Monthly Archives: October 2016

BEVRYDING VAN NICE, 28ste Augustus, 1944

Die Franse Weerstand kon seker gewag het.  Die Gealliëerde magte en die Franse Vrye Leër het die vorige dag Toulon verower, die sterkste bastion van die Duitsers in die suide van Frankryk.

Die hawe, bevryding van Toulon, 27ste Aug, 1944

Die hawe, bevryding van Toulon, 27ste Aug, 1944

Die garnisoen Duitse soldate in die stad van Nice kon nie anders as die skrif op die muur sien nie.  Veral ook as elke nuusbrok vir hulle slegte nuus is – die Gotiese Lyn in Italië is na nagenoeg ‘n jaar se geveg deurbreek en die Duitsers is finaal uit die skiereiland verslaan; die Russiese leër trek al by die Pruisiese grens en die Gealliëerde magte wen elke dag grond vanaf hulle landing in Junie, twee maande tevore.  Juliemaand was daar ‘n poging onder hooggeplaasde offisiere op Hitler se lewe.  En die Duitsers het geweet dat binne ‘n dag of twee kom daar ‘n tweede landing om en by Nice se strande.  Die Weerstand kon gewag het, maar hulle het nie.

Is die aanvalle van die 28ste Augustus op daardie snikhete somersdag lank tevore deur die Weerstand beplan?  Het die planne meer dringend geword ná die landings by St Tropez en St Raphael?  Dit kom vir my voor dat as jy soldaat in ‘n oorlog is, dat jy al minder oor nietighede bekommer.  Jy het een ding voor oë −  die verslaan van die vyand.  Die enigste goeie vyand is ‘n dooie vyand.  Drie-en-twintig van hulle kamerade in die Weerstand is kort tevore deur die Duitsers in die publiek teregestel.  Dit wek woede.

Dapper manne en vroue, die Franse Weerstand

Dapper manne en vroue, die Franse Weerstand

Vieruur die oggend neem die Weerstand hulle eerste gebou oor – die poskantoor op die avenue Thiers.  Daar is geen geskietery nie en daar sou in die loop van die dag nege sulke geboue wees wat hulle oorgeneem het.  Dit is merkwaardig want offisiëel was die Weerstand ‘n handvol van 350 in teenstelling met die garnisoen van 2000 Duitsers, meer as vyfkeer die getal en beter gewapen.  Soos die dag sy koers geneem het, egter, het daardie 350 aangevul, meer as verdriedubbel.  Die Duitsers is tog dungesaai:  vanaf sesuur, toe die eerste skote klap, moes hulle agt verskillende aanvalle van die Weerstand in die loop van die oggend op verskeie plekke probeer keer.  In die middag moes hulle nog sewe aanvalle daarby behartig.  En in elke aanval was die Weerstand suksesvol.  Hulle het klappers gebruik om die aanvalle groter te laat klink, en die Duitsers het aan Berlyn rapporteer dat Nice vol “terroriste” is.

Die langste en seker die belangrikste was die gebou met die Duitse arsenaal op die hoek van Rue Garnier by die avenue Gambetta-Cessole.  Dit het vanaf sesuur die oggend geduur tot elfuur.  Daarna was dit ‘n kwessie van tyd.  Die Duitsers het op Place Garibaldi hewig teruggeveg.  Vir die Weerstand was dit die grootste lewensverlies. Dié slag het maar ‘n uur of twee geduur.

Sewe-uur die aand bombardeer die Duitsers die hawe wat die landing van magte kon vergemaklik het en nege-uur ontruim hulle die Château langs die hawe wat strategies hulle belangrikse posisie was.  Van daar af is dit neusie verby en elfuur bestyg hulle die leërtrokke en is alskietend die stad uit.

Die Nice hawe na die bombardering

Die Nice hawe na die bombardering, 29 Aug 1944

Die Weerstand het 31 man verloor en daar is 280 gewondes.  Die Duitsers het 21 man verloor en 105 word prisonnier geneem.  In die opvolgende dae het van daardie prisonniers hulle lewens verloor met die opruim van talle landmyne op die hoofstrande van Nice.

Nice strande. Hotel Negresco (regs), 29ste Aug, 1944

Nice strande. Hotel Negresco (regs), 29ste Aug, 1944

 

 

Skare na byvryding, 29ste Aug, 1944

Skare na bevryding, 29ste Aug, 1944

Franse en Amerikaanse troepe, Place Massena, 30ste Aug, 1944

Franse en Amerikaanse troepe, Place Massena, 30ste Aug, 1944

Die Weerstand kon gewag het.  Dalk sou die Duitsers sonder ‘n skoot padgegee het.  Dit het wel op ‘n kol gebeur.  Die 17de, twee dae ná die landing van die Gealliëerde magte, het ‘n pelaton Gourdon, naby Nice, ingeneem, ‘n village perché teen die hange van die voor-Alpe.  Agt-en-veertig uur later gee hulle, sonder die vuur van ‘n enkele skoot, aan die Maquis oor.  Ek wonder nog altyd of hierdie soldate wat vyf jaar lank die dood in die oog gekyk het, hier, met die asemrowende uitsig oor die Côte d’Azur, die lewe eerder gekies het.

 

© Willem van der Walt

http://www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

September, 2016

Bronne  

Source :  La Résistance Azuréenne.  Sous la direction de Jean-Louis Panicacci.  Serre Editeur, 1994. Nice.

Wikipedia : Operation Dragoon

Gourdon gidsboek  

Beelde

Toulon hawe – Nice-Matin

Franse Weerstand – Getty images

Nice hawe – Getty images

Strand, Skare en Troepe – Nice-Matin

 

Advertisements

HOY’S KOPPIE, Hermanus

 

Hoy's Koppie

Hoy’s Koppie

In die middel van die voorstede van Hermanus — die gholfbaan, ‘n skool, huise, die begrafplaas — is daar ‘n klipkop, soos mens in die Karoo sou verwag, met sy rotsrif.  Geoloë meen dit is 400 miljoen jaar oud.

Kriskras sedimentere patrone wat die era dui

Kriskras sedimentere patrone wat die era dui

Voorheen heet dit Steenkop, maar die inwoners van Hermanus wou Sir William Hoy (1868-1930) met die naam eer en dié heer en sy vrou Gertrude is op die kruin begrawe.  Daar is ‘n paradoks in Sir William se geskiedenis met die dorp van Hermanus.  Al was hy ‘n hooggeplaasde in die Suid-Afrikaanse spoorweë, wou hy nie dat treine en ‘n stasie vir hierdie dorp, na aan sy hart, bederf nie.  Dus is die Hermanus Stasie vandag die stasie wat nooit ‘n stasie was nie.

Die latteloopweg

Die latteloopweg

Met ‘n latteloopweg op, is jy omring deur fynbos van alle soorte, onder hulle jy-kan-ons-maar-vier-fynbosblomme.

Vier my, vier my

Vier my, vier my

Na vyf minute se stap kom jy op ‘n grot af.  Die versperring belet toegang:  dit is ‘n argeologiese werf, dié.  In dié grot, sê die bordjie, het mense tussen vyftig en sewentig duisend jaar gelede hulle bestaan gevoer.  Die vondse is tussen 1925 en 1935 opgediep.

Wat wag nog hier vir ons?

Wat wag nog hier op ons?

Vanaf daardie tye het verdere vondse van oermense langs die kus van die Suid-Kaap opgeduik.  Die Blombosgrot naby Stilbaai wat in die negentigerjare ontdek is, en die Klasiesriviermondgrot is bestemmings vir strepe internasionale argeoloe. Dit word gereken dat tekens van mense se bestaan in hierdie laasgenoemde grotte ten minste 100,000 jaar oud is.  Wie weet wat wag nog in die donker dieptes van die grot aan Hoy’s Koppie?

Die grafte van Sir William en Gertrude

Die grafte van Sir William en Gertrude

Bo lê die twee grafte met hulle plake gevandaliseer en die vraag is, Watter graf is Sir William s’n, regs of links?  Aan alle kante lê Hermanus versprei tot dit verdwyn in die lang kurwe van die strand wat uiteindelik by Gevaarpunt eindig.  Agter jou, die berge.  Op daardie berge is die Rotarypad vanwaar mense met sweefvlerke van die kloof afspring en soos meeue oor die voorstede sweef.

Murmelende Teenwoordighede

Murmelende Teenwoordighede

Met die afstap van die Koppie sien ek rotsformasies wat my aan die misterieuse beelde van Paaseiland laat dink.  Soos in die Australiese film Picknick at Hanging Rock kan mens die diepkeelbrom uit die aarde se verborge dieptes amper hoor.

Hoy's Koppie

Hoy’s Koppie

© Willem J. van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Oktober, 2016.  Somerset-Wes

Bronne

Hermanus Stories, deur S J du Toit (Hermanus Toeriste Buro, 2001)

Gids, Blombos Museum vir Argeologie (ongedateerd)

Foto’s: Willem

 

Met hartlik dank aan Graham en Elna

%d bloggers like this: