NISSA LA BELLE 14.7.2016

 

Ek staan op die keistene van die strandfront in Nice waar  hier en daar bossies blomme lê, donker vlekke duidelik onder die blomme sigbaar – bloed van die slagting van die nag van 14 Julie.

Ek staan tussen mense wat verslae  na die verwelkende blomme in die somerhitte staar. En ek neem foto’s.  As ek nie foto’s neem nie, nie iets doen nie, sal ek neersak en met my voorkop teen die keistene ween. In rou gedompel soos hierdie pragtige stad.

In die jare wat kom, sal ek die foto’s seker op ‘n Bastilledag uithaal en daarna  kyk en alles onthou en steeds ineenkrimp by die gedagte aan die bose, sinnelose terreuraanval. Ek sal steeds geen troos vind nie. Ek weet. Ek sal steeds met ‘n rou hart die helder aand in Nice herdenk toe die dood op onskuldige mans, vroue en kinders op die strandfront en verder afgedreun en verwoesting gesaai het.

Ek en my vriendin het op daardie tydstip 26 kilometer van Nice af voor die televisie na ‘n pragtige musiekkonsert by die Eiffeltoring in Parys sit en kyk. ‘n Konsert waarmee ironies genoeg die einde van die noodtoestand in Frankryk aangekondig is.  Toe tref die terreur Nice. Vreedsame Nice van alle plekke – ‘n baie ou vestingstad aan die Middellandse See wat al eeue lank as   Nissa la Belle – Mooi Nissa – bekendstaan.  Mooi Nissa is steeds in hierdie donker dae mooi.  Dit sal altyd mooi wees. Maar nou kyk mens deur ‘n waas van pyn en hartseer na alles.

By die verwelkende blomme op Nice se strate dink ek aan   Suid-Afrika en die jong politieke partyleier wat ‘n ruk gelede gedreig het om die politieke bestel met mag en gewere oor te neem as dit nie anders kan nie. Vir hom wil ek sê: Kom staan ‘n bietjie hier, politieke partyleier wat so maklik praat.  Kom staan hier, heethoof, op Place Massena, en kyk wat geweld doen. Staan hier waar ‘n drie-jarige seuntjie, nie ver van waar ek nou staan nie, na sy ouers se lyke en tientalle ander gestorwenes gestaar het. Onbegrypend. Vertrek van smart. ‘n Verwese figuurt. Sinnebeeldig van die hele diep geskokte Nice.

En Nice rou . . .

Maandag, die agtiende Julie, is die Promenade des Anglais  twee kilometer ver bedek met blomme terwyl Nice aan sy gestorwe  geliefdes dink, en ‘n onaardse stilte oor die stad lê. Die engele is dood, sê die mense, ‘n verwysing na die naam van die baai van Nice – Baie des Anges. Van die mense is strak en kwaad en jou   Manuel Valls, die Franse vise-president, uit en noem hom ‘n moordenaar  en sê hy moet bedank toe hy en twee ministers die strandfront besoek waar Mohammed Lahouaiej Bouhlel 84 mense met ‘n vragmotor doodgery het voordat die 31-jarige  Franse  Tunisiër deur die polisie doodgeskiet is.  Die mense van Nice se woede vloei soos bloed.  Ils viennent jusque dans nos bras, egorger nos fils et nos compagnes …

In die patois v an die streek, lyk die slagspreuk wat in die afgelope 18 maande internasionaal geword het, so  SIEU NISSA  –  JE SUIS NICE,  EK IS NICE.

Steeds tot in my siel verbyster deur wat die mens aan sy medemens kan doen, kyk ek na die plekke in die omgewing wat deur die jare in my hart gekruip het – die Promenade des Anglais met sy spoghotelle, die kunspark en Place Massena waar die oudorp begin …  Mens wil hulle ook soos die openbare beelde onder ‘n  swart roukleed toegooi, maar kan uiteraard nie.  Hulle behou hulle trefkrag op ‘n treurige manier midde-in die treurspel wat in Mooi Nissa afspeel. En hulle herinner jou aan die goeie, vreedsame tye en lyk droewig mooi in die harde wit somerlig.

 

Nice Tragedy

 

© Willem van der Walt

Les Semboules, Julie 2016

www.loertoer.wordpress.com

Aanhaling uit « Die Marseillaise » :  « Hulle kom tot in ons arms en sny ons seuns en geliefdes keelaf »

Tekenprent capelino.com

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

 

Tagged: ,

3 thoughts on “NISSA LA BELLE 14.7.2016

  1. Net Ek July 19, 2016 at 12:39 pm Reply

    So hartseer en sinneloos.

    Pragtige inskrywing.

    • Will van der Walt July 21, 2016 at 7:17 am Reply

      Dankie, Net Ek.

    • Will van der Walt February 2, 2018 at 2:51 pm Reply

      Hi Net Ek
      Ek sien nou na vele maande jou mooi woorde oor Nice. Seker maar net omdat ek met rekenaars dom is. Maar ja, hartlik dank.

Leave a comment