HOY’S KOPPIE, Hermanus

 

Hoy's Koppie

Hoy’s Koppie

In die middel van die voorstede van Hermanus — die gholfbaan, ‘n skool, huise, die begrafplaas — is daar ‘n klipkop, soos mens in die Karoo sou verwag, met sy rotsrif.  Geoloë meen dit is 400 miljoen jaar oud.

Kriskras sedimentere patrone wat die era dui

Kriskras sedimentere patrone wat die era dui

Voorheen heet dit Steenkop, maar die inwoners van Hermanus wou Sir William Hoy (1868-1930) met die naam eer en dié heer en sy vrou Gertrude is op die kruin begrawe.  Daar is ‘n paradoks in Sir William se geskiedenis met die dorp van Hermanus.  Al was hy ‘n hooggeplaasde in die Suid-Afrikaanse spoorweë, wou hy nie dat treine en ‘n stasie vir hierdie dorp, na aan sy hart, bederf nie.  Dus is die Hermanus Stasie vandag die stasie wat nooit ‘n stasie was nie.

Die latteloopweg

Die latteloopweg

Met ‘n latteloopweg op, is jy omring deur fynbos van alle soorte, onder hulle jy-kan-ons-maar-vier-fynbosblomme.

Vier my, vier my

Vier my, vier my

Na vyf minute se stap kom jy op ‘n grot af.  Die versperring belet toegang:  dit is ‘n argeologiese werf, dié.  In dié grot, sê die bordjie, het mense tussen vyftig en sewentig duisend jaar gelede hulle bestaan gevoer.  Die vondse is tussen 1925 en 1935 opgediep.

Wat wag nog hier vir ons?

Wat wag nog hier op ons?

Vanaf daardie tye het verdere vondse van oermense langs die kus van die Suid-Kaap opgeduik.  Die Blombosgrot naby Stilbaai wat in die negentigerjare ontdek is, en die Klasiesriviermondgrot is bestemmings vir strepe internasionale argeoloe. Dit word gereken dat tekens van mense se bestaan in hierdie laasgenoemde grotte ten minste 100,000 jaar oud is.  Wie weet wat wag nog in die donker dieptes van die grot aan Hoy’s Koppie?

Die grafte van Sir William en Gertrude

Die grafte van Sir William en Gertrude

Bo lê die twee grafte met hulle plake gevandaliseer en die vraag is, Watter graf is Sir William s’n, regs of links?  Aan alle kante lê Hermanus versprei tot dit verdwyn in die lang kurwe van die strand wat uiteindelik by Gevaarpunt eindig.  Agter jou, die berge.  Op daardie berge is die Rotarypad vanwaar mense met sweefvlerke van die kloof afspring en soos meeue oor die voorstede sweef.

Murmelende Teenwoordighede

Murmelende Teenwoordighede

Met die afstap van die Koppie sien ek rotsformasies wat my aan die misterieuse beelde van Paaseiland laat dink.  Soos in die Australiese film Picknick at Hanging Rock kan mens die diepkeelbrom uit die aarde se verborge dieptes amper hoor.

Hoy's Koppie

Hoy’s Koppie

© Willem J. van der Walt

www.loertoer.wordpress.com

Oktober, 2016.  Somerset-Wes

Bronne

Hermanus Stories, deur S J du Toit (Hermanus Toeriste Buro, 2001)

Gids, Blombos Museum vir Argeologie (ongedateerd)

Foto’s: Willem

 

Met hartlik dank aan Graham en Elna

Tagged: , , ,

Leave a comment