Category Archives: Uncategorized

Twee Forte

FORT CARRÉ EN DIE KASTEEL VAN DIE KAAP VAN GOEIE HOOP

{Die tweede van twee poste}

Maar daar was goeie rede vir Vauban, die energieke marskalk van die Son Koning, Louis XIV, om Frankryk deur te reis en in Antibes in 1682 vir Fort Carré aansienlik te kom versterk, met die verdubbelling van die mure.   Vorentoe was daar die slae in 1707 en 1746, wat op die slag van 1635 gevolg het.   En Antibes was hiervoor dankbaar – die hawe kry later Vauban se naam.

‘n Muur teen kanonballe

Beide Die Kasteel en Fort Carré het bakkerye in die gebou gehad.  Fort Carré is ‘n kleiner gebou en in die Kasteel was daar ‘n bakkery in elk van die vyf bastionne, asook ‘n smidswinkel.  In Fort Carré was daar net een bakkery en een smidswinkel.

Plaas die brode hierin

Waar die brode gebak het

In die Kasteel het die vertrek wat as kerk gedien het so groot rol gespeel dat die  eerste kerke nie in Kaapstad self gebou is nie.  Daarvoor moet ons Stellenbosch toe.  Fort Carré het die oorblyfsels van ‘n kapel.  Triestig om te dink hoeveel soldate wat gesterf het, eers daar op die knie gesak het.

Die kapel van buite

 

 

Die kapel van binne

In Fort Carré is daar 21 nisse vir kannone, en vir 50 gewere.  Ek weet nie of iemand al ooit die nisse in Die Kasteel getel het nie.  ‘n Grysaard-toergids het ons jare gelede bewoë meegedeel dat daar nog nie ‘n skoot van die bolwerke in woede gevuur is nie.  Ek wil dit glo.

Hierdeur gaan die dood

In albei forte is selle vir gevangenes.  Weereens is dié in Fort Carré minder.  In die Kasteel is daar ‘n reeks selle tesame met die Donker Gat wat min lig en min lug gehad het. ‘n Prisonier se gees en vlees is gou gebreek.  Adam Tas, die bekendste gevangene, kom hiervan getuig.  Fort Carré het die betwisde legende dat Napoleon Bonaparte self daar in 1794 vir twee weke gevange was.  Dit het oor sy assosiasie met Robespierre gegaan, ‘n revolusionêre wat die Revolusie opgeëet het.   Na 21 luisterryke jare sou Napoleon nader aan Die Kasteel verkeer met sy sesjarige verblyf op St Helena, waar hy ‘n fynproewer van Constantia-wyne geword het.

Fort Carré, skildery deur Nicolas de Stael, 1955

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 Mei, 2017

Bronne

France People, History and Culture.  Cecil Jenkins. (Running Press, Philadelphia. 1912)

“A brief history of the Castle of the Cape of Good Hope” – South Africa/History

Fort Carré – offisiële webwerf

 

Beelde

Fort Carré uit die lug – Antibes Juan-Les-Pins. C. Dronnsart, R. Dumenil (reds.) Editions A.R.T. 1991.

Die Kasteel uit die lug –  castleofgoodhope.co.za

Portfolio.collection.com

Colonialvoyage.com

My foto’s

 

 

 

  

 

 

Advertisements

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die tweede pos in ‘n reeks van drie]

Die eetkamerstoep

Om gewoont te raak aan Koreaanse kos is om iets soos verslawing te betree.  Dit is die fyn kruie smaak wat hulle regkry met die tradisionele gebruike van gispotte.  Dit geld veral vir ghiemtjie, kool, wat op honderde maniere voorberei word en was vir my ‘n openbaring.  Varkvleis is populêr maar in die klooster waar ek was, is die kos vegetariër, en nie minder smaakvol nie.  Jare later toe ek weer Koreaanse kos in Kaapstad eet, is ek pens en pote gekettie in die geure en smake van daardie kos.

Gispotte

In die loop van die dag het ons ‘n non ontmoet, ‘n seningrige vrou met ‘n stralende gelaat en sy neem ons vir ‘n uitstap die heuwels in.  Sy wys die veldblommetjies aan die kant van die bospaadjie uit.  Nie eie aan die Koreaanse skiereiland nie, sê sy, maar gesaai deur die hande van Amerikaanse soldate tydens die burgeroorlog van die vyftigerjare.  As dit maar al was, wat hulle hier gelaat het.

Ek het in die hooftempel en in die buitepanele die gewyde kuns afgeneem, klein skilderye veral ook die legendes van die Boeddha en die koei.

Boeddha en die koei

Die Boeddhisme van Suid-Korea is Zen en dit sal veel neem om dit te probeer verduidelik.  Maar die ideaal, soos ek dit verstaan, is om van weerstand ontslae te raak en die Groot Niksheid te bepeins.  Ek kan nie verwag dat dit vir ‘n nie-Boeddhis duidelik sal wees nie.  Aan die muur was die Zen-simbool.

Die Zen-simbool

Die Sondagoggend is ons na die kamers van die hoofmonnik vir tee genooi, veel meer as net ‘n sosiale geleentheid.  Hy het deur ‘n tolk gepraat van die ritueel van teedrink, vir my innemend, maar, ek erken, die groen tee is vir my smakeloos.  Op hulle beurt kan hulle nie Westerse tee verdra nie.  Hy het ook gepraat oor die lotusblom. Nog ‘n openbaring vir my.  Dit is ‘n simbool wat die hele Asië deurtrek en is belangrik vir Boeddhiste, Hindoes en sekere Moeslims.

Die lotusblom

Hy self, ‘n gesette man, knipoog vir ons:  so dan en wan neem hy ‘n repie varkvleis en selfs ‘n dop.  Op die rak van sy studeerkamer was ‘n beeldtjie van die Maer Boeddha voor sy openbaring:  daar moet ‘n balans tussen vlees en gees gehandhaaf word;  jy is nie meer geestelik as jy die liggaam verontag nie.  Tog het die Maer Boeddha ‘n boodskap vir die mensdom, sê die hoofmonnik vir ons.  Iets om te bepeins.

Die Maer Boeddha

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

DRIE DAE IN ‘N TEMPEL – ‘n besoek aan Yuongpyeongsa

[Die derde in ‘n reeks van drie poste]

Die laaste oggend het ek die tuine afgeneem, die hoof Boeddha-beeld en verskeie interessanthede.

Yuongpyeongsa-Boeddha

Beeld en hooftempel

Die non het kom gesels met ons en ons attent gemaak op die ou monnik wat ‘n meditasie doen op die buitelyn van die tempelhof.   Hy is oor die negentig, sê sy, en al jare afgetree.  Ek hou hom dop en voel die eeue van die Boeddhisme in sy wandelgang aan, ‘n geskiedenis vanaf 300 n. C. toe Boeddhisme eers uit Indië hier verskyning gemaak het.

Die ou monnik

Ou Monnik by tempel

Ek kom op ‘n Tao-rots af, ‘n simbool wat eintlik veel ouer as die Boeddhisme self is.  ‘n Rots van dié soort is gewoonlik ‘n simbool van die wordende chaos in die heelal en is sentraal aan Taoisme wat seker uit die oertyd in China al gevolg is.

Tao-rots

My besoek aan Yuongpyeongsa was op ‘n manier die vaarwel aan my jaar se verblyf en klasgee in Suid-Korea.  Dit was in Meimaand en die natuur was op sy mooiste.  Vir Boeddhiste is die natuur sentraal aan hulle geloofsisteem.  Weereens, gaan dit oor Aarde en Gees wat ‘n eenheid vorm, siel en liggaam, ‘n idee in ‘n doudruppel weerspiëel.  Vir dié rede het alles waarde en is alles deel van mens se genesing en geestelike groei.   Hierdie drie dae is by my nou.  Sal altyd wees.

Die heelal in ‘n doudruppel

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2017

 

My foto’s

 

 

 

 

 

NEFERTITI – “Die Mooi Een kom”

Meer as veertig jaar gelede het ek die voorreg gehad om die Nefertiti-beeld se besigtig in die Charlottenburg Paleis, Berlyn, waar dit destyds uitgestal  was.  (Huidig, Neue Museum, Berlyn.) Het ek dit, as ‘n jong man, waardeer?  Wat beteken dit om so iets te waardeer?

Die hierogliewe noem haar "Die Mooi Een"

Die hierogliewe noem haar “Die Mooi Een”

Dit het my seker imponeer, maar wat ek meer onthou het, was die inligting dat Duitse argeoloë Egipte verbied is, juis vir “steel” van groot patrimonie.  Soos die Britte met die Elgin-Marmerbeelde, skop die Duitsers vas:  Nefertiti is ons s’n.

T.S. Eliot sê ons dat kuns nie oor die jare verbeter nie.  Geen kunstenare voor of ná die Egiptiese millennië het weer bereik wat hulle so mildelik bereik het nie – die balans tussen gestileerde en natuurlike uitbeelding.  En nêrens sien mens dit so sterk as in die Nefertiti-beeld, wat seker 1350 jaar voor Christus geskep is, ‘n werk uit duisende jare se kunsgeskiedenis.

Is die beste toe bereik?

Is die beste toe bereik?

Ek kan onthou dat ek wel gedink het, Hoe kontemporêr is hierdie skoonheid nie!  So kontemporêr as iemand soos Angeline Jolie uit Hollywood uit en dit in die jaar 2016.  Maar Nefertiti is slanker, meer elegant en ja, gestileerd.  Kyk jy, sien jy die energie, ‘n karaktertrek van soveel Egiptiese beelde, dit wat deur die natuur inspireer is.

Die kuns van die Khoi-San is vir my die voorlopers van daardie energie.  Die diere in Khoi-San-kuns is lewensgetrou, van die mees akkuraat in die kunsgeskiedenis – en meestal staties.  Maar die mens, ryklik gestileerd, is vol beweging en energie.  In die Egiptiese kuns word dié teëpole een.

Khoi-San jagters, Castellon, Spanje

Khoi-San jagters, Castellon, Spanje

Egiptiese soldate

Egiptiese soldate

Nefertiti, voel ek, bereik die uitbeelding van ‘n godin.  Tog is die gelaat sensueel.  Sy kyk ver, oor mense, oor stede, oor landskappe, oor die kurwe van die aarde na vreemde sterrestelsels.  Mona Lisa, in teenstelling, kyk na jou en sy wil-wil glimlag – ‘n kleiner wêreld, dié.

Is ek nader aan waardering van die Nefertiti-beeld?  Is enige iemand?  Hoe kan ons ooit iets ten volle waardeer wat so hemels is, so aards?

Waardeer ons haar?

Begin ons haar waardeer?

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

November, 2016

Les Semboules, Frankryk

Bronne

Wikipedia:  Nefertiti

Beelde

Nefertiti – internaute.com

Nefertiti  −  kingtutone.com

Khoi-San jagters – Castellon, Spanje (bron verloor)

Egiptiese soldate  −  nilewavetravel.wordpress.com

Nefertiti  −  femmecelebres.com

 

Mark Twain – skrywer, humoris

Man+Mount - Copie

%d bloggers like this: