Monthly Archives: December 2016

COVENTRY KATEDRAAL – gewyde kuns

Coventry Katedraal, ‘n 14de eeu gotiese kerk, is tydens die Blitz in die Tweede Wêreldoorlog bombardeer.  Vir my was dit ‘n besondere ervaring om in die ruïnes, wat hulle behou het, te staan.  Ek kan nie mooi sê wat die wemelende gevoelens in my was nie, van woede tot deernis, van bewondering tot besieling.  Die moderne katedraal is digby die bouvalle opgerig.  Dit het vanaf 1950 gebeur.  Onder die ingenieurs was daar ‘n span jong Duitsers wat ingewillig het om hand by te sit.

Ruïnes van Coventry Katedraal

Ruïnes van Coventry Katedraal

Die moderne katedraal, merkwaardige argitektuur, is ‘n skatkis van gewyde kuns.  Alles is fyn deurdag.  Die doopvont is ‘n uitgeholde rots gebeitel uit die heuwels om Bethlehem.  Een kapel nader mens deur ‘n doringkroon.  ‘n Ontroerende gelykenis van Christus is uit die verskeurde metaal van ‘n motorongeluk geskep.

Doopvont teen agtergrond van kleurvensters

Doopvont teen agtergrond van kleurvensters

Kapel van Christus in Getsemane

Kapel van Christus in Getsemane

Bo die naaf is die tapiserie Christus in Majesteit deur Graham Sutherland, een van die grootste van sy soort ter wêreld.  In elke aspek is daar majesteit, maar, vir my, is daar een ding wat ek na jare nog nie oor gemaklik is nie.  Dit is die uitdrukking op die Christus-gelaat.  Dalk is dit iets in my wat ‘n naderende, alwetende, amper siniese, glimlag daar bespeur, iets wat in teenstelling is met die hoë roeping.

Naaf en Tapiserie

Naaf en Tapiserie

Tapiserie (detail)

Tapiserie (detail)

Tussen die kunswerke in die katedraal, is die Christus-beeld geskep deur Jacob Epstein in die ruïnes van die ou katedraal, beeldhouwerk van die 1950s. [Kyk heel regs teen die muur in die ruïnefoto.] Dié werk is ‘n radikale afwyking van die Westerse tradisie om Christus as ‘n uitgeteerde, kwesbare figuur op die kruis uit te beeld.

Oermag

Oermag

Die eerste woord wat by my opgekom het, is primitief, met uitsluitlike positiewe konnotasies.  Die vorm, lyk dit vir my, word ontleen uit die beeldhouwerk van die oerwoudkulture – die Kongo, die Amasone, Indonesië en selfs Paaseiland.  Ek soek woorde om die gevoel van hierdie werk te omvat  − winterwolke oor nagberge; die diep stem van ‘n komende vulkaan …   Hierdie oermagtige figuur, voel ek, sal sy boeie deurbars en donderend oor die wêreld stryk.  Dit is gewyde kunswerk wat my tot diep gevoelens stem en, meen ek, wat kontemporêre geloof vars krag gee.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

 

Bron

Wikipedia

 

Beelde

Katedraalruïne  –  mapio.net

Altaar met spykerkruis  –  cathedrallicking.wordpress.com

Doopvont –  tripadvisor.co.uk

Kapel met doringkroon  –  stopprocrastinatingandjustdoit.blogspot.com

Katedraalnaaf  –  lovelyoldtree.wordpress.com

Detail van tapiserie  –  blog.arthistoryabroad.com

Epstein Christus figuur  –  bron verloor

 

Opgedra aan my niggie Dawn Denton vir al die steun en leiding wat sy my gee

 

 

DIE BERLYN MUUR

Die jaar was 1972.  Ek en my vrou ry van die grens tussen Wes- en Oos-Duitsland op die snelweg wat in Hitler se tyd gebou is.  Die oppervlak is gespikkel met slaggate.  Om ons lyk die landskap van Oos-Duitsland braak, onbenut, in skrille kontras met Wes-Duitland waar elke hoek besnoei word.  Elke nou en dan ry ons ‘n motor uit die 1950s verby.

Vir hulle wat probeer het

Vir hulle wat probeer het

Wes-Berlyn self, die enklawe agter die Yster Gordyn, vind ons ‘n skarrelende, vooruitstrewende stad.  Ons besluit ook om Oos-Berlyn te besoek en die Muur-museum aan die weskant lig ons in oor die elf jaar se wêrelddrama wat hier afspeel – die triomf en die tragedie van dié wat poog om na die Weste te vlug.

Ons stap die wag by Checkpoint Charlie verby, ‘n man in ‘n Amerikaanse uniform geklee, wat skaars van sy spotprentboekie opkyk.

west-berlin

Niemandsland

Niemandsland

Dan, die niemandsland … hier waar die wandelweg van Unten den Linden deur die eeue voor die oorlog gepronk het, is nou kaalgestroopte grond met staal kruisversperrings wat die verskiet instrek, reuse bondels doringdraad en die Muur, plek-plek amper ses meter van grys sement.  Die woorde van die Oos-Duitse kanselier voor 1961 is ‘n geskal oor die toneel: “Ons het geen bedoeling om ‘n muur op te rig nie.”

Graffiti, kruis en Muur

Graffiti, kruis en Muur

Ons stap onseker die nou paadjie tussen die bedrading deur, terdeë bewus van die masjiengewere wat op ons vanuit gesiglose wagtorings gerig word.  Aan die Oos-Duitse kant staan ‘n falanks van grenswagters nader met haarstyle uit die 1950s en ondersoek deeglik ons paspoorte deur. Onsself loop ook onder die loep.

Oos-Berlyn onthou ek as breë, verlate strate met verkoolde ruïnes uit die oorlog, sewe-en-twintig jaar tevore, hier en daar, en leë winkels, swak beligte museums, ‘n duur restourant en oral ideologiese slagspreuke.  Toe ek terug Suid-Afrika toe is, is dit met ‘n erg-vereenvoudigde siening:  dit is nie ‘n alternatiewe ekonomiese teorie, dié, nie;  dis ‘n masjiengeweer.

Sewentien jaar later val die Muur en kort voor lank versplinter die Sowjet-Unie self.  In 2014 vier die Duitsers ‘n kwart eeu sonder die Muur en die hereniging van die land.  Die Duitsers wou ook lande elders oor hierdie geskiedenis waarsku en stuur vir hulle stukkies van die Muur.  In St George’s Mall in Kaapstad staan daar ‘n herinnering.

Pleidooi aan die mensdom, Kaapstad

Pleidooi aan die mensdom, Kaapstad

Daar was ‘n voorstel dat ons die doodskamp Dachau naby Munchen besoek, maar Oos-Berlyn was vir my genoeg. Die ervaring het my diep geraak en in later jare het ek minder simplisties daaroor gedink.  Dit stem my tot erns, egter, hoeveel leiers vandag steeds dreig met die oprig van mure en self mure bou om hulle politiese probleme op te los.  “Iets is daar,” sê die digter, “wat nie van ‘n muur hou nie.”

Tekening deur Walter Hanel

Tekening deur Walter Hanel

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Frankryk

November, 2016

Beelde

Monument  –  urbaneukraine.wordpress.com

Niemandsland  –  gedenkstaette.de

Muur, kruis, graffiti  –  dreamstime.com

Berlyn Muur-fragment  –  mashable.com

Tekening deur Walter Hanel – ros.sarosedesign.com

Aanhaling: Robert Frost, Mending Wall. (my vertaling)    

  

 

 

KUFŰRSTENDAMM, Berlyn

Die Ku'Damm vanaf die jare Sestig

Die Ku’Damm vanaf die jare Sestig

Die Ku’damm, soos die Berlyners dit noem, het hierdie week, ses dae voor Kersfees, die toneel van ‘n tragedie geword.  Dit raak my want ek het, jare gelede, gestap juis waar die terreuraanval van Maandag die 19de Desember plaasgevind het.  Die plek het destyds ‘n groot indruk op my gelaat, een wat ek koester.

Kaiser Wilhelmkerk, 1900

Kaiser Wilhelmkerk, 1900

Die Kufűrstendamm is die Champs Elysées van Berlyn, soos een skrywer dit sê.  Dit is al eeue so en die fokuspunt was die Kaiser Wilhelmkerk, ‘n laat byvoeging in 1890 tot die herlewing van die gotiese styl in die 19de eeu.  In 1943 tref die eerste bomme die kerk en met die slag van Berlyn in 1945 het slegs die twee torings van die kerk bly staan.  Die een toring moes ná die oorlog gesloop word.

Die Duitse owerhede van Berlyn het besluit om die oorblywende toring van die kerk net so te behou,  verkool en ruïneer.  Tipies van die Berlyners se suur humorsin word die bouval “die Hol Tand” genoem.  In die voorportaal van die toring onthou ek ‘n plaak wat, namens die Duitse volk, belowe om nie weer oorlog te voer nie.

In die laat-1950s ontwerp die argitek Eiermann ‘n moderne kerk wat vanaf 1959 tot 1963 gebou is.  Die kontras tussen die oue en die nuwe kan nie groter wees nie.

Kontras

Kontras

Die nuwe toring, digby die oue, is vyfhoekig en, soos die agthoekige ouditorium, gestroop tot die essensie van reguit lyne, ‘n deurdagte toevoeging tot die modernisme.  Die Berlyners noem dit die “Die Lipstiffie en Poeierboks”.

Binne die kerk

Binne die kerk

Binne die moderne kerk was ek omring deur ‘n skouspel  van reuse vensters, lig wat deur meer as 21,000 heuningkoekblokkies kleurglas straal.  In een deel is daar ‘n gedenkmal aan die Christenleier martelaars wat deur die Nazis vermoor is.  In ‘n ander deel, ‘n kruis uit die 13de eeu.

Kleurglas

Kleurglas

As die bouval van die Kaiser Wilhelmkerktoring vir my die pyn van oorloë verbeeld, is die moderne toring en kerk die genesing.   En weereens word dié deel van die Kufűrstendamm die toneel van ‘n tragedie.

Waar dit gebeur het

Waar dit gebeur het

Maar agt-en-veertig uur na die gruwelike gebeurtenis is die Kersmark weer oopgestel.  In die agtergrond van die televisie-omroeper wat die donker besonderhede aan die wêreld kondig, stap die Duitsers verby … minder ondersteuners vir die mark en diep bedroef, ja, maar met bratwurst in die een hand en ‘n glasie glűwein in die ander … genesing as weerstand.

Skadus

Skadus

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Desember, 2016

Les Semboules, Antibes

 

Bron

Wikipedia

Beelde

Ku’damm  –  meros.org

Kaiser Wilhelmkerk 1900 –  rucius.org

Die oud en nuut  –  alarmy.com

Binneruim, moderne kerk  –  fodors.com

Kleurglasvensters  –  alarmy.com

Ku’damm vanaf toring  –  getty images

Silhoeétte  –  tripadvisor.fr

Tags:  terreuraanval, argitektuur, kersmark, Berlyn, oorlog, humorsin

 

Opgedra aan die slagoffers van dié wat die lewe haat

 

MAGOKSA – kruldaktempels in die heuwels

 

Suid-oos Korea (Suid)

Die Suid-Ooste, Suid-Korea

Tussen die groen beboomde heuwels van die suid-ooste in die Koreaanse skiereiland kom mens op die enklawe van die Magoksa-tempelreeks af.  Dit neem ‘n halfuur van die stad van Cheongju, op die gerieflike snelweg, maar, sê ons bestuurder Dr. Kim, dit was 600 jaar gelede ‘n ander storie.  Destyds duur dit drie, vier dae vir pelgrims om daar uit te kom. Hy neem vandag van sy praktyk af om vir my en sy vrou wat saam met my in die laerskool klasgee na Magoksa toe te neem.   Ons parkeer in ‘n klein dorpie en neem die wandelpad deur die woude.

Wandelpad na tempels

Portaalhek op wandelpad na tempels

Skilderye by Portaalhek, wandelpad

Skilderye by Portaalhek, wandelpad

Vir hom is dit betekenisvol want, as mediese student, was hy destyds hier die voorsitter van die Boeddhiste-vereniging en daar is vir hom ‘n rykheid aan herinneringe.  Magoksa is veral belangrik vir nagenoeg sewentig tempels in die streek en onderneem geestlike leiding en geldelike steun.

Bedeklippe in die woud langs wandelpad

Bedeklippe in die woud langs wandelpad

Tempels op Taehwa-rivier

Tempels op Taehwa-rivier

Aan die oewer van die Taehwa-rivier is die boom- en plantegroei so ruig dat mens mooi moet kyk om die kruldaktempels raak te sien.  Die inligtingsbord is trots op die stelling dat dié tempels in die Yin en Yangkronkels van die rivier gevestig is, en dit vanaf die jaar 643 n. C. , drie honderd jaar nadat Boeddhisme Korea vanaf Indië bereik het.

Poster van monnike wat die brug oorkruis

Poster van monnike wat die brug oorkruis

Die brug oor die Taehwa-rivier

Die brug oor die Taehwa-rivier

Ons stap oor die brug wat groot simboliese betekenis vir Magoksa inhou.  Vir jong monnike is die oorkruising van hierdie brug die finale toewyding wat hulle maak.  Onder in die groen water krioel dit van visse wat ook simboliek dra en wat kleurvol uitgebeeld word.

Visse

Visse

Visikoon

Visikoon

Dr. Kim, met sy vrou as tolk, wys ‘n kleinerige tempel versigtig uit, seker wat ons ‘n kapel sou noem, en agter sy hand fluister hy  “Dis die sjamaniste.”  Interessant dat, hier by Magoksa, is dit een van die parallel bewegings in die Boeddihisme wat verdra word.  Dr. Kim se gebare en uitdrukking dui vir my dat sy verdraagsaamheid hier ietwat getoets word.

Hoof Tempelsaal, Magoksa

Hoof Tempelsaal, Magoksa

Ons kom te staan voor die hoof tempelsaal, ‘n gebou, sê hy, wat  uiters ongewoon is.  Die struktuur van tempels in Korea is eenvlakkig en hier is daar twee verdiepings.  Skoene by die deur en ons gaan binne toe. “Geen foto’s, asseblief,” fluister hy.  In die altyd-skemer van die tempel troon daar drie Buddha-beelde, met goue omhulsel.  Die middel een, fluister sy vrou, is “Sakyamuni”, die naam vir Gotama, die Indiese leier wat Boeddhisme gestig het.

Boeddha-beeld, elders geneem

Boeddha-beeld, elders geneem

In die vier hoeke van die saalruimte is massiewe boombalke, ekspressief krom, die ongelooflike grein met liefde vernis.  Hierdie balke is blykbaar wat die struktuur stut.  Hier en daar is die toegewydes betrokke met hulle oefening-meditasies − staan, kniel, voorkop-op-die-grond, staan …

Onder die Joseon-koningskap, ses honderd jaar gelede, sê Dr. Kim, het die owerhede wat Confuciaans was, die Boeddhisme vervolg en probeer onderdruk.  Vir die rede het die toegewydes hulle van die stede en dorpe onttrek en in dié verafgeleë streek Magoksa gevestig en opgebou.  Maar daar was in die verlede ‘n groter vyand, voeg hy by met ‘n skaduwee oor sy gesig.  In 1592, soos elke kennisbord op ‘n toerisroete in Suid-Korea vir jou sal inlig, het die Japanese die land van die noorde tot suide in puin gelê.   Magoksa, sê hy met gevoel, is eers finaal in 1652 restoureer.  Ek sal dit vir ‘n rede van my eie onthou, sê ek.

Geloof en natuur word een

Geloof en natuur word een

Mev. Kim, Dr. Kim en ek

Mev. Kim, Dr. Kim en ek

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Magoksa, Suid-Korea

Meimaand, 2008

 

Bron

Met dank aan Dr. Kim

Inligtingsbord

Wikipedia

Foto’s  –  Willem

 

 

BYEKORF-GRAFTOMBES, Micene, Griekeland

Dalk spook dit hier, kom die ongemaklike gedagte by my op toe ek een van die Miceense skiereiland in Griekeland se bekende byekorf-graftombes nader. Dis nie dat ek bang is nie. Ek is doodkalm en nuuskierig. Maar die eerste aanblik van die graftombe laat my hart in my bors tamboer . . .   Ek kyk na die lang onbedekte gang tussen klipmure wat horisontaal in die heuwel ingebou is en na die indrukwekkende ingang lei. Verkyk my daaraan.

Hier speel 'n trom van duisende jare

Hier speel ‘n trom van duisende jare

Die verbasend nou ingang, ongeveer ses meter hoog met ’n driehoekige opening bo die latei wat dit selfs hoër laat lyk, lei na die grafkelder van kalkklip.  Ek stap in en  beskou die  koepelvormige dak. Dis gevorm deur kalkklipringe wat boontoe ál kleiner raak op mekaar te stapel, en lyk  baie soos ‘n byekorf.  Die bouwerk en gewydheid van die graftombe beïndruk my. Hier het die Micene hulle gestorwenes begrawe. Lank voor die Griekse beskawing tot stand gekom het. Nagenoeg 1500 jaar voor Christus, in die laat-Bronstydperk.

Snitplan - 13 meter hoog, 15 meter deursnit

Snitplan – 13 meter hoog, 15 meter deursnit

Die graftombe met sy kalksteenvloer is so groot soos ‘n kerkie en byna 13 meter hoog. Waar is die dooies te ruste gelê? Ek sien geen teken van rakke of holtes nie. Die graftombe is leeg. Kaal. Wat ook al hier van belang was, is  kennelik deur argeloë verwyder. Dit geld die ander byekorftombes in hierdie gebied natuurlik ook. Terloops, die Miceense  byekorfgraftombe wat die beste behoue gebly het van die nege in Griekeland, is ‘n tombe wat volgens  die bekende 19e eeuse  Duitse argeoloog Heinrich Schliemann die  graf van Agamemnon was – Agamemnon wat natuurlik in Homer se Iliad figureer. Maar Heinrich Schliemann se  teorie is intussen weerlê.

Interior of the Treasury of Atreus is an impressive "tholos" beehive shaped tomb on the Panagitsa Hill at Mycenae. Mycenae UNESCO World Heritage  Archaeological Site, Peloponnese, Greece

Binneruim

My voetstappe klink helder in graftombe op. Die akoestiek is merkwaardig. Ek roep uit om dit te toets  en die  eggo van my stem laat my ore tuit.  Hoe het dit toentertyd hier tydens ‘n begrafnisritueel  met al die geweeklaag en gesing en musiek en wat ook al geklink?  Ek kan my indink dat dit ‘n aanslag op jou oortrommels sou gewees het.

Drie duisend jaar weerklink

Drie duisend jaar weerklink

Nou is dit doodstil hier. Ek voel nie kriewelrig nie. Hier is beslis geen spoke nie. Wat wel by my spook, is die verlede. Wie was die mense wat hulle gestorwenes met soveel eerbied en deernis begrawe het? Hoe het hulle gelyk? Hoe het hulle aangetrek? Hoe het hul taal geklink. Wat het ons gemeen? Watter vrese? Watter vreugde? Watter menslike kondisie? Hulle sou nooit kon dink dat ‘n besoeker soos ek in die 21e eeu hier sou binnestap om ‘n artikel oor hulle te skryf en foto’s van die graftombe met sy mooi byekorf-ontwerp te neem nie. Net die graftombe met sy stilte het oorgebly. En ek staan en tob oor die verganklikheid van beskawings . . . die verganklikheid van alles. Bowenal van die mens.

Agamenon se graf?

Agamenon se graf?

 

© Willem van der Walt

www.loertoerwordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

Bron

Wikipedia

Beelde

Ingang – historywiz.com

Deursnit – en wikipedia.org

Binneruim – hiddeninc.atours.com

Dak – hipgreece.com

Binneruim – giclarhistory.blogspot.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

SICLADIESE KUNS – marmer geheime

 

Ongehoorde melodie van 5,000 jaar gelede

Ongehoorde melodie van 5,000 jaar gelede

 Hy speel harp.  Hy doen dit al nagenoeg vyf-duisend jaar.  Hy het destyds so goed gespeel dat iemand marmer uit klip gebeitel het en ‘n figuur van hom gemaak.  Ek het foto’s van hom gesien voordat ek by die glaskas in die Argeologiese Museum in Atene gestaan het en hom daar besigtig het.  Maar hy was nie die enigste een uit daardie streek en daardie tye nie.  Ek ontdek gou dat die harpspeler is nie tipiese nie, maar sy gelaat, ekstaties teruggegooi, is treffend, ‘n weerklank van die ander figure wat  oor die millennië meer nugter na my staar.

Hulle staar oor die jare ...

Hulle staar oor die jare …

Die Sicladiese Eilande lê oos van die Miceense skiereiland in Griekeland.  Hierdie Egeiese kultuur, sê hulle, floreer vanaf 3,300 tot 1,100 jaar v. C. en kunsgewys, staan hulle afgesonder  van Krete, Egipte, die Midde-Ooste en Griekeland.  Vir hierdie rede wek hulle al ‘n geruime tyd fassinering onder argeoloë, onder andere. Hierdie marmer figure is vanaf 10 cm tot amper lewensgroote en die styl is omiskenbaar Sicladies.

Die woordlose lied ...

Gesiglose misterie

Die bespiegelings oor die rol wat hulle gevul het, is veel.  Party meen dat die figure was beelde van godinne en word tydens rituele gebruik.  Ander glo hulle is poppe.  Ander redeneer weer dat hulle as votieffigure gebruik is, met bevrugtings- of begrafnisrituele.

Wat my tref,  is hoe kontemporêr hulle voorkom.  Die strakke eenvoud en geometriese formaliteit kon maklik deur ‘n modernistiese beeldhouer in die vroeë-20ste eeu van stapel gestuur word.  Constantin Brancusi, wat as die vader van moderne beeldhouwerk deur sommiges beskou word, het werke geskep wat nou aan die Sicladiese gees verwant is.   Dit was ‘n eienskap van modernisme (1890 – 1930) om tradisionele vorme te bevraagteken, verlaat en die primitiewe weer te wakker.

head-of-an-idol-c-2000-bc-cyclades-louvre

Godin, 2000 jaar v. C.

Constnantit Brancusi, 1920

Constantin Brancusi, 1920

Wat vir my ook interessant is, is die totale kontras tussen die vroulike figure van die Sicladiese kuns en die prehistoriese vroulike figure wat breed, swaar en oordonderend is.  Die Venus van Willendorf is ‘n voorbeeld.  Dit is amper asof die Sicladiese kunstenare die koms van groot verandering aangevoel het.

Aardse godin, 28,000 jaar gelede

Aardse godin, 28,000 jaar gelede

Hulle spook by my, dié figure.  Hulle is gesigloos, enigmaties. Die meerderheid is vroulik, elegant en suiwer in form.  Dit is moeilik om te dink dat hulle hulle uit growwe klip voordoen.  Die bespiegelings verdiep die misterie.  Hulle kyk van ‘n hoogte, ongeraak deur ons skarreling om hulle te verstaan.  As ek hulle met musiek sou voorstel, sal dit met ‘n enkele, sagte, ongebroke noot wees.  Hulle doem uit ‘n ander wêreld op.

cycladicwoman

Uit ‘n ander wêreld

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

 

Bronne

Histoire Visuelle de l’Art. Dir. Claude Frontisi. Larousse, Parys. 2002.

  1. Honour, J. Fleming: Histoire Mondiale de l’Art. Bordas, Parys. 1992.

 

Beelde

Harpspeler – sasgreekart.pbworks.com

Sicladiese beelde – bron verloor

Sicladiese figuur  –  bron verloor

Kop van godin  –  Modigliani-drawings.com

Brancusi form –  getty images

Venus van Willendorf  –  commons.wikipedia.org

Sicladiese vrou  –  bron verloor

 

Met dank aan Mike Oberholzer

 

VOLKSLIEDE en die brand in die neus

Die nuwe bestel in Suid-Afrika in 1994 het ‘n kombinasie van die volksliede daargestel, ‘n ongewone en bedagsame reëling.  Vir die meeste mense was dit voldoende, sover ek weet.

C.J. Langenhoven

C.J. Langenhoven

“Die Stem van Suid-Afrika” / “The Voice” is deur C.J. Langenhoven (liriek) en M. de Villiers (musiek) tussen 1919 en 1921 geskryf.  Die liriek is ‘n poëtiese beskrywing van die grootse skoonheid van die land en word, in die opvolgende vers, ‘n gesang van toewyding.  Die pyn van die Anglo-Boere-oorlog, minder as 20 jaar tevore, was nog vars by hulle.

Enoch Sontonga

Enoch Sontonga

“Nkosi Sikelel’ Afrika” is in 1897 geskryf deur Enoch Sontonga en is ‘n gebed-gesang wat die ganse vasteland omhels en vra dat die “oorlog en lyding” van Afrika se mense eindig.  Dit kom na ‘n bloedige 19de eeu en 500 jaar van slawerny.

Rouget de Lisle

Rouget de Lisle

“La Marseillaise” is in 1792 tydens die Franse Revolusie deur Rouget de Lisle geskryf.  Dit is ‘n marslied vir soldate.  Die liriek is kragtig, om dit sagkuns te stel:  “Die bloedige vlag is gehys … Hulle (die vyand) sny ons seuns en kamerade keelaf … Laat hulle onreine bloed ons landerye natlei.”  En dit teen ‘n naamlose “tirannie”.

 

As die liriese toonaard van die drie volkslied uiteenloop, maak die musiek my bewoë, ja, brand in my neus.  Ek het “Die Stem” vir baie jare eenmaal per week gehoor en gesing in die skool waar ek klasgegee het en dit is verweef in die some van my brein.  “Nkosi” het ek eers as skoolseun gehoor toe die hoof die werksvolk bied om dit vir die skool op te voer.  Die drie-tot-vierdeligeharmonie het my nog nooit verlaat nie.

Suid-Afrikaanse vlag

Suid-Afrikaanse vlag

Deesdae word die “Marseillaise” meer spontaan, meer dikwels, in die openbaar gesing.  Dit was ‘n ontroerend ervaring toe die hele Franse parlement spontaan op die been kom en dit sing.  Dit het glo laas tydens die Eerste Wêreldoorlog gebeur.  En dit was Januarie, 2015, na die terreuraanvalle in Parys.

Indruk van die Franse vlag

Indruk van die Franse vlag

‘n Vreemde lot om deur drie volksliede geraak te word.  Dalk moet ek maar klaarkry en my tot “La Internationale” begewe, en ek sal dit maar op Afrikaans sing, behalwe hulle sê my dat die naam vanaf die 1920s het verander na “O Boereplaas” en die liriek is bietjie anders.

 

© Will van der Walt 

http://www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

 

Bron

Wikipedia

 

Beelde

Enoch Sontonga – timeslive.co.za

C.J. Langenhoven – azquotes.com

Rouget de Lisle – fr.wikipedia.org

Suid-Afrikaanse vlag  –  getty images.co.uk

Franse vlag  – windows10free.org

 

 

%d bloggers like this: