DIE GEBROKE TEMPEL, Bellville

Die Gebroke Tempel, Edwardstr, Durbanvilleweg, Bellville

Die Gebroke Tempel, Edwardstr, Durbanvilleweg, Bellville

Anton Marais het nog voor 1994 die Gebroke Tempel ontwerp.  Soos met die argitek Jan van Wijk [Afrikaanse Taalmonument, Pêrel; Universiteitsoord Kerk, Pretoria], is daar vir my profetiese elemente in die werk.  Ek praat nie as argitek nie, nie as kenner of ingeligte nie.  Ek praat hieroor omdat ek moet.

Jare reeds ruk die fasade van die Gebroke Tempel op Durbanvilleweg, Bellville, my tot interpretasie, sommer poësie.  As die pilare nie getrou is aan die Dories, Ionies of Korintiese forme nie, seker druk van die bouers se kant, is dit die pediment wat my belang vasnael.

Villa Rotonda deur Andrea Palladio, voltooi 1580s

Villa Rotonda deur Andrea Palladio, voltooi 1580s

Die Griekse pediment is seker die welbekendste motief in die Westerse argitektuur.  Vanaf Palladio (1508 – 1580), beskou deur sommiges as die mees invloedryke argitek, het die pediment standaard geword.  Globaal, bly dit die ikoon van die Weste.  Ek was verbaas toe ek, tussen ‘n reeks kruldak pronkhuise te midde Seoel, ‘n massiewe pediment-en-pilare gebou teëkom.

Die Ooste en Weste saam. Seoel, Suid-Korea

Die Ooste en Weste saam. Seoel, Suid-Korea

Die pediment van Anton Marais se Tempel is gebroke.  Dit opsigself is nie ongewoon in die evolusie van dié motief nie.  Die barok argitekte het gereeld die pediment gebreek.  Maar die groot verskil  ̶   die treffendse aspek van Anton Marais se Gebroke Tempel  ̶   is dat hulle “breek” van die pediment is simmetries;  syne nie.

 

Gebroke Tempel, Bellville: die argitek as profeet

Gebroke Tempel, Bellville: die argitek as profeet

Mens kan die asimmetriese ontwerp as speels aansien, tipies post-modern.  Sou dit Anton Marais se motivering gewees het?  Net dit?  Of is daar meer?  Hierdie gebou laat my aan ‘n grootse gedig of skildery dink :  interpretasies sak op ons toe.

Stel hierdie ontwerp ‘n breuk met die Westerse kultuur voor?   Hier lê positiewe en negatiewe implikasies.  Sal Suidelike Afrika die Westerse tradisie skeppend uitbrei na iets nuuts, verbasend?  “Altyd iets nuuts uit Afrika,” skryf Pliny, die ou Romeinse historikus.  Of sal Suidelike Afrika die Westerse tradisies verloor en vir die voorsienbare toekoms gesigloos internasionaal word?  Is Anton Marais se Gebroke Tempel ‘n revolusionêre kreet om af te breek en weer iets anders te bou?  Of is dit ‘n klaaglied vir ‘n afgesabelde tradisie, ‘n verlore wêreld?

Tergende simboliek

Tergende simboliek

Myns insiens, is dit juis die paradoks van die Gebroke Tempel wat dit ‘n belangrike stelling maak.  Dat dit asimmetries is, ‘n beplande wanbalans, voer my na die konsep van voortdurige beweging:  word daar nog aan die Tempel gebou, of is dit die begin van ruïnering?  Word die wiskundige volmaaktheid van die pediment bevraagteken?   Dié ontwerp is, en bly, ‘n vraag.  Dit is getrou aan die Rustelose Griek wat vir die afgelope twee en ‘n half millennia in ons gedagtegange spook, hy wat sal sorg vir voortdurende hergeboorte, ‘n kenmerk van die Westerse kultuur.

 

© Willem van der Walt

Somerset-Wes

April, 2015

www.loertoer.wordpress.com

Bronne

Met dank aan Axion Architects International, Bellville, Suid-Afrika

Villa Rontoda  – Wikipedia

Seoel beeld – Willem

Gebroke Tempel – tekening Willem  

Foto’s – Willem

 

Opgedra aan Mike Oberholzer

 

 

 

Leave a comment