DIE INTERNASIONALE MUSEUM VIR NAïEWE KUNS, NICE

 

Toe die bonkige deurwag by die museum vir naïewe kuns in Nice se ingang my kamera gewaar,  sê hy ferm, maar vriendelik: “Jy mag nie foto’s in die museum neem nie.” Ek dink dis ‘n bietjie naïef dat ‘n mens nie ‘n paar foto’s van die naïewe kuns mag neem nie, maar  lê my  by die deurwag se wense neer. Ek sal vir die verandering net kyk.

Museum van Naiwe Kuns - let Lanovsky werk, regs

Museum van Naiwe Kuns – let Lanovsky werk, regs

Ek sit my kamera weg en kyk na die uitgestalde naïewe kuns, ‘n versameling uit Frankryk (hoofsaaklik), die VSA, Brasilië, Pole, Hongarye en Brittanje. Op die oog af lyk die werke soms na blote kinderkuns, maar as jy mooi kyk, is daar unieke vernuf. Die werke is ongetwyfeld nie holderstebolder aanmekaargeslaan nie.

Ivan Generalic skildery

Ivan Generalic skildery

Die meeste werke is blye kuns, kuns waaruit hoop en menslikheid en warmte gaan. Dit vorm ‘n skril kontras met stug moderne en postmoderne kuns wat soms  onthutsend en deprimerend aandoen.  Hierdie naïewe kunswerke met hulle vrolike, dartelende, meestal primêre kleure, is beslis verfrissend. Die teenpool van postmoderne somberte.

Ek loop my halfflou, maar die besoek aan die museum is die moeite werd. Een hele vertrek is gewy aan die skilderye van Ivan Generalic (1014 – 1992) van Kroasië.  Die werke is betowerend: droomagtig met gedempte kleure en  kaal bome met die voorkoms van kantwerk. Sy treffendste werk is sy La Mona Lisa de Hleline (1972) ‘n  bisarre hen met ‘n menseoog, wat die hele doek vol pronk, alles in neonwit.

La Mona Lisa de Hlelbine deur Generalic

La Mona Lisa de Hleline 

In ‘n ander vertrek kom ek die werk van Gaston Chaissac (1910 – 1964) teë.  Hy skilder totems op planke –  helder kleure  met  gesigte wat by jou ‘n glimlag ontlok. In die middel van die vertrek staan ‘n stuk beeldhouwerk van Vincent Bouillat (1953 – ) – ‘n bokram wat uit ou wit verdraaide lappe voortgebring is, ‘n heel astrante bok met ‘n eie lewe.

Gaston Chaissac werk

Gaston Chaissac werk

Ek verwonder my aan al die werke in die museum: landskappe, stadstonele, portrette en beeldhouwerk.  Die beeldhouwerk, afgesien van Bouillat se treffende bokram, herinner sterk aan die eenvoud van Brancusi.

Fréderic Lanovsky werk

Fréderic Lanovsky werk

Buite in die tuine kan ek foto’s neem en die werke hier is almal  dié van  Frederic Lanovsky (1965 –  ) Hy is seker familie van Anatole  Lanovsky wat die museum in  1982 geopen het.  Sy werk is  snaaks, kleurryk, ‘n bietjie mallerig en gee die indruk dat hy dit met sy tong in die kies geskep het en wou gekskeer, dat hy ‘n  bietjie speels wou wees.

Detail - 'n Januskop?

Detail – ‘n Januskop?

Sy kuns en die  res van die naïewe kuns wat ek  besigtig het, lyk op die oog af bedrieglik eenvoudig. Maklike kuns.  Enigeen kan dit mos doen, sal mense sê, maar ek sê: “Nou toe, probeer ‘n bietjie en kyk… Of het julle vergeet dat eenvoud ‘n eienskap van goeie, treffende  kuns is?”

© Willem van der Walt

24 April 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto’s:  Willem

Generalic se hen – omslag van ‘n boek oor sy werk op Amazon.com

Generalic landskap  –  desyeupouvoir.blogspot.com

Chaussac  –  examiner.com

Advertisements

Tagged: , , , ,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: