Category Archives: Duitsland

Käthe Kollwitz  –  kuns as skadu

Sy was hulle heldin, die Oos-Duitsers.  Haar kunswerk, is daar gesê, steun die ideologie.  Sy was betrokke met die mens se lyding.  Dit was hulle siening tot 1989 toe die Muur getuimel het en die hele Duitsland weer haar werk kon waardeer.

Kollwitz – self-portret

Vir my was die besoek aan Oos-Berlyn terneerdrukkend – die houtskool ruïnes van die Tweede Wêreldoorlog, die stokou motors in leë strate, die gesiglose monumente aan die kommunisme.  Die Pergamon-museum se Assiriese uitstalling, egter, die Pergamon-altaar en die Poort van Isjtar, tussen 4000 en 5000 jaar oud, was verstommend en trek vandag die meeste besoekers in ‘n Duitse museum.  Daarby het ek die tekeninge van die kunstenaar Käthe Kollwitz besigtig, ‘n somber ervaring. Tog geniet haar werk groot erkenning en met goeie rede.

Mense by ‘n optog

 

In die swakbeligte vertrekke het ek die tekeninge bekyk – soms triomfantlik en soms beelde uit nagmerries, altyd oor die mens en sy lyding.

Die dood omhels

Ek kan nie onthou dat ek enige skilderye van haar gesien het nie;  sy was meer tuis met houtskool om die donker gevoelens uiting te gee.  Een van haar skilderye Vrou met gestorwe kind (1903) het vir haar ‘n herhaalde motief geword.  Sy het ook etswerk, litografie, houtsnitte en beeldhouwerk gedoen.

Die omhelsing van die dood

Haar vader was ‘n politikus wat die opkoms van die kommunisme in die laat-19de eeu in Europa gehuldig het.  Hiermee het sy groot geword.  Haar man was ‘n dokter wat veral vir die armes in Berlyn gesorg het.  En ek meen dat daar ‘n knyp depressie in Kollwitz se gestel ook was, afgelei van die aantal self-portrette wat onbeskaamd droefgeestig is.  Soms laat sy my aan Goya se nagmerrietekeninge dink.

“Geen oorlog weer’, 1922

Sy is in 1945 op die ouderdom van 78 oorlede, haar werk nou die trotse besit van die hele Duitsland.  Na ‘n dosis van Kollwitz, egter, moet mens vinnig ‘n draai by Kandinsky en Delauney loop gooi.

Portret

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Augustus, 2017

 

Bron

Wikipedia 

Beelde

Käthe Kollwitz: Renate Hinz (red.) (Random House 1981)

 

 

 

EMILE NOLDE – ekspressionis

Dit is die platste landskap wat ek nog gesien het, die pad Seëbull toe, op die grens tussen Duitsland en Denemark.  Die paaie is pyle; die populierbome, orrelpype.  Die Vrystaat, as ek vergelyk, is bergagtig.  Hier, in Seëbull, is die Emile Nolde-Stigting, ‘n gebou in die Bauhausstyl wat Nolde self in die twintigerjare as sy eie woning ontwerp het.

Emile Nolde-Stiftung, Seébull

Emile Nolde 1929

Vandag is dit ‘n kunsgalery, omring met tuine, ook sy ontwerp.  Die ruim vertrekke stal ‘n hartlike aantal van sy werke.

Self-portret 1917

Hy was ‘n ekspressionis, deel van die beweging wat ‘n parallel in Frankryk onder die Fauves gevind het, ‘n beweging wat in die laat-dertigerjare deur die Nazi-bewind onderdruk is.  In dié opsig is daar in Nolde se lewe ‘n skreiende ironie.

Rooi en geel sonneblomme 1920

In die chaos en bitterheid ná die Eerste Wêreldoorlog het hy aanklank gevind by die nuwe politiese party van die Nazis, anti-semitisme inkluis.  Maar nadat hulle in 1933 aan bewind gekom het, vind hy homself offisiëel verklaar as ‘n “dekadente” kunstenaar, met oor die duisend van sy werke gekonfiskeer en van hulle op die Entartete “Kunst”-uitstalling van 1937 uitgestal is om uitgejou te word.

Poster vir die 1937-uitstalling

Die bewind het hom verbied om verder te skilder, maar hy het in die geheim voortgewerk.  Dié werke noem hy sy “ongeskilderde skilderye”.

“Die Argument” 1938 – 1945 “Ongeskilderde skildery”

Ná die oorlog sou die verdiende eer weer na Emile Nolde se werk toeswaai.  Hy is in 1956 op die ouderdom van 89 oorlede.

Die Profeet, ets,1911

Sy werk, vir my, grens soms aan abstraksie, die kenmerkende vorm van modernistiese kuns.  Die kleurvlakke verbaas.  Sy mensfigure, meermale aards, selfs kinderlik primitief, sabel alle tradisie weg.  Soms verskyn sy uitinge onder ‘n swaar wolk.

Landskap met jong perde 1916

Hy skilder nie fyn nie; sy gees versplinter daardie hok.  Sy wêreld is tot barstens toe vol.  Sy kwas is breed, soos ‘n landskap.

“Onderweg” 19 –

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Augustus, 2017

 

Bron

Wikipedia :  Emile Nolde

 

Beelde

Die kunsmuseum – Emile Nolde-Stift

Foto – Emile Nolde-Stift

Selfportret – PerformArts

“Entartete Kunst”-poster – Nolde Stift

Profeet ets – PerformArts

Landskap met jong perde – PerformArts

“Onderweg”  Die See – PerformArts

 

 

 

 

 

 

DIE BERLYN MUUR

Die jaar was 1972.  Ek en my vrou ry van die grens tussen Wes- en Oos-Duitsland op die snelweg wat in Hitler se tyd gebou is.  Die oppervlak is gespikkel met slaggate.  Om ons lyk die landskap van Oos-Duitsland braak, onbenut, in skrille kontras met Wes-Duitland waar elke hoek besnoei word.  Elke nou en dan ry ons ‘n motor uit die 1950s verby.

Vir hulle wat probeer het

Vir hulle wat probeer het

Wes-Berlyn self, die enklawe agter die Yster Gordyn, vind ons ‘n skarrelende, vooruitstrewende stad.  Ons besluit ook om Oos-Berlyn te besoek en die Muur-museum aan die weskant lig ons in oor die elf jaar se wêrelddrama wat hier afspeel – die triomf en die tragedie van dié wat poog om na die Weste te vlug.

Ons stap die wag by Checkpoint Charlie verby, ‘n man in ‘n Amerikaanse uniform geklee, wat skaars van sy spotprentboekie opkyk.

west-berlin

Niemandsland

Niemandsland

Dan, die niemandsland … hier waar die wandelweg van Unten den Linden deur die eeue voor die oorlog gepronk het, is nou kaalgestroopte grond met staal kruisversperrings wat die verskiet instrek, reuse bondels doringdraad en die Muur, plek-plek amper ses meter van grys sement.  Die woorde van die Oos-Duitse kanselier voor 1961 is ‘n geskal oor die toneel: “Ons het geen bedoeling om ‘n muur op te rig nie.”

Graffiti, kruis en Muur

Graffiti, kruis en Muur

Ons stap onseker die nou paadjie tussen die bedrading deur, terdeë bewus van die masjiengewere wat op ons vanuit gesiglose wagtorings gerig word.  Aan die Oos-Duitse kant staan ‘n falanks van grenswagters nader met haarstyle uit die 1950s en ondersoek deeglik ons paspoorte deur. Onsself loop ook onder die loep.

Oos-Berlyn onthou ek as breë, verlate strate met verkoolde ruïnes uit die oorlog, sewe-en-twintig jaar tevore, hier en daar, en leë winkels, swak beligte museums, ‘n duur restourant en oral ideologiese slagspreuke.  Toe ek terug Suid-Afrika toe is, is dit met ‘n erg-vereenvoudigde siening:  dit is nie ‘n alternatiewe ekonomiese teorie, dié, nie;  dis ‘n masjiengeweer.

Sewentien jaar later val die Muur en kort voor lank versplinter die Sowjet-Unie self.  In 2014 vier die Duitsers ‘n kwart eeu sonder die Muur en die hereniging van die land.  Die Duitsers wou ook lande elders oor hierdie geskiedenis waarsku en stuur vir hulle stukkies van die Muur.  In St George’s Mall in Kaapstad staan daar ‘n herinnering.

Pleidooi aan die mensdom, Kaapstad

Pleidooi aan die mensdom, Kaapstad

Daar was ‘n voorstel dat ons die doodskamp Dachau naby Munchen besoek, maar Oos-Berlyn was vir my genoeg. Die ervaring het my diep geraak en in later jare het ek minder simplisties daaroor gedink.  Dit stem my tot erns, egter, hoeveel leiers vandag steeds dreig met die oprig van mure en self mure bou om hulle politiese probleme op te los.  “Iets is daar,” sê die digter, “wat nie van ‘n muur hou nie.”

Tekening deur Walter Hanel

Tekening deur Walter Hanel

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Frankryk

November, 2016

Beelde

Monument  –  urbaneukraine.wordpress.com

Niemandsland  –  gedenkstaette.de

Muur, kruis, graffiti  –  dreamstime.com

Berlyn Muur-fragment  –  mashable.com

Tekening deur Walter Hanel – ros.sarosedesign.com

Aanhaling: Robert Frost, Mending Wall. (my vertaling)    

  

 

 

KUFŰRSTENDAMM, Berlyn

Die Ku'Damm vanaf die jare Sestig

Die Ku’Damm vanaf die jare Sestig

Die Ku’damm, soos die Berlyners dit noem, het hierdie week, ses dae voor Kersfees, die toneel van ‘n tragedie geword.  Dit raak my want ek het, jare gelede, gestap juis waar die terreuraanval van Maandag die 19de Desember plaasgevind het.  Die plek het destyds ‘n groot indruk op my gelaat, een wat ek koester.

Kaiser Wilhelmkerk, 1900

Kaiser Wilhelmkerk, 1900

Die Kufűrstendamm is die Champs Elysées van Berlyn, soos een skrywer dit sê.  Dit is al eeue so en die fokuspunt was die Kaiser Wilhelmkerk, ‘n laat byvoeging in 1890 tot die herlewing van die gotiese styl in die 19de eeu.  In 1943 tref die eerste bomme die kerk en met die slag van Berlyn in 1945 het slegs die twee torings van die kerk bly staan.  Die een toring moes ná die oorlog gesloop word.

Die Duitse owerhede van Berlyn het besluit om die oorblywende toring van die kerk net so te behou,  verkool en ruïneer.  Tipies van die Berlyners se suur humorsin word die bouval “die Hol Tand” genoem.  In die voorportaal van die toring onthou ek ‘n plaak wat, namens die Duitse volk, belowe om nie weer oorlog te voer nie.

In die laat-1950s ontwerp die argitek Eiermann ‘n moderne kerk wat vanaf 1959 tot 1963 gebou is.  Die kontras tussen die oue en die nuwe kan nie groter wees nie.

Kontras

Kontras

Die nuwe toring, digby die oue, is vyfhoekig en, soos die agthoekige ouditorium, gestroop tot die essensie van reguit lyne, ‘n deurdagte toevoeging tot die modernisme.  Die Berlyners noem dit die “Die Lipstiffie en Poeierboks”.

Binne die kerk

Binne die kerk

Binne die moderne kerk was ek omring deur ‘n skouspel  van reuse vensters, lig wat deur meer as 21,000 heuningkoekblokkies kleurglas straal.  In een deel is daar ‘n gedenkmal aan die Christenleier martelaars wat deur die Nazis vermoor is.  In ‘n ander deel, ‘n kruis uit die 13de eeu.

Kleurglas

Kleurglas

As die bouval van die Kaiser Wilhelmkerktoring vir my die pyn van oorloë verbeeld, is die moderne toring en kerk die genesing.   En weereens word dié deel van die Kufűrstendamm die toneel van ‘n tragedie.

Waar dit gebeur het

Waar dit gebeur het

Maar agt-en-veertig uur na die gruwelike gebeurtenis is die Kersmark weer oopgestel.  In die agtergrond van die televisie-omroeper wat die donker besonderhede aan die wêreld kondig, stap die Duitsers verby … minder ondersteuners vir die mark en diep bedroef, ja, maar met bratwurst in die een hand en ‘n glasie glűwein in die ander … genesing as weerstand.

Skadus

Skadus

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Desember, 2016

Les Semboules, Antibes

 

Bron

Wikipedia

Beelde

Ku’damm  –  meros.org

Kaiser Wilhelmkerk 1900 –  rucius.org

Die oud en nuut  –  alarmy.com

Binneruim, moderne kerk  –  fodors.com

Kleurglasvensters  –  alarmy.com

Ku’damm vanaf toring  –  getty images

Silhoeétte  –  tripadvisor.fr

Tags:  terreuraanval, argitektuur, kersmark, Berlyn, oorlog, humorsin

 

Opgedra aan die slagoffers van dié wat die lewe haat

 

%d bloggers like this: