningrige vrou met ‘n stralende gelaat en sy neem ons vir ‘n uitstap die heuwels in.  Sy wys die veldblommetjies aan die kant van die bospaadjie uit.  Nie eie aan die Koreaanse skiereiland nie, sê sy, maar gesaai deur die hande van Amerikaanse soldate tydens die burgeroorlog van die vyftigerjare.  As dit maar al was, wat hulle hier gelaat het.

Ek het in die hooftempel en in die buitepanele die gewyde kuns afgeneem, klein skilderye veral ook die legendes van die Boeddha en die koei.

Boeddha en die koei

Die Boeddhisme van Suid-Korea is Zen en dit sal veel neem om dit te probeer verduidelik.  Maar die ideaal, soos ek dit verstaan, is om van weerstand ontslae te raak en die Groot Niksheid te bepeins.  Ek kan nie verwag dat dit vir ‘n nie-Boeddhis duidelik sal wees nie.  Aan die muur was die Zen-simbool.

Die Zen-simbool

Die Sondagoggend is ons na die kamers van die hoofmonnik vir tee genooi, veel meer as net ‘n sosiale geleentheid.  Hy het deur ‘n tolk gepraat van die ritueel van teedrink, vir my innemend, maar, ek erken, die groen tee is vir my smakeloos.  Op hulle beurt kan hulle nie Westerse tee verdra nie.  Hy het ook gepraat oor die lotusblom. Nog ‘n openbaring vir my.  Dit is ‘n simbool wat die hele Asië deurtrek en is belangrik vir Boeddhiste, Hindoes en sekere Moeslims.

Die lotusblom

Hy self, ‘n gesette man, knipoog vir ons:  so dan en wan neem hy ‘n repie varkvleis en selfs ‘n dop.  Op die rak van sy studeerkamer was ‘n beeldtjie van die Maer Boeddha voor sy openbaring:  daar moet ‘n balans tussen vlees en gees gehandhaaf word;  jy is nie meer geestelik as jy die liggaam verontag nie.  Tog het die Maer Boeddha ‘n boodskap vir die mensdom, sê die hoofmonnik vir ons.  Iets om te bepeins.

Die Maer Boeddha

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

%d bloggers like this: