EZE – eggo’s in eggo’s

Die kusdorpie Eze, sowat elf kilometer oos van Nice, bring altyd dié gedagte by my op: As daar ‘n elfde gebod was, sou dit lui: Jy mag nie verveeld wees nie. Dis onmoontlik om in geskiedkundige Eze  verveeld te wees.

Skildery van Eze deur Winston Churchill

Skildery van Eze deur Winston Churchill

Eze is by uitstek ‘n village perché en pronk op ‘n krans 427 meter bo seespieël. Dis ‘n arendsnes, wat lyk of die  wind dit elke oomblik gaan  afwaai. Vandag huisves smal Middeleeuse keiklipstraatjies kunsgalerye, eetplekkies, rariteitewinkels. Maar oor alles huiwer die geskiedenis van Eze. En dis kompleet of dié geskiedenis hom aandien in eggo’s in eggo’s.

Ruines van 'n Romeinse fort

Ruines van ‘n Romeinse fort

Daar was ‘n tyd toe die Romeine, dié wat nie met die Galliese barbare  handgemeen wou raak nie, hulle hier op die krans kom vestig het.  Voor hulle was die Grieke hier.  En voor hulle die Fenisiërs.  En voor hulle die Keltiese Liguriërs. En voor hulle … was daar moontlik die San, die jagtersvolk wat aan Suid-Afrikaners bekend is.

Rotskuns, Castellon, Spanje

Rotskuns, Castellon, Spanje

Daar is blyke van Sanrotskuns in Spanje en mens wonder of hulle ook op hierdie hoë krans gewoon het. Hier waar die hemelsblou van die see jou asem wegslaan.

Uitkyk oor die see

Uitkyk oor die see

Ja, die geskiedenis weerklink soos eggo’s in eggo’s in Eze. En jy onthou dat ‘n hanetreetjie verder langs die kus af mensbeendere wat 400,000 jaar oud is, in ‘n argeologiese museum in Monaco uitgestal is. Eggo’s in eggo’s.

Ek stap met die hoofstraatjie genaamd  Die Weg van Nietszche langs.  Nietszche van alle mense! Hoe skakel die kolos van ‘n Duitse filosoof met hierdie pragdorpie? Hier het hy Alzo Sprach Zarathrustra geskryf, seker sy mees omstrede werk.  En hy leef voort in ‘n straatnaam. Maar dan, ironies, teen ‘n hoogte aan die einde van die Nietszchestraatjie troon ‘n 17e eeuse barokkerk teen die lug en ek kan amper hoor hoe  hierdie waardige gebou fluister, Sien jy, Nietszche is dood.  Maar ons is nog hier …

Chemin de Nietszche met barokkerk

Chemin de Nietszche met barokkerk

My besoek staan einde se kant toe en ek stap weer af na die Eze-brug, ‘n moderne toonbeeld van ‘n Romeinse akwaduk, ‘n plek waaraan tragiek verbonde is. ‘n Kennis van my vriendin, Claudie, het hier selfmoord gepleeg.

Die brug by Eze

Die brug by Eze

En vreemd genoeg het ‘n kunstenaar die gesig van ‘n vrou in die rotswand naby die brug uitgebeitel. Toevallig,  want dit het niks  met die tragedie te doen nie.  Maar die teer droefheid van daardie rotsgelaat spook by my, bly my by. Soos die eggo’s in die eggo’s van Eze.

Die gees van Eze

Die gees van Eze

 

© Willem van der Walt

Junie, 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Rotskuns  –  Gardener:  Art through the Ages

 

Met dank aan Mike Oberholzer.

Advertisements

Tagged:

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: