WANNEER DIE AARDE SKUD

Gisteraand, sewentien minute ná nege, sit ek verdiep in ‘n program voor die TV in my vriendin Claudie se woonstel in Antibes, Frankryk, toe die vloer, nee die aarde,  sonder waarskuwing onder my voete begin skud. ‘n Onthutsende gevoel, om die minste te sê. Iets wat ‘n Suid-Afrikaner nie ken nie.

Die aardbewing duur vier tot vyf oneindige sekondes, lig sodat die glase op die rak in Claudie se kombuis nie eens roer of rinkel nie.  In die afgelope dertig jaar het dit al vier keer gebeur, vertel Claudie, en vanaand se aardbewing was besonder lig. Dit was al erger in die verlede.

Voor die aardbewing:  Les Pins-woonstelblok

Voor die aardbewing: Les Pins-woonstelblok

My gemoedsrus is daarmee heen. Vir die wis en die onwis, sal ek met slapenstyd in my sweetpak klim. ‘n Mens weet nie wat die nag inhou nie. Dalk nog ‘n aardbewing. Ek hou daarvan om vir elke gebeurlikheid gereed te wees. Hoe gereed kan ‘n mens vir ‘n aardbewing in ‘n sweetpak wees? Ek kan darem buitentoe hardloop as die aarde weer skud. As die aarde weer skud. En hoe sal dit help om  te hardloop? Ek weet nie, maar sal jok as ek sê ek is nie benoud oor die nag wat voorlê nie.

Die nag gaan vredig verby… Vanoggend lees ek  op die internet  oor die aardbewings van 1887 in Nice, van die huidige episentrum oftewel aardbewingshaard, in die Hoë Alpe (5.2, op die Richterskaal), van die kwesbaarheid van Nice se ou gebiede.  Ja, hierdie streek, vertel Claudie my, lê op die lyn waar aardbewings in Italië die afgelope agtien maande chaos en verwoesting veroorsaak het. Maar hoe kon daar verwoesting gewees het? stribbel ek teë. Daardie dele van Italië is vol  stokou vestings uit die middeleeue.  Maar sy oortuig my dat niks  teen  ‘n aardbewing bestand nie. ‘n Aardbewing is ‘n aardbewing is ‘n aardbewing.  En dis ‘n skrikwekkende ding. Selfs ‘n ligte aardbewing. Selfs gisteraand se bewing van ‘n paar sekondes. Min dinge skud jou, letterlik en figuurlik,   soos ‘n  aardbewing. Dit gaan gepaard met die verbystering dat een van die standvastigste dinge  in die heelal ook kan wankel. 

Antibes se paar aardbewings is bra onbenullig. Die Côte d’Azur is nie Turkye of Algerië of Indonesië of  Haïti of Tokio nie. Tokio is al getref deur ‘n aardbewing van nie minder nie as 9 op die Richterskaal. Ondenkbaar.

En dan is daar die bekende aardbewing in ons eie Tulbagh in die Kaap in 1969, wat selfs in Stellenbosch gevoel is. In 1989 het ek ‘n herdenking van die aardbewing bygewoon, ‘n gedempte geleentheid in ‘n  dorp wat pragtig ná die aardbewing herstel is. Was dit die enigste aardbewing in die Kaap? Sover ek weet, het Observatory in Kaapstad in die eerste dekade van die twintigste eeu ‘n aardbewing ervaar. Verbasend? Baie mense dink nie so nie en voorspel nog aardbewings vir Suid-Afrika.  Suid-Afrika lê immers op die Skeurdallyne wat van Kenia loop  en Afrika glo stadig maar  seker in twee gaan skeur. ‘n Skrikwekkende gedagte.

Na die aardbewing:  Les Pins-woonstelblok

Na die aardbewing: Les Pins-woonstelblok

Hoe ook al, hier in Antibes aan die Middellandse See lyk die mense vanoggend nie juis bekommerd oor gisteraand se aardbewinkie nie. C’est la vie. Ek sal vanaand my nagklere aantrek wanneer ek gaan inkruip.

© Willem van der Walt

Les Semboules, Antibes

Dinsdag 8 April 2014

www.loertoer.wordpress.com

Foto:  Willem

 

 

Advertisements

Tagged: , , , ,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: