Monthly Archives: August 2016

FRAGMENT – ‘n stukkie altaar

 

These fragments I have shored against my ruins – T.S.Eliot, What the Thunder said, 1922.

Wat soek ek tussen die stof en die stene? vra elke argeoloog seker op ‘n kol aan homself of haarself.   Wat maak ek met my graaf en my kwasse en my meetstokke?  En as ek, op ‘n warm Provençaalse dag, die fragment onder die gruis voel, teen my vingertoppe druk, wat is dit wat ek doen?  As ek weet ek raak aan die Liguriërs, Feniciërs, die Grieke, Romeine, proto-Christene … wat is dit wat ek doen?  Wat diep ek hier op?  Wat soek ek?

Argeologiese Museum, Antibes:  wat soek hulle?

Argeologiese Museum, Antibes: wat soek hulle?

Ek staan met die fragment op hande.  Ek weet dis oud.  Na bepeinsing, na ondersoek, na elle lange gesprekke met historici en geoloë, na die ondersoek van eietydse asook kontemporêre tekste, kyk ek na wat ek het.

Katedraal (regs).  St-Esprit se Toring

Katedraal (regs). St-Esprit se Toring

Hierdie fragment is onder die hedendaagse Kapel van Saint- Esprit langs die Katedraal van Antibes gevind.  Hulle moes die vloerstene lig, daar grawe, en op die oergebou afkom, die eerste kerk in Antipolis (vandag Antibes) seker uit die jare 400 a.d., toe die stad sy eerste biskop aanstel.  Dit was die jare na St. Honoré in 410 a.d. op die Īles de Lerins, die eilande ‘n kilometer of twee van Cannes se strande, aangeland het.  Gallia, oftewel Frankryk, is toe al vir ‘n eeu amptelik ‘n Christen land.

 ... te skaar teen my bouvalle ...

… te skaar teen my bouvalle …

Dit is nie groot nie – ‘n bietjie langer as my voorarm en so breed as die lengte van my handpalm (10-sentimeter).  Hulle sê dit was deel van ‘n altaarstuk. Met die eerste oogopslag is dit ‘n stuk marmer met versiering.  Kyk jy, sien jy ‘n rykdom van simbole wat vir die proto-Christene heilig was.

Aan die linkerkant is daar ‘n gekoorde halfsirkel, tipies van destydse Grieks-Romeinse versiering, met die Griekse letter Omega, wat lyk soos ‘n geronde W.  Die wingerdstokmotief word as ‘n gefoliëerde perkament voorgestel.  Die duif self is ryk aan assosiasies.

In die Ensiklopedié van Simbole, lees ons:   “Die duif is die ‘voël van die siel’ wat hemel toe opvlieg en te lande kom op die Boom van die Lewe, sy wat uit die mond van sterwende martelare kom en dra soms ook die kroon van die martelare in haar bek.”

Daar is veel meer in die Argeologiese Museum van Antibes, maar ek draal by die altaarfragment.  Wat het die argeoloë daar loop soek en gekry?  Seker wat was, om wat is en sal wees, beter te verstaan.

Time present and time past

are both perhaps present in time future –

T.S. Eliot, Burnt Norton, 1945.

 

© Willem van der Walt

Augustus, 2016

Les Semboules, Antibes

http://www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Eric Delaval, Robert Thernot:  Objects d’Antipolis (Musée d’Archéologie Antibes) (Memoires Millénaires éditions, 2011)

Encyclopédie des Symboles (La Pochothèque, 1975) (My vertaling uit die Frans)

Aanhalings van T.S. Eliot se “Wasteland” (1922) en “Four Quartets” (1945)

Foto van Argeologiese Museum – commons.wikipedia

Foto van Katedraal en Kapel – Wikipedia

Foto van altaarstuk uit  “Objets d’Antipolis”, Mémoires Millénaires, 2011

 

 

 

Advertisements

‘N MAN OM TE ONTHOU

Charles Cros -------------------- D: -------------------- Charles Cros / Foto Cros, Charles; franz.Dichter; Fabrezan 17.10.1842 - Paris 9.8.1888. Portraetaufnahme, um 1880. Paris, Bibliotheque Nationale.

Charles Cros

Sy hare staan punt in die wind, amper soos ‘n nar s’n.   En hy het seker gemaak dat ons in ‘n opvolgende eeu sal weet hoe hy gelyk het, want hierdie nuwe uitvindsel, die foto-apparaat, wat so ‘n paar jaar voor sy geboorte (1842)  verskyn het, sal hom spesifiek oor en weer afneem.  Nie omdat hy “selfie” mal is nie, maar omdat hy veel bygebring het aan die ontwikkeling van kleurfotografie.  Maar dit is nie al nie.

As wetenskaplike werk hy aan die begin van fakstransmissie tegnologie en hy het amper, nog voor Edison in Amerika, die fonograaf ontdek.   En dit is ook nie al nie.

Vele fasette

Vele fasette

Hy het poësie geskryf asook humoristiese monoloë wat verskeie dramaturge so inspireer het, dat hulle vollengte verhoogstukke hiervan geskryf het.   En dit alles pas hy in 45 jare se leeftyd.

 

Verdrink in die helder visie, in ligte pyn.

Sê niks boos nie, sê niks goed nie,

Wees blomme in hierdie drastiese tye, in die rook van koolstof

Wees blomme en lelies.  En dan, wees lief, wees lief

So ja !   So goed! 

 

En dan is daar ook primêre kleure in sy geskiedenis.  Hy was oortuig dat die prikkels van lig op die oppervlaktes van planete, seker hoë wolke deur die son verlig, was die ligte van groot stede.  Hy het jare deurgebring met pleidooie aan die Franse regering om ‘n reuse spieël te bou wat gebruik kon word om met mense op Mars en Venus te kommunikeer. Hy was nooit oortuig dat mense op Mars nie ‘n feit was nie.  Hy was ook oortuig dat die reuse spieël ‘n tegniese moontlikheid was.

Ons is nie alleen nie

Ons is nie alleen nie

Ek drink koffie by ‘n klein etery wat oor die place uitsien.  Die plek waar kinders ‘n sokkerbal skop en op fietse ry, is na Charles Cros vernoem.  Al die strate in hierdie buurt word na digters vernoem maar in die geval van Charles Cros voeg mens by die merkwaardige werk in die tegnologie.  Verlangs laat hy my aan Leonardo da Vinci dink.

Ek neem ‘n kleurfoto van die bordjie.  Hy sou trots wees.

Ons vergeet jou nie

Ons vergeet jou nie

 

© Willem van der Walt

Les Semboules

Augustus 2016

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Charles Cros – Wikipedia

Beeld fonograaf – lepoint.fr

Beelde Charles Cros – independent.fr

Foto Place Charles Cros – Willem

Vertaling uit Frans Charles Cros gedig – Willem

 

 

 

DIE GEBROKE TEMPEL, Bellville

Die Gebroke Tempel, Edwardstr, Durbanvilleweg, Bellville

Die Gebroke Tempel, Edwardstr, Durbanvilleweg, Bellville

Anton Marais het nog voor 1994 die Gebroke Tempel ontwerp.  Soos met die argitek Jan van Wijk [Afrikaanse Taalmonument, Pêrel; Universiteitsoord Kerk, Pretoria], is daar vir my profetiese elemente in die werk.  Ek praat nie as argitek nie, nie as kenner of ingeligte nie.  Ek praat hieroor omdat ek moet.

Jare reeds ruk die fasade van die Gebroke Tempel op Durbanvilleweg, Bellville, my tot interpretasie, sommer poësie.  As die pilare nie getrou is aan die Dories, Ionies of Korintiese forme nie, seker druk van die bouers se kant, is dit die pediment wat my belang vasnael.

Villa Rotonda deur Andrea Palladio, voltooi 1580s

Villa Rotonda deur Andrea Palladio, voltooi 1580s

Die Griekse pediment is seker die welbekendste motief in die Westerse argitektuur.  Vanaf Palladio (1508 – 1580), beskou deur sommiges as die mees invloedryke argitek, het die pediment standaard geword.  Globaal, bly dit die ikoon van die Weste.  Ek was verbaas toe ek, tussen ‘n reeks kruldak pronkhuise te midde Seoel, ‘n massiewe pediment-en-pilare gebou teëkom.

Die Ooste en Weste saam. Seoel, Suid-Korea

Die Ooste en Weste saam. Seoel, Suid-Korea

Die pediment van Anton Marais se Tempel is gebroke.  Dit opsigself is nie ongewoon in die evolusie van dié motief nie.  Die barok argitekte het gereeld die pediment gebreek.  Maar die groot verskil  ̶   die treffendse aspek van Anton Marais se Gebroke Tempel  ̶   is dat hulle “breek” van die pediment is simmetries;  syne nie.

 

Gebroke Tempel, Bellville: die argitek as profeet

Gebroke Tempel, Bellville: die argitek as profeet

Mens kan die asimmetriese ontwerp as speels aansien, tipies post-modern.  Sou dit Anton Marais se motivering gewees het?  Net dit?  Of is daar meer?  Hierdie gebou laat my aan ‘n grootse gedig of skildery dink :  interpretasies sak op ons toe.

Stel hierdie ontwerp ‘n breuk met die Westerse kultuur voor?   Hier lê positiewe en negatiewe implikasies.  Sal Suidelike Afrika die Westerse tradisie skeppend uitbrei na iets nuuts, verbasend?  “Altyd iets nuuts uit Afrika,” skryf Pliny, die ou Romeinse historikus.  Of sal Suidelike Afrika die Westerse tradisies verloor en vir die voorsienbare toekoms gesigloos internasionaal word?  Is Anton Marais se Gebroke Tempel ‘n revolusionêre kreet om af te breek en weer iets anders te bou?  Of is dit ‘n klaaglied vir ‘n afgesabelde tradisie, ‘n verlore wêreld?

Tergende simboliek

Tergende simboliek

Myns insiens, is dit juis die paradoks van die Gebroke Tempel wat dit ‘n belangrike stelling maak.  Dat dit asimmetries is, ‘n beplande wanbalans, voer my na die konsep van voortdurige beweging:  word daar nog aan die Tempel gebou, of is dit die begin van ruïnering?  Word die wiskundige volmaaktheid van die pediment bevraagteken?   Dié ontwerp is, en bly, ‘n vraag.  Dit is getrou aan die Rustelose Griek wat vir die afgelope twee en ‘n half millennia in ons gedagtegange spook, hy wat sal sorg vir voortdurende hergeboorte, ‘n kenmerk van die Westerse kultuur.

 

© Willem van der Walt

Somerset-Wes

April, 2015

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Met dank aan Axion Architects International, Bellville, Suid-Afrika

Villa Rontoda  – Wikipedia

Seoel beeld – Willem

Gebroke Tempel – tekening Willem  

Foto’s – Willem

 

Opgedra aan Mike Oberholzer

 

 

 

ROMAANS EN GOTIES – die menslike figuur

Menslike figure in ‘n Romaanse kerk is klein, gestileerd en kyk jy, sien jy hulle is besig met ‘n spesifieke iets in hulle lewe  −  hulle verjaag duiwels of hulle vlug Egipte toe op die rug van ‘n donkie.

Bernward Deur, Hildesheim: God gee Eva aan Adam

Bernward Deur, Hildesheim: God gee Eva aan Adam

Die bedoeling van die beeldhouer, seker soos deur die kerk voorgeskryf, is opvoedend en illustrerend.  Hier word insidente uit die Bybel voorgestel.  Wat my tref, is hoe kinderlik die figure is, amper asof die gemeentes vir wie dit bedoel is, ook kinderlik is, die agste, negende eeue na Christus.  En dit is ‘n Europa wat uit die skadus van die donker eeue opdoem.  Dis asof die soeke na form wegbreek van die post-Romeins Bisantynse identiteit (400 – 600 na. C), vanaf 800 meer sekerheid vind en dit vir die gewone mense weergee, hulle wat van die begin af die Christelike geloof gedra het.

Romaans: figure vleg met dekoratiewe motiewe

Romaans: figure vleg met dekoratiewe motiewe

 

Daar is oostelike invloede in die vorme van die menslike figuur in Romaans −  gruweldiere, duiwels en dekoratiewe motiewe.  Van die tonele wat uitgebeeld word, is doelbewus dramaties – Judas wat homself ophang, ensovoorts.  Dit is asof beeldhouers in hierdie klimaat ‘n sekere vryheid aangevoel het want daar is nie veel uniformigheid in die figure nie.  Die wêreld van die menslike figuur in Romaans wemel van verbasings.

Die verbasings van Romaans

Die verbasings van Romaans

Die kerke met hulle geronde boë is op ‘n menslike skaal.  Wat hulle bou, is die huise van die Here, nog nie katedrale nie.  Die pilare, die kunspanele, alles is bereikbaar, hier by jou.

Vanaf die elfde en twaalfde eeue begin die wind anders waai, ‘n groot keerpunt in die Westerse kultuur.  Dit is vernuwing wat in die eeue wat voorgelê het af en toe ‘n ander gedaante sou kry.  Die behoefte om ‘n groter stelling met kerke te maak, gee oor aan die beplanning van katedrale met monumentale dimensies.

Notre Dame de Paris: monumentale dimensies

Notre Dame de Paris: monumentale dimensies

Dit is die Gotiek. Selfs vandag is argitekte verbaas oor wat in daardie tyd bereik is.  Dus ook, het die voorstel van die menslike figuur verander.

Chartres-katedraal: die portale

Chartres-katedraal: die portale

Ek verwys na spesifiek na die voorportale van twee katedrale, Notre Dame de Paris en Chartres.  Hier het die figure hulle wispelturigheid verloor.  Nou vorm hulle, as deel van die nuwe boustyl, ‘n eenvormige gemeenskap van gelowiges, eerder as individuele mense met iets besig.  Die figure staan formeel langs mekaar, hulle blik op een plek gefokus.  Die vertikale lyn domineer die ontwerp.  Hulle is staties in stille ekstase.  Hulle is reeds op die komende lewe gerig, ‘n koor van figure onversteur deur hierdie wêreld.  My belang in hierdie figure kom van beperkte ervaring, maar ek sal nie die figure vergeet wat ek by daardie portaal van Chartres-katedraal ervaar het nie – klip wat straal.

Klip wat straal

Klip wat straal

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Augustus, 2016

 

Beelde

Bernwardse Deur – studyblue.com

Twee Romaanse beelde – pinterest

Notre-Dame de Paris – sacred-destination.com

Chartres portale et besonderheid – chartrescathedral.net

 

 

 

 

 

SES BROERS – ‘n Ware verhaal

“Herkules,” skryf André Brink in sy boek Midi, “was die eerste beroemde reisiger deur die Midi.”  En ons lees dit met ironie – is dit ‘n mite of ‘n legende ?  Maar dan hoor mens verhale wat geforseerd voel, waaroor redakteurs vaderlik sal glimlag voor hulle jou afkeur, verhale wat waar is.  Die ou sê-ding dat feite meer as fiksie kan verstom, is geldig hier.

My partenaire Claudie se getroude van is Mader.  En toe ek dit vir die eerste keer hoor, vra ek haar of dit Frans was, want sy is Frans.  Haar wyle man, vertel sy my, was oorpronklik van Alsace Lorraine, ‘n streek in Frankryk wat voor die Eerste Wêreldoorlog Duits was en daarna Frans geword het.  Die noem van hierdie streek laat mense se oë met ironie glim:  in Alsace Lorraine is jy half-die en half-daai, half Frans, half Duits.  En daar was al ‘n paar merkwaardige stroomoppers uit daardie geweste – Albert Schweizer, teoloog en sendeling, en Kurt Schwitters, digter en kunstenaar, om net twee te noem.

Claudie se wyle man het ‘n half-broer wat vir ons kom kuier.  Sy van is ook Mader, maar hy verduidelik dat êrens in ‘n klein kantoor het iemand die deelteken oor die “a” verloor.  Die naam was oorspronklik Mäder − Mêder, om dit foneties te skryf.

Maar dis die verdeelde aard van die streek wat my interesseer en nêrens anders sien mens dit as in die verhaal wat Daniel vir ons vertel oor die ses broers van sy oupa.   Hy onthou dit nie baie goed nie, sê hy.  Blykbaar, is drie van die broers in die Franse dorp Épinal gebore en getoor, en drie, in Strasbourg.

Strasbourg, stad met twee gelate

Strasbourg, stad met twee gelate

Eersgenoemde broers is Franssprekend en die tweede groep, Duits – in een gesin!  Toe die Tweede Wêreldoorlog verklaar is, sluit die eerste drie manne by die Franse leër aan en die tweede groep, by die Duitsers.

Meimaand, 1940, die inval van die Duitse leér

Meimaand, 1940, die inval van die Duitse leér

In Meimaand van 1940, gee Petain aan die Duitsers oor en dié drie word weer gewone burgers wat hoenders voer en pos aflewer.  Teen 1942, is die tweede groep ontnugter met die Duitsers.  In daardie jaar is die Duitsers in Noord-Afrika verslaan en het in Stalingrad onderspit gedelf.  Die oorlog het sy keerpunt bereik en die skrif was op die muur.  Die drie manne besluit om te dros.  Vir verskeie redes, vertel Daniel ons, het hulle die ander drie broers begin beny vir hulle Franse identiteit.  Hulle dros toe.  Een van hulle is gevang en deur ‘n wonderwerk nie tereggestel nie.  Hy sit toe vir die res van die oorlog in ‘n sel in die dorpie van Bacara.

Die ander twee reis toe deur die Duitse linies in Frankryk en sluit by die Maquis (Franse weerstandsleër) in die Pirenië- gebergtes aan.  Sodoende veg hulle teen die Duitsers vir die verloop van die oorlog.

Franse Weerstand

Franse Weerstand

Die laaste ironie in hierdie verhaal is dat die simbool van die Franse Weerstand, die kruis met sy dubbel dwarsbalk deur Charles de Gaulle ingestel en wat ná aan die harte van die Franse lê, is afkomstig uit Alsace Lorraine.

Die Alsace Lorraine Kruis op die Charles de Gaulle monument, Antibes

Die Alsace Lorraine Kruis op die Charles de Gaulle monument, Antibes

 

© Willem J. van der Walt.

Augustus, 2016

Les Semboules

www.loertoer.wordpress.com 

Bron :  Met dank aan Daniel M

 

Beelde

Strasbourg – iha.fr

Duitse inval – ushmm.org

Franse Weerstand – Getty images

My foto van De Gaulle-monument

 

 

%d bloggers like this: