Monthly Archives: July 2016

BAROK – Die Trompetgeskal

 

Opgedra aan die Nice-slagoffers van 14 Julie 2016. 

Die jaar is 1699. Willem Adriaan van der Stel, goewerneur van die Kaap, tree oor die drumpel van sy pasvoltooide herewoning op sy plaas genaamd Vergelegen. ‘n Praghuis met ‘n gewel in die barokboustyl, ‘n stylrigting in die argitektuur  wat 140 jaar tevore in Italië ontstaan het en die Europese argitektoniese boustyl  tot omstreeks  die middel van die 18de eeu sal oorheers. Die styl word deur golwende lyne en dekoratiewe oorlading gekenmerk.  In die geval van die geskiedkundige Vergelegen is dit ‘n sekulêre vorm van barok op die spektrum van die paleis van Louis X1V in Versailles, die treffendste voorbeeld hiervan.

Die Kaaps-Hollandse gewel - vol en eenvoudig

Die Kaaps-Hollandse gewel – vol en eenvoudig

In dieselfde jaar, 1699,  is die katedraal van Sint Reparate sowat 10 000 kilometer noord van Vergelegen,  in die oudorp van Nissa (later Nice) ingewy. Die bouwerk aan die katedraal het ‘n hele 50 jaar geduur en stal die barokstyl in al sy glorie uit.

Ste Reparate 4.jpeg

Die koepel: die lig en die lyne

In teenstelling met katedrale voor die baroktydperk, bedien die katedraal van Sint Reparate hom van groter koepels, en  meer vensters om die katedraal ligryker te maak.  In die ontwerp van Sint Reparate word ‘n dramatiese effek van lig-en-donker geskep.  Die koepels se raamwerk lok die oog na dié van die gewelfboë en maak die indruk van  vloeibare vorme.  Elders, in ander streke van Frankryk, vorm die gestroopte, strak, as ’t ware skoongeskropte Protestantse kerke ‘n skrille kontras met die barokboustyl.

Kapelnis 1

Kapelnis 1

Kapelnisse – tien van hulle –  is  ook ‘n barokvernuwing wat mens in Sint Reparate teëkom. In hierdie kapelnis word ‘n gewyde skildery deur die golwende lyne  van  marmersuile geraam.

Kapelnis 2

Kapelnis 2

Die Korintiese suile is inwaarts gerig om die Madonna en Kind te raam en die tradisionele geweldriehoek kry hier ‘n ronde vorm.

Die Naaf

Die Naaf

Die barokstyl laat die klem op breër nawe in katedrale val.  Die effek, meen ek, was daarop bereken om die gelowiges nader aan die altaar te bring of dalk was dit eenvoudig  ‘n manier om plek vir meer mense te maak.  Hoe ook al, dit getuig net weer daarvan dat elke aspek van die bouontwerp uit ‘n barokperspektief onder die loep geneem is, dat die stylrigting  wat só ‘n merkwaardige invloed in Europa gehad het op elke aspek ingestel was.

Die Fasaad Sint Reparate

Die Fasaad Sint Reparate

Die vorm van die fasade kontrasteer sterk met die Romaanse en Gotiese boustyle.  In die Notre Dame-katedraal in Parys, een van die meesterwerke van die Gotiese boustyl, pryk byvoorbeeld dosyne figure in die portale, terwyl Sint Reparate oor net vyf beskik.  Dit is asof die ontwerpers van Sint Reparate minder historiese figure  in sterker fokus wou bring. Wat ook opval, is die  enkele ronde nis bo die ingang – vir Sint Reparate haarself.

Wie was Reparate? hoor ek jou vra. ’n Martelares  in die jaar 250 n. C., wat  deur die eeue ‘n kultusfiguur in Italië en Korsica geword het. Sy is die beskermheilige van Nice, iets wat in hierdie donker tyd ná die terreuraanval op die  stad vreemd by mens resoneer.

l

Die Trompetgeskal

Terug na die barokstyl: Dié ganse stylrigting, van katedrale tot prentrame, is vir my ‘n soort trompetgeskal.  Mens kan nie help om dit met bewondering gade te slaan nie, jou te verwonder aan die manier hoe die barokargitekte gestreef het om ‘n korrektief te bring op die strak, somber, kleurlose katedrale van vorige eeue. Die barokboustyl is al die argitektuur van propaganda genoem. Self dink dat ek dat dié opwindende boustyl opnuut daarvan getuig dat die Westerse kultuur tot voortdurende vernuwing in staat is. Die kunslens waardeur ek kyk, is die modernisme wat ingestel is om die arabeske – grillige versiering – te vermy, met skoon, suiwer lyne te werk en  alles tot sy essensie te beperk.

Maar dis nie te sê ek verminder die barokstyl nie. Geensins. Naas die pragtige voorbeelde van die styl  in Franse katedrale lê die  barokgewels van die Kaaps-Hollandse herewonings my na aan die hart. Hier staan die arabeske eenvoudig en helder  as ‘n brug tussen twee wêrelde uit.

© Willem van der Walt.

Les Semboules, Frankryk.  Julie, 2016

http://www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Karine Delobbe : L’Architecture  [PEMF, 2002]

Wikipedia :  Baroque Architecture

Foto’s :  Willem  

Met dank aan Mike Oberholzer

NISSA LA BELLE 14.7.2016

 

Ek staan op die keistene van die strandfront in Nice waar  hier en daar bossies blomme lê, donker vlekke duidelik onder die blomme sigbaar – bloed van die slagting van die nag van 14 Julie.

Ek staan tussen mense wat verslae  na die verwelkende blomme in die somerhitte staar. En ek neem foto’s.  As ek nie foto’s neem nie, nie iets doen nie, sal ek neersak en met my voorkop teen die keistene ween. In rou gedompel soos hierdie pragtige stad.

In die jare wat kom, sal ek die foto’s seker op ‘n Bastilledag uithaal en daarna  kyk en alles onthou en steeds ineenkrimp by die gedagte aan die bose, sinnelose terreuraanval. Ek sal steeds geen troos vind nie. Ek weet. Ek sal steeds met ‘n rou hart die helder aand in Nice herdenk toe die dood op onskuldige mans, vroue en kinders op die strandfront en verder afgedreun en verwoesting gesaai het.

Ek en my vriendin het op daardie tydstip 26 kilometer van Nice af voor die televisie na ‘n pragtige musiekkonsert by die Eiffeltoring in Parys sit en kyk. ‘n Konsert waarmee ironies genoeg die einde van die noodtoestand in Frankryk aangekondig is.  Toe tref die terreur Nice. Vreedsame Nice van alle plekke – ‘n baie ou vestingstad aan die Middellandse See wat al eeue lank as   Nissa la Belle – Mooi Nissa – bekendstaan.  Mooi Nissa is steeds in hierdie donker dae mooi.  Dit sal altyd mooi wees. Maar nou kyk mens deur ‘n waas van pyn en hartseer na alles.

By die verwelkende blomme op Nice se strate dink ek aan   Suid-Afrika en die jong politieke partyleier wat ‘n ruk gelede gedreig het om die politieke bestel met mag en gewere oor te neem as dit nie anders kan nie. Vir hom wil ek sê: Kom staan ‘n bietjie hier, politieke partyleier wat so maklik praat.  Kom staan hier, heethoof, op Place Massena, en kyk wat geweld doen. Staan hier waar ‘n drie-jarige seuntjie, nie ver van waar ek nou staan nie, na sy ouers se lyke en tientalle ander gestorwenes gestaar het. Onbegrypend. Vertrek van smart. ‘n Verwese figuurt. Sinnebeeldig van die hele diep geskokte Nice.

En Nice rou . . .

Maandag, die agtiende Julie, is die Promenade des Anglais  twee kilometer ver bedek met blomme terwyl Nice aan sy gestorwe  geliefdes dink, en ‘n onaardse stilte oor die stad lê. Die engele is dood, sê die mense, ‘n verwysing na die naam van die baai van Nice – Baie des Anges. Van die mense is strak en kwaad en jou   Manuel Valls, die Franse vise-president, uit en noem hom ‘n moordenaar  en sê hy moet bedank toe hy en twee ministers die strandfront besoek waar Mohammed Lahouaiej Bouhlel 84 mense met ‘n vragmotor doodgery het voordat die 31-jarige  Franse  Tunisiër deur die polisie doodgeskiet is.  Die mense van Nice se woede vloei soos bloed.  Ils viennent jusque dans nos bras, egorger nos fils et nos compagnes …

In die patois v an die streek, lyk die slagspreuk wat in die afgelope 18 maande internasionaal geword het, so  SIEU NISSA  –  JE SUIS NICE,  EK IS NICE.

Steeds tot in my siel verbyster deur wat die mens aan sy medemens kan doen, kyk ek na die plekke in die omgewing wat deur die jare in my hart gekruip het – die Promenade des Anglais met sy spoghotelle, die kunspark en Place Massena waar die oudorp begin …  Mens wil hulle ook soos die openbare beelde onder ‘n  swart roukleed toegooi, maar kan uiteraard nie.  Hulle behou hulle trefkrag op ‘n treurige manier midde-in die treurspel wat in Mooi Nissa afspeel. En hulle herinner jou aan die goeie, vreedsame tye en lyk droewig mooi in die harde wit somerlig.

 

Nice Tragedy

 

© Willem van der Walt

Les Semboules, Julie 2016

www.loertoer.wordpress.com

Aanhaling uit « Die Marseillaise » :  « Hulle kom tot in ons arms en sny ons seuns en geliefdes keelaf »

Tekenprent capelino.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

 

FRéJUS – Forum de Julii

Sy beste vriend, onder andere, dolk vir hom dood in die Forum van Rome.  ‘n Jaar later in Provincia, ver van Rome, eer die krygsveterane van Gallië vir hom:  ‘n dorp aan die suidkus kry sy naam.  Dié gebaar was seker meer as polities onkorrek, seker in blatante verset teen wat met hulle geliefde leier gebeur het en veral ook wáár.  Nêrens elders is ‘n plek destyds na Julius Caesar vernoem nie.  Net ‘n maand in die middel van somer dra die naam en, later, posisies van leierskap.   Die naam Forum van Julius het mettertyd gekrimp tot akroniem − Fréjus.

Julius Caesar 100 - 44 c. C - dalk een die enigste beelde van hom in sy tyd gemaak

Julius Caesar 100 – 44 c. C – dalk  die enigste beeld van hom in sy tyd gemaak

Amfitear, Fréjus - 'n 18de-eeuse ets

Amfiteater, Fréjus – ‘n 18de-eeuse ets

Ek staan bo die perfekte elips van die amfiteater, wat die Romeinse argitekte so flink reggekry het.  Dit is nie ‘n rugbyveld nie;  dis meer intiem.  Hier kan jy in jou verbeelding sien dat die verwoede bulle se horings klam is terwyl jong mans rats oor hulle heen en weer rits.  Van hier kan jy die gladiator se uitdrukking in sy oë sien:  “Ons wat op sterwe staan, o Caesar, saleer u.”  En dit sou Caesar self gewees het, behalwe dat die amfiteater eers 100 n. C. opgerig is.  Ek troos my −  ek sou gestaan het waar hy gestaan het en die spoke van die gladiators is steeds daar.  Dit is eers in die vierde eeu na Christus wat sulke bedrywighede verbied is.

Ek staan waar hy sou gestaan het ...

Ek staan waar hy sou gestaan het …

Die amfiteater is in 1840 tot nasionale denkwaardigheid verklaar, maar die deeglikste argeologiese werk is eers vanaf 2005 onderneem.  Die stadsvaders het intussen besluit dat ‘n stadium vir hulle meer geld kan inwin as die ruïnes en die plek is omgeskep.  Tog is hulle trots op die geskiedenis en die oorblyfsels staan nog stoïs daar.  Huidig is daar stiervegters (ja, nagenoeg  600 kms van Spanje af!) en hulle veg seker net so hard teen die dierebeskermers.

Gang om die amfiteater

Gang om die amfiteater

Stierskerm in die amfiteater

Stierskerm in die amfiteater

“Water maak die stad”, skryf Pliny, die Romeinse historikus.  En op min plekke in Provence is ‘n meer merkwaardige akweduk gebou as in Fréjus.  Die dimensies, deur argeologoé vasgestel, is ongelooflik  –  die akweduk het 40 kilometer van die berge gestrek.

Die ruïnes van die akwedukte is veel ouer as die amfiteater, heelwaarskynlik in Caesar se tyd opgerig, want sonder water …  Stene wat hier gestapel is, aangedra en gepak is, is deur die oorwonne volke van Gallië gedoen.  Caesar het die laaste beduidende veldslae agt jaar voor sy dood geveg.

Romeinse akwedukte, Fréjus

Romeinse akwedukte, Fréjus.  Let die nou watervoor bo.

Hulle staan daar, die akwedukte, tien-meter goudbruin gestaltes, ‘n falanks van ou reuse.  Kyk mooi, sien jy dat bo, waar die watervoor was, is die breedte nie eers ‘n meter nie.  Daar moes natuurlik voerpype van ‘n aard tussen die stapels gewees het.    Onder hulle woel die moderne verkeer soos muise.

Gebou met slawehande

Gebou met slawehande

Meer as die gemoderniseerde amfiteater het die akwedukte my teruggevoer.  Hulle is meer primitief, nie argitektonies nie, laat mens dink aan die oudste rotsstapels wat die oermens bedink  het.  Hulle is ook die stempel van die magtige Romeinse teenwoordigheid, deur Europa en die Midde Ooste.

Reuse ...

Reuse …

 

© Willem van der Walt

Fréjus, Maartmaand, 2016

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Dictionnaire de la Provence et de la Côte d’Azur.  Larouse, Paris. 2002

L’amphithéâtre de Fréjus, pamflet van die Fréjus toeristekantoor

Julius Caesar, Wikipedia

Beeld van Julius Caesar, Wikipedia

Foto’s :  Stéphane Mader

 

 

 

 

 

 

%d bloggers like this: