Die tragedie van Fort Carré

Iemand het gesê jy is nie vry nie, terwyl daar bloed aan jou swaard is.  Die tragedie van hierdie gebeurtenis in Antibes, etlike weke na die bevryding van die dorp van Duitse besetting, is die verhaal van Frankryk as geheel  —  Fransman het teen Fransman oorlog gemaak.

Tydens die Italiaanse besetting onder Mussolini van die Côte d’Azur (1940 – 1942) was daar samewerking onder mense in Antibes. ‘n Karige tagtig jaar tevore was die groter deel van die streek Italiaans, met die gevolg dat tot vandag toe is daar vele Italiaanse name onder die mense.  Dié samewerking was toe die grondslag vir die Duitse besetting (1942-1944).  Die bitterheid teen die collabos, soos hulle genoem is, was diep.  Ons kan ons indink hoe mense tydens die Anglo-Boere oorlog oor die hênsoppers gevoel hetDie Weerstand het gou hulle mening gelig met sabotasie en sluipmoorde teen die samewerkers, veral ook teen die militia, van die Putain-regering.  Dié militia was nog wreder as die Gestapo.

Ná die bevryding in Augustus, 1944, begin die Weerstand met mening wraak teen die collabos neem.  Een van dié wat vir ondervraging aangekeer is, was ‘n man met die naam Angeli wat bekend was vir sy pryswoorde teenoor Marskalk Putain wat nou in die tronk gesit het.  Die argief is versigtig om te sê dat daar niks anders teen Angeli bewys kon word nie.  Die F.T.P. eenheid van die Weerstand stuur toe een van hulle leiers Demiquelis om Angeli sy dokumente te laat gaan haal.  Toe hulle by die woning kom, was sy dogter daar, Mme. Carboni, met haar vriend mnr. Jean Brondeau.  Van die F.T.P. lede het buite waggestaan.

Dit is toe dat Lingua, een van die wagte, skote binne hoor.  Deur ‘n oop venster skiet Lingua toe wie hy kon, maar sy kameraad Demiquelis is dood, saam met die res in die huis.

Die argief sê dat ons nooit werklik sal weet wat daar gebeur het nie.  Het Demiquelis vermoed dat Angeli ‘n pistool uitgehaal het, met die implikasie dat sy samewerking met die Duitsers veel groter was?

Demiquelis was ‘n persoonlike vriend van Kaptein Pietri wat in die Weerstand ‘n leier was.  Pietri het seker in daardie oomblik blinde weerwraak op alle collabos gesweer.  Hy storm die stadsaal binne waar die leier van die Weerstand in die Côte d’Azur, Emile Olivier, aan beheer was en eis vyftig aangehoudenes in die Fort Reille.  ‘n Hewige redekawel volg en uiteindelik gee Olivier toe:  Pietri kan tien van die aangehoudenes neem.  Wat gaan hy met hulle doen?  Nee, sê Pietri, hulle gaan Fort Carré toe waar daar vir hulle werk is.

Die tien mense, van hulle met geringe aantuigings, word toe deur die Weerstand vanaf die kleiner fort na die grote vervoer.  Die argief noem die tien op hulle name, plegtig, amper met deernis, een vir een.

By Fort Carré — die toergidse wou nie noem of dit binne of buite die mure van die Fort was nie — brutaliseer die lede van die Weerstand hierdie aangehoudenes, sleep hulle rond, gooi rotse op hulle en toe klink die masjiengewere wat mense in die Fort jare later nog onthou het.  De laaste een is geskiet.

Verstaan alles in die konteks waar dit gebeur, sê hulle.  Daar is meermale hierdie argument wat poog om gruweldade te versag.  Die prokureur wat Breaker Morant tydens die Anglo-Boere oorlog verdedig het, het hierdie argument gebruik.  Morant het  Boere prisoniers summier geskiet nadat stukke van sy vriend voor hom neergelê is.  Met die Weerstand was dit jare se woede, marteling en teregstelling deur die Duitsers en deur die Franse militia.  Maar gruweldade kan nie versag word nie.  Gevoelens wat daar opgekrop word, moet op ander maniere genees word.  Anders word ons die vyand.

Hierdie tragedie was plein en simpel haatlik, het niks bereik nie, het die reeds-tragiese situasie erger gemaak en die moderne geskiedenis van hierdie waardige dorp besmet.

© Willem van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Les Semboules, Antibes

September, 2019

 

Bron

Pierre Tosan: Dictionnaire d’Antibes Juan-Les-Pins. HEPT – Antibes, 1998.

 

Beelde

My tekeninge

My foto

 

DIE VYAND

Die laaste skote verstil.  Die vyand verdwyn oor die grens.  Ons vind die medewerkers; skeer hulle koppe kaal voor jouende skares.  Ek neem die slegstes van hulle na daardie woud en skiet hulle.  Toe vra ek die spieël:  “Wat soek ek aan diékant van die grens?”  Ek is die vyand.

Frankryk

(Uit Flitssages deur Willem v d Walt. RotsWolk-Uitgewers, Kaapstad)

Tagged: , ,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: