Category Archives: Wes-Kaap

FRIEDA OLLEMANS

 Ek onthou haar nie so goed nie.  Maar ek onthou wel die whisky-en-sigare stem en die oë wat alles deur die lens van ironie gesien het.  Haar kleding … wel, geen toegewing aan mode nie.  Ja, jy kon dit dit nie ontduik nie … hier was ‘n boheem wat uit die laat modernistiese era gerys het.  Haar man Helmut was, in die woorde van ‘n geswore vyand, “die mees professionele wynmaker in die Wes-Kaap”. En Helmut ondersteun elke hamer, elke beitel, elke splinter sederhout of ebbehout, alles wat Frieda doen, want sy’s ‘n kunstenaar, en dis wat ons met kunstenaars moet doen.

Odusseus

Odusseus

Frieda is in 1915 gebore.  Sy het in die vroeë-dertigerjare in Kaapstad onder H.V. Meyerowitz beeldhouwerk studeer.  Dit is toe Slade Skool in Londen waar sy vir drie jaar ‘n bekroonde loopbaan vir haar gemaak het.  Met die terugkeer na Kaapstad in 1940, maak sy marionette vir poppeteater en doen pionierswerk met die stigting van kunsskole vir kinders in die Wes-Kaap.  Die Frank Joubert-kunsskool in Stellenbosch is ‘n voorbeeld.

Woudnimf

Woudnimf

Sy had uitstallings in Suid-Afrika asook oorsee.  Van haar werk word hoog aangeslaan in die Museum van Moderne Kuns in New York, asook Chicago.

Die Danser

 

Haar eerste eenpersoon-uitstalling is in 1972 in Stellenbosch gehou.  Sy lewer werke van ebbehout, sederhout, kiaat, olienhout en lood.  In dié uitstalling doen sy iets wat vir my as ‘n historiese oomblik in die kunsgeskiedenis staan: sy skryf op bordjies Vat asseblief aan die beelde.

Die baarmoeder

‘n Figuur vir Mutti

Dit was duurder as peper, maar ek klem my tande en doen dit.  En ek het dit nog – ‘n beeld van Frieda.  Haar werk is vir my harmonieus asook geset teen ‘n klaarblyklike realisme.  Die lyne vloei.  Ek het haar eenkeer hoor sê, Die hout sê my wat dit moet word. En dit is die organiese ontwerp, nooit verontrustend nie, nooit strak of skerp nie, wat voortdurig die oog lei, op sensuele trant na verbasende besonderheid.  Die afronding is uiters bevredigend.  Jy bepeins die stukke.  Ek bepeins myne al meer as vyf-en-veertig jaar.  Diegene wat dit van my erf, sal dit ook bepeins, soos die kleinkinders van hulle kleinkinders.

‘n Figuur van Frieda

‘n Figuur van Frieda

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Bridgewater, Somerset-Wes

Augustus, 2017

 

Bronne

Dank aan Süsse Bakker vir biografeise besonderhede.

Dank aan Miki Flockemann.

 

Beelde

Odusseus, Woudnimf – Süsse Bakker

Ander beelde – my foto’s  

 

 

 

KAAPSTAD ANTIBES – Huldeblyk-vlegsel

Les Remparts Antibes

“Alles straal, alles bot, alles sing.  Die son, die vrou, die liefde is almal hier tuis.  Ek het steeds die helderheid in my oë en in my siel.”  − Victor Hugo (1802-1876), digter, dramaturg en skrywer (30 jaar nà sy verblyf in Antibes).

Kaapstad, deur Hoffnung, 1750

“Hierdie kaap is die statigste ding en die pragtigste kaap wat ons in die hele omtrek van die aarde gewaar het.”  – Uit die joernaal van Sir Francis Drake (1540-1596), ontdekker, toe hy die eerste keer die Kaap sien in 1580.

Belle Epoque poster Antibes

 “Sterrekunde leer ons dat die aarde is ‘n ster van die hemel.  Die reise wys ons dat die Kaap van Antibes is dié hemel wat ons op aarde tref.”  − Camille Flammarion (1842-1925) wetenskaplike, mistikus.

Belle Epoque poster Kaapstad

“Dis ‘n pragtige en ongewone dorp; dit lê aan die voet van ‘n reuse muur, wat na die wolke reik, en voorsien ‘n imposante versperring.  Kaapstad is ‘n grootse herberg, op die hoofweg na die Ooste.”  − Charles Darwin (1809-1882), naturalis, geoloog, bioloog, in ‘n brief na sy suster Catherine, in 1836.

Cap d’Antibes

“Ek is getref deur ‘n soort van bedwelming waarin die majesteit van dinge ons tuimel, soos ons deur ‘n tuin beweeg, dit wat pragtig aan die punt van Antibes gesitueer word.  Mens is in ‘n Eden wat voel asof mens in oneindigheid swem.” – George Sand (1804-1876), skrywer, dramaturg, digter.

Antibes en die Alpes Maritime

“Ek onthou ek is eenmaal voor die stad Antibes deur weerlig getref, en ek het geskree dis te veel, dis te mooi.”  Jacques Audiberti (1899-1965), skrywer, digter, dramaturg.

Kaapstad deur Bourset 1770

 “Dalk is dit geskiedenis wat georden het dat hier, aan die Kaap van die Goeie Hoop, ons die fondasie steen van ons nuwe nasie sou lê.  Want dit was by hierdie Kaap, waar die noodlottige byeenkoms begin het, van die mense van Afrika, Europa en Asië op hierdie strande.” Vorige President Nelson Mandela (1919 – 2013), tydens sy inleidende toespraak, 9de Mei, 1994.

Kaappunt

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Julie, 2017

 

Bronne

Pierre Cosson: Antibes Juan Les Pins Biot Vallauris.  Guide Historique et Touristique.  Editions Gismondi. Cypris. 1980.

South African quotations

Beelde

Antibes – Pierre Cosson : Antibes …

Hoerikwagga – Hoffnung 1750

Belle Epoque poster Antibes – bron verlore

Belle Epoque poster Kaapstad – Hoerikwagga

Cap d’Antibes – Pierre Cosson : Antibes …

Antibes – Claude Dronsart, Renaud Dumenil : Antibes Juan Les Pins. Editions A.R.T. 1991

Kaappunt – Backpackers.com  

 

 

 

 

MITES :  Adamastor en Herkules

Dis vir my meer as interessant om ‘n stuk wêreld te betree waar mites fluister.  Ek voel soms ‘n gemis in my lewe dat ek nie onder mense gebore is nie wat heilige berge het.  Maar mites … om te dink dat gode en titane hulle emosies en hulle politiek en hulle verhoudings in hierdie streek uitgeleef het … Kaapstad is so ‘n plek.  Die suide van Frankryk is so ‘n plek.

Lank gelede, waar Kaapstad nou staan, bied die gode vir die titaan Adamastor en hy is onder vier oë.  “So dis ‘n poging tot ‘n staatsgreep, is dit?”  En toe hy weer oë uitvee, is hy in ‘n tafelagtige rots omgeskep in die buitewyke van die wêreld.  Maar, die troos vir hom is, hy kan sy woede in die Kaapse storms uitwoeker.  En wat so lekker is, die skepe is almal van hout en seil gemaak.  Hulle het nie ‘n kans nie.  En dit was vir talle matrose oor die eeue van groot belang.

 

Hier is nog een.  In die Xhosa mite van Oemlindi Wemingizimoe (die Bewaker van die Suide), skep Djobela, die Aarde godin, magtige reuse in berge om.  Hulle is getaak om die wêreld te bewaak en sy plaas hulle in die vier uithoeke van die aarde.  Die grootste hiervan, Oemlindi Welingizoenoe, is Tafelberg, die Bewaker van die Suide.

In sy boek Midi, skryf André Brink, “Herakles, die seun van Zeus en Alkeme, was die eerste beroemde reisiger deur die Midi.  Nadat hy die Titaan Prometheus van sy kettings in die verre Kaukasië verlos het, het Prometheus hom die pad na die onvindbare Hesperides beduie.  “Maar pas op,” het die Titaan gewaarsku: “Onderweg gaan jy ‘n ras reuse teëkom, die Ligurieërs wat woon in die land van die duiwelswind.”

En dié Ligurieërs, wat Brink van praat,  was hier in die Côte d’Azur toe die Romeine opdaag.  Herkules word mitologies beskou as die vader die Galliërs wat vandag die Franse is.  En dis vir my interessant om te dink, as ek ‘n in die supermark staan, dat die mense wat om my wemel, dra Herkules se DNS.  En Prometheus moes self hier ‘n draai gegooi het want ek voel ook soms dat die “duiwelswind” wat hy van praat, die Mistral, bo-natuurlike krag het.

Ek dink dit was Camus wat gesê het dat die moderne mens nie meer mites in sy lewe het nie.  Dalk kan ons dit verander.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Junie, 2017

Bronne

André P. Brink :  Midi Op reis deur Suid-Frankryk  (Human & Rousseau, Kaapstad. 1969)

Cybercapetown.com/Capetown /myth.php

Beelde

Uit “Hoerikwaggo” –  Adamastor – Emilio Biel 1880 ;  Onbekende Kunstenaar

Herkules –  writeup.com

Mistral – my tekening

 

 

 

 

TWEE FORTE

FORT CARRÉ EN DIE KASTEEL VAN DIE KAAP VAN GOEIE HOOP – twee verhale

{Die eerste van twee poste}

Twee forte, 10,000 kilometers van mekaar, op verskillende kontinente en verskillende geskiedelike verbande … meer as ‘n honderd jaar uit mekaar gebou.   Tog is dit vreemd dat Fort Carré en Die Kasteel van Kaapstad eners voorkom, al het die eersgenoemde net vier hoeke, aldus die naam Carré.  Die ooreenkoms is seker omdat die rede vir hulle daarstelling een en dieselfde is.  Dan, Europa, as die groot oorlogmaker, is ook die groot verdediger en planne vir forte was maklik bekombaar.

Die oudste koloniale gebou

Vier hoeke

Die laat-1480s lei in ‘n tydperk wat Europa en uiteindelik die wêreld sou verander.  Dias, Da Gama en Columbus is die name wat ons ken en na ‘n eeu sou daar die eerste planne wees om die Kaap in gebruik te neem.  Binne 15 jaar van 1652 is die eerste fort van hout en steen vervang met die vyfhoek klip fort op die strand van Kaapstad.  Eers later sou die see teruggestoot word tot waar dit vandag is.

Allain Mallet skilder die Kasteel, 1683

In Antibes kom berigte uit Parys dat dié kusdorp op die grens tussen Frankryk en Italië versterk moet word (Nissa/Nice was nog Italiaans) en sestig jaar later is Fort Carré opgerig bo die eeu-oue hawe, waar Grieke en Romeine hulle bote gekaai het.  Die oorloë in die vroeë deel van die 1500s tussen François I en Charles Quint het die saak meer dringend gemaak.  Teen 1555 pronk die fort op die rotsprominensie.

Fort Carré – tussen 1550 en 1555 gebou

By Die Kasteel kom die berig uit die kantore van die Here 17, die VOC in Amsterdam:  Maak julle reg vir ‘n aanval van die Engelse.  Sover ek weet, het die Engelse toe nooit aangeval nie.

Thomas Brown, die Kasteel 1777

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 Mei, 2017

 

Bronne

France People, History and Culture.  Cecil Jenkins. (Running Press, Philadelphia. 1912)

“A brief history of the Castle of the Cape of Good Hope” – South Africa/History

Fort Carré – offisiële webwerf

 

Beelde

Fort Carré uit die lug – Antibes Juan-Les-Pins. C. Dronnsart, R. Dumenil (reds.) Editions A.R.T. 1991.

Die Kasteel uit die lug –  castleofgoodhope.co.za

Portfolio.collection.com

Colonialvoyage.com

Uit “Hoerikwagga” – Allain Mallet 1683; Thomas Brown 1777

My foto’s

 

 

 

 

Twee Forte

FORT CARRÉ EN DIE KASTEEL VAN DIE KAAP VAN GOEIE HOOP

{Die tweede van twee poste}

Maar daar was goeie rede vir Vauban, die energieke marskalk van die Son Koning, Louis XIV, om Frankryk deur te reis en in Antibes in 1682 vir Fort Carré aansienlik te kom versterk, met die verdubbelling van die mure.   Vorentoe was daar die slae in 1707 en 1746, wat op die slag van 1635 gevolg het.   En Antibes was hiervoor dankbaar – die hawe kry later Vauban se naam.

‘n Muur teen kanonballe

Beide Die Kasteel en Fort Carré het bakkerye in die gebou gehad.  Fort Carré is ‘n kleiner gebou en in die Kasteel was daar ‘n bakkery in elk van die vyf bastionne, asook ‘n smidswinkel.  In Fort Carré was daar net een bakkery en een smidswinkel.

Plaas die brode hierin

Waar die brode gebak het

In die Kasteel het die vertrek wat as kerk gedien het so groot rol gespeel dat die  eerste kerke nie in Kaapstad self gebou is nie.  Daarvoor moet ons Stellenbosch toe.  Fort Carré het die oorblyfsels van ‘n kapel.  Triestig om te dink hoeveel soldate wat gesterf het, eers daar op die knie gesak het.

Die kapel van buite

 

 

Die kapel van binne

In Fort Carré is daar 21 nisse vir kannone, en vir 50 gewere.  Ek weet nie of iemand al ooit die nisse in Die Kasteel getel het nie.  ‘n Grysaard-toergids het ons jare gelede bewoë meegedeel dat daar nog nie ‘n skoot van die bolwerke in woede gevuur is nie.  Ek wil dit glo.

Hierdeur gaan die dood

In albei forte is selle vir gevangenes.  Weereens is dié in Fort Carré minder.  In die Kasteel is daar ‘n reeks selle tesame met die Donker Gat wat min lig en min lug gehad het. ‘n Prisonier se gees en vlees is gou gebreek.  Adam Tas, die bekendste gevangene, kom hiervan getuig.  Fort Carré het die betwisde legende dat Napoleon Bonaparte self daar in 1794 vir twee weke gevange was.  Dit het oor sy assosiasie met Robespierre gegaan, ‘n revolusionêre wat die Revolusie opgeëet het.   Na 21 luisterryke jare sou Napoleon nader aan Die Kasteel verkeer met sy sesjarige verblyf op St Helena, waar hy ‘n fynproewer van Constantia-wyne geword het.

Fort Carré, skildery deur Nicolas de Stael, 1955

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 Mei, 2017

Bronne

France People, History and Culture.  Cecil Jenkins. (Running Press, Philadelphia. 1912)

“A brief history of the Castle of the Cape of Good Hope” – South Africa/History

Fort Carré – offisiële webwerf

 

Beelde

Fort Carré uit die lug – Antibes Juan-Les-Pins. C. Dronnsart, R. Dumenil (reds.) Editions A.R.T. 1991.

Die Kasteel uit die lug –  castleofgoodhope.co.za

Portfolio.collection.com

Colonialvoyage.com

My foto’s

 

 

 

  

 

 

DIE AFRIKAANSE TAALMONUMENT, Die Pêrel

Die Taalmonument was nog altyd vir my treffende beeldhouwerk.  Dat dit Afrikaans vier is gepas:  die taal het binne drie of vier geslagte ‘n wêreldletterkunde daargestel.

Vloeibaar, bevrydend

Vloeibaar, bevrydend

Die Monument is ryk aan simboliek.  Ons weet van die parabola wat die groei van die taal dui.  Maar die vorme wat vir hierdie simboliek deur Jan van Wijk, die argitek, gekies is, is sonder presedent in suidelike Afrika.  Die ontwerp  van die Universiteitsoordkerk in Pretoria is ook ongewoon.  Van Wijk voel die nood om van tradisionele vorme weg te breek.  Vir my is daar met die Taalmonument ‘n weerklank uit ‘n ouer, amper tydlose Afrika – die Soedano-Saheliese bouvorme.

Tekstuur, kleur en kurwes

Tekstuur, kleur en kurwes

Geronde torings

Geronde torings

Die geronde torings, die kleur-tekstuur van die boumateriaal, die grasie in konstruksielyne … ‘n Argitek op dié vlak soek sy inspirasie in vergange tye en hy dink ten minste ‘n eeu vooruit.  En ek meen hy sou sulke idees skaars gehou het in die jare sewentig toe sy ontwerp vir die Taalmonument  aanvaar is.

Fors en onbeweeglik

Fors en onbeweeglik

Dit is interessant dat Gerard Moerdijk wat die Voortrekker-monument (1938) ontwerp het, het gesê dat hy deur ou-Egipte inspireer is.  Maar dit is duidelik dat die modieuse vorm van deco (1920 – 1940) oorwegend  was.  Dié monument is vir my ‘n swaar, geslote vorm met ‘n onbuigsame gees.  Die Taalmonument, inteendeel,  is ‘n ligte, vloeiende  vorm wat die bevryding van abstrakte beeldhouwerk straal.  As ons die twee monumente bymekaar plaas, is dit die evolusie van die gees van ‘n volk wat ons aanskou?

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Somerset-Wes / Antibes

Januarie, 2017

 

Bronne

Wikipedia : Voortrekker Monument

Vele beelde van Soedano-Saheliese argitektuur op die internet

 

Beelde

Afrikaans Taalmonument  –  Commons.wikimedia.org

Moskee Dogon  –  agefotostock.com

Torings  –  detroitarchitectjournal.blogspot.com

Voortrekkermonument  –  peace.maripo.com

 

HOY’S KOPPIE, Hermanus

 

Hoy's Koppie

Hoy’s Koppie

In die middel van die voorstede van Hermanus — die gholfbaan, ‘n skool, huise, die begrafplaas — is daar ‘n klipkop, soos mens in die Karoo sou verwag, met sy rotsrif.  Geoloë meen dit is 400 miljoen jaar oud.

Kriskras sedimentere patrone wat die era dui

Kriskras sedimentere patrone wat die era dui

Voorheen heet dit Steenkop, maar die inwoners van Hermanus wou Sir William Hoy (1868-1930) met die naam eer en dié heer en sy vrou Gertrude is op die kruin begrawe.  Daar is ‘n paradoks in Sir William se geskiedenis met die dorp van Hermanus.  Al was hy ‘n hooggeplaasde in die Suid-Afrikaanse spoorweë, wou hy nie dat treine en ‘n stasie vir hierdie dorp, na aan sy hart, bederf nie.  Dus is die Hermanus Stasie vandag die stasie wat nooit ‘n stasie was nie.

Die latteloopweg

Die latteloopweg

Met ‘n latteloopweg op, is jy omring deur fynbos van alle soorte, onder hulle jy-kan-ons-maar-vier-fynbosblomme.

Vier my, vier my

Vier my, vier my

Na vyf minute se stap kom jy op ‘n grot af.  Die versperring belet toegang:  dit is ‘n argeologiese werf, dié.  In dié grot, sê die bordjie, het mense tussen vyftig en sewentig duisend jaar gelede hulle bestaan gevoer.  Die vondse is tussen 1925 en 1935 opgediep.

Wat wag nog hier vir ons?

Wat wag nog hier op ons?

Vanaf daardie tye het verdere vondse van oermense langs die kus van die Suid-Kaap opgeduik.  Die Blombosgrot naby Stilbaai wat in die negentigerjare ontdek is, en die Klasiesriviermondgrot is bestemmings vir strepe internasionale argeoloe. Dit word gereken dat tekens van mense se bestaan in hierdie laasgenoemde grotte ten minste 100,000 jaar oud is.  Wie weet wat wag nog in die donker dieptes van die grot aan Hoy’s Koppie?

Die grafte van Sir William en Gertrude

Die grafte van Sir William en Gertrude

Bo lê die twee grafte met hulle plake gevandaliseer en die vraag is, Watter graf is Sir William s’n, regs of links?  Aan alle kante lê Hermanus versprei tot dit verdwyn in die lang kurwe van die strand wat uiteindelik by Gevaarpunt eindig.  Agter jou, die berge.  Op daardie berge is die Rotarypad vanwaar mense met sweefvlerke van die kloof afspring en soos meeue oor die voorstede sweef.

Murmelende Teenwoordighede

Murmelende Teenwoordighede

Met die afstap van die Koppie sien ek rotsformasies wat my aan die misterieuse beelde van Paaseiland laat dink.  Soos in die Australiese film Picknick at Hanging Rock kan mens die diepkeelbrom uit die aarde se verborge dieptes amper hoor.

Hoy's Koppie

Hoy’s Koppie

© Willem J. van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Oktober, 2016.  Somerset-Wes

Bronne

Hermanus Stories, deur S J du Toit (Hermanus Toeriste Buro, 2001)

Gids, Blombos Museum vir Argeologie (ongedateerd)

Foto’s: Willem

 

Met hartlik dank aan Graham en Elna

%d bloggers like this: