SEPTENTRION – die kind-danser

Seker die bekendste en geliefste oorblyfsel uit die Romeinse eeue in Antibes, is die grafsuil van Septentrion, die kind-danser, uit die derde eeu ná Christus.  In sig van die katedraal, word dit in ‘n nou straat teen die muur van die Hotel de Ville uitgestal.

Septentrion se grafsuil

Septentrion se grafsuil

Daar is woorde uitgebeteil, ‘n teks wat lui

Aan die gode Mânes van die kind Septentrion, twaalf jaar oud, wat in die teater by Antipolis vir twee dae in die reën gedans het.

Mânes dui op die gode of die geeste van die doderyk.  Die teater self, spekuleer die kundiges, was waar die busterminus vandag is, in die dorpssentrum, verwyder van die res van die oudorp.

Die Romeinse teater

Die Romeinse teater

Wat vir my so meeslepend met hierdie grafsuil is juis dat dit ‘n grafsuil is en tog met sulke opbeurend, vreugdevolle woorde, woorde wat net skrams met die dood iets te doen het.

Septentrion, ‘n Griekse naam wat noordwaards beteken, was blykbaar ‘n slaaf, en daaraan kleef ‘n legioen vrae.  Was die twaalfjarige uit Afrika?  Gallië?  Uit noord-Europa?  Die midde-Ooste?

Die grafsuil self toon sewe sipresse op die buitelyn van ‘n askruik wat die hoofontwerp is.  In die houerdeel van die askruik is daar ‘n kantaros met twee hangende eilhoofblare en die sesstraalsterre aan weerskante.  Die kantaros, sê hulle, was by uitstek in rituele gebruik — die simboliek het met hergeboorte te doen, met opstanding.

Die vrae doem op.  Is die grafsuil dan ‘n afkondiging, dalk herdenking, van Septentrion se dood?  Het die kind, na twee dae se dans voor vasgenaelde gehore, teen gietende reën, geknak, inmekaar gesak en gesterf?  En verder, het hy as slaaf besef wat vir hom voorlê in die komende jare, en dat hy hier, ver van alles en almal wat hom die lewe gegee het, homself dood dans?  Die skrywer, Jules Michelet, is deur dié patos getref. “Ek weet van niks meer tragies in sy kortstondigheid, niks wat die hardheid van die Romeinse wêreld só uitbeeld nie.”

Dit is vir my ‘n droomagtige beeld, teen ‘n waas van mistigheid en reën, met sterk, ritmiese stemme, diep tromme en die arabesks van arms en lyf, spronge, swaaie en krulle, bene soos vlerke, ‘n gesig in ekstase.  En die honderde oë in vervoering wat uiteindelik die val sal sien, en dan die ongoddelike stilte  beleef.

Die Kanadese digter Raymond Radiguet wat Antibes besoek het, het in 1920, in sy bundel DieWange van Vuur die gedig Septentrion, god van liefde.  Ek offer ‘n vertaalde indruk van ‘n uittreksel.

As ons vuur drie dae duur

Is dit die naam liefde waardig?

My pragtige onbekende danser,

Beraad met Venus hieroor

Al herken sy nie

dié seun as die ware liefdesgod.

Moet ons glo, soos die onsterflikes?

Die ware god is dié geliefde kind

Die Septentrion danser

En met dié dans gaan staan sy hart

En ons liefde sterf net so gou.

 

©  Willem van der Walt

Februarie, 2015

www.loertoer.wordpress.com

Foto:  Grafsuil – Willem

Romeinse teater – Objets D’Antipolis, E. Delaval, R. Thernot.  Mémoires Millénaire editions, 2011

Bron:  Wikipedia:  Kantharos

 

   

Advertisements

Tagged:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: