Ek onthou Sempé, of liewer, Klein Nikolas, sy tekenkarakter, uit my kinderjare — die klein rakker, met sy deurmekaar hare, groot oë en stralende glimlag, wat met sy onnutsige vriendekring ‘n herrie opskop. Dié tekenstrook is met René Goscinny geskep, ‘n man wat ook geïllustreer het, ‘n gawe vir woorde en stories gehad het en ook met Asterix betrokke was. Teen die middel-sestigerjare is Klein Nikolas in meer as veertig tale vertaal.
Wat is dit wat spotprentstrokies so suksesvol maak? Seker Sempé se innemende tekeninge, die geringste strepie akkuraat, en Nikolas, altyd met ‘n glimlag behalwe as grootmense hom oordonder, triomferend teen al die opdraand wat klein seun beleef. Sy vriende — ons herken hulle uit ons eie kinderjare — is met deernis en verbeelding gedoen. Dan ook, die rake siening van Goscinny.
Sempé het natuurlik meer as Klein Nikolas geteken. Hy is dikwels deur The New Yorker uitgenooi om die omslag van hierdie weekblad met sy fyn besonderhede en sagte pastelkleure te versier. In Frankryk het hy spotprente, soms sonder woorde in sy kenmerkende styl, vir Paris-Match gedoen.
Altyd aan die kant van die kinders, teken Sempé met liefde, ‘n teer humorsin en met filosofiese diepte. Onder die groot tekenaars, staan hy steeds sy plek vol.
© Willem van der Walt
Les Semboules, Antibes
Oktober, 2019
Bronne
Paris-Match Hors-Serie : Goscinny & Sempé : Le Petit Nicolas de A à Z 60e Anniversaire. April, 2019
Wikipedia : Jean-Jacques Sempé
Wikipedia : René Goscinny
Beelde
Paris-Match Hors-Serie : Goscinny & Sempé : Le Petit Nicolas de A à Z 60e Anniversaire. April, 2019
Osada-skyrock.com
Colemaison.fr
Agoravox.fr
Petitnicolas.com
Image-republic.com
Leave a Reply