‘n Besoek aan Monte Carlo

Eerste in ‘n reeks van twee

My lewensmaat Claudie sê sy hou nie van Monte Carlo nie.  Sy sê dit voel vir haar soos ‘n filmstel en as jy agter die fasades van die geboue kyk, sien jy massiewe stutbalke wat die karton en plastiek regop hou.  Maar dan, my liewe mens, hou jy nie van Antibes nie, nie van Nice nie, nie van … die lys gaan voort.  Maar sy het tog met ‘n vriendin ingestem dat ons vir ‘n paar uur daar gaan ronddwaal.

Monte Carlo

Ja, daar is altyd die reaksie van dié wat nie massiewe bankstate het nie teenoor hierdie plek waar van die duurste eiendom op aarde is.  Omdat Monaco en sy administratiewe hart, Monte Carlo, ‘n onafhanklike koningryk is, is daar internasionale wette wat mense met geld trek, dié wat in party gevalle inkomsbelasting wil vryspring.  En dan is daar die welbekendste casino in die wêreld.  Daar word oor die Mafia gefluister en dit verbaas my nie.  Kyk maar na die geskiedenis van hierdie merkwaardige plek wat deur die eeue ‘n sokkerbal vir moonthede geword het.

Aldus, ‘n historikus:  In 1297, het ‘n rebel faksie van Genoa, gelei deur ‘n lid van die Grimaldi-familie wat altyd die kleed van ‘n monnik gedra het en dus die naam “Die Monnik” op hom gejaag het, val toe die streek van Monaco binne.   Dit is juis dié geskiedenis wat mense laat dink dat die woord Monaco van monnik afkomstig is.  Maar dit is nie so nie.  Die naam, deur Finisiërs ses, sewe honderd jaar v.C. gegee,  was Herculis Monoeci, wat dui op die plek van rus, die plek waar jy kan stilhou.  Die woord familie in dié relaas dra groot implikasies, veral as jy aan die Mafia dink.

Ons het deurgestap.  Die gebou het nie soos ‘n filmstel vir my gelyk nie.

Tog was daar iets nuuts in die voorkomste, iets te skoon en verhewe bo die vernieling van tyd.

Hoe Monte Carlo vandag lyk, kom hoofsaaklik uit die 19de-eeu uit toe daar groot vernuwing in die agitektuur was.

Hier is die beroemde Casino, gebou in 1860.  Die argitek was ene Gustav Eiffel.

Ons het dit binne gewaag.  Ek kyk op na die dak, lig my kamera en hoor die trippe-trappe van die deurwag wat my kom belet het om foto’s te neem.  Hy was nie 100% betyds nie.

 

In dié plek, as die mure kon praat, sou hulle praat oor konings en prinse, oor die aristokrasie van Europa en  – verbasend –  oor Karl Marx wat dié plek al besoek het.  Hulle sou La Belle Otero noem, ‘n glansryke geskiedenis van ‘n danseres, wat uiteindelik verdonker het.

 

© Willem

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

 

Bronne

Wikipedia :  Monte Carlo, Monaco

Michael Nelson :  The French Riviera A History (Matador, 2017)

David Abulafia:  The Great Sea (Penguin Books, 2014)

 

My foto’s, gepubliseer deur RotsWolk-Uitgewers

 

Kyk ook:  La Belle Otero – die kraak in die Kristal  www.loertoer.wordpress.com  7.7.2017

Karl Marx en die roelettafels van Monte Carlo  www.loertoer.wordpress.com  5.6.2018

 

 

 

Leave a comment