JEAN COCTEAU MUSEUM, MENTON

Ek moet bely dat my belangstelling in die Cocteau Museum in Menton eerder argitektonies as artistiek was.   Ek het nog altyd van die speelse gees in Cocteau se werk gehou, hoewel hy nie in dieselfde mate as die ander moderne kunstenaars tot my gespreek het nie.

My besoek aan die museum het my sienswyse verander. Wat interessant is van die museum  is dat dit die grootste versameling van enige kunstenaar se werk bevat wat ek nog gesien het.

Die museum  -  weswaarts

Die museum – weswaarts

‘n Cocteau-museum in Menton is reeds vroeër in ‘n fort uit die sewentiende eeu tot stand gebring en stal steeds ‘n hele klomp van Cocteau se werke uit.  Die gebou self, opgerig in die dae toe die  kasteel in Kaapstad gebou is, vertoon ‘n ruwe elegansie.

Die eerste Cocteau-museum in Menton

Die eerste Cocteau-museum in Menton

Die nuwe museum wat in 2011 geopen is, ontwerp deur Rudy Ricciotti, ‘n Franse argitek, vang die besoeker se aandag soos min museums op die Côte d’Azur vas.  Die naaswit vorms, elkeen verskillend, wat die museum huisves, is al op verskeie maniere beskryf:  “‘n stel gevaarlike tande… ” Of: “voorarms van marmer wat die hemel stut…”  En: “ puntige swart pilare wat lui soos spinnekoppote oor die gebou gestrek lê.”

Hoe ook al, dit was vir my fassinerend om foto’s van  hierdie vorms te neem –  op ‘n afstand, asook van nader beskou.

Detail

Detail

Ricciotti beweer dat sy museumontwerp deur Cocteau se werk ingegee is.  “Hier dien swart en wit nie meer as kleure nie,” sê hy, ter motivering van sy  ontwerp. “Hulle skep ‘n wisselwerking  van struktuur-magte wat beide die kunstenaar se werk op doek en papier en sy persoonlikheid oproep, vlakke van lig en skadu …”

Binne

Binne

Ek moet weer bely:  Ek was nie juis met Cocteau se werk vertroud nie.  Daarom was die versameling van sy werk vir my ‘n openbaring.  Byna die hele versameling het behoort aan ‘n Amerikaanse versamelaar, Sèverin Wunderman, wat dit alles aan die museum geskenk het.

Wat mens veral van die versameling tref, is  die ongelooflike diversiteit: skilderye, grafiese werk, tapisserieë, mosaïeke, beeldhouwerk, keramiekwerk. . . Voorts het Cocteau teaterkostuums ontwerp, rolprente gemaak en verhoogstukke  en poësie geskryf.

Les Amoureaux, 1948

Les Amoureaux, 1948

In die proses het hy uitmuntende werk gelewer. Sy selfportrettekeninge was beslis vir my die hoogtepunt van die besoek: ‘n reeks genaamd Le Mystère de Jean l’Oiseleur.  Drie-en-dertig van dié briljante tekeninge  is in die museum te sien. Elkeen spreek van wroeging en foltering eerder as vreugde en geluk.  Mens moet  natuurlik in gedagte hou dat Cocteau ‘n opiumslaaf was. ‘n Onderskrif soos Je garde mon ange (ek hou my engel) laat mens wonder, maar met Cocteau kan die onderskrif op enigiets slaan. Met hom kyk mens altyd na ‘n mystère.  Niks is eenvoudig nie.

'n Self-portret

‘n Self-portret

Sy seksueel-ekspliete tekeninge,  gevolg deur sensitiewe tonele uit Christus se lewe, stem mens tot nadenke.  Die laaste een wat kort voor sy dood in 1963 gedoen is, is ‘n Ecce Homo, waarin Christus se gesig nogal baie aan Cocteau s’n herinner.  Ricciotti sê tereg : “Cocteau se kuns  is ‘n enigmatiese self-mitologie, versterk deur kontraste.”

In sy sterftejaar 1963, dié Ecco Homo

In sy sterftejaar 1963, dié Ecco Homo

Cocteau het ook ‘n obsessie met klassieke vorme gehad en dit is interessant dat baie van sy mansfigure op een of ander wyse op sy minnaar, Jean Marais, die Franse akteur, trek.

Klassieke obsessie

Klassieke obsessie

Die naam van ‘n klein bundel gedigte in ‘n glaskabinet het my oog getref :  Le Cap de Bonne Espérance.  Duister, eksperimentele poémes wat handel oor ‘n metaforiese Roland Garros, die Franse vlieënier wat in 1918 dood is.  Een van die gedigte lui min of meer só in Afrikaans:

Die Rooksein

 Die vlieënier, omskrywer van die

lug vandag

Met groot wit rookboë

Gaan voort, sodat die wind,

Onsigbaar van onder

Nie sy sein uitwis nie.

Ek meen dit leer ons,

Hoe om te skryf.

 

La Mystère

La Mystère

 

© Willem van der Walt

Menton, 17 Junie 2015

http://www.loertoer.wordpress.com

Bronne:  Wikipedia; internet

Foto’s:  Willem

 

 

Advertisements

Tagged: , , , ,

One thought on “JEAN COCTEAU MUSEUM, MENTON

  1. Lucia Wels June 27, 2015 at 11:47 am Reply

    Hallo Willem

    Wat ‘n ongelooflike besoek moes dit gewees het! In hierdie kort beskrywings en onvergeetlike foto’s het jy my as leser en kyker meegesleur soos wat ek selde deur woord en beeld meegesleur word. Ek sien ook duidelik waarom jou besoek aan die museum jou sienswyse verander het, want die wroeging en pyn wat veral uit sy selfportret spreek, gryp my diep aan.

    Baie, báie dankie dat jy dit ook vir my aangestuur het.

    Groete

    Lucia

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: