Tag Archives: verdraagsaamheid

Tempels in Suid-Korea

Die eerste in ‘n reeks van twee

Die tempels wat ek besoek het, het my tot denke en gevoel gestem.  Die Boeddhisme, lyk dit my, wil die geestelike en die estetiese as een ervaar.  Wat my ook opgeval het is, is dat die tempels klein ruimtes is, seker ‘n derde van die gemiddelde kerk.  Die ervaring van tempelbesoek vir die toegewydes sal dan altyd ‘n intieme ervaring wees.

Dié tempel is Mitasa, gebonde aan die Bisan-ri begrafplaas.  Die tempel word dan hoofsaaklik vir begrafnisse gebruik met ‘n ruimte vir twee, dalk drie, gesinne.  Mitasa is ‘n klooster van dertig nonne.  Van hulle mag die dienste waarneem.  Ek is dardie dag genooi om met die nonne die vegetariër noenmaal te eet, ‘n rare ervaring vir my.

Hierdie dubbelverdieping is die hooftempel van die Magoksa reeks, ‘n ongewone ontwerp vir ‘n tempel.  Ek het die voorreg gehad om dié historiese plek te besoek saam met ‘n kollega van my en haar man, altwee toegewyde Boeddhiste.

Hier is ‘n reeks tempels op die rivier.  Mens kan hulle amper kapelle noem.  Ek is gesê dat Magoksa is ‘n spreekwoord van verdraagsaamheid:  die splintergroepe in Boeddhisme is almal hier te vinde, selfs sjamanisme, die oervorm van die mens se geestelikheid.  Tog kon ek ‘n sweem afkeuring in my kollega se man se stemtoon agterkom toe hy dié dinge vir my noem.  Hy self was seker ‘n puris.

Hierdie gebou by Magoksa kry mens by die meeste tempels.  Dit is ‘n oop struktuur en word ‘n jong-ja  genoem.  As jy kyk, net regs van die onder deel van die boomstam sien jy die vorm van die Silla-klok wat die toegewydes roep.  Hier word die natuur en die geestelike een.

 

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Maart, 2019

 

My foto’s

 

 Kyk ook

Magoksa 21.12.2016

Drie dae in ‘n tempel 1.5.2017

Bongeunsa 15.8.2018

Boeddha’s in Suid-Korea 25.7.2018

Die Silla-Klok 4.1.2019

 

 

 

 

MAGOKSA – kruldaktempels in die heuwels

 

Suid-oos Korea (Suid)

Die Suid-Ooste, Suid-Korea

Tussen die groen beboomde heuwels van die suid-ooste in die Koreaanse skiereiland kom mens op die enklawe van die Magoksa-tempelreeks af.  Dit neem ‘n halfuur van die stad van Cheongju, op die gerieflike snelweg, maar, sê ons bestuurder Dr. Kim, dit was 600 jaar gelede ‘n ander storie.  Destyds duur dit drie, vier dae vir pelgrims om daar uit te kom. Hy neem vandag van sy praktyk af om vir my en sy vrou wat saam met my in die laerskool klasgee na Magoksa toe te neem.   Ons parkeer in ‘n klein dorpie en neem die wandelpad deur die woude.

Wandelpad na tempels

Portaalhek op wandelpad na tempels

Skilderye by Portaalhek, wandelpad

Skilderye by Portaalhek, wandelpad

Vir hom is dit betekenisvol want, as mediese student, was hy destyds hier die voorsitter van die Boeddhiste-vereniging en daar is vir hom ‘n rykheid aan herinneringe.  Magoksa is veral belangrik vir nagenoeg sewentig tempels in die streek en onderneem geestlike leiding en geldelike steun.

Bedeklippe in die woud langs wandelpad

Bedeklippe in die woud langs wandelpad

Tempels op Taehwa-rivier

Tempels op Taehwa-rivier

Aan die oewer van die Taehwa-rivier is die boom- en plantegroei so ruig dat mens mooi moet kyk om die kruldaktempels raak te sien.  Die inligtingsbord is trots op die stelling dat dié tempels in die Yin en Yangkronkels van die rivier gevestig is, en dit vanaf die jaar 643 n. C. , drie honderd jaar nadat Boeddhisme Korea vanaf Indië bereik het.

Poster van monnike wat die brug oorkruis

Poster van monnike wat die brug oorkruis

Die brug oor die Taehwa-rivier

Die brug oor die Taehwa-rivier

Ons stap oor die brug wat groot simboliese betekenis vir Magoksa inhou.  Vir jong monnike is die oorkruising van hierdie brug die finale toewyding wat hulle maak.  Onder in die groen water krioel dit van visse wat ook simboliek dra en wat kleurvol uitgebeeld word.

Visse

Visse

Visikoon

Visikoon

Dr. Kim, met sy vrou as tolk, wys ‘n kleinerige tempel versigtig uit, seker wat ons ‘n kapel sou noem, en agter sy hand fluister hy  “Dis die sjamaniste.”  Interessant dat, hier by Magoksa, is dit een van die parallel bewegings in die Boeddihisme wat verdra word.  Dr. Kim se gebare en uitdrukking dui vir my dat sy verdraagsaamheid hier ietwat getoets word.

Hoof Tempelsaal, Magoksa

Hoof Tempelsaal, Magoksa

Ons kom te staan voor die hoof tempelsaal, ‘n gebou, sê hy, wat  uiters ongewoon is.  Die struktuur van tempels in Korea is eenvlakkig en hier is daar twee verdiepings.  Skoene by die deur en ons gaan binne toe. “Geen foto’s, asseblief,” fluister hy.  In die altyd-skemer van die tempel troon daar drie Buddha-beelde, met goue omhulsel.  Die middel een, fluister sy vrou, is “Sakyamuni”, die naam vir Gotama, die Indiese leier wat Boeddhisme gestig het.

Boeddha-beeld, elders geneem

Boeddha-beeld, elders geneem

In die vier hoeke van die saalruimte is massiewe boombalke, ekspressief krom, die ongelooflike grein met liefde vernis.  Hierdie balke is blykbaar wat die struktuur stut.  Hier en daar is die toegewydes betrokke met hulle oefening-meditasies − staan, kniel, voorkop-op-die-grond, staan …

Onder die Joseon-koningskap, ses honderd jaar gelede, sê Dr. Kim, het die owerhede wat Confuciaans was, die Boeddhisme vervolg en probeer onderdruk.  Vir die rede het die toegewydes hulle van die stede en dorpe onttrek en in dié verafgeleë streek Magoksa gevestig en opgebou.  Maar daar was in die verlede ‘n groter vyand, voeg hy by met ‘n skaduwee oor sy gesig.  In 1592, soos elke kennisbord op ‘n toerisroete in Suid-Korea vir jou sal inlig, het die Japanese die land van die noorde tot suide in puin gelê.   Magoksa, sê hy met gevoel, is eers finaal in 1652 restoureer.  Ek sal dit vir ‘n rede van my eie onthou, sê ek.

Geloof en natuur word een

Geloof en natuur word een

Mev. Kim, Dr. Kim en ek

Mev. Kim, Dr. Kim en ek

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Magoksa, Suid-Korea

Meimaand, 2008

 

Bron

Met dank aan Dr. Kim

Inligtingsbord

Wikipedia

Foto’s  –  Willem

 

 

VOLKSLIEDE en die brand in die neus

Die nuwe bestel in Suid-Afrika in 1994 het ‘n kombinasie van die volksliede daargestel, ‘n ongewone en bedagsame reëling.  Vir die meeste mense was dit voldoende, sover ek weet.

C.J. Langenhoven

C.J. Langenhoven

“Die Stem van Suid-Afrika” / “The Voice” is deur C.J. Langenhoven (liriek) en M. de Villiers (musiek) tussen 1919 en 1921 geskryf.  Die liriek is ‘n poëtiese beskrywing van die grootse skoonheid van die land en word, in die opvolgende vers, ‘n gesang van toewyding.  Die pyn van die Anglo-Boere-oorlog, minder as 20 jaar tevore, was nog vars by hulle.

Enoch Sontonga

Enoch Sontonga

“Nkosi Sikelel’ Afrika” is in 1897 geskryf deur Enoch Sontonga en is ‘n gebed-gesang wat die ganse vasteland omhels en vra dat die “oorlog en lyding” van Afrika se mense eindig.  Dit kom na ‘n bloedige 19de eeu en 500 jaar van slawerny.

Rouget de Lisle

Rouget de Lisle

“La Marseillaise” is in 1792 tydens die Franse Revolusie deur Rouget de Lisle geskryf.  Dit is ‘n marslied vir soldate.  Die liriek is kragtig, om dit sagkuns te stel:  “Die bloedige vlag is gehys … Hulle (die vyand) sny ons seuns en kamerade keelaf … Laat hulle onreine bloed ons landerye natlei.”  En dit teen ‘n naamlose “tirannie”.

 

As die liriese toonaard van die drie volkslied uiteenloop, maak die musiek my bewoë, ja, brand in my neus.  Ek het “Die Stem” vir baie jare eenmaal per week gehoor en gesing in die skool waar ek klasgegee het en dit is verweef in die some van my brein.  “Nkosi” het ek eers as skoolseun gehoor toe die hoof die werksvolk bied om dit vir die skool op te voer.  Die drie-tot-vierdeligeharmonie het my nog nooit verlaat nie.

Suid-Afrikaanse vlag

Suid-Afrikaanse vlag

Deesdae word die “Marseillaise” meer spontaan, meer dikwels, in die openbaar gesing.  Dit was ‘n ontroerend ervaring toe die hele Franse parlement spontaan op die been kom en dit sing.  Dit het glo laas tydens die Eerste Wêreldoorlog gebeur.  En dit was Januarie, 2015, na die terreuraanvalle in Parys.

Indruk van die Franse vlag

Indruk van die Franse vlag

‘n Vreemde lot om deur drie volksliede geraak te word.  Dalk moet ek maar klaarkry en my tot “La Internationale” begewe, en ek sal dit maar op Afrikaans sing, behalwe hulle sê my dat die naam vanaf die 1920s het verander na “O Boereplaas” en die liriek is bietjie anders.

 

© Will van der Walt 

http://www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Desember, 2016

 

Bron

Wikipedia

 

Beelde

Enoch Sontonga – timeslive.co.za

C.J. Langenhoven – azquotes.com

Rouget de Lisle – fr.wikipedia.org

Suid-Afrikaanse vlag  –  getty images.co.uk

Franse vlag  – windows10free.org