Koos du Plessis – skink nog ‘n uur

Hoe stuit ek my verlange vir my vriende en vir die Wes-Kaap?  Daar is goed wat ek kan doen.  Die een wat my regtig raak, is om Koos du Plessis se lirieke of gedigte te lees.  Ek hét ‘n pos oor sy lirieke en hier is ‘n vuisvol gedigte.

André Brink het op ‘n kol gesê die skrywer put inspirasie uit sy onsekerheid.  Wat was Koos se onsekerheid?  Op die agterblad van die bundel Skink nog ‘n uur uur in my glas  kry ek dié verduideliking:  “… boweal tastend na God, verwoord (dié gedigte) die mens se weerloosheid en afhanklikheid”.

 

Wekker

In reëlmaat van slag tot slag

tik hy die tyd verby

In watter stil uur van die nag

sal die alarm lui?

 

 

 

 

 

 

 

 

Tempel en riool

In elke dag

se eet en drink

in elke nag

se drif wat stink

na sweet, is ek

riool én drek.

 

In elke dag

se slentergang;

in elke nag

se vér verlang,

se peins en praat

oor ons en Hom

is ek Sy tempel;

heilig-dom

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gebondene

Hy boei my voete aan beton,

maar laat albei my arms vry

sodat ek in die felle son

‘n tienpuntige skadu kry

en nag ná nag kan ek hoër reik

tot ver verby die oog se kyk.

 

Naggesig

Slaap is vir die dag bedoel.

Dus slof ek voordag huis toe  –

waar dit ook al is.

 

Ek sien nooit die lig nie –

dit was óók so bedoel –

en dis beter so,

want die lig verblind ‘n mens.

 

Waak is vir die nag bedoel.

En hy wat in die nag loop,

sien wat hy nooit moes geraai het nie;

want die nag gee hom ander oë.

 

En hy wat in die nag lééf,

kan nooit oorval word

deur die donker nie.

 

Melaatse

Ek dra die smet

van die verset

teen menswees in my om

en elkeen erf

die stil verderf

deur na aan my te kom.

Maar poel nóg spieël

verklap my siel

se etterende wond

wat, diep ontsteek,

steeds swel en breek

en sug stort uit my mond.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Grafskrif

Sy lewe lank was hy in transito:

op pad van iewers;

op reis na êrens.

 

©  Willem

http://www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

Mei, 2020

 

Bron

Koos du Plessis:  Skink nog ‘n uur in my glas  (Queillerie. 1995)  

 

Kyk ook:  Koos du Plessis – ‘n vuisvol lirieke   www.loertoer.wordpress.com    13.11.2018

Tagged: ,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: