Oupa – Tafelberg

Die Tafelrots, vanaf Melkbosstrand

Die Tafelrots, vanaf Melkbosstrand

Tafelberg, hoor ek,  is ‘n tiende van die aarde se ouderdom.  Dis ouer as Afrika.  Diegene wat eeue gelede na die berg opgekyk het, het dit Oupa genoem.  Oupa se tafelblad is twee kilometer lank,  maar ek sal nie daarop wed nie. Wat wel seker is, is dat ‘n gemeenskaplike kreet in Kaapstad se strate opgeklink het toe die Tafelrots op  12 November 2011 as een van die wêreld se natuurwonders aangewys is. “’n Simbool van blywendheid,” volgens die burgermeester, Patricia de Lille, “in ‘n veranderende wêreld.”

Ons berus ons in verandering. En dis jammer dat min van ons toelaat dat die berg se grootse teenwoordigheid  die stil wanhoop van die jaagbestaan in ons gedagtes en op straat verdryf.  Dalk gaan ons tog ‘n oomblik staan wanneer die Tafeldoek oor die grys kranse stort en die massiewe wit wolk voor ons oë oplos voor dit die stad in  sy wieg bereik.

Leeukop en die maan

Leeukop en die maan

Hoeri-Kwagga het hulle dit genoem,  hulle wat die kom meer as 100,000 jaar gelede bewoon het.  Na regs is Leeukop, wat deur sommige mense as die plek van die Khoi San-volk se  maanaanbidding beskou word.   Links is Duiwelspiek, ‘n naam met ‘n interessante geskiedenis.  Britse ontdekkers wou dit na koning James 1 noem, maar die naam is blykbaar te danke aan ‘n kostelike volksprokie oor ‘n pyproker wat die duiwel die loef afgesteek het. En die naam het gebly.

Duiwelspiek, vanaf Rondebos

Duiwelspiek, vanaf Rondebos

Midde-Julie kan jy die sterrewag besoek en die Mons Mensa-konstellasie onder Orion besigtig.  Die Latynse naam vir Tafelberg is deur die Franse sterrekundige Nicolas de Lacaille in die middel van die 18e eeu bestee.  Mens wonder of dit sy beskrywing van Tafelberg aan ‘n kunstenaar in Frankryk was, wat toentertyd onder meer die oulike maar onakkurate etswerk tot gevolg gehad het.

Ets van Tafelberg, 18de eeu

Ets van Tafelberg, 18de eeu

“Op 6 April 1652  het  Jan van Riebeeck aan die Kaap geland  om ‘n verversingstasie vir skepe te vestig,” skryf Marquard en Mervis. “Op die sewende het hy om ‘n  verplasing gevra.” Só begin die vermaaklikste boek oor Suid-Afrikaanse geskiedenis, Blame It On Van Riebeeck, wat nog die lig gesien het. Dit doen aan die hand dat dit ‘n tydjie geduur het vir grasieuse Kaapstad om tot stand te kom,  soos alle stede maar, en esteties haal sommige van hulle nooit die paal nie.   Kaapstad met sy Tafelberg het natuurlik ‘n onregverdige voorsprong bo elke ander stad gehad.

As jy liries oor hierdie plek wil raak, verkeer jy in  uitgelese geselskap.   Die 16e-eeuse Portugese digter Luis de Camoens vertel in sy epiese gedig, Die Lusiade,  van Adamastor, ‘n seun van die titane wat in klip verander het – die Tafelrots voor ons. Hoe kan ‘n mens nie epies voel  wanneer jy op Bloubergstrand staan en kyk hoe die berg oor die stad troon nie?

‘n Ruk gelede het ek daar gestaan, ‘n gladde strandklippie waarvan die wit sedimente soos ‘n Paasbolletjie lyk, in my hand. Ek het dit later vir ‘n geoloog gewys en na sy mening is die klippie ouer as Tafelberg self. En Tafelberg is oud.  ‘n Tiende van die aarde se ouderdom.

© Willem van der Walt

Junie, 2013

http://www.loertoer.wordpress.com

Beelde

Tafelberg vanaf Melkbosstrand – Riaan Victor

Leeukop en die maan – bron verlore

Duiwelspiek – Willem

Ets uit die 18de eeu – onbekende kunstenaar

Advertisements

Tagged: , , , , , , , , , , , , ,

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: