Tussen die groen beboomde heuwels van die suid-ooste in die Koreaanse skiereiland kom mens op die enklawe van die Magoksa-tempelreeks af. Dit neem ‘n halfuur van die stad van Cheongju, op die gerieflike snelweg, maar, sê ons bestuurder Dr. Kim, dit was 600 jaar gelede ‘n ander storie. Destyds duur dit drie, vier dae vir pelgrims om daar uit te kom. Hy neem vandag van sy praktyk af om vir my en sy vrou wat saam met my in die laerskool klasgee na Magoksa toe te neem. Ons parkeer in ‘n klein dorpie en neem die wandelpad deur die woude.
Vir hom is dit betekenisvol want, as mediese student, was hy destyds hier die voorsitter van die Boeddhiste-vereniging en daar is vir hom ‘n rykheid aan herinneringe. Magoksa is veral belangrik vir nagenoeg sewentig tempels in die streek en onderneem geestlike leiding en geldelike steun.
Aan die oewer van die Taehwa-rivier is die boom- en plantegroei so ruig dat mens mooi moet kyk om die kruldaktempels raak te sien. Die inligtingsbord is trots op die stelling dat dié tempels in die Yin en Yangkronkels van die rivier gevestig is, en dit vanaf die jaar 643 n. C. , drie honderd jaar nadat Boeddhisme Korea vanaf Indië bereik het.
Ons stap oor die brug wat groot simboliese betekenis vir Magoksa inhou. Vir jong monnike is die oorkruising van hierdie brug die finale toewyding wat hulle maak. Onder in die groen water krioel dit van visse wat ook simboliek dra en wat kleurvol uitgebeeld word.
Dr. Kim, met sy vrou as tolk, wys ‘n kleinerige tempel versigtig uit, seker wat ons ‘n kapel sou noem, en agter sy hand fluister hy “Dis die sjamaniste.” Interessant dat, hier by Magoksa, is dit een van die parallel bewegings in die Boeddihisme wat verdra word. Dr. Kim se gebare en uitdrukking dui vir my dat sy verdraagsaamheid hier ietwat getoets word.
Ons kom te staan voor die hoof tempelsaal, ‘n gebou, sê hy, wat uiters ongewoon is. Die struktuur van tempels in Korea is eenvlakkig en hier is daar twee verdiepings. Skoene by die deur en ons gaan binne toe. “Geen foto’s, asseblief,” fluister hy. In die altyd-skemer van die tempel troon daar drie Buddha-beelde, met goue omhulsel. Die middel een, fluister sy vrou, is “Sakyamuni”, die naam vir Gotama, die Indiese leier wat Boeddhisme gestig het.
In die vier hoeke van die saalruimte is massiewe boombalke, ekspressief krom, die ongelooflike grein met liefde vernis. Hierdie balke is blykbaar wat die struktuur stut. Hier en daar is die toegewydes betrokke met hulle oefening-meditasies − staan, kniel, voorkop-op-die-grond, staan …
Onder die Joseon-koningskap, ses honderd jaar gelede, sê Dr. Kim, het die owerhede wat Confuciaans was, die Boeddhisme vervolg en probeer onderdruk. Vir die rede het die toegewydes hulle van die stede en dorpe onttrek en in dié verafgeleë streek Magoksa gevestig en opgebou. Maar daar was in die verlede ‘n groter vyand, voeg hy by met ‘n skaduwee oor sy gesig. In 1592, soos elke kennisbord op ‘n toerisroete in Suid-Korea vir jou sal inlig, het die Japanese die land van die noorde tot suide in puin gelê. Magoksa, sê hy met gevoel, is eers finaal in 1652 restoureer. Ek sal dit vir ‘n rede van my eie onthou, sê ek.
© Willem van der Walt
Magoksa, Suid-Korea
Meimaand, 2008
Bron
Met dank aan Dr. Kim
Inligtingsbord
Wikipedia
Foto’s – Willem
Tagged: Boeddhisme, Confuciaanisme, Joseon-ryk, natuur, simboliek, sjamanisme, verdraagsaamheid
Leave a comment